Wat sal met godsdiens gebeur? – Wat die Bybel sê
Is jy teleurgestel of selfs gewalg deur godsdiens? Al het godsdiens ’n positiewe uitwerking op party gemeenskappe en mense gehad, het dit ook baie skade veroorsaak. Die Encyclopedia of Religion and War sê dat party van die ergste oorloë in die geskiedenis deur ’n verskil in godsdiensoortuigings veroorsaak is. Godsdiensleiers het dikwels godsdiens gebruik, nie vir aanbidding nie, maar om sekere politieke idees te bevorder. Ander godsdiensleiers het weer probeer om seksuele molestering of finansiële misdade weg te steek.
As jy deur godsdiens teleurgestel is, wonder jy dalk hoe God daaroor voel. Die Bybel sê dat God ontevrede is met die meeste godsdienste as gevolg van wat hulle gedoen het, en dit bevat ook profesieë wat sê wat hy sal doen. Die Bybel verduidelik deur middel van simboliese taal dat God iets aan godsdienste regoor die wêreld sal doen wat nog nooit voorheen gedoen is nie.
Wat sê die Bybel oor die toekoms van godsdiens?
Profesie: Die Bybelboek Openbaring beskryf ’n prostituut met die naam Babilon die Grote. Hierdie prostituut sit op ’n helderrooi wilde dier. Maar later val die dier haar aan en maak dit haar dood. – Openbaring 17:3, 5, 16.
Betekenis: Die prostituut, Babilon die Grote, verteenwoordig alle vorme van valse godsdiens – dit wil sê, godsdiens wat deur God verwerp word.a Die helderrooi dier verteenwoordig die Verenigde Nasies (VN).b Die uitbeelding van die prostituut wat op die helderrooi dier sit, wys dat valse godsdiens probeer het om hierdie politieke entiteit te beïnvloed en selfs te oorheers. Die feit dat die dier die prostituut doodmaak, wys dat die VN en die nasies wat dit ondersteun teen al die valse godsdienste van hierdie wêreld sal draai en hulle sal vernietig. Hierdie unieke gebeurtenis sal regtig rampspoedig wees.
Hoe sal valse godsdiens vernietig word?
Profesie: “Die tien horings wat jy gesien het en die wilde dier, sal die prostituut haat en sal haar verwoes en . . . haar heeltemal met vuur verbrand. Want God het dit in hulle harte [die harte van wêreldleiers] gesit om sy gedagte uit te voer, ja, om hulle een gedagte uit te voer deur hulle koninkryk aan die wilde dier te gee . . . Haar plae [sal] in een dag kom: dood en getreur en hongersnood, en sy sal heeltemal met vuur verbrand word, want Jehovahc God, wat haar geoordeel het, is sterk.” – Openbaring 17:16, 17; 18:8.
Betekenis: God sal “sy gedagte” aan die nasies van die wêreld gee. Hy sal hulle motiveer om “hulle koninkryk”, of hulle politieke mag, aan die VN te gee. Dan sal die VN – met hierdie nuwe mag wat hulle van die nasies ontvang het – valse godsdiens wêreldwyd vernietig. Hierdie verbasende gebeurtenis sal wees asof dit “in een dag” gebeur – vinnig en onverwags – en sal baie mense onkant vang. – Openbaring 18:21.
Hoekom sal valse godsdiens vernietig word?
Profesie: “Haar sondes het so hoog soos die hemel opgehoop, en God het haar dade van ongeregtigheid onthou.” – Openbaring 18:5.
Betekenis: Oor honderde en honderde jare het valse godsdiens baie goddelose dinge gedoen. Kyk na ’n paar van “haar sondes” wat veroorsaak het dat God sê dat hy haar sal vernietig:
Betrokkenheid by die politiek. Jesus Christus het sy volgelinge geleer om nie by die politiek betrokke te raak nie, maar om liewer op God se Koninkryk te vertrou, ’n hemelse regering wat menseregerings sal vervangd (Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10; Johannes 6:15; 18:36). Valse godsdiens het mense aangemoedig om op menseregerings te vertrou. Omdat sy baie betrokke is by die politiek in plaas daarvan om lojaal aan God te wees, sê die profesie in Openbaring dat Babilon die Grote skuldig is aan “seksuele onsedelikheid”. Daarom maak dit sin dat die profesie haar “die groot prostituut” noem. – Openbaring 17:1, 2; Jakobus 4:4.
Geweld. Daar word gesê dat valse godsdiens verantwoordelik is vir die dood “van almal wat op die aarde doodgemaak is” (Openbaring 18:24). Baie godsdienste het nie hulle lede geleer om vreedsaam te wees nie. Party het selfs oorloë ondersteun en mense aangespoor om in oorloë te veg en om aan terrorisme deel te neem.
Gierigheid. Valse godsdiens lewe in “skaamtelose weelde” (Openbaring 17:4; 18:7). Baie godsdienste het hulle mag en verhoudings gebruik om ontsaglik ryk te word. God is ontevrede met hulle gierigheid. – Titus 1:7.
Leuens. Valse godsdiens bevorder leringe en gebruike wat nie ooreenstem met die waarheid wat in die Bybel gevind word nie.e Omdat baie leringe en gebruike wat mense mislei en God oneer aandoen van valse godsdiens af kom, noem die profesie haar “die moeder . . . van die walglike dinge van die aarde”. – Openbaring 17:5; 18:23.
Sal alle godsdienste vernietig word?
Nee. Die boek Openbaring praat van ’n groep mense van regoor die wêreld wat die “groot menigte” genoem word (Openbaring 7:9). Daar word gesê dat hierdie groot menigte “wit klere dra”, wat beteken dat hulle God lojaal volgens sy standaarde aanbid. Hulle oorleef “die groot verdrukking”. Dit is wat die Bybel die tydperk noem wanneer valse godsdiens en die res van God se vyande vernietig sal word (Openbaring 7:13, 14; 19:11, 19-21). Die groot menigte wat wit klere dra, behoort aan die ware godsdiens – een wat vir ewig sal bestaan.f
’n Groot menigte ware aanbidders van God sal die vernietiging van valse godsdiens oorleef
Wat beteken die vernietiging van valse godsdiens vir jou?
Dit kan jou vertroos om te weet dat God nie die skokkende dinge wat godsdiens gedoen het, goedkeur nie. Jy kan hoop vir die toekoms hê omdat jy weet dat daar binnekort nie meer enige godsdienste sal wees wat God oneer aandoen en mense laat swaarkry nie.
Jy kan ook verseker wees dat daar ’n aanvaarbare manier is om God te aanbid. Die Bybel sê dat “ware aanbidders die Vader met gees en waarheid sal aanbid, want die Vader soek juis sulke mense om hom te aanbid” (Johannes 4:23). God sê vir hulle: “Gaan uit haar [Babilon die Grote] uit, my volk, as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie en as julle nie deel van haar plae wil ontvang nie” (Openbaring 18:4, 5). Ja, God nooi mense om hom in waarheid te aanbid (1 Timoteus 2:3, 4). Hy belowe dié wat sy uitnodiging aanvaar dat hulle vir ewig sal lewe. – 1 Johannes 2:17.
a Om oor vier feite te leer wat help om Babilon die Grote te identifiseer, lees die artikel “Wat is Babilon die Grote?”
b Om oor ses feite te leer wat help om hierdie dier te identifiseer, lees die artikel “Wat is die skarlakenkleurige dier in Openbaring 17?”
c Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?”
d Om meer te leer, kyk na die video Wat is God se Koninkryk?
e Om voorbeelde te sien, sien die venster “Sluit Babilon die Grote enige ‘Christelike’ godsdienste in?”
f Om te leer hoe die Bybel jou kan help om die ware godsdiens te identifiseer, lees die artikel “Hoe kan ek die ware godsdiens vind?”