Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 4/1 bl. 8-15
  • Is God se dag van wraak ophande?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is God se dag van wraak ophande?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • JA! BESLIS!
  • IS GOD SE WRAAK HUL VERDIENDE LOON?
  • SMARTE NEEM TOE
  • DIE IDENTITEIT VAN ’N “BERUGTE SEDELOSE VROU”
  • “GAAN UIT HAAR UIT, MY VOLK”
  • Waarom sal ’n liefdevolle God wraak neem?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • God se dag van wraak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Wat sal met godsdiens gebeur? – Wat die Bybel sê
    Nog onderwerpe
  • “Vrede en veiligheid”—Dan “skielike verderf”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 4/1 bl. 8-15

Is God se dag van wraak ophande?

“Die HERE hou ’n dag van wraak.”—Jes. 34:8.

1. Word Lukas 21:25, 26 vandag vervul?

JESUS CHRISTUS het voorspel dat die tyd vir God om wraak te neem gekenmerk sou word deur “benoudheid van nasies in hulle radeloosheid” weens die probleme waarmee die mensdom te kampe sou hê. Hy het gesê dat “mense se harte [sou] beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom” (Luk. 21:25, 26). Sien ons hierdie situasie hier in 1981?

JA! BESLIS!

2. (a) Wat toon dat Openbaring 11:15, 18 sedert 1914 vervul word? (b) Waarvan is hierdie gebeure die voorloper?

2 Die huidige wêreldkrisis is die gevolg van benoudhede wat onder die mensdom toegeneem het sedert die nasies in 1914 vir die eerste keer in totale oorlogvoering gewikkel geraak het. Volgens die profesie in Openbaring hoofstuk 11 is die jaar wat ‘die nasies toornig geword het’—1914—ook die tyd toe “die koninkryk van die wêreld” tereg “die koninkryk van onse Here [Jehovah] en van sy Christus” geword het (Openb. 11:15, 18, NW). Hierdie bekleding van Christus met gesag om te heers is ’n voorbereidende stap wat die weg vir die uitoefening van wraak baan.

3. Waar staan die Christendom se kerke ten opsigte van God se boodskap van wraak en vertroosting?

3 Het enigiemand vandag die opdrag van God se gees ontvang om die dag van Jehovah se wraak uit te roep en al die treurendes te troos? Ja, maar dit is nie die kerke van die Christendom nie. Hulle het geen boodskap van ware vertroosting nie, en hulle wil Jehovah ook nie as hulle God hê nie. Hulle vermy nie alleen die gebruik van Jehovah se naam nie, maar hulle vervolg ook ware Christene wat daardie naam eer.

4. Watter redes het ons om bly te wees?

4 Maar Jehovah se Getuies is bly dat hulle God se naam, die grootste in die heelal, dra! Hulle is bly dat hulle Jehovah se Getuies genoem word. Hulle is verheug dat hulle, sedert die Koninkryk se oprigting in daardie veelbewoë jaar 1914, die voorreg het om Jehovah se ‘dag van wraak’ in die hele aarde te verkondig. Trouens, hulle is vasbeslote om, soos Miga 4:5 dit stel, te “wandel in die Naam van [Jehovah hulle] God vir ewig en altoos”! En hulle is verheug dat miljoene treurendes na hulle boodskap geluister het, vertroos is en na die kant van God se inkomende koninkryk stroom.

IS GOD SE WRAAK HUL VERDIENDE LOON?

5. (a) Waarvan is hierdie “swaar tye” die finale vrug? (b) Watter toestande sien ons nou in die valse Christendom ter vervulling van Paulus se profesie oor “die laaste dae”?

5 Maar is die wêreld vandag werklik so sleg dat God daarop wraak moet uitoefen? Luister na die geïnspireerde woorde van die apostel Paulus. Hy het gesê: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.” Hierdie swaar tye is die finale vrug, die eindresultaat van mense se versuim om gunstig op die verkondiging van die waarheid te reageer (2 Tim. 2:23-26). Selfs in die ryk van die valse Christendom sien ons nou ’n verskriklike toename in misdadigheid en geweld, gesinsverbrokkeling, minagting vir gesag en sedelike verval. Selfsug en hebsug, die gebrek aan ware liefde, lê dit ten grondslag. Paulus sê voorts: “Die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, . . . sonder liefde vir die goeie, . . . meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” (2 Tim. 3:1-5). Wel, sien ons hoedat hierdie profesie vandag dwarsoor die aarde vervul word? Ja, beslis. Dit word in die fynste besonderhede vervul.

6. Watter situasie het ter vervulling van Mattheüs 24:12 ontstaan?

6 Toe Jesus die “teken . . . van die voleinding van die wêreld” voorspel het, het hy self gesê: “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:3, 12). Hoe waar is dit tog van die valse Christendom, asook van die hele wêreld! Wanneer Kersfees nader kom, word daar in die valse Christendom baie oor liefde, oor vrede en welwillendheid onder mense gepraat. Maar beoefen die nasies van die Christendom sulke eienskappe? Die woorde van die Britse eerste minister, wat net ’n week voor Kersdag van 1979 gebesig is, is betekenisvol. Sy het gesê: “Ons gaan ’n nuwe dekade tegemoet—ek noem dit ‘die gevaarlike dekade’—waarin die uitdagings aan ons veiligheid en aan ons lewenswyse groter gaan wees as in die sewentigerjare.”

7, 8. (a) Watter onheilspellende situasie bestaan nou? (b) Watter versekeringe bied Jehovah, en hoe hou dit verband met “liefde” en “wraak”?

7 Hoe reageer die nasies op sulke uitdagings? Deur hulle voorbereidings vir oorlog te verskerp. Dink net daaraan! Hierdie liefdelose wêreld bestee amper eenmiljoen rand per minuut aan wapentuig, meer as R380-miljard per jaar! Dit vererger ’n onheilspellende situasie waarvoor die wêreld geen oplossing kan vind nie. Volgens inligting wat deur ’n groep geneeshere, wetenskaplikes en ander in New York se Times van 2 Maart 1980 gepubliseer is, kan ’n kernoorlog, indien dit môre sou uitbreek, in net een uur so te sê alle lewe op aarde uitwis—duisendmiljoene mense. Die nasies is nogtans koorsagtig besig om selfs verskrikliker superwapens te vervaardig.

8 Maar sal ons liefdevolle God, die Skepper van hierdie pragtige aarde, toelaat dat goddelose nasies dit verkool? Nooit! Want hy sê duidelik in sy woord: “So sê [Jehovah], wat die hemele geskape het—Hy is God!—wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig “Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word—Ek is [Jehovah], en daar is geen ander nie.” Sy weergalose naam Jehovah dien as waarborg dat Hy, as liefdevolle Skepper en Soewereine Heer van die heelal, nie sal toelaat dat ons aardbol verwoes word nie. Goddelike liefde vereis dat God wraak uitoefen op diegene wat ons aarde ontheilig en wat sy menseskepping wil uitwis.—Jes. 45:18; Jer. 10:10-12.

9. Wat is Jehovah voornemens om te doen aangesien die nasies weier om hulself te ontwapen, en waarom?

9 Sedert die eerste wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het, is hierdie aarde deurweek met die bloed van tienmiljoene onskuldiges. Die Tweede Wêreldoorlog alleen het immers 55 miljoen lewens geëis! En nou is die moontlikheid van ’n groot kernslagting selfs vreeswekkender. Maar aangesien die nasies weier om hulself te ontwapen, sê ons liefdevolle God dat hy hulle binnekort op sy eie doeltreffende en permanente manier gaan ontwapen. Hy sê: “Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring, wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde” (Ps. 46:9, 10). Ja, dit is Jehovah se liefdevolle voorneme om te doen wat die nasies nooit sal doen nie—om al hulle krygstuig te vernietig en al hulle kernmissiele onskadelik te stel. Soos Jehovah sê: “Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld” (Rom. 12:19; Sef. 3:8, 9). Maak ons liefdevolle God se belofte dat hy wraak gaan neem ons bly? Dit behoort!

SMARTE NEEM TOE

10. Watter skokkende gevolge het die oorloë van hierdie eeu gehad?

10 Die oorloë wat sedert 1914 gevoer is, het verskriklike gevolge gehad. Daar was onder meer seksuele bandeloosheid, wat gelei het tot epidemies veneriese siekte en ongewenste swangerskappe. Hierdie ongewenste swangerskappe het gepaard gegaan met ’n vloedgolf aborsies. Daar word geraam dat daar nou elke jaar dwarsoor die wêreld 30 tot 40 miljoen ongebore kinders afgedryf, vermoor, word! Dit is die grootste uitwissing van onskuldiges wat die wêreld nog ooit gesien het en stel die dodetal tydens die ergste jaar van enige oorlog in die geskiedenis in die skadu.

11. Op watter gebiede gaan ‘goddelose mense van kwaad tot erger voort’?

11 In die laaste jare het ons ook dwelmverslawing, egskeiding, jeugmisdaad en allerhande wetteloosheid op ’n verskriklike skaal gesien. Die homoseksuele gemeenskap spog vandag dat hulle in die Verenigde State alleen 20 miljoen aanhangers het. Een homoseksueel het onlangs ’n hedendaagse rekord opgestel deur die skokkende moord op 33 seuns wat hy verkrag het. Maar homoseksualiteit is net een aspek van die onsedelikheid wat al hoe meer in die valse Christendom en dwarsoor die aarde beoefen word. Dit is net soos Tweede Timotheüs hoofstuk 3 van hierdie “laaste dae” sê, naamlik dat “goddelose mense . . . sal voortgaan van kwaad tot erger”.—V. 13.

12. Watter aanduidings is daar dat hierdie goddelose wêreld sy einde nader?

12 Wanneer ons die onsedelike wêreld rondom ons gadeslaan, word ons verplig om uit te roep: Dit is net soos in Noag se dag! Dit is net soos in die tyd van Sodom en Gomorra! En net soos die verdorwe Kanaäniete en die afvallige Israeliete! Terwyl hierdie wêreld al hoe dieper wegsink in die moeras van onsedelikheid, word ons herinner aan die waarskuwing van die apostel Paulus dat “die wat sulke dinge doen, die dood verdien” (Rom. 1:18, 26-32). Nee, die liefdevolle God gaan nie veel langer die afskuwelike goddeloosheid van hierdie stelsel van dinge duld nie. In plaas daarvan gaan hy diegene verderf wat sy aarde besoedel.—Openb. 11:18.

DIE IDENTITEIT VAN ’N “BERUGTE SEDELOSE VROU”

13. Wat word bedoel met ‘geestelike owerspel’?

13 Maar die Bybel praat ook van geestelike onsedelikheid. Dit word bedryf deur diegene wat beweer dat hulle reine godsdiens beoefen, maar wat betrokke raak by die aangeleenthede van Satan se wêreld. Die Bybel sê: “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God” (Jak. 4:4). Sulke vriendskap—geestelike owerspel—deur diegene wat beweer dat hulle God se dienaars is, is nog ’n belangrike rede waarom Jehovah wraak gaan neem. Waarom sê ons so?

14. Wie is “die berugte sedelose vrou” en wat is die “baie waters” waarop sy sit?

14 Op grond van wat in Openbaring hoofstuk 17 staan. Daar lees ons van “die groot hoer wat op die baie waters sit”. Wat beteken dit? Die “baie waters” word in vers 15 vir ons duidelik geïdentifiseer as “volke en menigtes en nasies en tale”. Maar wie is hierdie “groot hoer” wat mag oor die mense uitoefen? Die 1979-vertaling van Die Nuwe Testament en die Psalms verwys na haar as die “berugte sedelose vrou”. Wat het sy gedoen om haar so berug te maak? Openbaring 17:5 bied ’n leidraad wanneer dit sê: “Op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon [Babilon die Grote, NW], die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde.”

15. Wat het met Babilon gebeur, maar watter erfenis het dit nagelaat?

15 Die “berugte sedelose vrou” het dus ’n naam, “Babilon die Grote”. Dit verbind haar met die Babilon van antieke geskiedenis, in die tyd van koning Nebukadnesar. Die geskiedenis openbaar dat daardie stad vol verdorwe seksaanbidding en korrupsie was (Dan. 4:28-30). Nebukadnesar se Babilon bestaan vandag nie meer nie. Die terrein daarvan in hedendaagse Irak is ’n woesteny, “soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het” (Jes. 13:19-22). Antieke Babilon het egter ’n erfenis aan die mensdom nagelaat. En wat is dit? Sy afgodediens—sy godsdiens!

16. (a) Hoe het ’n wêreldryk van valse godsdiens ontwikkel? (b) Watter oordeel spreek God oor Babilon die Grote uit, en waarom?

16 Sedert die vroegste tye na die Vloed is Babilon met valse godsdiens geassosieer. Dit was daar dat manne Jehovah trotseer het deur ’n stad en godsdienstoring waarvan die spits tot aan die hemel gereik het, te bou. En toe Jehovah hulle taal verwar het, was dit van Babilon af dat hulle oor die hele aarde verstrooi is. Maar hulle het hulle valse godsdiens saamgeneem. In die vierde eeu het afvallige Christene die leer en seremoniële gebruike van Babilon saamgesmelt tot die godsdiensstelsel wat tot vandag toe in die verskillende sektes van Katolisisme en Protestantisme voortbestaan. Aldus het daar ’n wêreldryk van valse godsdiens, “Babilon die Grote”, wat uit “Christelike” sowel as nie-Christelike gelowe bestaan, ontwikkel. Weens “Babilon die Grote” se aandadigheid aan die vervolging, geweld en selfs die wêreldoorloë van die geskiedenis, spreek God sy oordeel oor haar uit waar hy sê: “Die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op die aarde gedood is.”—Openb. 17:5, 6; 18:24; Gen. 10:8-10; 11:1-9.

17. Wat is die “skarlakenrooi dier”, en hoe het hy profesie vervul?

17 Babilon die Grote se owerspelige ‘vriendskap met die wêreld’ strek selfs verder. Dit sluit haar baasspelerige verhouding met ’n simboliese “dier” in. Want Openbaring 17:3 sê sy “sit op ’n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name”. In die Bybel word ‘diere’ dikwels gebruik om politieke nasies af te beeld (Dan. 7:2-8; 8:5-8, 20, 21; Openb. 13:1-18). Maar hier praat die profesie van ’n groteske, samegestelde “dier” met “sewe koppe en tien horings”. Die hedendaagse geskiedenis toon dat hierdie “dier” sy verskyning in 1920 gemaak het. Hy was ’n vereniging van nasies—die Volkebond. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is hy in tydelike onaktiwiteit gedompel. Maar—getrou aan die profesie—het hy weer in 1945 as die Verenigde Volke verskyn. Hy gaan eerlank “na die verderf”.—Openb. 17:8-11.

18. Hoe gaan Babilon die Grote se godsdiensdienstig-politieke omgang eindig?

18 Valse godsdiens, “Babilon die Grote”, het probeer om vir die Volkebond sowel as die Verenigde Volke voor te skryf. Maar God se Woord toon dat al sulke godsdienstig-politieke omgang deur pouse en ander godsdiensleiers binnekort gaan eindig. Op ’n tydstip wanneer die “berugte sedelose vrou” dink dat sy in ’n gunstige posisie verkeer, sal God die simboliese “tien horings” van die “dier”, die Verenigde Volke, haar met hulle gemilitariseerde mag laat aanval. Hulle sal haar van hulle rug afgooi, haar verlate maak, haar heeltemal vernietig, asof met vuur.—Openb. 17:16, 17.

“GAAN UIT HAAR UIT, MY VOLK”

19. Hoe betoon God nou sy liefde aan alle opregte, godsdienstige persone?

19 Hoe betoon God sy liefde namate daardie uur van oordeel nader? Deur aan alle opregte Katolieke, Protestante, Boeddhiste, Hindoes—aan mense van alle valse gelowe wat lede van God se volk wil word—die dringende uitnodiging te rig wat in Openbaring 18:4, 5 opgeteken is: “Gaan uit [Babilon die Grote] uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou.”

20. Waarom is dit hoog tyd om ver weg te kom van Babilon die Grote af?

20 Dit ly geen twyfel nie, die voltrekking van God se oordeel kom immer nader! Antigodsdienstige nasies oefen reeds groot mag in die Verenigde Volke uit. Oliehonger- militaristiese lande bedreig die Moslem-wêreld sowel as daardie nasies wat al lank as die bolwerk van die Christendom se gelowe beskou word. Daarom is dit nou hoog tyd dat alle liefhebbers van waarheid en geregtigheid ver weg moet kom van die “berugte sedelose vrou” af, ja, na God se koninkryk toe moet vlug.

21. Wat is Armageddon, en wanneer bevind die nasies hulle daar?

21 Wat volg op die vernietiging van “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens? Die Skrif dui aan dat die “tien horings” van die “dier” ware godsdiens, soos deur Jehovah se Getuies op aarde verteenwoordig word, sal aanval. Maar wanneer dit gebeur, sal die nasies hulle in ’n oorlog teen God by Armageddon bevind! En Armageddon is nie sommer ’n plekkie in die land Palestina nie. Armageddon is eerder ’n wêreldwye situasie wat roep om wraak in “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”, die grootste botsing van alle tye!—Openb. 16:14, 16; 17:12-14.

22. Hoe toon die Skrif dat Armageddon ’n regverdige oorlog sal wees?

22 Die Bybel sê dat God Christus Jesus en die leërs van die hemel gebruik om ‘te oordeel en oorlog te voer in geregtigheid’. Ja, Armageddon sal ’n regverdige oorlog wees. Regverdig? Hoe so? Daar dit verdiende wraak sal uitoefen op die nasies en volke van die aarde wat verkies het om God nie te ken nie en wat sy reg om te heers teëstaan. Die vernietiging sal selektief wees. Dit sal die goddelose vernietig, maar almal wat ‘die evangelie van onse Here Jesus gehoorsaam is’, verlos, soos die apostel Paulus sê. Armageddon sal dus God se wraak met God se liefde laat balanseer.—2 Thess. 1:8; Ps. 145:20; Openb. 19:11-21.

23. (a) Watter soort God is Jehovah, soos getoon deur Psalm 145:17-21? (b) Waarom neem hierdie ‘God van liefde’ dan wraak? (c) Wat moet ons nou doen met die oog op die naderende “dag van wraak”?

23 Besef ons nou waarom die ‘God van liefde’ ook ’n God van wraak moet wees? Dit is omdat hy geregtigheid liefhet en goddeloosheid haat, soos ons ook moet doen (Ps. 145:17-21). Hoe noodsaaklik is dit tog dat Jehovah se groot naam en voornemens geregverdig word! Hoe noodsaaklik tog dat ons aarde gereinig word van al die bloedskuld, verdorwenheid en onsedelikheid wat hierdie pragtige skepping van God die afgelope millenniums besoedel het! Slegs dan sal die aarde die globale paradys word wat God vir die mensdom voorgehad het. Maar eers moet die weergalose ‘God van liefde’ die weg daarvoor baan deur op sy vyande wraak te neem. Is ons nie bly dat sy dag van wraak nou ophande is nie? Laat ons dan onder diegene wees wat Jehovah se liefdevolle uitnodiging aanvaar: “Jubel, o nasies, oor sy volk, want Hy sal . . . wraak oefen op sy teëstanders.”—Deut. 32:43.

[Venster op bladsy 10]

DIE WÊRELDSITUASIE

“STUUR AF OP ’N BOTSING: WÊRELD. Militêre besteding neem steeds teen ’n onrusbarende tempo toe . . . dit is nou . . . twee keer soveel as ’n dekade gelede. . . . In 1966 was die bedrag wat die wêreld bestee het om elke soldaat toe te rus, 60 keer groter as wat bestee is om elke kind van onderwys te voorsien.”—“To the Point”, 3 November 1978

“. . . FRANSE VOORSIEN ’N RAMP. Die atmosfeer van moeilikheid en vrees vir die toekoms is wesenlik. Party mense het die punt bereik waar hulle fluister dat ’n ekonomiese ineenstorting of oorlog of albei beslis gaan kom, en hulle lyk amper verlig oor die gedagte dat hulle niks anders kan doen as om hulle in die komende ramp te berus nie.”—New York se “Times”, 17 November 1979

“WES-DUITSERS VREES ARMAGEDDON. Die skim van oorlog spook weer in Wes-Duitsland daar dit lyk asof die internasionale situasie meedoënloos buite beheer raak . . . Volgens ’n onlangse meningspeiling glo sowat 60 persent van die bevolking dat ’n oorlog in die volgende drie jaar waarskynlik of ten minste moontlik is.”—“The Times”, Londen, 23 April 1980

“Die wêreld bestee jaarliks meer as $500-miljard [R380-miljard] aan militêre bedrywighede, omtrent ’n miljoen dollar [R760 000] per minuut. En asof hierdie reusebedrag nie genoeg is nie, gaan ons ’n skerp styging in militêre besteding sien.”—“World Press Review”, Augustus 1980

[Prent op bladsy 12]

Om plek te maak vir die Nuwe Orde, moet die oue afgeskil word

[Venster op bladsy 13]

VRUG VAN “DIE LAASTE DAE”

“Los Angeles se polisie-afdeling het berig dat 25 000 seuns van 17 of jonger in net daardie stad gewerf is vir ’n homoseksuele bende om seks aan volwasse mans te verskaf. Een seun, net 12 jaar oud, is beskryf as ’n prostituut wat $1 000 [R760] per dag verdien.”—”Indianapolis Sunday Star”, 17 Junie 1979

“Ongeveer 1 000 prostitute is verlede jaar in Denver gearresteer, en 400 van hulle was mans. Daardie rekord sal waarskynlik vanjaar oortref word en die aantal manlike prostitute kan vir die eerste keer groter wees as die aantal vroue.”—“Rocky Mountain News”, 8 Julie 1979

“Die hoogste hof van die Verenigde Metodistekerk het beslis dat ’n verklaarde homoseksueel . . . as pastoor van die Washington Square Church in die stad New York kan aanbly.”—New York se “Times”, 3 November 1979

[Venster op bladsy 14]

SAL DIT DIE VERENIGDE VOLKE OF GOD SE KONINKRYK WEES?

Godsdiens probeer nog steeds om bo-op die V.V.O. te sit en sy beleidrigtings te beheer. ’n Onlangse poging was die van pous Johannes Paulus II, wat die Verenigde Volke se Algemene Vergadering te midde van groot publisiteit op 2 Oktober 1979 toegespreek het. Die pous het gesê: “Die formele rede vir my tussenkoms vandag is ongetwyfeld die spesiale band van samewerking wat die Pouslike Stoel met die Verenigde Volke-organisasie verbind. . . . Ek hoop dat die Verenigde Volke altyd die vernaamste forum van vrede en geregtigheid sal bly, die ware setel van vryheid vir volke en indiwidue wat na ’n beter toekoms hunker.” Maar die pous het dit nie goedgedink om eens melding te maak van God se instrument om vrede, geregtigheid en vryheid tot stand te bring nie—die Koninkryk waaroor Jesus tot sy Vader gebid het: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 6:10; Openb. 11:15, vgl. NW). Die opkoms van sterk antigodsdienstige magte in die V.V.O. beloof niks goeds vir die toekoms van die ‘wêreldryk van valse godsdiens’ nie.—Openb. 17:16, 17.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel