Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt 2 Samuel 1:1-24:25
  • 2 Samuel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • 2 Samuel
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
2 Samuel

DIE TWEEDE BOEK VAN SAMUEL

1 Ná Saul se dood, toe Dawid teruggekeer het nadat hy die Amalekiete verslaan het, het Dawid twee dae lank in Siklag+ gebly. 2 Op die derde dag het ’n man met geskeurde klere en grond op sy kop van die kamp van Saul af gekom. Toe hy by Dawid kom, het hy op sy knieë geval en neergebuig.

3 Dawid het vir hom gevra: “Waar kom jy vandaan?” Hy het geantwoord: “Ek het uit die kamp van Israel gevlug.” 4 Dawid het vir hom gevra: “Wat het gebeur? Vertel my, asseblief.” Toe het hy gesê: “Die manne het van die geveg af weggevlug, en baie van hulle het gesterf. Selfs Saul en sy seun Joʹnatan het gesterf.”+ 5 Toe het Dawid vir die jong man wat vir hom die nuus gebring het, gevra: “Hoe weet jy dat Saul en sy seun Joʹnatan dood is?” 6 Die jong man het geantwoord: “Ek was toevallig op die berg Gilboʹa,+ en daar het ek Saul gesien wat op sy spies leun, en die strydwaens en die perderuiters het hom ingehaal.+ 7 Toe hy omdraai en my sien, het hy my geroep, en ek het gesê: ‘Hier is ek!’ 8 Hy het vir my gevra: ‘Wie is jy?’ Ek het geantwoord: ‘Ek is ’n Amalekiet.’+ 9 Toe het hy gesê: ‘Kom staan asseblief oor my en maak my dood, want ek lewe nog, maar ek het verskriklik baie pyn.’ 10 Daarom het ek oor hom gaan staan en hom doodgemaak,+ want ek het geweet dat hy so ernstig gewond is dat hy nie sou oorleef nie. Toe het ek die kroon geneem wat op sy kop was en die armband wat om sy arm was, en ek het dit hier na my heer toe gebring.”

11 Toe het Dawid en al die manne wat by hom was, hulle klere geskeur. 12 En hulle het tot die aand toe getreur, gehuil en gevas+ oor Saul, oor sy seun Joʹnatan, oor die volk van Jehovah en oor die huis van Israel+ omdat hulle met die swaard doodgemaak is.

13 Dawid het vir die jong man wat vir hom die nuus gebring het, gevra: “Waar kom jy vandaan?” Hy het gesê: “Ek is die seun van ’n uitlander, ’n Amalekiet.” 14 Toe het Dawid vir hom gevra: “Hoekom was jy nie bang om die gesalfde van Jehovah dood te maak nie?”+ 15 Dawid het een van die jong manne geroep en gesê: “Kom hier en maak hom dood.” Toe het hy hom doodgemaak.+ 16 Dawid het vir hom gesê: “Jy is verantwoordelik vir jou eie dood,* want jou eie mond het teen jou getuig deur te sê: ‘Ek het die gesalfde van Jehovah doodgemaak.’”+

17 Toe het Dawid hierdie treurlied oor Saul en sy seun Joʹnatan+ gesing 18 en gesê dat die volk van Juda hierdie treurlied, “Die boog”, geleer moet word, wat in die boek van Jasar geskryf is:+

19 “Jou prag, o Israel, lê verslaan op jou hoogtes.+

Jou magtiges is dood!

20 Moet dit nie in Gat vertel nie.+

Moet dit nie in die strate van Asʹkelon bekend maak nie,

want anders sal die dogters van die Filistyne bly wees

en sal die dogters van die onbesnede manne juig.

21 O berge van Gilboʹa,+

mag daar geen dou of reën op julle wees nie,

geen velde wat heilige bydraes+ voortbring nie,

want daar is die skild van magtiges besoedel.

Die skild van Saul is nie meer met olie gesalf nie.

22 Sonder die bloed van vyande en die vet van magtiges

het die boog van Joʹnatan nooit teruggekeer nie,+

en die swaard van Saul het altyd sukses behaal.+

23 Saul en Joʹnatan,+ geliefd en aangenaam* gedurende hulle lewe,

en nie geskei in die dood nie.+

Hulle was vinniger as arende,+

sterker as leeus.+

24 O dogters van Israel, treur oor Saul,

wat julle met helderrooi materiaal en elegante klere geklee het,

wat goue versierings aan julle klere gesit het.

25 Die magtiges is in die geveg dood!

Joʹnatan lê verslaan op jou hoogtes!+

26 Ek is baie hartseer oor jou, my broer Joʹnatan.

Jy was baie dierbaar vir my.+

Jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van vrouens.+

27 Die magtiges is dood,

en die oorlogswapens het verdwyn!”

2 Daarna het Dawid Jehovah geraadpleeg+ en gevra: “Moet ek na een van die stede van Juda gaan?” Jehovah het vir hom gesê: “Gaan.” Dawid het toe gevra: “Waarheen moet ek gaan?” En hy het geantwoord: “Na Heʹbron.”+ 2 Toe het Dawid daarheen gegaan saam met sy twee vrouens, Ahiʹnoam+ van Jisʹreël en Abiʹgail,+ die weduwee van Nabal, die Karmeliet. 3 Dawid het ook die manne wat by hom was+ en hulle gesinne saamgeneem, en hulle het in die stede rondom Heʹbron gaan woon. 4 Toe het die manne van Juda gekom, en hulle het Dawid daar as koning oor die huis van Juda gesalf.+

Hulle het vir Dawid gesê: “Die manne van Jaʹbes-Giʹlead het Saul begrawe.” 5 Toe het Dawid boodskappers na die manne van Jaʹbes-Giʹlead gestuur en vir hulle gesê: “Mag Jehovah julle seën, want julle het lojale liefde aan julle heer Saul betoon deur hom te begrawe.+ 6 Mag Jehovah lojale liefde en getrouheid aan julle betoon. Ek sal ook goed wees vir julle omdat julle dit gedoen het.+ 7 Wees dus sterk* en wees moedig, want julle heer Saul is dood, en die huis van Juda het my as koning oor hulle gesalf.”

8 Maar Abner,+ die seun van Ner, die hoof van Saul se leërmag, het Saul se seun Is-Boset+ geneem en hom na Mahanaʹim+ gebring 9 en hom koning gemaak oor Giʹlead,+ die Asuriete, Jisʹreël,+ Eʹfraim,+ Benjamin en oor die hele Israel. 10 Saul se seun Is-Boset was 40 jaar oud toe hy koning oor Israel geword het, en hy het twee jaar lank regeer. Maar die huis van Juda het Dawid ondersteun.+ 11 Dawid was sewe jaar en ses maande lank in Heʹbron koning oor die huis van Juda.+

12 Ná verloop van tyd het Abner, die seun van Ner, en die knegte van Saul se seun Is-Boset van Mahanaʹim+ na Giʹbeon+ gegaan. 13 Joab,+ die seun van Seruʹja,+ en die knegte van Dawid het ook gegaan en hulle by die dam van Giʹbeon ontmoet. Die een groep het aan die een kant van die dam gesit, en die ander groep het aan die ander kant van die dam gesit. 14 Uiteindelik het Abner vir Joab gesê: “Laat die jong manne opstaan en voor ons teen mekaar veg.” Toe het Joab gesê: “Laat hulle dit doen.” 15 Toe het hulle opgestaan en na die ander kant gegaan: 12 Benjaminiete wat aan Saul se seun Is-Boset behoort het en 12 knegte van Dawid. 16 Hulle het mekaar aan die kop gegryp, en elkeen van hulle het sy swaard in die sy van sy teenstander gesteek, en hulle almal het saam dood neergeval. En daardie plek, wat in Giʹbeon is, is Helʹkat-Hasʹsurim genoem.

17 Die geveg wat daardie dag gevolg het, was baie intens, en Abner en die manne van Israel is uiteindelik deur die knegte van Dawid verslaan. 18 Die drie seuns van Seruʹja+ was daar – Joab,+ Abiʹsai+ en Aʹsahel.+ Aʹsahel was so vinnig op sy voete soos ’n wildsbok in die oop veld. 19 Aʹsahel het Abner agternagesit, en hy het nie links of regs agter hom weggedraai nie. 20 Toe het Abner agtertoe gekyk en gevra: “Is dit jy, Aʹsahel?” Hy het geantwoord: “Ja, dit is ek.” 21 Daarna het Abner vir hom gesê: “Hou op om my te agtervolg en vang een van die jong manne en neem vir jou wat jy by hom afvat.” Maar Aʹsahel wou nie ophou om hom te agtervolg nie. 22 En Abner het weer vir Aʹsahel gesê: “Hou op om my te agtervolg. Hoekom moet ek jou doodmaak? Hoe sal ek jou broer Joab in die oë kan kyk?” 23 Maar hy het geweier om op te hou, en daarom het Abner hom met die agterkant van die spies in die maag gesteek,+ en die spies het by sy rug uitgekom. Hy het geval en net daar gesterf. Almal wat by die plek gekom het waar Aʹsahel geval en gesterf het, het ’n rukkie daar stilgestaan.

24 Joab en Abiʹsai het Abner agternagesit. Terwyl die son ondergegaan het, het hulle by die heuwel Amma gekom, wat oorkant Giag op die pad na die wildernis van Giʹbeon is. 25 En die Benjaminiete het agter Abner bymekaargekom, en hulle het een groep gevorm en bo-op ’n sekere heuwel gaan staan. 26 Toe het Abner na Joab geroep en gesê: “Gaan die swaard nooit ophou verslind nie? Besef jy nie dat dit net tot bitterheid sal lei nie? Hoe lank gaan dit nog wees voordat jy vir die manne sê dat hulle moet ophou om hulle broers te agtervolg?” 27 Joab het geantwoord: “So waar as wat die ware God lewe, as jy nie gepraat het nie, sou die manne eers teen die oggend opgehou het om hulle broers te agtervolg.” 28 Joab het toe op die horing geblaas, en sy manne het opgehou om Israel te agtervolg, en die geveg het opgehou.

29 Abner en sy manne het toe daardie hele nag deur die Aʹraba+ getrek en die Jordaanrivier oorgesteek en deur die hele kloof* getrek en uiteindelik by Mahanaʹim+ gekom. 30 Nadat Joab opgehou het om Abner te agtervolg, het hy al die manne bymekaargebring. Aʹsahel en nog 19 van Dawid se knegte is vermis. 31 Maar die knegte van Dawid het die Benjaminiete en die manne van Abner verslaan, en 360 van hulle manne het gesterf. 32 Hulle het Aʹsahel+ geneem en hom begrawe in sy pa se graf, wat in Betlehem+ is. Toe het Joab en sy manne die hele nag verder getrek, en hulle het Heʹbron+ teen dagbreek bereik.

3 Die oorlog tussen die huis van Saul en die huis van Dawid het lank aangehou. Dawid het al hoe sterker geword,+ en die huis van Saul het geleidelik swakker geword.+

2 Intussen is daar vir Dawid seuns in Heʹbron gebore.+ Sy eersgeborene was Amnon+ by Ahiʹnoam+ van Jisʹreël. 3 Sy tweede was Kiʹleab by Abiʹgail,+ die weduwee van Nabal, die Karmeliet. Die derde was Absalom,+ die seun van Maʹäga, die dogter van koning Talmai+ van Gesur. 4 Die vierde was Adoʹnia,+ die seun van Haggit, en die vyfde was Sefatʹja, die seun van Abiʹtal. 5 Die sesde was Jitʹream by Dawid se vrou Egla. Hierdie seuns van Dawid is in Heʹbron gebore.

6 Terwyl die oorlog tussen die huis van Saul en die huis van Dawid voortgeduur het, het Abner+ sy posisie in die huis van Saul bly versterk. 7 En Saul het ’n byvrou gehad met die naam Rispa,+ die dogter van Aja. Later het Is-Boset+ vir Abner gesê: “Hoekom het jy by my pa se byvrou geslaap?”+ 8 Abner het baie kwaad geword oor die woorde van Is-Boset en het gesê: “Is ek ’n hond* uit Juda? Ek het tot vandag toe lojale liefde aan die huis van jou pa, Saul, en aan sy broers en sy vriende betoon, en ek het jou nie in Dawid se hande laat val nie. Maar vandag kom soek jy ’n verduideliking by my oor ’n oortreding met ’n vrou. 9 Mag God my swaar straf* as ek nie vir Dawid doen net soos Jehovah vir hom gesweer het nie,+ 10 naamlik om die koninkryk van die huis van Saul weg te neem en om die troon van Dawid te vestig oor Israel en oor Juda, van Dan tot Berseʹba.”+ 11 Is-Boset het nie gewaag om enigiets verder te sê nie, want hy was bang vir Abner.+

12 Abner het onmiddellik boodskappers na Dawid toe gestuur en gesê: “Aan wie behoort die land?” Hy het bygevoeg: “Maak ’n verbond met my, en ek sal alles doen wat ek kan* om die hele Israel aan u kant te kry.”+ 13 Hy het geantwoord: “Goed. Ek sal ’n verbond met jou maak. Al wat ek vra, is dat jy nie na my toe moet kom tensy jy Migal,+ Saul se dogter, saambring nie.” 14 Toe het Dawid boodskappers na Is-Boset,+ Saul se seun, gestuur en gesê: “Gee my vrou Migal terug, aan wie ek verloof geraak het vir 100 voorhuide van die Filistyne.”+ 15 Toe het Is-Boset haar laat wegneem van haar man Palʹtiël,+ die seun van Lajis. 16 Maar haar man het saam met haar bly loop en gehuil terwyl hy agter haar aan geloop het tot by Bahuʹrim.+ Toe het Abner vir hom gesê: “Gaan terug!” En hy het teruggegaan.

17 Intussen het Abner ’n boodskap aan die ouermanne van Israel gestuur en gesê: “Julle wil Dawid al lankal as koning oor julle hê. 18 Tree dan nou op, want Jehovah het vir Dawid gesê: ‘Deur die hand van my kneg Dawid+ sal ek my volk Israel van die Filistyne en van al hulle vyande red.’” 19 Toe het Abner met die Benjaminiete+ gepraat. Abner het ook privaat met Dawid in Heʹbron gaan praat om vir hom te sê wat Israel en die hele huis van Benjamin besluit het.

20 Toe Abner en 20 manne by Dawid in Heʹbron kom, het Dawid ’n feesmaal gehou vir Abner en die manne by hom. 21 Abner het toe vir Dawid gesê: “Laat ek gaan en die hele Israel by my heer die koning bymekaarbring, sodat hulle ’n verbond met u kan maak, en u sal koning word oor alles wat u begeer.” Daarna het Dawid Abner weggestuur, en hy het in vrede weggegaan.

22 Kort daarna het Dawid se knegte en Joab van ’n strooptog af teruggekom, en hulle het baie goed saamgebring wat hulle by hulle vyande gevat het. Abner was nie meer by Dawid in Heʹbron nie, want hy het hom in vrede weggestuur. 23 Toe Joab+ en die hele leërmag wat by hom was, daar aankom, is daar vir Joab gesê: “Abner,+ die seun van Ner,+ het na die koning toe gekom, en hy het hom weggestuur, en hy het in vrede weggegaan.” 24 Toe het Joab na die koning toe gegaan en gesê: “Wat het u gedoen? Abner het na u toe gekom. Hoekom het u hom laat wegkom? 25 U ken Abner, die seun van Ner! Hy het gekom om u te mislei en om uit te vind waarmee u besig is en wat u alles doen.”

26 Joab het toe van Dawid af weggegaan en boodskappers agter Abner aan gestuur, en hulle het hom toe van die reënput van Sira af teruggebring. Maar Dawid het niks daarvan geweet nie. 27 Toe Abner na Heʹbron+ terugkeer, het Joab hom binne die poort eenkant toe geneem asof hy alleen met hom wou praat. Maar daar het hy hom in die maag gesteek, en hy het gesterf.+ Joab het dit gedoen omdat Abner sy broer Aʹsahel doodgemaak het.*+ 28 Toe Dawid later daarvan hoor, het hy gesê: “Ek en my koninkryk is vir ewig onskuldig voor Jehovah oor die bloed+ van Abner, die seun van Ner. 29 Mag Joab en die hele huis van sy vader gestraf word.*+ Mag daar in Joab se huis altyd ’n man wees wat ’n afskeiding+ het of melaats+ is of wat by ’n spinwiel werk* of deur die swaard val of nie genoeg kos het nie!”+ 30 Joab en sy broer Abiʹsai+ het Abner+ doodgemaak omdat hy hulle broer Aʹsahel in die geveg+ by Giʹbeon doodgemaak het.

31 Toe het Dawid vir Joab en al die manne by hom gesê: “Skeur julle klere en bind saklinne om julle en huil oor Abner.” Koning Dawid het self agter die draagbaar geloop waarop die lyk gedra is. 32 Hulle het Abner in Heʹbron begrawe. En die koning het hard gehuil by Abner se graf, en almal het begin huil. 33 Die koning het die volgende treurlied oor Abner gesing:

“Moes Abner soos ’n verstandelose sterf?

34 Jou hande was nie gebind nie,

en jou voete was nie in boeie* nie.

Jy het gesterf soos iemand wat deur misdadigers* doodgemaak is.”+

Toe het almal weer oor hom gehuil.

35 Later, terwyl dit nog dag was, het al Dawid se manne gekom om hom te probeer oorreed om iets te eet,* maar Dawid het gesweer: “Mag God my swaar straf* as ek my mond aan brood of enigiets anders sit voordat die son ondergaan!”+ 36 Almal het dit gesien, en dit was goed in hulle oë. Soos alles wat die koning gedoen het, was dit goed in hulle oë. 37 En al Dawid se manne en die hele Israel het op daardie dag geweet dat die koning nie verantwoordelik was vir die dood van Abner, die seun van Ner, nie.+ 38 Toe het die koning vir sy knegte gesê: “Weet julle nie dat ’n leier en ’n magtige man vandag in Israel dood is nie?+ 39 Vandag is ek swak, al is ek as koning gesalf,+ en hierdie manne, die seuns van Seruʹja,+ is te wreed vir my.+ Mag Jehovah die een wat doen wat sleg is, die straf gee wat hy verdien.”+

4 Toe Saul se seun Is-Boʹset+ hoor dat Abner in Heʹbron+ gesterf het, het hy moed verloor,* en al die Israeliete was ontsteld. 2 Daar was twee manne wat leiers was van die rowerbendes wat aan die seun van Saul behoort het: Die naam van die een was Baäna, en die naam van die ander was Regab. Hulle was seuns van Rimmon, die Beërotiet, van die stam van Benjamin. (Want Beʹërot+ was voorheen deel van Benjamin se gebied. 3 Die Beërotiete het na Gittaʹim+ gevlug, en hulle woon tot vandag toe daar as uitlanders.)

4 Saul se seun Joʹnatan+ het ’n seun met gebreklike voete gehad.+ Hy was vyf jaar oud toe die berig oor Saul en Joʹnatan uit Jisʹreël+ gekom het, en sy oppasser het hom opgetel en haastig gevlug, maar terwyl sy gevlug het, het hy geval, en van toe af was hy gebreklik. Sy naam was Mefiboʹset.+

5 Regab en Baäna, die seuns van Rimmon, die Beërotiet, het op die warmste tyd van die dag na Is-Boʹset se huis gegaan terwyl hy sy middagslapie geniet het. 6 Hulle het in die huis ingekom deur te maak asof hulle koring gaan haal, en hulle het hom in die maag gesteek. Daarna het Regab en sy broer Baäna+ ontsnap. 7 Toe hulle in die huis ingegaan het, het hy op sy bed in sy slaapkamer gelê, en hulle het hom doodgemaak, en daarna het hulle sy kop afgekap. Hulle het sy kop gevat en die hele nag lank op die pad na die Aʹraba geloop. 8 Hulle het Is-Boʹset+ se kop na Dawid in Heʹbron gebring en vir die koning gesê: “Hier is die kop van Is-Boʹset, die seun van u vyand Saul+ wat u lewe wou neem.+ Vandag het Jehovah toegelaat dat daar vir my heer die koning wraak geneem word op Saul en sy nakomelinge.”

9 Maar Dawid het vir Regab en sy broer Baäna, die seuns van Rimmon, die Beërotiet, gesê: “So waar as wat Jehovah lewe, wat my uit alle moeilikhede gered het,+ 10 toe iemand vir my kom sê het dat Saul dood is+ en gedink het dat hy vir my goeie nuus bring, het ek hom gegryp en hom daar in Siklag doodgemaak.+ Dit was die beloning wat daardie boodskapper van my ontvang het! 11 Nou het goddelose manne ’n regverdige man in sy eie huis op sy bed vermoor! Moet ek julle dan nie laat boet vir sy dood*+ en julle van die aarde af uitroei nie?” 12 Dawid het toe die jong manne beveel om hulle dood te maak.+ Hulle het hulle hande en voete afgekap en hulle by die dam in Heʹbron opgehang.+ Maar hulle het Is-Boʹset se kop geneem en dit in die graf van Abner in Heʹbron begrawe.

5 Ná verloop van tyd het al die stamme van Israel na Dawid in Heʹbron+ gekom en gesê: “Ons is u vlees en bloed.+ 2 Toe Saul ons koning was, het u Israel in hulle gevegte gelei.*+ En Jehovah het vir u gesê: ‘Jy sal my volk Israel as herder lei, en jy sal leier oor Israel word.’”+ 3 Al die ouermanne van Israel het na die koning in Heʹbron gekom, en koning Dawid het in Heʹbron voor Jehovah ’n verbond met hulle gemaak.+ Daarna het hulle Dawid as koning oor Israel gesalf.+

4 Dawid was 30 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 40 jaar lank regeer.+ 5 In Heʹbron het hy 7 jaar en 6 maande lank oor Juda regeer, en in Jerusalem+ het hy 33 jaar lank oor die hele Israel en Juda regeer. 6 En die koning en sy manne het opgetrek na Jerusalem om teen die Jebusiete te veg+ wat in die land gewoon het. Hulle het Dawid uitgetart en gesê: “Jy sal nooit hier inkom nie! Selfs die blindes en die kreupeles sal jou verdryf.” Hulle het gedink: ‘Dawid sal nooit hier inkom nie.’+ 7 Maar Dawid het die vesting Sion ingeneem, wat nou die Stad van Dawid+ is. 8 En Dawid het op daardie dag gesê: “Die manne wat die Jebusiete aanval, moet deur die watertonnel gaan om ‘die kreupeles en die blindes’, wat ek haat, dood te maak!” Daarom sê hulle: “Die blinde en die kreupele sal nooit in die huis ingaan nie.” 9 Dawid het in die vesting gaan woon, en dit is* die Stad van Dawid genoem. Dawid het oral bouwerk begin doen, van die Wal*+ af binnetoe.+ 10 Dawid het al hoe magtiger geword,+ en Jehovah, die God van die leërmagte, was met hom.+

11 Koning Hiram+ van Tirus het boodskappers na Dawid toe gestuur, en ook sederhout,+ houtwerkers en klipmesselaars om mure te bou, en hulle het vir Dawid ’n paleis* begin bou.+ 12 Dawid het geweet dat Jehovah hom stewig gevestig het as koning oor Israel+ en dat Hy sy koninkryk verheerlik+ het ter wille van Sy volk Israel.+

13 Dawid het nog byvrouens+ en vrouens in Jerusalem geneem nadat hy uit Heʹbron gekom het, en Dawid het nog seuns en dogters gehad.+ 14 Dít is die name van sy seuns wat in Jerusalem gebore is: Samʹmua, Sobab, Natan,+ Salomo,+ 15 Jibhar, Elisuʹa, Nefeg, Jaʹfia, 16 Elisaʹma, Eljaʹda en Elifeʹlet.

17 Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning oor Israel gesalf is,+ het al die Filistyne gekom om teen Dawid te veg.+ Toe Dawid daarvan hoor, het hy na die skuilplek gegaan.+ 18 En die Filistyne het die Refaʹim-vallei+ binnegeval en oral in die vallei versprei. 19 Dawid het Jehovah geraadpleeg+ en gevra: “Moet ek teen die Filistyne gaan veg? Sal u hulle in my hand gee?” Jehovah het vir Dawid gesê: “Gaan, want ek sal die Filistyne beslis in jou hand gee.”+ 20 En Dawid het by Baäl-Peʹrasim gekom, en hy het hulle daar verslaan. Hy het toe gesê: “Jehovah het voor my uit gegaan en deur my vyande se leërmag gebreek,+ net soos waters deur ’n muur breek.” Daarom het hy daardie plek Baäl-Peʹrasim*+ genoem. 21 Die Filistyne het hulle afgode daar agtergelaat, en Dawid en sy manne het dit weggeneem.

22 Later het die Filistyne die Refaʹim-vallei+ weer binnegeval en oral in die vallei versprei. 23 Dawid het Jehovah vir leiding gevra, maar Hy het gesê: “Moet hulle nie van voor af aanval nie. Gaan eerder om hulle en val hulle by die baka-bosse van agter af aan. 24 En wanneer jy ’n geluid hoor wat klink soos voetstappe in die toppe van die baka-bosse, moet jy dadelik optree, want dan het Jehovah voor jou uit gegaan om die leërmag van die Filistyne te verslaan.” 25 Toe het Dawid gedoen net soos Jehovah hom beveel het, en hy het die Filistyne verslaan+ van Geba+ af tot by Geser.+

6 Dawid het weer die beste soldate in Israel bymekaargekry, 30 000 manne. 2 Toe het Dawid en al die manne by hom na Baʹäle-Juʹda gegaan om die Ark van die ware God te gaan haal.+ Dit is voor hierdie Ark dat die naam van Jehovah van die leërmagte,+ wat op sy troon bo* die gerubs sit,+ aangeroep word. 3 Maar hulle het die Ark van die ware God op ’n nuwe wa+ gesit om dit te vervoer van Abinaʹdab+ se huis af, wat op die heuwel was. Ussa en Agjo, die seuns van Abinaʹdab, het die nuwe wa gelei.

4 So het hulle die Ark van die ware God vervoer van Abinaʹdab se huis af, wat op die heuwel was, en Agjo het voor die Ark geloop. 5 Dawid en die hele huis van Israel het die geleentheid voor Jehovah gevier met allerhande instrumente van jenewerhout, met harpe en ander snaarinstrumente,+ tamboeryne,+ sistrums en simbale.+ 6 Maar toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand na die Ark van die ware God uitgesteek en dit gegryp,+ want die beeste het dit amper laat afval. 7 Toe het Jehovah woedend geword vir Ussa, en die ware God het hom daar doodgemaak+ omdat hy disrespekvol opgetree het,+ en hy het daar langs die Ark van die ware God gesterf. 8 En Dawid het kwaad* geword omdat Jehovah dadelik teen Ussa opgetree het, en daardie plek word tot vandag toe Peres-Ussa* genoem. 9 Op daardie dag het Dawid vir Jehovah bang geword+ en gesê: “Hoe sal die Ark van Jehovah nou na my toe gebring word?”+ 10 Dawid wou nie die Ark van Jehovah na hom toe bring in die Stad van Dawid+ nie. Hy het dit eerder na die huis van Obed-Edom,+ die Gittiet, laat neem.

11 Die Ark van Jehovah het drie maande lank in die huis van Obed-Edom, die Gittiet, gebly, en Jehovah het Obed-Edom en sy hele huisgesin bly seën.+ 12 Toe het koning Dawid die volgende boodskap ontvang: “Jehovah het die huis van Obed-Edom en alles wat hy het, geseën weens die Ark van die ware God.” En Dawid het gegaan om die Ark van die ware God met vreugde uit die huis van Obed-Edom na die Stad van Dawid te bring.+ 13 Toe die draers+ van die Ark van Jehovah ses treë gestap het, het hy ’n bul en ’n vetgemaakte dier geoffer.

14 Dawid het met al sy mag voor Jehovah gedans, en hy het die hele tyd ’n linne-efod aangehad.+ 15 Dawid en die hele huis van Israel het uitgeroep van vreugde+ en op die horing geblaas+ terwyl hulle die Ark+ van Jehovah na die stad gebring het. 16 Maar toe die Ark van Jehovah in die Stad van Dawid inkom, het Saul se dogter Migal+ deur die venster afgekyk en gesien hoe koning Dawid voor Jehovah spring en dans. En sy het hom in haar hart begin verag.+ 17 Toe het hulle die Ark van Jehovah gebring en dit op sy plek gesit in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het.+ Daarna het Dawid brandoffers+ en vrede-offers*+ voor Jehovah geoffer.+ 18 Nadat Dawid die brandoffers en die vrede-offers* geoffer het, het hy die volk in die naam van Jehovah van die leërmagte geseën. 19 En hy het aan die hele volk, aan die hele Israel, aan elke man en vrou, ’n ringvormige brood, ’n dadelkoek en ’n rosynekoek gegee, en daarna het die hele volk na hulle huise toe gegaan.

20 Toe Dawid terugkeer om sy huisgesin te seën, het Saul se dogter Migal+ na Dawid toe uitgekom. Sy het gesê: “Hoe geëerd het die koning van Israel hom tog gemaak toe hy hom vandag voor die slavinne van sy knegte halfkaal uitgetrek het, net soos ’n verstandelose man sy klere in die openbaar uittrek!”+ 21 Dawid het toe vir Migal gesê: “Ek het die geleentheid voor Jehovah gevier, wat my bo jou pa en sy hele huisgesin gekies het en wat my as leier oor Jehovah se volk, Israel, aangestel het.+ Daarom sal ek die geleentheid voor Jehovah vier, 22 en ek sal my nog verder verneder, en ek sal my in my eie oë verlaag. Maar ek sal deur die slavinne wat jy genoem het, verheerlik word.” 23 En Saul se dogter Migal+ het tot die dag van haar dood geen kinders gehad nie.

7 Nadat die koning in sy eie paleis*+ ingetrek het en Jehovah hom van al sy vyande om hom rus gegee het, 2 het die koning vir die profeet Natan+ gesê: “Hier woon ek in ’n huis van sederhout,+ terwyl die Ark van die ware God in ’n tent staan.”+ 3 Natan het vir die koning gesê: “Gaan doen wat u hart u beweeg om te doen, want Jehovah is met u.”+

4 Maar daardie selfde nag het Jehovah vir Natan gesê: 5 “Gaan sê vir my kneg Dawid: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Moet jy vir my ’n huis bou om in te woon?+ 6 Van die dag af dat ek die Israeliete uit Egipte gebring het tot vandag toe,+ het ek nie in ’n huis gewoon nie, maar ek het in ’n tent en in ’n tabernakel+ rondgetrek.* 7 Het ek in al die tyd dat ek saam met al die Israeliete rondgetrek het, ooit vir enige van die stamleiers van Israel wat ek as ’n herder oor my volk Israel aangestel het, gevra: ‘Hoekom het julle nie vir my ’n huis van sederhout gebou nie?’”’ 8 Sê vir my kneg Dawid: ‘Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: “Ek het jou uit die weiveld geneem, waar jy skape opgepas het,+ om ’n leier oor my volk Israel te word.+ 9 En ek sal met jou wees waar jy ook al gaan,+ en ek sal al jou vyande voor jou vernietig.+ Ek sal vir jou ’n groot naam maak,+ soos dié van die magtige manne van die aarde. 10 Ek sal vir my volk Israel ’n plek gee en hulle daar vestig, en hulle sal in vrede daar woon. En goddelose mense sal hulle nie weer onderdruk soos hulle in die verlede gedoen het nie,+ 11 ja, van die dag af dat ek rigters oor my volk Israel aangestel het.+ En ek sal jou rus gee van al jou vyande.+

“‘“Jehovah het ook vir jou gesê dat Jehovah vir jou ’n koningshuis sal gee.+ 12 Wanneer jy sterf,*+ sal ek jou nageslag,* jou eie seun,* koning maak ná jou, en ek sal sy koninkryk stewig vestig.+ 13 Hy is die een wat ’n huis vir my naam sal bou,+ en ek sal die troon van sy koninkryk vir ewig stewig vestig.+ 14 Ek sal sy vader word, en hy sal my seun word.+ Wanneer hy verkeerd doen, sal ek hom dissiplineer met die lat van mense en met die houe van die mensekinders.*+ 15 My lojale liefde sal nie van hom af weggeneem word soos ek dit van Saul af weggeneem het,+ wat ek voor jou verwyder het nie. 16 Jou huis en jou koninkryk sal vir ewig bestaan, en jou troon sal vir ewig stewig gevestig wees.”’”+

17 Natan het al hierdie woorde aan Dawid oorgedra en hom van hierdie hele visioen vertel.+

18 Toe het koning Dawid voor Jehovah gaan sit en gesê: “O Soewereine Heer Jehovah, wie is ek en wat is my huis dat u my so ver gebring het?+ 19 En asof dit nie genoeg is nie, o Soewereine Heer Jehovah, sê u ook nog dat die huis van u kneg tot in die verre toekoms sal bly bestaan, en dit is wet vir die hele mensdom, o Soewereine Heer Jehovah. 20 Wat kan u kneg Dawid nog vir u sê? Want u ken my so goed,+ o Soewereine Heer Jehovah. 21 U het al hierdie groot dinge gedoen en dit aan u kneg bekend gemaak+ omdat dit u wil is en u dit belowe het. 22 Daarom is u waarlik groot,+ o Soewereine Heer Jehovah. Daar is niemand soos u nie,+ en daar is geen God behalwe u nie.+ Alles wat ons gehoor het, bevestig dit. 23 En watter ander nasie op die aarde is soos u volk Israel?+ God het hulle gaan bevry en hulle sy volk gemaak+ en ’n groot naam vir homself gemaak+ deur groot en ontsagwekkende dinge vir hulle te doen.+ U het die nasies en hulle gode uitgedryf ter wille van u volk, wat u uit Egipte bevry het. 24 U het u volk Israel vir altyd u volk gemaak,+ en u, o Jehovah, het hulle God geword.+

25 “En nou, o Jehovah God, mag u vir altyd die belofte vervul wat u oor u kneg en sy huis gemaak het, en mag u doen net soos u belowe het.+ 26 Mag u naam vir ewig verheerlik word,+ sodat mense kan sê: ‘Jehovah van die leërmagte is God oor Israel,’ en mag die huis van u kneg Dawid stewig gevestig wees voor u.+ 27 Want u, Jehovah van die leërmagte, die God van Israel, het vir u kneg gesê: ‘Ek sal vir jou ’n koningshuis gee.’+ Daarom het u kneg die moed* om hierdie gebed tot u te rig. 28 En nou, o Soewereine Heer Jehovah, u is die ware God, en u woorde is die waarheid,+ en u het hierdie goeie dinge aan u kneg belowe. 29 Seën dus asseblief die huis van u kneg, en mag dit vir ewig voor u bestaan,+ want u, o Soewereine Heer Jehovah, het dit belowe, en mag u die huis van u kneg vir ewig seën.”+

8 Later het Dawid die Filistyne+ verslaan en hulle onderwerp,+ en Dawid het Meteg-Amma by die Filistyne afgevat.

2 Hy het die Moabiete+ verslaan en hulle in ’n ry op die grond laat lê. Hy het die ry met ’n tou gemeet om twee-derdes van hulle dood te maak en ’n derde van hulle te laat lewe.+ En die Moabiete het Dawid se knegte geword en het skatting* betaal.+

3 Dawid het Hadadeʹser, die seun van Rehob, die koning van Soba,+ verslaan toe Hadadeʹser op pad was om sy beheer oor die gebied by die Eufraatrivier+ te herstel. 4 Dawid het 1 700 van sy perderuiters en 20 000 van sy voetsoldate gevange geneem. Toe het Dawid die hakskeensenings van al die strydwaperde+ afgesny, maar hy het 100 van die perde laat oorbly.

5 Die Siriërs van Damaskus+ het koning Hadadeʹser van Soba kom help, en Dawid het 22 000 van die Siriërs doodgemaak.+ 6 Dawid het toe groepe soldate in Sirië van Damaskus gestasioneer, en die Siriërs het Dawid se knegte geword en het skatting* betaal. Waar Dawid ook al gegaan het, het Jehovah hom die oorwinning* gegee.+ 7 Dawid het ook die ronde skilde van goud van die knegte van Hadadeʹser na Jerusalem gebring.+ 8 Koning Dawid het baie koper geneem uit Betag en Berotaiʹ, stede van Hadadeʹser.

9 Koning Toï van Hamat+ het gehoor dat Dawid die hele leërmag van Hadadeʹser verslaan het.+ 10 Daarom het Toï sy seun Joram na koning Dawid toe gestuur om sy groete oor te dra en hom geluk te wens omdat hy Hadadeʹser verslaan het (want Hadadeʹser het dikwels teen Toï geveg). Hy het voorwerpe van silwer, goud en koper saamgebring. 11 Koning Dawid het dit vir Jehovah geheilig, net soos hy gedoen het met die silwer en die goud wat hy geneem het van al die nasies wat hy onderwerp het:+ 12 van Sirië en Moab,+ van die Ammoniete, die Filistyne,+ die Amalekiete+ en van Hadadeʹser,+ die seun van Rehob, die koning van Soba. 13 Dawid het ook ’n groot naam vir homself gemaak nadat hy 18 000 Edomiete in die Soutvallei doodgemaak het.+ 14 Hy het groepe soldate in Edom gestasioneer. In die hele Edom het hy groepe soldate gestasioneer, en al die Edomiete het Dawid se knegte geword.+ Waar Dawid ook al gegaan het, het Jehovah hom die oorwinning* gegee.+

15 Dawid het oor die hele Israel bly regeer,+ en hy was ’n regverdige regter+ vir sy hele volk.+ 16 Joab,+ die seun van Seruʹja, was oor die leërmag, en Joʹsafat,+ die seun van Ahiʹlud, was die geskiedskrywer. 17 Sadok,+ die seun van Ahiʹtub, en Ahimeʹleg, die seun van Abjaʹtar, was priesters, en Seraʹja was die sekretaris. 18 Benaʹja,+ die seun van Jojaʹda, was oor die Keretiete en die Peletiete.+ En Dawid se seuns het hoofamptenare* geword.

9 Dawid het toe gevra: “Is daar iemand oor van die huis van Saul aan wie ek lojale liefde kan betoon ter wille van Joʹnatan?”+ 2 Toe is ’n kneg van die huis van Saul met die naam Siba+ gevra om na Dawid toe te gaan, en die koning het vir hom gevra: “Is jy Siba?” Hy het geantwoord: “Ja, ek is u kneg.” 3 En die koning het gesê: “Is daar iemand oor van die huis van Saul aan wie ek die lojale liefde van God kan betoon?” Siba het vir die koning gesê: “Daar is nog ’n seun van Joʹnatan. Albei sy voete is gebreklik.”+ 4 Die koning het vir hom gevra: “Waar is hy?” Siba het geantwoord: “Hy is in die huis van Magir,+ die seun van Ammiʹël, in Lo-Debar.”

5 Koning Dawid het hom onmiddellik by die huis van Magir, die seun van Ammiʹël, in Lo-Debar laat haal. 6 Toe Mefiboʹset, die seun van Joʹnatan, die seun van Saul, by Dawid kom, het hy dadelik op sy knieë geval en met sy gesig na die grond toe neergebuig. Toe het Dawid gesê: “Mefiboʹset!” Hy het geantwoord: “Hier is u kneg.” 7 Dawid het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, want ek sal vir seker lojale liefde+ aan jou betoon ter wille van jou pa, Joʹnatan, en ek sal al die grond van jou oupa, Saul, aan jou teruggee, en jy sal altyd aan my tafel eet.”*+

8 Hy het toe neergebuig en gesê: “Wat is u kneg dat u aandag skenk aan ’n dooie hond+ soos ek?” 9 Die koning het Siba, Saul se dienaar, laat roep en vir hom gesê: “Alles wat aan Saul en aan sy hele huis behoort het, gee ek aan die kleinseun van jou meester.+ 10 Jy moet die grond vir hom bewerk, jy en jou seuns en jou knegte, en jy moet die opbrengs insamel om kos te voorsien aan almal wat aan die kleinseun van jou meester behoort. Maar Mefiboʹset, die kleinseun van jou meester, sal altyd aan my tafel eet.”+

En Siba het 15 seuns en 20 knegte gehad.+ 11 Toe het Siba vir die koning gesê: “U kneg sal alles doen wat my heer die koning beveel.” Mefiboʹset het toe aan Dawid se* tafel geëet soos een van die koning se seuns. 12 Mefiboʹset het ook ’n jong seun gehad met die naam Miga.+ En almal wat in die huis van Siba gewoon het, het knegte van Mefiboʹset geword. 13 En Mefiboʹset het in Jerusalem gewoon omdat hy altyd aan die tafel van die koning geëet het.+ Albei sy voete was gebreklik.+

10 Later het die koning van die Ammoniete gesterf,+ en sy seun Hanun het in sy plek koning geword.+ 2 Toe het Dawid gesê: “Ek sal lojale liefde aan Hanun, die seun van Nahas, betoon, net soos sy pa lojale liefde aan my betoon het.” Daarom het Dawid sy knegte gestuur om Hanun ná sy pa se dood te vertroos. Maar toe Dawid se knegte in die land van die Ammoniete kom, 3 het die leiers van die Ammoniete vir hulle heer Hanun gevra: “Dink u dat Dawid vertroosters na u toe stuur om u pa te eer? Is dit nie om die stad te deursoek en om dit te verken en om dit te verwoes dat Dawid sy knegte na u toe gestuur het nie?” 4 Hanun het Dawid se knegte toe geneem en die helfte van hulle baarde afgeskeer+ en hulle klere by die heupe afgesny en hulle weggestuur. 5 Toe Dawid hiervan hoor, het hy dadelik manne na hulle toe gestuur om hulle te gaan ontmoet omdat die manne baie verneder gevoel het. En die koning het vir hulle gesê: “Bly in Jeʹrigo+ totdat julle baarde teruggroei, en dan moet julle terugkom.”

6 Met verloop van tyd het die Ammoniete besef dat Dawid hulle begin haat het, en daarom het die Ammoniete manne gestuur om 20 000 Siriese voetsoldate van Bet-Rehob+ en Soba te huur.+ Hulle het ook die koning van Maʹäga+ met 1 000 manne en 12 000 manne van Istob* gehuur.+ 7 Toe Dawid hiervan hoor, het hy Joab en die hele leërmag, insluitende sy magtigste vegters, gestuur.+ 8 En die Ammoniete het in gevegsformasie by die ingang van die stadspoort gaan staan, terwyl die Siriërs van Soba en van Rehob, sowel as Istob* en Maʹäga eenkant in die oop veld was.

9 Toe Joab sien dat hy van voor en van agter aangeval word, het hy van die beste soldate in Israel gekies en hulle in gevegsformasie laat staan om teen die Siriërs te veg.+ 10 Hy het die res van die manne onder die bevel* van sy broer Abiʹsai+ geplaas sodat hulle in gevegsformasie teen die Ammoniete kon gaan veg.+ 11 Toe het hy gesê: “As die Siriërs vir my te sterk word, dan moet jy my kom red, maar as die Ammoniete vir jou te sterk word, sal ek jou kom red. 12 Ons moet sterk en moedig+ wees ter wille van ons volk en die stede van ons God, en Jehovah sal doen wat goed is in sy oë.”+

13 Joab en sy manne het teen die Siriërs gaan veg, en hulle het voor hom gevlug.+ 14 Toe die Ammoniete sien dat die Siriërs gevlug het, het hulle van Abiʹsai af gevlug en in die stad ingegaan. Nadat Joab teen die Ammoniete geveg het, het hy na Jerusalem teruggegaan.

15 Toe die Siriërs sien dat Israel hulle verslaan het, het hulle weer bymekaargekom.+ 16 En Hadadeʹser+ het die Siriërs laat roep wat in die streek van die Rivier*+ was, en hulle het toe na Helam gegaan. Sobag, die hoof van Hadadeʹser se leërmag, het hulle gelei.

17 Toe Dawid hiervan hoor, het hy onmiddellik die hele Israel bymekaar laat kom en deur die Jordaanrivier getrek en ook na Helam gegaan. Die Siriërs het toe in gevegsformasie gaan staan en teen Dawid geveg.+ 18 Maar die Siriërs het voor Israel gevlug. Dawid het 700 van die Siriërs se strydwadrywers en 40 000 van hulle perderuiters doodgemaak, en hy het Sobag, die hoof van hulle leërmag, daar doodgemaak.+ 19 Toe al die konings, die knegte van Hadadeʹser, sien dat Israel hulle verslaan het, het hulle dadelik met Israel vrede gemaak en hulle onderdane geword.+ En van toe af was die Siriërs bang om die Ammoniete te help.

11 Aan die begin van die jaar,* die tyd wanneer konings uitgaan om oorlog te voer, het Dawid vir Joab en sy knegte en die hele leërmag van Israel gestuur om die Ammoniete te vernietig. Hulle het Rabba beleër,+ terwyl Dawid in Jerusalem gebly het.+

2 Een aand* het Dawid van sy bed af opgestaan en op die dak van die koning se paleis* gaan loop. Van die dak af het hy ’n vrou gesien wat bad, en die vrou was baie mooi. 3 Dawid het iemand gestuur om uit te vind wie die vrou is, en hy het vir hom kom sê: “Dit is Batseʹba,+ die dogter van Eliʹam,+ die vrou van Uriʹa,+ die Hetiet.”+ 4 Toe het Dawid boodskappers gestuur om haar na hom toe te bring.+ Sy het na hom toe gekom, en hy het seksuele omgang met haar gehad.+ (Dit het gebeur in die tyd van haar reiniging.)*+ Daarna het sy na haar huis teruggegaan.

5 Die vrou het swanger geword, en sy het vir Dawid ’n boodskap gestuur om te sê dat sy swanger is. 6 Toe het Dawid vir Joab ’n boodskap gestuur en gesê: “Stuur Uriʹa, die Hetiet, na my toe.” Joab het Uriʹa dus na Dawid toe gestuur. 7 Toe Uriʹa by hom kom, het Dawid hom gevra hoe dit met Joab gaan en hoe dit met die manne gaan en hoe dit met die oorlog gaan. 8 Dawid het toe vir Uriʹa gesê: “Gaan na jou huis toe en ontspan.”* Nadat Uriʹa die koning se paleis* verlaat het, is ’n geskenk van die koning* agter hom aan gestuur. 9 Maar Uriʹa het by die ingang van die koning se paleis* by die ander knegte van sy heer geslaap, en hy het nie na sy eie huis toe gegaan nie. 10 Daar is vir Dawid gesê: “Uriʹa het nie huis toe gegaan nie.” Dawid het toe vir Uriʹa gevra: “Het jy nie nou net van ’n reis af teruggekom nie? Hoekom het jy nie huis toe gegaan nie?” 11 Uriʹa het vir Dawid gesê: “Die Ark+ en Israel en Juda woon in tente, en die kamp van my heer Joab en die knegte van my heer is in die oop veld. Hoe kan ek dan huis toe gaan om te eet en te drink en by my vrou te slaap?+ So waar as wat u lewe, ek sal dit nie doen nie!”

12 Toe het Dawid vir Uriʹa gesê: “Bly vandag ook hier, en môre sal ek jou wegstuur.” Daarom het Uriʹa daardie dag en die volgende dag in Jerusalem gebly. 13 Dawid het hom toe laat roep om saam met hom te eet en te drink, en hy het hom dronk gemaak. Maar daardie aand het Uriʹa op sy bed by die knegte van sy heer gaan slaap, en hy het nie na sy huis toe gegaan nie. 14 In die oggend het Dawid ’n brief aan Joab geskryf en dit saam met Uriʹa gestuur. 15 Hy het in die brief geskryf: “Sit Uriʹa aan die voorpunt waar die geveg op sy ergste is. Dan moet julle agter hom terugtrek sodat hy doodgemaak kan word.”+

16 Joab het die stad fyn dopgehou, en hy het Uriʹa op ’n plek gesit waar hy geweet het dat daar magtige vegters is. 17 Toe die manne van die stad uitkom om teen Joab te veg, is party van Dawid se knegte doodgemaak, en Uriʹa, die Hetiet, was onder dié wat gesterf het.+ 18 Joab het toe vir Dawid ’n boodskap gestuur met al die nuus oor die oorlog. 19 Hy het vir die boodskapper gesê: “Nadat jy vir die koning al die nuus oor die oorlog gegee het, 20 sal hy dalk kwaad word en vir jou sê: ‘Hoekom moes julle so naby die stad gaan veg? Het julle nie geweet dat hulle van die muur af sou skiet nie? 21 Wie het Abimeʹleg,+ die seun van Jerubbeʹset,+ doodgemaak? Was dit nie ’n vrou wat ’n meulsteen van die muur af op hom gegooi het en so sy dood in Tebes veroorsaak het nie? Hoekom moes julle so na aan die muur gaan?’ Dan moet jy sê: ‘U kneg Uriʹa, die Hetiet, het ook gesterf.’”

22 Toe het die boodskapper na Dawid toe gegaan en hom alles vertel wat Joab vir hom gesê het. 23 Die boodskapper het toe vir Dawid gesê: “Hulle manne het die oorhand oor ons gekry en hulle het tot in die veld teen ons uitgekom, maar ons het hulle teruggedryf tot by die ingang van die stadspoort. 24 En die boogskutters het van die muur af op u knegte geskiet, en party van die koning se knegte het gesterf. U kneg Uriʹa, die Hetiet, het ook gesterf.”+ 25 Toe het Dawid vir die boodskapper gesê: “Sê vir Joab: ‘Moenie ontsteld wees daaroor nie, want enigeen kan deur die swaard doodgemaak word. Baklei nog harder teen die stad en verower dit.’+ En moedig hom aan.”

26 Toe Uriʹa se vrou hoor dat haar man gesterf het, het sy oor haar man begin rou. 27 Onmiddellik nadat die routyd verby was, het Dawid haar laat roep en haar na sy huis toe gebring, en sy het sy vrou geword+ en aan ’n seun geboorte gegee. Maar wat Dawid gedoen het, was baie sleg in Jehovah se oë.+

12 Jehovah het Natan+ na Dawid toe gestuur. Natan het na hom toe gegaan+ en vir hom gesê: “Daar was twee mans in een stad, die een was ryk en die ander arm. 2 Die ryk man het baie skape en beeste gehad,+ 3 maar die arm man het niks gehad nie behalwe een ooilammetjie wat hy gekoop het.+ Hy het haar versorg, en sy het by hom en sy seuns grootgeword. Sy het van die bietjie kos wat hy gehad het, geëet en uit sy beker gedrink en in sy arms geslaap. Sy het soos ’n dogter vir hom geword. 4 Later het daar ’n besoeker na die ryk man toe gekom, maar hy wou nie van sy eie skape en beeste neem om ’n ete voor te berei vir die reisiger wat na hom toe gekom het nie. Hy het eerder die arm man se lammetjie geneem en dit vir die besoeker voorberei.”+

5 Dawid het toe baie kwaad geword vir hierdie man en hy het vir Natan gesê: “So waar as wat Jehovah lewe,+ die man wat dit gedoen het, verdien om te sterf! 6 En hy moet vier keer die waarde van die lammetjie gee+ omdat hy dit gedoen het en omdat hy geen medelye* gehad het nie.”

7 Toe het Natan vir Dawid gesê: “U is die man! Dít is wat Jehovah, die God van Israel, sê: ‘Ek het jou as koning oor Israel gesalf,+ en ek het jou uit Saul se hand gered.+ 8 Ek het die huis van jou meester+ en die vrouens van jou meester vir jou gegee,+ en ek het die huis van Israel en van Juda vir jou gegee.+ En asof dit nie genoeg was nie, was ek bereid om nog baie meer vir jou te doen.+ 9 Hoekom het jy geen respek vir die woord van Jehovah getoon nie deur te doen wat sleg is in sy oë? Jy het Uriʹa, die Hetiet, met die swaard doodgemaak!+ Toe het jy sy vrou as jou vrou geneem+ nadat jy hom deur die swaard van die Ammoniete doodgemaak het.+ 10 Nou sal die swaard nooit uit jou huis weggaan nie+ omdat jy geen respek aan my betoon het toe jy die vrou van Uriʹa, die Hetiet, as jou vrou geneem het nie.’ 11 Dít is wat Jehovah sê: ‘Ek sal uit jou eie huis rampspoed oor jou bring.+ En ek sal jou vrouens voor jou oë neem en hulle vir ’n ander man gee,+ en hy sal oop en bloot* by jou vrouens slaap.+ 12 Hoewel jy dit in die geheim gedoen het,+ sal ek dit oop en bloot* voor die hele Israel doen.’”

13 Dawid het toe vir Natan gesê: “Ek het teen Jehovah gesondig.”+ Natan het geantwoord: “Jehovah vergewe u sonde.+ U sal nie sterf nie.+ 14 Maar omdat u in hierdie saak geen respek vir Jehovah getoon het nie, sal die seun wat nou vir u gebore is, sekerlik sterf.”

15 Toe het Natan na sy eie huis gegaan.

En Jehovah het die kind van Dawid en Uriʹa se vrou siek laat word. 16 Dawid het die ware God gesmeek om die seun se lewe te spaar. Dawid het streng begin vas en hy het elke aand in sy kamer ingegaan en die hele nag op die grond gelê.+ 17 Toe het die ouermanne van sy huis by hom gaan staan en hom probeer oorreed om van die grond af op te staan, maar hy het geweier en wou nie saam met hulle eet nie. 18 Op die sewende dag het die kind gesterf, maar Dawid se knegte was bang om hom te vertel dat die kind dood is. Hulle het gesê: “Toe die kind nog gelewe het, het hy nie na ons geluister toe ons met hom gepraat het nie. Hoe kan ons dan vir hom sê dat die kind gesterf het? Hy sal miskien iets verskrikliks doen.”

19 Toe Dawid sien dat sy knegte onder mekaar fluister, het Dawid besef dat die kind gesterf het. Dawid het vir sy knegte gevra: “Het die kind gesterf?” Hulle het geantwoord: “Ja, hy het gesterf.” 20 Dawid het toe van die grond af opgestaan. Hy het gewas, olie aan hom gesmeer,+ ander klere aangetrek en na die huis van Jehovah gegaan om te aanbid.+ Daarna het hy na sy paleis* toe gegaan en gevra dat kos na hom toe gebring moet word, en hy het geëet. 21 Sy knegte het vir hom gesê: “Hoekom het u so opgetree? Toe die kind gelewe het, het u gevas en die hele tyd gehuil, maar toe die kind sterf, het u opgestaan en geëet.” 22 Hy het geantwoord: “Toe die kind gelewe het, het ek gevas+ en die hele tyd gehuil omdat ek vir myself gesê het: ‘Wie weet of Jehovah genadig teenoor my sal wees en die kind sal laat lewe?’+ 23 Hoekom moet ek vas noudat hy gesterf het? Kan ek hom terugbring?+ Ek sal na hom toe gaan,+ maar hy sal nie na my toe terugkom nie.”+

24 Dawid het sy vrou Batseʹba toe vertroos.+ Hy het na haar toe gegaan en by haar geslaap. Ná verloop van tyd het sy aan ’n seun geboorte gegee, en hy is Salomo*+ genoem. En Jehovah was lief vir hom,+ 25 en hy het deur middel van die profeet Natan+ laat weet dat hy Jedidʹja* genoem moet word omdat Jehovah lief was vir hom.

26 Joab het teen Rabba+ van die Ammoniete+ bly veg, en hy het die koninklike stad* ingeneem.+ 27 Toe het Joab boodskappers na Dawid toe gestuur en gesê: “Ek het teen Rabba geveg,+ en ek het die stad van waters* ingeneem. 28 Kry dan nou die res van die soldate bymekaar en slaan kamp op naby die stad en neem dit in. Anders sal ek die stad inneem en die eer daarvoor kry.”*

29 Dawid het toe al die soldate bymekaargekry en na Rabba gegaan en daarteen geveg en dit ingeneem. 30 Toe het hy die kroon van Malkam* se kop afgehaal. Dit was van een talent* goud gemaak en met edelstene versier. Die kroon is toe op Dawid se kop gesit. Hy het ook baie buit uit die stad+ geneem.+ 31 Hy het die mense van die stad gevange geneem, en hy het hulle klippe laat saag en hulle met skerp ystergereedskap en ysterbyle laat werk en hulle stene laat maak. Dit is wat hy met al die stede van die Ammoniete gedoen het. Uiteindelik het Dawid en al die soldate na Jerusalem teruggekeer.

13 Dawid se seun Absalom het ’n pragtige suster gehad met die naam Tamar.+ En Dawid se seun Amnon+ het op haar verlief geraak. 2 Amnon was so ontsteld dat hy siek geword het oor sy suster Tamar. Sy was ’n maagd, en dit het vir hom onmoontlik gelyk om naby haar te kom. 3 Amnon het ’n vriend gehad met die naam Joʹnadab,+ die seun van Dawid se broer Simea.+ En Joʹnadab was ’n baie slinkse man. 4 Hy het vir hom gevra: “Hoekom is jy, die seun van die koning, elke oggend so terneergedruk? Sê vir my.” Amnon het geantwoord: “Ek is verlief op Tamar, die suster+ van my broer Absalom.” 5 Joʹnadab het vir hom gesê: “Gaan lê op jou bed en maak asof jy siek is. Wanneer jou pa jou kom sien, moet jy vir hom sê: ‘Laat my suster Tamar asseblief vir my ’n bietjie kos kom bedien. As sy die kos* voor my maak, sal ek dit by haar neem.’”

6 Amnon het toe gaan lê en gemaak asof hy siek is, en die koning het ingekom om hom te sien. Toe het Amnon vir die koning gesê: “Laat my suster Tamar asseblief inkom en twee hartvormige koeke voor my bak sodat ek dit by haar kan neem.” 7 Tamar was by die huis, en Dawid het die volgende boodskap aan haar gestuur: “Gaan asseblief na die huis van jou broer Amnon en maak vir hom kos.”* 8 Tamar het toe na die huis van haar broer Amnon gegaan, waar hy gelê het. Sy het daar voor hom die deeg geneem, dit geknie, dit in koeke gevorm en die koeke gaargemaak. 9 Daarna het sy die pan geneem en hom bedien. Maar Amnon het geweier om te eet en het gesê: “Stuur almal van my af weg!” Toe het almal van hom af weggegaan.

10 Amnon het toe vir Tamar gesê: “Bring die kos* na die slaapkamer, sodat jy dit vir my kan gee.” Toe het Tamar die hartvormige koeke wat sy gemaak het, na haar broer Amnon in die slaapkamer geneem. 11 Toe sy dit vir hom gee om te eet, het hy haar gegryp en gesê: “Kom, lê by my, my suster.” 12 Maar sy het vir hom gesê: “Nee, my broer! Moenie my verneder nie, want so iets word nie in Israel gedoen nie.+ Moenie hierdie skandelike ding doen nie.+ 13 Hoe sou ek so ’n skande kon verduur? En jy sal ’n baie slegte reputasie in Israel kry. Gaan praat asseblief met die koning, want hy sal my vir seker vir jou gee.” 14 Maar hy het geweier om na haar te luister, en hy het haar oorweldig en haar verneder deur haar te verkrag. 15 Toe het Amnon haar intens begin haat. Sy haat vir haar was selfs groter as die liefde wat hy voorheen vir haar gehad het. Amnon het vir haar gesê: “Staan op. Gaan weg!” 16 Sy het toe vir hom gesê: “Nee, my broer, om my nou weg te stuur, sal nog erger wees as wat jy reeds aan my gedoen het!” Maar hy het geweier om na haar te luister.

17 Toe het hy sy jong dienaar geroep en gesê: “Neem hierdie vrou asseblief van my af weg en sluit die deur agter haar.” 18 (Sy het ’n spesiale* kleed aangehad, want dit is wat die dogters van die koning wat nog maagde was, gedra het.) Sy dienaar het haar buitentoe geneem, en hy het die deur agter haar gesluit. 19 Toe het Tamar as op haar kop gesit+ en die pragtige kleed wat sy aangehad het, geskeur. En sy het haar hande op haar kop gehou en geskree terwyl sy weggeloop het.

20 Toe het haar broer Absalom+ vir haar gesê: “Was dit jou broer Amnon wat by jou was? Bly dan nou stil, my suster. Hy is jou broer.+ Moenie te veel daaraan dink nie.” Tamar het toe in afsondering in die huis van haar broer Absalom gewoon. 21 Toe koning Dawid van al hierdie dinge hoor, het hy baie kwaad geword.+ Maar hy wou nie die gevoelens van sy seun Amnon seermaak nie, want hy het hom liefgehad omdat hy sy eersgeborene was. 22 En Absalom het niks vir Amnon gesê nie, nie iets goeds of iets slegs nie, want Absalom het Amnon gehaat+ omdat hy sy suster Tamar verneder het.+

23 Twee jaar later was Absalom se skaapskeerders by Baäl-Hasor, naby Eʹfraim,+ en Absalom het al die koning se seuns genooi.+ 24 Toe het Absalom by die koning gekom en gesê: “Ek laat my skape skeer! Kom asseblief saam met my en laat u knegte ook saamkom.” 25 Maar die koning het vir Absalom gesê: “Nee, my seun. As ons almal gaan, sal ons vir jou ’n las wees.” Hoewel Absalom hom bly vra het, wou die koning nie gaan nie, maar hy het hom geseën. 26 Absalom het toe gesê: “As u nie wil saamgaan nie, laat my broer Amnon dan asseblief saam met ons gaan.”+ Die koning het geantwoord: “Hoekom moet hy saam met jou gaan?” 27 Maar Absalom het by hom aangedring, en daarom het hy Amnon en al die koning se seuns saam met hom gestuur.

28 Toe het Absalom sy dienaars die volgende bevel gegee: “Hou Amnon dop, en wanneer hy vrolik is van die wyn, sal ek vir julle sê: ‘Maak Amnon dood!’ Dan moet julle hom doodmaak. Moenie bang wees nie. Ek het julle mos die bevel gegee. Wees sterk en moedig.” 29 Absalom se dienaars het toe aan Amnon gedoen net soos Absalom beveel het. Toe het al die ander seuns van die koning opgestaan, op hulle muile geklim en gevlug. 30 Terwyl hulle op pad was, het Dawid die nuus gehoor: “Absalom het al die seuns van die koning doodgemaak, en nie een van hulle het oorleef nie.” 31 Toe het die koning opgestaan en sy klere geskeur en op die grond gaan lê, en al sy knegte het met geskeurde klere daar gestaan.

32 Maar Joʹnadab,+ die seun van Dawid se broer Simea,+ het gesê: “My heer moenie dink dat al die jong manne, die seuns van die koning, doodgemaak is nie, want dit is net Amnon wat gesterf het.+ Absalom het beveel dat hy doodgemaak moet word.+ Hy het beplan om dit te doen van die dag af dat Amnon sy suster+ Tamar+ verneder het. 33 My heer die koning moenie die berig glo* dat al die koning se seuns gesterf het nie. Net Amnon het gesterf.”

34 Intussen het Absalom gevlug.+ Later het die wag baie mense op die pad aan die kant van die berg sien aankom. 35 Toe het Joʹnadab+ vir die koning gesê: “Kyk! Die koning se seuns het teruggekom. Dit is net soos u kneg gesê het.” 36 Net toe hy dit sê, het die koning se seuns al huilende daar aangekom. En die koning en al sy knegte het bitterlik gehuil. 37 Maar Absalom het gevlug en gegaan na Talmai,+ die seun van Ammiʹhud, die koning van Gesur. Dawid het baie dae oor sy seun getreur. 38 Nadat Absalom na Gesur+ gevlug het, het hy drie jaar lank daar gebly.

39 Ná verloop van tyd het koning Dawid Amnon se dood aanvaar en na Absalom begin verlang.

14 Joab, die seun van Seruʹja,+ het gehoor dat die koning na Absalom verlang.+ 2 Toe het Joab ’n wyse vrou uit Tekoʹa+ laat haal en vir haar gesê: “Maak asseblief asof jy rou en trek rouklere aan, en moenie olie aan jou smeer nie.+ Tree op soos ’n vrou wat al lank treur oor iemand wat dood is. 3 En dan moet jy na die koning toe gaan en die volgende vir hom sê.” Toe het Joab vir haar gesê wat om te sê.

4 Die vrou van Tekoʹa het na die koning toe gegaan en op haar knieë geval en met haar gesig na die grond toe neergebuig en gesê: “Help my, o koning!” 5 Die koning het vir haar gevra: “Wat is fout?” Sy het geantwoord: “Ek is ’n weduwee. My man is dood. 6 En ek, u diensmeisie, het twee seuns gehad, en hulle twee het in die veld met mekaar baklei. Daar was niemand om hulle van mekaar te skei nie, en die een het die ander een doodgemaak. 7 Nou het die hele familie teen my, u diensmeisie, gedraai, en hulle sê: ‘Gee die een wat sy broer doodgemaak het, sodat ons hom kan doodmaak omdat hy sy broer doodgemaak het,+ al beteken dit dat ons die erfgenaam doodmaak!’ Hulle wil my seun, my laaste hoop, doodmaak en my man se naam en nageslag* van die oppervlak van die aarde laat verdwyn.”

8 Toe het die koning vir die vrou gesê: “Gaan na jou huis toe, en ek sal die saak hanteer.” 9 Die vrou van Tekoʹa het toe vir die koning gesê: “O my heer die koning, laat ek en die huis van my vader die skuld hiervoor dra, maar die koning en sy troon sal onskuldig bly.” 10 Die koning het toe gesê: “As enigiemand weer hieroor met jou praat, moet jy hom na my toe bring. Dan sal hy jou nooit weer pla nie.” 11 Maar sy het gesê: “Laat die koning asseblief aan Jehovah u God dink, sodat die bloedwreker+ nie nog skade aanrig en my seun doodmaak nie.” Toe het hy gesê: “So waar as wat Jehovah lewe,+ daar sal nie ’n enkele haar van jou seun op die grond val nie.” 12 Die vrou het toe gevra: “Mag u diensmeisie asseblief nog iets vir my heer die koning sê?” En hy het gesê: “Praat gerus!”

13 Die vrou het gesê: “Hoekom het u dan besluit om so iets aan die volk van God te doen?+ Wanneer die koning so praat, maak hy homself skuldig, want die koning bring nie sy eie seun terug wat hy verban het nie.+ 14 Ons sal vir seker sterf en soos waters wees wat op die grond uitgegooi word, wat ’n mens nie weer kan terugkry nie. Maar God sou nie ’n lewe* neem nie, en hy soek na redes om die een wat verban is, terug te bring. 15 Ek het vir my heer die koning dit kom sê omdat die mense my bang gemaak het. Daarom het u diensmeisie gesê: ‘Laat ek asseblief met die koning praat. Miskien sal die koning doen wat sy slavin vra. 16 Dalk sal die koning luister en sy slavin red uit die hand van die man wat my en my enigste seun wil afsny van die erfdeel wat God ons gegee het.’+ 17 Toe het u diensmeisie gesê: ‘Ek hoop dat die woorde van my heer die koning my gerus sal stel,’ want my heer die koning is soos ’n engel van die ware God en kan onderskei tussen wat goed en wat sleg is. Mag Jehovah u God met u wees.”

18 Die koning het die vrou toe geantwoord: “Ek wil vir jou ’n vraag vra, en jy moet asseblief niks vir my wegsteek nie.” Die vrou het geantwoord: “Wat wil my heer die koning weet?” 19 Die koning het toe gevra: “Is dit Joab wat jou hiernatoe gestuur het?”+ Die vrou het geantwoord: “So waar as wat u lewe, o my heer die koning, dit is net soos u sê, want dit was u kneg Joab wat vir u diensmeisie gesê het om al hierdie dinge te kom sê. 20 U kneg Joab het dit gedoen om die saak in ’n ander lig te stel, maar my heer het wysheid soos dié van ’n engel van die ware God en u weet van alles wat in die land aangaan.”

21 Daarna het die koning vir Joab gesê: “Goed dan, ek sal dit doen.+ Gaan haal die jong man Absalom.”+ 22 Toe het Joab op sy knieë geval en met sy gesig na die grond toe neergebuig en die koning geprys. Joab het gesê: “Vandag weet u kneg dat ek u goedkeuring het, o my heer die koning, omdat die koning gedoen het wat sy kneg gevra het.” 23 Joab het toe opgestaan en na Gesur+ gegaan en Absalom na Jerusalem gebring. 24 Maar die koning het gesê: “Hy kan na sy eie huis teruggaan, maar hy mag nie voor my verskyn nie.” Toe het Absalom na sy eie huis gegaan, en hy het nie voor die koning verskyn nie.

25 In die hele Israel was daar geen man wat so geprys is weens sy aantreklike voorkoms soos Absalom nie. Van die sool van sy voet tot die kroon van sy kop het hy geen gebrek gehad nie. 26 Aan die einde van elke jaar moes hy sy hare sny omdat dit so swaar was. Wanneer hy sy hare gesny het, het dit 200 sikkels* geweeg volgens die koninklike weegsteen.* 27 Absalom het drie seuns+ sowel as ’n dogter met die naam Tamar gehad. Sy was ’n baie mooi vrou.

28 En Absalom het twee jaar lank in Jerusalem gewoon, maar hy het nie voor die koning verskyn nie.+ 29 Daarom het Absalom Joab laat roep om hom na die koning toe te stuur, maar Joab wou nie na hom toe kom nie. Toe het hy hom weer laat roep, ’n tweede keer, en hy het nog steeds geweier om te kom. 30 Uiteindelik het hy vir sy knegte gesê: “Joab se stuk grond is langs myne, en hy het gars daarop. Gaan steek dit aan die brand.” Toe het die knegte van Absalom die stuk grond aan die brand gesteek. 31 Joab het opgestaan en na Absalom se huis toe gegaan en vir hom gevra: “Hoekom het jou knegte my stuk grond aan die brand gesteek?” 32 Toe het Absalom vir Joab gesê: “Ek het mos vir jou ’n boodskap gestuur en gesê: ‘Kom hiernatoe en laat ek jou na die koning toe stuur om te vra: “Hoekom het ek van Gesur af gekom?+ Dit sou vir my beter gewees het as ek daar gebly het. Laat ek voor die koning verskyn, en as ek aan enige oortreding skuldig is, dan moet hy my doodmaak.”’”

33 Toe het Joab na die koning toe gegaan en dit vir hom vertel. Die koning het Absalom geroep, en Absalom het na hom toe gegaan en voor die koning op sy knieë geval en neergebuig met sy gesig na die grond toe. Toe het die koning Absalom gesoen.+

15 Ná al hierdie dinge het Absalom vir hom ’n wa en perde aangeskaf, sowel as 50 manne om voor hom uit te hardloop.+ 2 Absalom het elke oggend vroeg opgestaan en langs die pad gaan staan wat na die stadspoort lei.+ Wanneer iemand ’n regsaak gehad het waaroor die koning moes oordeel,+ het Absalom hom geroep en gevra: “Van watter stad is jy?” en dan sou die man vir hom sê aan watter stam van Israel hy behoort. 3 Absalom sou dan vir hom sê: “Kyk, jy het ’n sterk en regverdige saak, maar daar is niemand by die koning om jou saak aan te hoor nie.” 4 Daarna sou Absalom sê: “As ek maar net as regter in die land aangestel was! Dan sou elkeen wat ’n regsaak of klagte het, na my toe kon kom, en ek sou seker maak dat hy geregtigheid kry.”

5 En wanneer iemand nader gekom het om voor hom neer te buig, het Absalom sy hand uitgesteek en hom gegryp en gesoen.+ 6 Absalom het dit gedoen met al die Israeliete wat na die koning toe gekom het met ’n regsaak waaroor hy moes oordeel. So het Absalom die harte van die manne van Israel bly steel.+

7 Ná vier jaar* het Absalom vir die koning gesê: “Laat my asseblief na Heʹbron+ gaan om my gelofte te betaal wat ek aan Jehovah gemaak het. 8 Want toe u kneg in Gesur+ in Sirië gewoon het, het ek ’n gelofte gemaak+ en gesê: ‘As Jehovah my na Jerusalem terugbring, sal ek ’n offer aan Jehovah bring.’”* 9 Toe het die koning vir hom gesê: “Gaan in vrede.” Hy het toe opgestaan en na Heʹbron gegaan.

10 Daarna het Absalom spioene deur al die stamme van Israel gestuur om te sê: “Sodra julle die geluid van die horing hoor, moet julle uitroep: ‘Absalom het koning geword in Heʹbron!’”+ 11 En Absalom het 200 manne van Jerusalem genooi. Hulle het ewe onskuldig saamgegaan en het van niks geweet nie. 12 En toe Absalom die offerandes bring, het hy Agitoʹfel,+ die Giloniet, Dawid se raadgewer,+ uit sy stad, Gilo,+ laat roep. Die sameswering het al hoe groter geword, en al hoe meer mense het Absalom begin ondersteun.+

13 Later het ’n boodskapper na Dawid toe gekom en gesê: “Die manne van Israel ondersteun nou vir Absalom.” 14 Dawid het dadelik vir al sy knegte wat by hom in Jerusalem was, gesê: “Staan op, en laat ons vlug,+ want nie een van ons sal van Absalom ontsnap nie! Maak gou, sodat hy ons nie inhaal en rampspoed oor ons bring en die inwoners van die stad met die swaard doodmaak nie!”+ 15 Die koning se knegte het vir hom gesê: “Ons sal doen wat my heer die koning ook al besluit om te doen.”+ 16 Toe het die koning en sy hele huisgesin vertrek, maar die koning het tien byvrouens+ agtergelaat om die paleis* op te pas. 17 En die koning en die mense wat hom uit die stad gevolg het, het by Bet-Merhak gestop.

18 Al die koning se knegte wat saam met hom gegaan het* en al die Keretiete, die Peletiete+ en al die Gittiete+ (600 manne wat hom vanaf die stad Gat+ gevolg het) het voor die koning verbygegaan terwyl hy hulle geïnspekteer het. 19 Toe het die koning vir Ittai,+ die Gittiet, gesê: “Hoekom wil jy saam met ons gaan? Gaan terug en bly by die nuwe koning, want jy is ’n uitlander en jy is uit jou plek verban. 20 Jy het nou net hier aangekom. Hoe kan ek jou dan vra om saam met ons te gaan as ek nie eers weet waarheen ek gaan nie? Gaan terug en neem jou manne saam met jou, en mag Jehovah lojale liefde en getrouheid aan jou betoon!”+ 21 Maar Ittai het die koning geantwoord: “So waar as wat Jehovah lewe en so waar as wat my heer die koning lewe, waar my heer die koning ook al gaan, sal u kneg gaan, selfs al beteken dit dat ek moet sterf!”+ 22 Toe het Dawid vir Ittai+ gesê: “Trek deur die vallei.” Toe het Ittai, die Gittiet, saam met al sy manne en kinders deur die vallei getrek.

23 Almal in die land het hard gehuil terwyl al hierdie mense deurgetrek het, en die koning het by die Kidron-vallei+ gestaan. Al die mense het na die pad gegaan wat na die wildernis lei. 24 Sadok,+ sowel as al die Leviete+ wat die ark+ van die verbond van die ware God+ gedra het, was daar. En hulle het die Ark van die ware God neergesit. En Abjaʹtar+ was ook daar terwyl die mense uit die stad gekom het en deur die vallei getrek het. 25 Maar die koning het vir Sadok gesê: “Neem die Ark van die ware God terug na die stad toe.+ As ek Jehovah se goedkeuring het, sal hy my terugbring, en hy sal my die Ark en die woonplek daarvan weer laat sien.+ 26 Maar as hy sê dat ek nie sy goedkeuring het nie, laat hy dan met my doen wat hy ook al wil.” 27 Die koning het vir Sadok die priester gesê: “Jy is mos ’n siener,+ nie waar nie? Gaan in vrede terug na die stad toe, en neem jou seun Ahiʹmaäs sowel as Joʹnatan,+ die seun van Abjaʹtar, saam. 28 Ek sal by die driwwe naby die wildernis bly totdat ek ’n boodskap van julle kry.”+ 29 Toe het Sadok en Abjaʹtar die Ark van die ware God na Jerusalem teruggeneem, en hulle het daar gebly.

30 Dawid het gehuil terwyl hy teen die Olyfberg*+ opgegaan het. Sy kop was bedek, en hy het kaalvoet geloop. Al die mense wat by hom was, het ook hulle koppe bedek en al huilende opgegaan. 31 Daar is toe vir Dawid gesê: “Agitoʹfel konkel+ ook saam met Absalom.”+ Toe het Dawid gesê: “O Jehovah,+ verander die raad van Agitoʹfel asseblief in dwaasheid!”+

32 Toe Dawid bo-op die berg kom waar mense God altyd kom aanbid het,* was Husai,+ die Arkiet,+ daar om hom te ontmoet. Sy kleed was geskeur en daar was grond op sy kop. 33 Maar Dawid het vir hom gesê: “As jy saam met my gaan, sal jy vir my ’n las wees. 34 Dit sal beter wees as jy na die stad teruggaan en vir Absalom sê: ‘Ek is u kneg,+ o koning. In die verlede was ek ’n kneg van u pa, maar nou is ek u kneg’. Dan kan jy Agitoʹfel se plan* laat misluk.+ 35 Die priesters Sadok en Abjaʹtar is mos daar by jou. Jy moet die priesters Sadok en Abjaʹtar alles vertel wat jy by die huis van die koning hoor.+ 36 En hulle twee seuns, Ahiʹmaäs,+ die seun van Sadok, en Joʹnatan,+ die seun van Abjaʹtar, is ook daar by hulle. Jy kan hulle stuur om vir my alles te vertel wat jy hoor.” 37 En Husai, Dawid se vriend,*+ het op dieselfde tyd as Absalom in Jerusalem aangekom.

16 Toe Dawid net oor die top van die berg+ was, het Siba,+ die dienaar van Mefiboʹset,+ hom ontmoet met ’n paar opgesaalde donkies. Daar was 200 brode, 100 rosynekoeke, 100 koeke van gedroogde somervrugte* en ’n groot kruik wyn op die donkies.+ 2 Toe het die koning vir Siba gevra: “Hoekom het jy hierdie dinge gebring?” Siba het geantwoord: “Die donkies is vir die huisgesin van die koning om op te ry, die brood en die somervrugte is vir die jong manne om te eet en die wyn is vir dié wat in die wildernis uitgeput raak.”+ 3 Die koning het toe gevra: “En waar is die seun* van jou meester?”+ Toe het Siba vir die koning gesê: “Hy het in Jerusalem gebly, want hy het gesê: ‘Vandag sal Israel* die koninklike heerskappy van my pa aan my teruggee.’”+ 4 Die koning het toe vir Siba gesê: “Kyk! Alles wat aan Mefiboʹset behoort, is joune.”+ Siba het geantwoord: “Ek buig voor u neer. Mag ek altyd u goedkeuring hê, my heer die koning.”+

5 Toe koning Dawid Bahuʹrim bereik het, het ’n man van die familie van die huis van Saul uitgekom. Sy naam was Siʹmeï+ en hy was die seun van Gera. Hy het hulle vervloek terwyl hy na hulle toe gestap het.+ 6 Hy het Dawid en al sy knegte sowel as al die mense en die sterk manne aan die koning se regterkant en linkerkant met klippe gegooi. 7 Siʹmeï het hom vervloek en gesê: “Gaan weg, gaan weg, jou bloedskuldige man! Jou slegte man! 8 Jehovah straf jou vir al jou bloedskuld in verband met die huis van Saul. Jy het in sy plek as koning regeer, maar Jehovah gee die koningskap aan jou seun Absalom. Nou het rampspoed oor jou gekom, want jy is ’n bloedskuldige man!”+

9 Toe het Abiʹsai, die seun van Seruʹja,+ vir die koning gesê: “Hoekom moet hierdie dooie hond+ my heer die koning vervloek?+ Laat my asseblief sy kop gaan afkap.”+ 10 Maar die koning het gesê: “Moenie inmeng nie, julle seuns van Seruʹja.+ Laat hom my vervloek,+ want Jehovah het vir hom gesê:+ ‘Vervloek Dawid!’ Hoe kan enigiemand dan vra: ‘Hoekom doen jy dit?’” 11 Dawid het toe vir Abiʹsai en al sy knegte gesê: “As my seun, my eie vlees en bloed, my lewe wil neem,+ wat kan ek dan van ’n Benjaminiet+ verwag? Los hom, laat hom my vervloek, want Jehovah het vir hom gesê om dit te doen! 12 Miskien sal Jehovah sien hoe ek swaarkry+ en sal Jehovah my seëninge gee in plaas van die vervloekinge wat ek vandag moes hoor.”+ 13 Daarna het Dawid en sy manne verder op die pad geloop, terwyl Siʹmeï al langs hom aan die kant van die berg geloop het. Die hele tyd het hy Dawid vervloek+ en hom en sy manne met klippe en baie grond gegooi.

14 Uiteindelik het die koning en al die mense by hom uitgeput by hulle bestemming aangekom, en daar het hulle gerus.

15 Intussen het Absalom en al die manne van Israel in Jerusalem aangekom, en Agitoʹfel+ was by hom. 16 Toe Husai,+ die Arkiet,+ Dawid se vriend,* by Absalom kom, het Husai vir Absalom gesê: “Lank lewe die koning!+ Lank lewe die koning!” 17 Toe het Absalom vir Husai gevra: “Is dít hoe jy lojale liefde aan jou vriend betoon? Hoekom het jy nie saam met jou vriend gegaan nie?” 18 Husai het toe vir Absalom gesê: “Nee, ek is aan die kant van die een wat deur Jehovah, hierdie volk en al die manne van Israel gekies is. By hom sal ek bly. 19 En buitendien, wie anders sou ek dien? Behoort ek nie my vriend se seun te dien nie? Net soos ek u pa gedien het, so sal ek u dien.”+

20 Absalom het toe vir Agitoʹfel gesê: “Gee my raad.+ Wat moet ons doen?” 21 Toe het Agitoʹfel vir Absalom gesê: “Slaap by u pa se byvrouens+ wat hy agtergelaat het om die paleis* op te pas.+ Dan sal die hele Israel hoor dat u u pa erg beledig het, en dit sal u ondersteuners versterk.” 22 Hulle het toe vir Absalom ’n tent op die dak opgeslaan,+ en Absalom het voor die oë van die hele Israel+ seksuele omgang met sy pa se byvrouens+ gehad.

23 In daardie dae is Agitoʹfel+ se raad beskou as die woord van die ware God.* Dit is hoe Dawid sowel as Absalom Agitoʹfel se raad beskou het.

17 Agitoʹfel het toe vir Absalom gesê: “Laat my asseblief 12 000 manne kies en Dawid vannag nog agternasit. 2 Ek sal hom oorval terwyl hy moeg en swak* is,+ en hy sal paniekbevange wees. Almal wat by hom is, sal vlug, en dan sal ek net die koning doodmaak.+ 3 Daarna sal ek al die mense na u toe terugbring. Of die mense terugkeer, sal afhang van wat met die man gebeur waarna u soek. Dan sal daar vrede vir al die mense wees.” 4 Die voorstel het vir Absalom en vir al die ouermanne van Israel goed geklink.

5 Maar Absalom het gesê: “Roep asseblief ook vir Husai,+ die Arkiet, en laat ons hoor wat hy te sê het.” 6 Husai het toe na Absalom gegaan. En Absalom het vir hom gesê: “Dít is die raad wat Agitoʹfel gegee het. Moet ons sy raad volg? Of het jy ’n ander voorstel.” 7 Husai het toe vir Absalom gesê: “Hierdie keer het Agitoʹfel nie goeie raad gegee nie!”+

8 Husai het verder gesê: “U weet goed dat u pa en sy manne sterk is,+ en hulle is desperaat, soos ’n beer in die veld wat haar kleintjies verloor het.+ En wat meer is, u pa is ’n vegter,+ en hy sal nie by die mense oornag nie. 9 Hy kruip nou weg in een van die grotte* of op ’n ander plek.+ As hy eerste aanval, sal dié wat daarvan hoor, sê: ‘Die manne wat Absalom volg, is verslaan!’ 10 Selfs die man wat so moedig soos ’n leeu is,*+ sal bang word, want die hele Israel weet dat u pa ’n sterk man is+ en dat die manne by hom dapper is. 11 Dít is my raad: Laat die hele Israel by u bymekaarkom, van Dan tot Berseʹba,+ so baie soos die sandkorrels wat by die see is.+ En u moet hulle in die geveg lei. 12 Ons sal hom vind en aanval, en ons sal op hom toesak net soos die dou op die grond val. En nie een van hulle sal oorleef nie, nie hy of enige van die manne by hom nie. 13 As hy in ’n stad gaan wegkruip, sal die hele Israel toue na die stad toe bring en ons sal dit tot in die vallei sleep. Daar sal nie eers ’n klip oorbly nie.”

14 Toe het Absalom en al die manne van Israel gesê: “Die raad van Husai, die Arkiet, is beter+ as die raad van Agitoʹfel!” Want Jehovah het besluit* dat Agitoʹfel+ se goeie raad moet misluk, sodat Jehovah rampspoed oor Absalom kan bring.+

15 Later het Husai vir die priesters Sadok en Abjaʹtar+ gesê: “Dít is die raad wat Agitoʹfel aan Absalom en die ouermanne van Israel gegee het, en dít is die raad wat ek gegee het. 16 Stuur gou ’n boodskap aan Dawid en gee vir hom hierdie waarskuwing: ‘Moenie vannag by die driwwe* naby die wildernis bly nie. Trek dadelik deur die rivier, want anders sal die koning en al die mense by hom dalk doodgemaak* word.’”+

17 Joʹnatan+ en Ahiʹmaäs+ het by En-Rogel+ gewag, want hulle kon dit nie waag om by die stad in te gaan nie, ingeval iemand hulle sou sien. ’n Diensmeisie het toe vir hulle die boodskap gaan gee, en hulle het dit aan koning Dawid oorgedra. 18 Maar ’n jong man het hulle gesien en vir Absalom gaan vertel. Daarom het Joʹnatan en Ahiʹmaäs gou van daar af na die huis van ’n man in Bahuʹrim+ gegaan wat ’n put in sy binnehof gehad het. Hulle het daarin afgeklim, 19 en die man se vrou het ’n doek oor die bokant van die put gegooi en gebreekte graan daaroor gestrooi. Niemand het daarvan geweet nie. 20 Die knegte van Absalom het by die vrou in haar huis aangekom en gevra: “Waar is Ahiʹmaäs en Joʹnatan?” Die vrou het geantwoord: “Hulle het hier verbygekom en in die rigting van die rivier gegaan.”+ Die manne het toe na hulle gesoek, maar hulle nie gekry nie. Hulle het dus na Jerusalem teruggekeer.

21 Nadat die manne weggegaan het, het hulle uit die put geklim en vir koning Dawid gaan sê: “Staan op en trek dadelik deur die rivier,” en hulle het hom vertel watter raad Agitoʹfel gegee het.+ 22 Dawid en al die mense by hom het onmiddellik opgestaan en deur die Jordaanrivier getrek. Teen dagbreek het almal reeds deur die Jordaanrivier getrek.

23 Toe Agitoʹfel sien dat sy raad nie gevolg is nie, het hy ’n donkie opgesaal en na sy huis in sy tuisdorp gegaan.+ Nadat hy instruksies aan sy huisgesin gegee het,+ het hy homself opgehang.*+ Hy het gesterf en is in die graf van sy voorvaders begrawe.

24 Dawid het intussen na Mahanaʹim+ gegaan, en Absalom het met al die manne van Israel deur die Jordaanrivier getrek. 25 Absalom het Amaʹsa+ in die plek van Joab+ oor die leërmag aangestel. Amaʹsa was die seun van Jitra, die Israeliet, wat seksuele omgang gehad het met Abiʹgail,+ die dogter van Nahas, die suster van Seruʹja, Joab se ma. 26 Israel en Absalom het in die land Giʹlead+ kamp opgeslaan.

27 Toe Dawid by Mahanaʹim kom, het Sobi, die seun van Nahas uit Rabba+ van die Ammoniete, Magir,+ die seun van Ammiʹël uit Lo-Debar, en Barsilʹlai,+ die Gileadiet uit Roʹgelim, na hom toe gekom. 28 Hulle het beddens, komme, kleipotte, koring, gars, meel, geroosterde graan, boerbone, lensies, gebraaide graan, 29 heuning, botter, skape en kaas* gebring. Hulle het dit alles vir Dawid en die mense by hom gebring om te eet,+ want hulle het gesê: “Die mense is honger en moeg en dors in die wildernis.”+

18 Dawid het toe die manne getel wat by hom was en hoofde oor 1 000 en hoofde oor 100 oor hulle aangestel.+ 2 En Dawid het ’n derde van die manne onder die bevel van Joab,+ ’n derde onder die bevel* van Joab se broer Abiʹsai,+ die seun van Seruʹja,+ en ’n derde onder die bevel van Ittai,+ die Gittiet, uitgestuur. Toe het die koning vir die manne gesê: “Ek sal ook saam met julle gaan veg.” 3 Maar hulle het gesê: “U moenie gaan veg nie,+ want as ons vlug, sal dit nie vir hulle saak maak* nie. En al sterf die helfte van ons, sal dit nie vir hulle saak maak nie, want u is 10 000 van ons werd.+ Daarom sal dit beter wees as u vir ons hulp vanuit die stad stuur.” 4 Die koning het vir hulle gesê: “Ek sal doen wat julle ook al dink die beste is.” Die koning het toe langs die stadspoort gaan staan, en al die manne het in groepe van 100 en van 1 000 uitgegaan. 5 Die koning het toe vir Joab en Abiʹsai en Ittai hierdie bevel gegee: “Behandel die jong man Absalom goed ter wille van my.”+ Al die manne het gehoor toe die koning die hoofde hierdie bevel in verband met Absalom gee.

6 Die manne het na die veld uitgegaan om teen Israel te veg, en die geveg het in die woud van Eʹfraim plaasgevind.+ 7 Die manne van Israel+ is daar deur die knegte van Dawid verslaan.+ ’n Groot slagting het op daardie dag plaasgevind – 20 000 manne het gesterf. 8 Die geveg het deur die hele streek versprei. En op daardie dag het die woud meer mense doodgemaak as die swaard.

9 Die knegte van Dawid het Absalom uiteindelik teëgekom. Absalom het op ’n muil gery, en die muil het onder die dik takke van ’n groot boom deurgegaan. Absalom se hare het in die groot boom vasgehaak, en hy het in die lug* bly hang terwyl die muil waarop hy gery het, verder gegaan het. 10 Toe het iemand dit gesien en vir Joab+ gesê: “Ek het Absalom in ’n groot boom sien hang.” 11 Joab het vir die man wat dit vir hom vertel het, gesê: “As jy dit gesien het, hoekom het jy hom nie net daar doodgemaak nie? Dan sou ek jou met graagte tien silwerstukke en ’n lyfband gegee het.” 12 Maar die man het vir Joab gesê: “Selfs al sou ek 1 000 silwerstukke ontvang,* sou ek nie my hand vir die koning se seun lig nie. Want ons het gehoor hoe die koning vir u en Abiʹsai en Ittai sê: ‘Sorg dat niemand die jong man Absalom seermaak nie.’+ 13 As ek ongehoorsaam was en hom doodgemaak het,* sou die koning daarvan gehoor het, en u sou my nie beskerm het nie.” 14 Joab het toe gesê: “Ek gaan nie meer tyd hier by jou mors nie!” Toe het hy drie pyle* geneem en dit deur Absalom se hart gesteek terwyl hy nog lewend in die groot boom gehang het. 15 Toe het tien dienaars wat Joab se wapens gedra het, gekom en Absalom doodgemaak.+ 16 Joab het toe op die horing geblaas, en die manne wat Israel agternagesit het, het teruggekom. Dit is hoe Joab die manne teruggeroep het. 17 Hulle het Absalom geneem en hom in ’n diep gat in die woud gegooi en ’n baie groot hoop klippe op hom gepak.+ En die hele Israel het na hulle huise gevlug.

18 Toe Absalom nog gelewe het, het hy ’n pilaar vir homself in die Vallei van die Koning+ opgerig, want hy het gesê: “Ek het nie ’n seun om my naam te laat voortleef nie.”+ Daarom het hy die pilaar na homself vernoem, en dit word tot vandag toe Absalom se Monument genoem.

19 Ahiʹmaäs,+ die seun van Sadok, het gesê: “Laat my asseblief hardloop en die nuus vir die koning gee, want Jehovah het hom geregtigheid gegee deur hom van sy vyande te red.”+ 20 Maar Joab het vir hom gesê: “Jy sal nie vandag die nuus oordra nie. Jy kan op ’n ander dag die nuus oordra, maar nie vandag nie, want die koning se seun het gesterf.”+ 21 Toe het Joab vir ’n Kussiet+ gesê: “Gaan sê vir die koning wat jy gesien het.” Die Kussiet het toe voor Joab gebuig en begin hardloop. 22 Ahiʹmaäs, die seun van Sadok, het weer vir Joab gesê: “Wat ook al gebeur, laat my asseblief ook agter die Kussiet aan hardloop.” Maar Joab het gesê: “My seun, hoekom wil jy gaan as jy geen nuus het om oor te dra nie?” 23 Hy het weer gesê: “Dit maak nie saak nie. Laat my gaan.” Toe het Joab vir hom gesê: “Gaan!” En Ahiʹmaäs het met die pad van die Jordaandistrik gehardloop, en hy het die Kussiet uiteindelik verbygegaan.

24 Dawid het tussen die twee stadspoorte gesit,+ en die wag+ het opgegaan na die dak van die poort by die muur. Hy het uitgekyk en ’n man gesien wat alleen hardloop. 25 Toe het die wag uitgeroep en vir die koning gesê wat hy sien. Die koning het gesê: “As hy alleen is, bring hy nuus.” Terwyl hy al hoe nader gekom het, 26 het die wag nog ’n man sien hardloop. Die wag het toe na die poortwagter uitgeroep: “Kyk! Daar is nog ’n man wat alleen hardloop!” Die koning het gesê: “Daardie man bring ook nuus.” 27 Die wag het gesê: “Die eerste man hardloop soos Ahiʹmaäs,+ die seun van Sadok.” Toe het die koning gesê: “Hy is ’n goeie man, en hy bring goeie nuus.” 28 Ahiʹmaäs het toe na die koning uitgeroep: “Ek het goeie nuus!” En hy het voor die koning gebuig met sy gesig na die grond toe. Toe het hy gesê: “Mag Jehovah u God geloof word, wat die manne aan u oorgelewer het wat teen my heer die koning in opstand gekom het!”*+

29 Maar die koning het gevra: “Gaan dit goed met die jong man Absalom?” Ahiʹmaäs het geantwoord: “Toe Joab vir my en die koning se kneg gestuur het, het ek gesien dat daar iets groots aan die gang is, maar ek weet nie waaroor dit gegaan het nie.”+ 30 Toe het die koning gesê: “Kom staan hier eenkant.” En Ahiʹmaäs het dit gedoen.

31 Toe het die Kussiet daar aangekom+ en gesê: “Dít is die nuus wat ek vir my heer die koning bring: Vandag het Jehovah geregtigheid aan u gegee deur u te red uit die hand van almal wat teen u in opstand gekom het.”+ 32 Maar die koning het vir die Kussiet gevra: “Gaan dit goed met die jong man Absalom?” Toe het die Kussiet gesê: “Mag al die vyande van my heer die koning en almal wat teen u in opstand gekom het en iets slegs aan u wou doen, soos die jong man word!”+

33 Dit het die koning ontstel, en hy het na die dakvertrek bo die poort opgegaan en gehuil. Terwyl hy geloop het, het hy gesê: “My seun Absalom, my seun, my seun Absalom! As ek maar in jou plek gesterf het, Absalom my seun, my seun!”+

19 Daar is vir Joab gesê: “Die koning huil en treur oor Absalom.”+ 2 So het die blydskap oor die oorwinning* op daardie dag vir al die mense in hartseer verander omdat hulle gehoor het dat die koning oor sy seun treur. 3 Op daardie dag het die mense stilletjies na die stad+ teruggekeer soos mense wat skaam is omdat hulle in die geveg gevlug het. 4 Die koning het sy gesig bedek en met ’n harde stem bly uitroep: “My seun Absalom! Absalom my seun, my seun!”+

5 Toe het Joab na die koning toe gegaan by sy huis en gesê: “Vandag het u al u knegte verneder wat u lewe en die lewens van u seuns,+ u dogters,+ u vrouens en u byvrouens+ gered het. 6 U is lief vir dié wat u haat en haat dié wat vir u lief is, want u het vandag duidelik getoon dat u hoofde en knegte niks vir u beteken nie. Ek is seker dat u tevrede sou gewees het solank Absalom vandag gelewe het, al was die res van ons dood. 7 Staan nou op, gaan uit en stel u knegte gerus,* want ek sweer by Jehovah dat geen man vannag by u sal bly as u nie uitgaan nie. Dit sal vir u erger wees as al die slegte dinge wat van u jong dae af tot nou toe oor u gekom het.” 8 Toe het die koning opgestaan en in die stadspoort gaan sit, en daar is vir al die mense gesê: “Die koning sit nou in die poort.” En al die mense het na die koning toe gegaan.

Maar die res van die Israeliete* het na hulle huise toe gevlug.+ 9 Al die mense van al die stamme van Israel het onder mekaar gestry en gesê: “Die koning het ons van ons vyande gered,+ en hy het ons van die Filistyne gered, maar nou het hy uit die land gevlug weens Absalom.+ 10 En Absalom, wat ons oor ons gesalf het,+ het in die geveg gesterf.+ Hoekom doen julle dan niks om die koning terug te bring nie?”

11 Koning Dawid het hierdie boodskap aan die priesters Sadok+ en Abjaʹtar+ gestuur: “Sê vir die ouermanne van Juda:+ ‘Die koning het in sy huis die woorde van die hele Israel gehoor. Hoekom is julle die laastes om die koning na sy paleis terug te bring? 12 Julle is my broers, my eie vlees en bloed. Hoekom is julle die laastes om die koning terug te bring?’ 13 En julle moet vir Amaʹsa+ sê: ‘Is jy nie my eie vlees en bloed nie? Mag God my swaar straf* as jy nie van nou af die hoof van my leërmag word in die plek van Joab nie.’”+

14 Hy het die harte van al die manne van Juda gewen,* en hulle het vir die koning ’n boodskap gestuur en gesê: “Kom terug, u en al u knegte.”

15 En die koning het teruggegaan en by die Jordaanrivier gekom. Die mense van Juda het na Gilgal+ toe gegaan om die koning te ontmoet en om saam met hom oor die Jordaanrivier te gaan. 16 Toe het Siʹmeï,+ die seun van Gera, ’n Benjaminiet uit Bahuʹrim, haastig saam met die manne van Juda afgegaan om koning Dawid te ontmoet, 17 en daar was 1 000 manne van Benjamin by hom. Siba,+ die dienaar van die huis van Saul, en sy 15 seuns en 20 knegte het haastig na die Jordaanrivier gegaan sodat hulle voor die koning daar kon aankom. 18 Hy* het deur die drif gegaan om die koning se huisgesin oor te help en om te doen wat die koning ook al wou hê. Toe die koning op die punt gestaan het om deur die Jordaanrivier te trek, het Siʹmeï, die seun van Gera, voor hom neergeval. 19 Hy het vir die koning gesê: “Vergewe my vir wat ek gedoen het, my heer, en moenie dink aan wat u kneg verkeerd gedoen het+ op die dag dat my heer die koning uit Jerusalem vertrek het nie. Die koning moet dit asseblief nie teen my hou nie, 20 want u kneg weet goed dat ek gesondig het. Daarom is ek vandag die eerste een van die hele huis van Josef wat gekom het om my heer die koning te ontmoet.”

21 Abiʹsai,+ die seun van Seruʹja,+ het dadelik gesê: “Moet Siʹmeï nie doodgemaak word omdat hy die gesalfde van Jehovah vervloek het nie?”+ 22 Maar Dawid het gesê: “Wat het dit met julle te doen, seuns van Seruʹja?+ Hoekom wil julle my vandag teëstaan? Moet enigiemand vandag in Israel doodgemaak word? Het ek nie vandag weer koning oor Israel geword nie?” 23 Toe het die koning vir Siʹmeï gesê: “Jy sal nie sterf nie.” En die koning het dit met ’n eed bevestig.+

24 Mefiboʹset,+ die kleinseun van Saul, het ook gekom om die koning te ontmoet. Hy het nie sy voete versorg of sy snor geknip of sy klere gewas van die dag af dat die koning weggegaan het tot die dag dat hy in vrede teruggekom het nie. 25 Toe hy by* Jerusalem kom om die koning te ontmoet, het die koning vir hom gevra: “Hoekom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboʹset?” 26 Toe het hy geantwoord: “My heer die koning, my kneg+ het my bedrieg. Want ek het gesê: ‘Ek sal vir my ’n donkie laat opsaal sodat ek daarop kan ry en saam met die koning kan gaan,’ want u kneg is gebreklik.+ 27 Maar hy het my valslik beskuldig by my heer die koning.+ My heer die koning is egter soos ’n engel van die ware God. Doen dus met my wat u goedvind. 28 My heer die koning kon die hele huisgesin van my vader laat doodmaak het, en tog het u aan u kneg ’n plek gegee by dié wat aan u tafel eet.+ Watter reg het ek dan om nog iets van die koning te vra?”

29 Maar die koning het vir hom gesê: “Hoekom praat jy nog hieroor? Ek het besluit dat jy en Siba die grond moet deel.”+ 30 Mefiboʹset het toe vir die koning gesê: “Hy kan maar alles kry, want my heer die koning het in vrede na sy huis toe gekom.”

31 Barsilʹlai,+ die Gileadiet, het uit Roʹgelim gekom sodat hy saam met die koning na die Jordaanrivier kon gaan. 32 Barsilʹlai was baie oud, 80 jaar oud. En hy het die koning in Mahanaʹim van kos voorsien terwyl die koning daar gebly het,+ want hy was ’n baie ryk man. 33 Toe het die koning vir Barsilʹlai gesê: “Trek saam met my oor, en ek sal jou in Jerusalem van kos voorsien.”+ 34 Maar Barsilʹlai het vir die koning gesê: “Hoeveel langer sal ek nog lewe dat ek saam met die koning na Jerusalem sou opgaan? 35 Ek is vandag 80 jaar oud.+ Kan ek onderskei tussen wat goed en wat sleg is? Kan ek, u kneg, proe wat ek eet en drink? Kan ek nog na die stem van sangers en sangeresse luister?+ Hoekom moet u kneg dan ’n las vir my heer die koning word? 36 Dit is vir my genoeg dat u kneg die koning na die Jordaanrivier kon bring. Hoekom wil die koning my nog hierdie beloning gee? 37 Laat u kneg asseblief terugkeer, en laat my in my stad sterf naby die graf van my pa en my ma.+ Maar hier is u kneg Kimham.+ Laat hy saam met my heer die koning oortrek, en u kan met hom doen wat u goedvind.”

38 Toe het die koning gesê: “Kimham sal saam met my oortrek, en ek sal vir hom doen wat jy wil hê. Ek sal vir jou doen wat jy ook al vra.” 39 Al die mense het toe deur die Jordaanrivier begin trek, en voordat die koning deurgetrek het, het die koning Barsilʹlai+ gesoen en hom geseën. Daarna het Barsilʹlai huis toe gegaan. 40 Toe die koning na Gilgal+ oortrek, het Kimham saam met hom gegaan. Al die mense van Juda en die helfte van die mense van Israel het saam met die koning oorgegaan.+

41 Toe het al die manne van Israel na die koning toe gekom en vir hom gevra: “Hoekom het ons broers, die manne van Juda, u en u huisgesin en al die manne van Dawid+ in die geheim oor die Jordaanrivier gebring?” 42 Al die manne van Juda het die manne van Israel geantwoord: “Omdat die koning aan ons verwant is.+ Hoekom is julle kwaad hieroor? Het ons enigsins van die koning se kos geëet, of het ons ’n geskenk gekry?”

43 Maar die manne van Israel het die manne van Juda geantwoord en gesê: “Ons is tien stamme, en daarom het ons meer reg op Dawid as julle. Hoekom het julle ons beledig? Moes ons nie die eerstes gewees het om die koning terug te bring nie?” Maar die manne van Juda het die argument teen die manne van Israel gewen.*

20 Daar was ’n moeilikheidmaker met die naam Seba,+ die seun van Bigri, ’n Benjaminiet. Hy het op die horing geblaas+ en gesê: “Ons het geen reg op Dawid nie, en ons het geen erfdeel saam met die seun van Isai nie.+ Laat elkeen na sy gode* gaan, o Israel!”+ 2 Toe het al die manne van Israel opgehou om Dawid te volg en hulle het Seba, die seun van Bigri, gevolg,+ maar die manne van Juda het by hulle koning gebly en het hom van die Jordaanrivier af tot by Jerusalem gevolg.+

3 Toe Dawid by sy paleis in Jerusalem kom,+ het die koning die tien byvrouens wat hy agtergelaat het om die paleis op te pas+ in ’n huis onder bewaking gesit. Hy het hulle van kos voorsien, maar hy het nie seksuele omgang met hulle gehad nie.+ Hulle was tot die dag van hulle dood in afsondering en het gelewe asof hulle weduwees is, hoewel hulle man gelewe het.

4 Die koning het toe vir Amaʹsa+ gesê: “Roep die manne van Juda vir my binne drie dae bymekaar, en jy moet ook hier wees.” 5 Toe het Amaʹsa gegaan om Juda bymekaar te roep, maar hy het later gekom as wat die koning vir hom gesê het om te kom. 6 Dawid het toe vir Abiʹsai+ gesê: “Seba,+ die seun van Bigri, sal vir ons meer moeilikheid maak as wat Absalom gedoen het.+ Neem die knegte van jou heer en sit hom agterna, sodat hy nie ’n versterkte stad bereik en van ons af wegkom nie.” 7 Toe het die manne van Joab,+ die Keretiete, die Peletiete+ en al die sterk manne agter hom aan gegaan. Hulle het Jerusalem verlaat om Seba, die seun van Bigri, agterna te sit. 8 Toe hulle naby die groot klip in Giʹbeon+ was, het Amaʹsa+ hulle kom ontmoet. Joab het sy wapenrusting aangehad, en aan sy heup was daar ’n swaard in sy skede. Toe hy vorentoe stap, het hy sy swaard laat uitval.

9 Joab het vir Amaʹsa gevra: “Gaan dit goed met jou, my broer?” Toe het Joab Amaʹsa se baard met sy regterhand gegryp asof hy hom wou soen. 10 Amaʹsa was nie op sy hoede vir die swaard wat in Joab se hand was nie, en Joab het hom in die maag gesteek,+ en sy ingewande het op die grond uitgeval. Dit was nie vir hom nodig om hom weer te steek nie – een keer was genoeg om hom dood te maak. Joab en sy broer Abiʹsai het toe vir Seba, die seun van Bigri, agternagesit.

11 Een van Joab se jong manne het by hom gestaan en gesê: “Laat almal wat aan Joab se kant is en wat aan Dawid behoort, vir Joab volg!” 12 Amaʹsa het die hele tyd in die middel van die pad in sy bloed lê en rol. Toe die man sien dat al die mense daar stilstaan, het hy Amaʹsa van die pad na die veld geskuif. Hy het toe ’n kleed oor hom gegooi omdat hy gesien het dat almal stilstaan wanneer hulle by hom kom. 13 Nadat hy hom uit die pad geskuif het, het al die manne Joab gevolg en Seba,+ die seun van Bigri, agternagesit.

14 Seba het deur die gebied van al die stamme van Israel na die stad Abel van Bet-Maʹäga+ gegaan. Die Bigriete het bymekaargekom en hom gevolg en ook daar ingegaan.

15 Joab en sy manne het gekom en Seba in Abel van Bet-Maʹäga omsingel en ’n beleëringswal teen die stad opgerig, aangesien dit ’n versterkte muur* rondom gehad het. En al die manne wat by Joab was, was besig om die muur te ondergrawe sodat hulle dit kon afbreek. 16 ’n Wyse vrou het uit die stad geroep: “Luister, manne! Sê asseblief vir Joab dat hy hiernatoe moet kom sodat ek met hom kan praat.” 17 Hy het nader gegaan en die vrou het gevra: “Is u Joab?” Hy het geantwoord: “Ja.” Toe het sy vir hom gesê: “Luister na die woorde van u kneg.” Hy het gesê: “Ek luister.” 18 Sy het toe gesê: “In die verlede het hulle altyd gesê: ‘Laat hulle in Abel raad vra,’ en dit sal die einde van die saak wees. 19 Ek verteenwoordig die vredeliewendes en getroues van Israel. U wil nou ’n stad vernietig wat soos ’n moeder in Israel is. Hoekom wil u die erfdeel van Jehovah+ uitroei?” 20 Joab het geantwoord: “Ek wil glad nie die stad uitroei of vernietig nie. 21 Dit is nie hoekom ek hier is nie. Maar ’n man uit die bergstreek van Eʹfraim+ met die naam Seba,+ die seun van Bigri, het teen koning Dawid in opstand gekom.* As jy hierdie een man aan my oorgee, sal ek van die stad af wegtrek.” Toe het die vrou vir Joab gesê: “Goed! Sy kop sal oor die muur na u toe gegooi word!”

22 Die wyse vrou het dadelik na al die mense toe gegaan, en hulle het die kop van Seba, die seun van Bigri, afgekap en dit na Joab toe gegooi. Toe het hy op die horing geblaas, en hulle het van die stad af weggegaan, elkeen na sy huis toe.+ En Joab het na die koning in Jerusalem teruggekeer.

23 Joab was oor die hele leërmag van Israel.+ Benaʹja,+ die seun van Jojaʹda,+ was oor die Keretiete en oor die Peletiete.+ 24 Adoʹram+ was oor die mense wat opgeroep is om vir die koning te werk, en Joʹsafat,+ die seun van Ahiʹlud, was die geskiedskrywer. 25 Sewa was die sekretaris. Sadok+ en Abjaʹtar+ was priesters. 26 En Ira, die Jaïriet, het ook een van Dawid se hoofamptenare* geword.

21 In Dawid se tyd was daar drie jaar lank hongersnood.+ Dawid het Jehovah vir leiding gevra, en Jehovah het gesê: “Daar is bloedskuld op Saul en op sy huis omdat hy die Gibeoniete doodgemaak het.”+ 2 Toe het die koning die Gibeoniete+ geroep en met hulle gepraat. (Terloops, die Gibeoniete was nie Israeliete nie. Hulle was ’n oorblyfsel van die Amoriete,+ en die Israeliete het gesweer dat hulle hulle nie sou doodmaak nie.+ Maar Saul het hulle probeer uitroei weens sy ywer vir die mense van Israel en Juda.) 3 Dawid het vir die Gibeoniete gevra: “Wat moet ek vir julle doen, en hoe kan ek versoening doen sodat julle die erfdeel van Jehovah sal seën?” 4 Die Gibeoniete het vir hom gesê: “Silwer en goud kan nie vergoed+ vir wat Saul en sy huis aan ons gedoen het nie, en ons het nie die reg om enigiemand in Israel dood te maak nie.” Toe het hy gesê: “Ek sal doen wat julle ook al sê.” 5 Hulle het vir die koning gesê: “Die man wat ons wou uitroei en wat planne beraam het sodat nie een van ons in die gebied van Israel moet oorbly nie+ – 6 laat sewe van sy seuns aan ons gegee word. Ons sal hulle dooie liggame*+ voor Jehovah ophang* in Giʹbea+ van Saul, die uitverkorene van Jehovah.”+ Toe het die koning gesê: “Ek sal hulle vir julle gee.”

7 Maar die koning het genade betoon aan Mefiboʹset,+ die seun van Joʹnatan, die seun van Saul, as gevolg van die eed wat Dawid en Joʹnatan,+ die seun van Saul, voor Jehovah afgelê het. 8 Daarom het die koning die twee seuns geneem wat Rispa,+ die dogter van Aja, by Saul gehad het, naamlik Armoʹni en Mefiboʹset, sowel as die vyf seuns wat Migal,*+ die dogter van Saul, by Aʹdriël,+ die seun van Barsilʹlai, die Meholatiet, gehad het. 9 Toe het hy hulle aan die Gibeoniete oorgelewer, wat hulle dooie liggame op die berg voor Jehovah opgehang het.+ Al sewe het saam gesterf. Hulle is in die eerste dae van die oes, aan die begin van die gars-oes, doodgemaak. 10 Rispa,+ die dogter van Aja, het toe saklinne geneem en dit op die rots uitgesprei van die begin van die oes af totdat daar reën op hulle liggame geval het. Sy het nie toegelaat dat die voëls van die hemel in die dag op hulle gaan sit nie en ook nie dat die wilde diere van die veld in die nag naby hulle kom nie.

11 Dawid het gehoor wat Saul se byvrou Rispa, die dogter van Aja, gedoen het. 12 Toe het Dawid al die beendere van Saul en van sy seun Joʹnatan gaan haal by die leiers* van Jaʹbes-Giʹlead,+ wat dit op die openbare plein van Bet-San gaan steel het, waar die Filistyne hulle opgehang het op die dag toe die Filistyne Saul op Gilboʹa doodgemaak het.+ 13 Hy het die beendere van Saul en van sy seun Joʹnatan van daar af gebring, en hulle het ook die beendere bymekaargemaak van die manne wat doodgemaak* is.+ 14 Toe het hulle die beendere van Saul en van sy seun Joʹnatan in die graf van Kis,+ Saul se pa, in Sela+ in die land van Benjamin begrawe. Nadat hulle alles gedoen het wat die koning beveel het, het God na hulle smekinge vir die land geluister.+

15 Daar was weer eens oorlog tussen die Filistyne en Israel.+ Toe het Dawid en sy knegte teen die Filistyne gaan veg, maar Dawid het baie moeg geword. 16 ’n Nakomeling van die Refaïete+ met die naam Jisbi-Benob was van plan om Dawid dood te maak. Hy het ’n koperspies gehad wat 300 sikkels* geweeg het,+ en hy was gewapen met ’n nuwe swaard. 17 Abiʹsai,+ die seun van Seruʹja, het dadelik tot sy redding gekom+ en die Filistyn doodgemaak. Toe het die manne van Dawid by hom aangedring:* “U moenie meer saam met ons gaan veg nie!+ Die lamp van Israel mag nie uitgedoof word nie!”+

18 Daarna het daar weer oorlog teen die Filistyne uitgebreek+ in Gob. Toe is Saf, ’n nakomeling van die Refaïete,+ deur Sibʹbegai,+ die Husatiet, doodgemaak.

19 En daar het weer oorlog teen die Filistyne uitgebreek+ in Gob, en Elhaʹnan, die seun van Jaʹäre-Oʹregim, die Betlehemiet, het Goʹliat, die Gittiet, doodgemaak. Die steel van Goʹliat se spies was so groot soos die balk van ’n weefraam.+

20 Oorlog het weer uitgebreek in Gat, waar daar ’n man was wat buitengewoon groot was, met 6 vingers aan elke hand en 6 tone aan elke voet, altesaam 24. Hy was ook ’n nakomeling van die Refaïete.+ 21 Hy het Israel bly uittart,+ en Joʹnatan, die seun van Dawid se broer Siʹmeï,+ het hom doodgemaak.

22 Hierdie vier manne was nakomelinge van die Refaïete in Gat, en hulle is deur Dawid en sy knegte doodgemaak.+

22 En Dawid het die woorde van hierdie lied vir Jehovah gesing+ op die dag toe Jehovah hom gered het uit die hand van al sy vyande+ en uit Saul se hand.+ 2 Hy het gesê:

“Jehovah is my groot rots en my vesting+ en die Een wat my red.+

 3 My God is my rots,+ by wie ek beskerming soek,

my skild+ en my horing* van redding,* my veilige skuilplek*+

en die plek waarheen ek kan vlug,+ my redder.+ U red my van geweld.

 4 Ek roep Jehovah aan, wat verdien om geloof te word,

en ek sal van my vyande gered word.

 5 Die branders van die dood het om my gebreek.+

Stortvloede van nikswerd mense het my baie bang gemaak.+

 6 Die toue van die Graf* was om my.+

Ek het voor die strikke van die dood te staan gekom.+

 7 In my angstigheid het ek tot Jehovah geroep.+

Ek het tot my God bly roep.

Toe het hy vanuit sy tempel my stem gehoor,

en my geroep om hulp het sy ore bereik.+

 8 Die aarde het begin skud en bewe,+

en die fondamente van die hemel het gebewe+

en heen en weer geskud omdat hy woedend gemaak is.+

 9 Rook het uit sy neusgate gekom,

en ’n verterende vuur het by sy mond uitgekom.+

Gloeiende kole het uit hom voortgekom.

10 Hy het die hemel laat buig terwyl hy neergedaal het,+

en daar was digte, donker wolke onder sy voete.+

11 Hy het op ’n gerub+ gery en aangevlieg gekom.

Hy was sigbaar op die vlerke van ’n gees.*+

12 Toe het hy donkerte rondom hom sy skuiling gemaak,+

donker waters en digte wolke.

13 Uit die helderheid voor hom het brandende kole opgevlam.

14 Toe het Jehovah se stem soos donderslae vanuit die hemel gedreun.+

Die Allerhoogste het sy stem laat hoor.+

15 Hy het sy pyle+ geskiet en my vyande verstrooi,

weerligstrale om hulle te verwar.+

16 Die seebodem het sigbaar geword.+

Die fondamente van die land is deur die straf van Jehovah blootgelê,

deur die geblaas van die asem van sy neusgate.+

17 Hy het sy hand vanuit die hoogte uitgestrek.

Hy het my gegryp en my uit diep waters getrek.+

18 Hy het my van my sterk vyand gered,+

van dié wat my haat, wat sterker was as ek.

19 Hulle het my teëgestaan op die dag van my rampspoed,+

maar Jehovah het my ondersteun.

20 Hy het my na ’n veilige plek* uitgebring.+

Hy het my gered omdat ek sy goedkeuring geniet.+

21 Jehovah beloon my volgens my regverdigheid.+

Hy vergoed my volgens die onskuld* van my hande.+

22 Want ek het die weë van Jehovah gevolg,

en ek het nie goddeloos opgetree deur my God te verlaat nie.

23 Al sy oordele+ is voor my.

Ek sal nie afwyk van sy wetsbepalings+ nie.

24 Ek sal ’n rein lewe voor hom lei,+

en ek sal oortreding vermy.+

25 Mag Jehovah my beloon volgens my regverdigheid,+

volgens my onskuld voor hom.+

26 Aan iemand wat lojaal is, is u lojaal.+

Aan iemand wat getrou* is, is u getrou.*+

27 Vir die een wat rein is, toon u dat u rein is,+

maar deur die een wat bedrieglik is, word u nie bedrieg nie.*+

28 En u red die nederiges,+

maar u oë is teen die hoogmoediges, en u verneder hulle.+

29 O Jehovah, u is my lamp.+

Dit is Jehovah wat my duisternis lig maak.+

30 Met u hulp kan ek ’n rowerbende bestorm,

en deur God se krag kan ek teen ’n muur opklim.+

31 Die weg van die ware God is volmaak,+

en die woord van Jehovah is suiwer.+

Hy is ’n skild vir almal wat beskerming by hom kom soek.+

32 Want wie is God buiten Jehovah?+

En wie is ’n rots behalwe ons God?+

33 Die ware God is my sterk vesting,+

en hy sal sorg dat my weg volmaak is.+

34 Hy maak my voete soos dié van ’n takbok.

Hy laat my op hoë plekke staan.+

35 Hy leer my hande om oorlog te voer,

en my arms kan ’n boog van koper span.

36 U gee my u skild van redding,

en u nederigheid maak my groot.+

37 U maak die pad vir my voetstappe breër,

en my voete* sal nie gly nie.+

38 Ek sal my vyande agternasit en hulle doodmaak.

Ek sal nie terugkeer totdat hulle vernietig is nie.

39 En ek sal hulle vernietig en verpletter sodat hulle nie sal opstaan nie,+

en hulle sal onder my voete val.

40 U sal my krag gee vir die geveg,+

en u sal my vyande onder my laat inmekaarsak.+

41 U sal my vyande van my af laat terugtrek.*+

Ek sal ’n einde maak aan dié wat my haat.*+

42 Hulle roep om hulp, maar daar is niemand om hulle te red nie.

Hulle roep selfs tot Jehovah, maar hy antwoord hulle nie.+

43 Ek sal hulle so fyn stamp soos die stof van die aarde.

Ek sal hulle verpletter en vertrap soos modder in die strate.

44 U sal my red van die foutvindery van my volk.+

U sal my bewaar om die hoof van nasies te wees.+

’n Volk wat ek nie geken het nie, sal my dien.+

45 Uitlanders sal voor my kruip.+

Hulle sal aan my gehoorsaam wees weens wat hulle van my hoor.*

46 Uitlanders sal moed verloor,*

en hulle sal bewend uit hulle vestings kom.

47 Jehovah lewe! Mag my Rots+ geloof word!

Laat God, die rots van my redding, verheerlik word.+

48 Die ware God neem wraak vir my.+

Hy onderwerp die volke onder my.+

49 Hy red my van my vyande.

U lig my hoog+ bo dié wat my aanval,

en u red my van die man van geweld.+

50 Daarom sal ek u dank onder die nasies,+ o Jehovah,

en ek sal liedere sing* om u naam te loof.+

51 Hy verrig groot reddingsdade* vir sy koning.+

Hy betoon lojale liefde aan sy gesalfde,

aan Dawid en sy nageslag,* vir ewig.”+

23 Dít is die laaste woorde van Dawid:+

“Die woord van Dawid, die seun van Isai,+

en die woord van die man wat grootliks geëer is,+

die gesalfde+ van die God van Jakob,

die lieflike sanger van die liedere+ van Israel.

 2 Die gees van Jehovah het deur my gepraat;+

sy woord was op my tong.+

 3 Die God van Israel het gepraat,

die Rots van Israel+ het vir my gesê:

‘Wanneer die een wat oor mense regeer, regverdig is+ en

in die vrees van God+ regeer,

 4 is dit soos die oggendlig wanneer die son skyn,+

’n oggend sonder wolke.

Dit is soos die helderheid ná die reën

wat gras uit die aarde laat uitspruit.’+

 5 Is my huis nie so voor God nie?

Want hy het ’n ewige verbond met my gemaak.+

Hy het al die besonderhede daarvan uitgewerk en dit bevestig.

Dit beteken my redding en my vreugde.

Is dit nie hoekom hy my huis laat floreer nie?+

 6 Maar nikswerd mense word weggegooi+ soos doringbosse

wat nie met die hand uitgeruk kan word nie.

 7 Wanneer ’n man aan hulle raak,

moet hy ten volle gewapen wees met yster en die steel van ’n spies,

en hulle moet net daar heeltemal met vuur verbrand word.”

8 Dít is die name van Dawid se magtige vegters:+ Joʹseb-Basseʹbet, ’n Tagkemoniet, die hoof van die drie.+ Hy het eenkeer 800 manne met sy spies doodgemaak. 9 Die tweede van die drie magtige vegters wat by Dawid was toe hulle die Filistyne uitgetart het, was Eleaʹsar,+ die seun van Dodo,+ die seun van Ahoʹhi. Hulle het daar bymekaargekom vir die geveg, en toe die manne van Israel gevlug het, 10 het hy bly veg en aangehou om die Filistyne dood te maak totdat sy arm moeg was en sy hand styf geword het omdat hy sy swaard heeltyd vasgehou het.+ Jehovah het op daardie dag ’n groot oorwinning* aan Israel gegee,+ en daarna het die manne teruggegaan om die lyke agter Eleaʹsar te stroop.

11 Die derde was Samma, die seun van Agee, die Harariet. Die Filistyne het by Legi bymekaargekom, waar daar ’n stuk grond vol lensies was, en toe die manne vir die Filistyne gevlug het, 12 het hy in die middel van die stuk grond bly staan en dit verdedig en aangehou om die Filistyne dood te maak, en so het Jehovah vir Israel ’n groot oorwinning* gegee.+

13 Drie van die 30 hoofmanne het gedurende die oestyd na Dawid toe gegaan by die grot van Adulʹlam.+ En die kamp van ’n afdeling* van die Filistyne was in die Refaʹim-vallei.+ 14 Dawid was toe in die skuilplek,+ en ’n voorpos van die Filistyne was in Betlehem. 15 Dawid het toe gesê: “As ek maar net van die water kon drink uit die reënput by die poort van Betlehem!” 16 Die drie magtige vegters het toe die kamp van die Filistyne binnegedring en water geskep uit die reënput by die poort van Betlehem en dit na Dawid toe geneem. Maar hy het geweier om dit te drink en het dit voor Jehovah uitgegooi.+ 17 Hy het gesê: “O Jehovah, ek sal nooit eers daaraan dink om dit te doen nie! Moet ek die bloed+ drink van die manne wat hulle lewens gewaag het om dit te gaan haal?” Daarom het hy geweier om dit te drink. Dit is die dinge wat sy drie magtige vegters gedoen het.

18 Abiʹsai,+ die broer van Joab, die seun van Seruʹja,+ was die hoof van drie ander. Hy het 300 manne met sy spies doodgemaak, en hy het net so ’n goeie reputasie gehad as die eerste drie.+ 19 Hoewel hy die mees gerespekteerde van die drie was en hulle hoof was, het hy nie die status van die eerste drie gehad nie.

20 Benaʹja,+ die seun van Jojaʹda, was ’n dapper man* wat baie magtige dade in Kabʹseël+ gedoen het. Hy het die twee seuns van Aʹriël, die Moabiet, doodgemaak, en op ’n dag toe dit gesneeu het, het hy in ’n waterput afgeklim en ’n leeu doodgemaak.+ 21 Hy het ook ’n Egiptenaar doodgemaak wat buitengewoon groot was. Hoewel die Egiptenaar ’n spies in sy hand gehad het, het hy met ’n stok teen hom gaan veg en die spies uit die Egiptenaar se hand geruk en hom met sy eie spies doodgemaak. 22 Dit is wat Benaʹja, die seun van Jojaʹda, gedoen het, en hy het net so ’n goeie reputasie as die drie magtige vegters gehad. 23 Hoewel hy meer gerespekteerd was as die dertig, het hy nie die status van die eerste drie gehad nie. Maar Dawid het hom oor sy lyfwag aangestel.

24 Aʹsahel,+ die broer van Joab, was onder die dertig: Elhaʹnan, die seun van Dodo uit Betlehem;+ 25 Samma, die Harodiet; Eliʹka, die Harodiet; 26 Heles,+ die Paltiet; Ira,+ die seun van Ikkes, die Tekoïet; 27 Abiëser,+ die Anatotiet;+ Mebunnaiʹ, die Husatiet; 28 Salmon, die Ahohiet; Maʹharai,+ die Netofatiet; 29 Heleb, die seun van Baäna, die Netofatiet; Ittai, die seun van Ribai uit Giʹbea van die Benjaminiete; 30 Benaʹja,+ ’n Piratoniet; Hiddai van die valleie* van Gaäs;+ 31 Abi-Albon, die Arbatiet; Asmaʹwet, die Bar-Humiet; 32 Eljagʹba, die Saʹälboniet; die seuns van Jasen; Joʹnatan; 33 Samma, die Harariet; Ahiʹam, die seun van Sarar, die Harariet; 34 Elifeʹlet, die seun van Ahasʹbai, die seun van die Maägatiet; Eliʹam, die seun van Agitoʹfel,+ die Giloniet; 35 Hesro, die Karmeliet; Paʹärai, die Arbiet; 36 Jigal, die seun van Natan uit Soba; Bani, die Gadiet; 37 Selek, die Ammoniet; Naʹharai, die Beërotiet, die wapendraer van Joab, die seun van Seruʹja; 38 Ira, die Jitriet; Gareb, die Jitriet,+ 39 en Uriʹa,+ die Hetiet – altesaam 37.

24 Jehovah se woede het weer teen Israel opgevlam+ toe iemand Dawid teen hulle aangehits het* met die woorde: “Gaan tel+ Israel en Juda.”+ 2 Toe het die koning vir Joab,+ die hoof van die leërmag, wat by hom was, gesê: “Gaan asseblief deur al die stamme van Israel, van Dan tot Berseʹba,+ en registreer die volk sodat ek kan weet hoeveel mense* daar is.” 3 Maar Joab het vir die koning gesê: “Mag Jehovah u God die volk 100 keer groter maak en mag die oë van my heer die koning dit sien. Hoekom wil my heer die koning so iets doen?”

4 Maar die koning het geweier om na Joab te luister, en daarom het Joab en die hoofde van die leërmag van die koning af weggegaan om die Israeliete te registreer.+ 5 Hulle het deur die Jordaanrivier getrek en kamp opgeslaan by Aʹroër,+ regs* van die stad wat in die middel van die vallei* is, en hulle het in die rigting van die gebied van die Gadiete en na Jaser+ gegaan. 6 Toe het hulle na Giʹlead+ en die land Tagtim-Hodsi gegaan, en daarna het hulle na Dan-Jaän en toe verder noord na Sidon+ gegaan. 7 Toe het hulle na die vestingstad Tirus+ en na al die stede van die Hewiete+ en die Kanaäniete gegaan, en uiteindelik het hulle die Negeb+ van Juda in Berseʹba+ bereik. 8 So het hulle deur die hele land gegaan en ná nege maande en 20 dae by Jerusalem gekom. 9 Joab het toe vir die koning die getal gegee van almal wat geregistreer is. In Israel was daar 800 000 vegters met swaarde, en in Juda was daar 500 000.+

10 Maar Dawid se hart* het hom veroordeel+ nadat hy die volk getel het. Toe het Dawid vir Jehovah gesê: “Ek het ’n baie groot sonde gepleeg.+ Vergewe nou asseblief u kneg se oortreding,+ Jehovah, want ek het baie onverstandig opgetree.”+ 11 Toe Dawid die oggend opstaan, het Jehovah vir die profeet Gad,+ Dawid se siener, gesê: 12 “Gaan sê vir Dawid: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Ek gee jou drie opsies. Kies die een wat ek oor jou moet bring.”’”+ 13 Toe het Gad na Dawid gegaan en vir hom gevra: “Moet sewe jaar van hongersnood oor jou land kom?+ Of moet jy drie maande lank voor jou vyande vlug terwyl hulle jou agternasit?+ Of moet daar drie dae lank ’n vreeslike siekte in jou land wees?+ Dink nou mooi na oor watter antwoord ek vir die Een moet gee wat my gestuur het.” 14 Toe het Dawid vir Gad gesê: “Ek weet nie watter kant toe nie. Laat ons asseblief in Jehovah se hande val,+ want hy is baie genadig,+ maar moenie dat ek in mense se hande val nie.”+

15 Toe het Jehovah Israel van die oggend tot die vasgestelde tyd met ’n vreeslike siekte+ getref, en van Dan tot Berseʹba+ het 70 000 mense gesterf.+ 16 Toe die engel sy hand na Jerusalem uitsteek om dit te verwoes, het Jehovah jammer gevoel vir sy volk,*+ en hy het vir die engel wat verwoesting gebring het, gesê: “Dit is genoeg! Laat jou hand sak.” Jehovah se engel was naby die dorsvloer van Arauʹna,+ die Jebusiet.+

17 Toe Dawid die engel sien wat die mense doodmaak, het hy vir Jehovah gesê: “Ek is die een wat gesondig het, en ek is die een wat verkeerd opgetree het. Maar wat het hierdie skape+ gedoen? Laat u hand asseblief teen my en die huis van my vader kom.”+

18 Toe het Gad op daardie dag na Dawid toe gegaan en vir hom gesê: “Gaan na die dorsvloer van Arauʹna, die Jebusiet,+ en rig daar vir Jehovah ’n altaar op.” 19 Dawid het soontoe gegaan, net soos Jehovah hom deur middel van Gad beveel het. 20 Toe Arauʹna afkyk en die koning en sy knegte na hom toe sien kom, het Arauʹna dadelik uitgegaan en voor die koning neergebuig met sy gesig na die grond toe. 21 Arauʹna het gevra: “Hoekom het my heer die koning na sy kneg toe gekom?” Dawid het geantwoord: “Om die dorsvloer by jou te koop om vir Jehovah ’n altaar te bou, sodat die plaag onder die mense kan ophou.”+ 22 Maar Arauʹna het vir Dawid gesê: “My heer die koning kan dit neem en enige offerande daar offer wat hy wil.* Hier is die beeste vir die brandoffer en die dorsslee en die toerusting van die beeste wat u as hout kan gebruik. 23 Ek gee dit alles aan u, o koning.” Toe het Arauʹna vir die koning gesê: “Mag u die goedkeuring geniet van Jehovah u God.”

24 Maar die koning het vir Arauʹna gesê: “Nee, ek moet dit teen ’n prys van jou koop. Ek sal nie vir Jehovah my God brandoffers offer wat my niks kos nie.” Dawid het toe die dorsvloer en die beeste vir 50 sikkels* silwer gekoop.+ 25 En Dawid het daar vir Jehovah ’n altaar gebou+ en brandoffers en vrede-offers* geoffer. Jehovah het na die smeekgebede vir die land geluister,+ en die plaag teen Israel het opgehou.

Lett. “Jou bloed is op jou eie kop”.

Of “kosbaar”.

Lett. “Laat julle hande sterk wees”.

Of moontlik “deur die hele Bitron”.

Lett. “hondekop”.

Lett. “so aan my doen en daarby voeg”.

Lett. “en kyk! my hand is met u”.

Lett. “vir die bloed van sy broer Asahel”.

Of “Mag dit op die kop van . . . terugkom”.

Verwys moontlik na ’n kreupel man wat die werk van ’n vrou moet doen.

Lett. “koper”.

Lett. “die seuns van onregverdigheid”.

Of “om Dawid brood vir vertroosting te gee”.

Lett. “so aan my doen en daarby voeg”.

Lett. “het sy hande slap geword”.

Lett. “bloed”.

Lett. “was u die een wat Israel uitgebring en ingebring het”.

Of moontlik “en hy het dit”.

Of “Millo”. ’n Hebreeuse woord wat “opvulling” beteken.

Lett. “huis”.

Beteken “Heer van deurbrake”.

Of moontlik “tussen”.

Of “ontsteld”.

Beteken “deurbraak teen Ussa”.

Of “gemeenskapsoffers”.

Of “gemeenskapsoffers”.

Lett. “huis”.

Lett. “geloop”.

Lett. “by jou vaders neergelê word”.

Lett. “saad”.

Lett. “een wat uit jou binneste sal voortkom”.

Of moontlik “kinders van Adam”.

Lett. “sy hart gevind”.

Sien Woordelys.

Sien Woordelys.

Of “redding”.

Of “redding”.

Lett. “priesters”.

Lett. “aan my tafel brood eet”.

Of moontlik “aan my”.

Of “die manne van Tob”.

Of “die manne van Tob”.

Lett. “in die hand”.

Die Eufraatrivier.

D.w.s. in die lente.

Of “Laat een middag”.

Lett. “huis”.

Moontlik ná haar menstruele onreinheid.

Lett. “was jou voete”.

Lett. “huis”.

Of “die koning se porsie”, d.w.s. kos wat ’n gasheer aan ’n geëerde gas gestuur het.

Lett. “huis”.

Sien Woordelys.

Lett. “voor die oë van hierdie son”.

Lett. “voor die son”.

Lett. “huis”.

Van ’n Hebreeuse woord wat “vrede” beteken.

Beteken “geliefde van Jah”.

Of “die stad van die koninkryk”.

Verwys moontlik na die waterbronne van die stad.

Lett. “en my naam sal daaroor uitgeroep word”.

Sien Woordelys.

’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.

Of “brood vir vertroosting”.

Of “brood vir vertroosting”.

Of “brood vir vertroosting”.

Of “versierde”.

Lett. “ter harte neem”.

Lett. “oorblyfsel”.

Of “siel”.

Omtrent 2,3 kg. Sien Aanh. B14.

Moontlik ’n standaardgewig wat in die koninklike paleis gehou is of ’n “koninklike” sikkel wat anders was as die gewone sikkel.

Of moontlik “40 jaar”.

Lett. “diens aan Jehovah verrig”.

Lett. “huis”.

Of “wat langs hom verbygegaan het”.

Of “helling van die Olywe”.

Of “altyd voor God neergebuig het”.

Of “raad”.

Of “vertroueling”.

Veral vye en miskien ook dadels.

Of “kleinseun”.

Lett. “die huis van Israel”.

Of “vertroueling”.

Lett. “huis”.

Of “asof ’n mens die woord van die ware God geraadpleeg het”.

Of “slap van hande”.

Of “gate; klowe”.

Lett. “wie se hart soos die hart van ’n leeu is”.

Of “beveel”.

Of moontlik “die woestynvlaktes”.

Lett. “ingesluk”.

Of “verwurg”.

Lett. “dikmelkkaas van beeste”.

Lett. “hand”.

Lett. “hulle nie die hart op ons rig”.

Lett. “tussen die hemel en die aarde”.

Lett. “op my palms weeg”.

Of “As ek bedrieglik teen sy siel gehandel het”.

Of moontlik “spiese”. Lett. “stokke”.

Lett. “hulle hand opgelig het”.

Of “redding”.

Lett. “spreek tot die hart van u knegte”.

D.w.s. diegene wat Absalom ondersteun het.

Lett. “so aan my doen en daarby voeg”.

Lett. “gebuig”.

Of moontlik “Hulle”.

Of moontlik “van”.

Of “die woord van die manne van Juda was harder as dié van die manne van Israel”.

Of moontlik “tente”.

Of “’n skans”.

Lett. “sy hand opgelig”.

Lett. “’n priester van Dawid”.

Lett. “Ons sal hulle”.

Lett. “ontbloot”, d.w.s. ontbloot met gebreekte arms en bene.

Of moontlik “Merab”.

Of moontlik “grondeienaars”.

Lett. “ontbloot”.

Omtrent 3,42 kg. Sien Aanh. B14.

Lett. “gesweer”.

Sien Woordelys.

Of “my magtige redder”.

Of “veilige hoogte”.

Of “Sjeool”. Sien Woordelys.

Of “die wind”.

Of “ruim plek”.

Lett. “die reinheid”.

Of “onberispelik”.

Of “onberispelik”.

Of moontlik “teenoor die een wat bedrieglik is, sal u optree asof u dwaas is”.

Of “enkels”.

Of “U sal my die rug van my vyande gee”.

Of “Ek sal dié wat my haat, stilmaak”.

Lett. “Wanneer die oor hoor, sal hulle my gehoorsaam”.

Of “wegkwyn”.

Of “musiek maak”.

Of “groot oorwinnings”.

Lett. “saad”.

Of “redding”.

Of “redding”.

Of “tentdorp”.

Lett. “die seun van ’n dapper man”.

Of “wadi’s”. Sien Woordelys.

Of “toe Dawid teen hulle aangehits is”.

Verwys blykbaar na manne wat oud genoeg was om in die leërmag te dien.

Of “suid”.

Of “wadi”. Sien Woordelys.

Of “gewete”.

Of “het Jehovah spyt gevoel oor die rampspoed”.

Lett. “wat goed is in sy oë”.

’n Sikkel was gelyk aan 11,4 g. Sien Aanh. B14.

Of “gemeenskapsoffers”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel