God se dag van wraak
SOOS ons in die vorige artikel gesien het, is daar verskeie redes waarom dit verkeerd is vir ons om wraak te neem. Dit is verkeerd omdat dit op die lange duur niks oplos nie. Dit is verkeerd omdat dit vyandskap vererger pleks van bande van vriendskap te bou. En dit is verkeerd omdat dit skadelik is vir die persoon wat wraaksugtige gedagtes koester.
Maar die belangrikste rede waarom wraak deur mense verkeerd is, word gevind in Moses se woorde aan Israel: “Die HERE jou God is ’n barmhartige God” (Deuteronomium 4:31). Aangesien God barmhartig is, moet ons soos hy barmhartig wees. Jesus het aan sy volgelinge gesê: “Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.”—Lukas 6:36.
Die Bybel beskryf Jehovah nietemin ook as ’n “God van wraak” (Psalm 94:1). Die profeet Jesaja praat van “’n jaar van die welbehae van die HERE” en ook van “’n dag van die wraak van onse God” (Jesaja 61:2). Hoe kan God barmhartig sowel as wraaksugtig wees? En as ons God se barmhartigheid moet navolg, waarom kan ons nie ook soos hy wraak neem nie?
Om die eerste vraag te beantwoord: God is barmhartig omdat hy die mensdom liefhet, en hy vergewe soveel as wat hy kan vir so lank as wat hy kan om mense die geleentheid te gee om hulle lewenswyse te verander. Baie mense, soos die apostel Paulus, het hierdie barmhartigheid benut. Maar God is ook wraaksugtig—in die sin dat hy geregtigheid vereis—want sulke barmhartigheid het ook perke. Wanneer sommige getoon het dat hulle nooit hulle lewenswyse sal verander nie, sal God oordeel voltrek gedurende die tydperk wat sy dag van wraak genoem word.
In antwoord op die tweede vraag: Nee, ons is nie geregtig om wraaksugtig te wees omdat God wraak uitoefen nie. Jehovah is volmaak in geregtigheid. Mense is nie. God sien alle aspekte van ’n saak en neem altyd ’n regverdige besluit. Daar kan nie op ons vertrou word om dieselfde te doen nie. Dit is waarom Paulus gemaan het: “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Romeine 12:19). Om ons eie ontwil moet ons vergelding aan Jehovah oorlaat.
Waarom ’n dag van wraak?
Die Bybel erken nietemin op baie plekke dat daar met onberouvolle oortreders afgereken moet word. Die apostel Paulus het byvoorbeeld voorspel dat God, deur middel van Jesus, “wraak [sal] uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie” (2 Thessalonicense 1:8). Ons het goeie redes om daardie woorde ernstig op te neem. Waarom?
Ten eerste, die meeste mense veronagsaam vandag die Skepper se regverdige wette omdat hulle aanhou om sy soewereiniteit te minag. Hetsy hulle beweer dat hulle in God glo of nie, hulle gedrag toon duidelik dat hulle nie voor God aanspreeklik voel nie. Die psalmis se woorde is op al sulke mense van toepassing: “Waarom het die goddelose God geminag? Hy het in sy hart gesê: ‘U sal geen rekenskap vra nie’” (Psalm 10:13, NW). Jehovah sal gewis nie toelaat dat hy vir ewig op hierdie manier uitgetart word nie. Hoewel hy ’n God van liefde is, is hy ook ’n God van geregtigheid. Hy sal ag slaan op die bedes van diegene wat opreg besorg is oor geregtigheid: “Staan op, HERE! o God, hef u hand op; vergeet die ellendiges nie!”—Psalm 10:12.
Wettrotserende mense ruïneer boonop die aarde waarop ons lewe. Hulle besoedel die lug, die grond en die water; hulle vul die aarde met ongeregtigheid en wreedheid. En hulle stapel genoeg chemiese, kern- en ander dodelike wapens op om die voortbestaan van die mensdom te bedreig. Goddelike ingryping is noodsaaklik om ’n veilige toekoms vir die gehoorsame mensdom te verseker (Openbaring 11:18). Hierdie ingryping is wat Jesaja die dag van wraak genoem het.
Wat sal God se dag van wraak tot stand bring?
Volgens Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words beteken die woord vir wraak, wanneer dit in verband met God gebruik word, in die Griekse Geskrifte letterlik “‘dit wat uit geregtigheid voortvloei’, nie, soos dikwels met menslike wraak die geval is, weens ’n gevoel van onreg of bloot weens ’n gevoel van verontwaardiging nie”. God se wraak teen sy vyande sal dus nie ’n tyd van onbeheerste bloedvergieting, soos ’n persoonlike vendetta, wees nie. Die Bybel sê vir ons: “[Jehovah] weet om die godsaliges uit versoeking te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word.”—2 Petrus 2:9, vgl. NW.
Knegte van God sien uit na God se dag van wraak as ’n tyd wanneer goeie gedrag geregverdig sal word en die regverdiges van die onderdrukking van die goddeloses verlos sal word. Dit beteken nie dat hulle kwaadwillig of wraaksugtig is nie. Die Bybel waarsku: “Hy wat bly is oor ’n ongeluk, sal nie ongestraf bly nie” (Spreuke 17:5). Inteendeel, hulle kweek barmhartigheid en medelye aan, en laat enige besluite oor vergelding aan God oor.
Dit is weliswaar nie maklik vir verbitterde individue om so op te tree nie. Maar dit is moontlik, en baie het dit al gedoen. Pedro het byvoorbeeld ongelukkige kinderjare gehad en is dikwels deur sy ouer broer geslaan. Hy het dus gewelddadig grootgeword, en hy was gedurig in die moeilikheid by die polisie en het die woede wat hy teenoor sy broer gevoel het op sy vrou en kinders uitgehaal. Eindelik het hy na een van Jehovah se Getuies geluister en later die Bybel begin bestudeer. “Met Jehovah se hulp”, sê hy, “het ek verander, en nou, pleks van met mense te baklei, help ek hulle as ’n Christen- ouere man.” Met behulp van die Bybel en heilige gees het talle ander ook verander van wrokkige of wraaksugtige mense tot mense wat liefde en geduld aan ander betoon.
Wat sal jy doen?
As ons in gedagte hou dat God se dag van wraak nader kom, sal dit ons help om Jehovah se geduld te benut. Maar die geleentheid om dit te doen, is nie onbeperk nie. Daardie dag gaan binnekort aanbreek. Die apostel Petrus het getoon waarom dit nie al gekom het nie: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”—2 Petrus 3:9.
Dit is derhalwe dringend dat ons ons nou voorberei vir God se dag van afrekening deur die Skrif te bestudeer en die raad daarvan toe te pas. Dit sal ons help om op die psalmis se woorde ag te slaan: “Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig. Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit.”—Psalm 37:8, 9.
[Prent op bladsy 7]
Ná God se dag van toorn ‘sal die wat die HERE verwag die aarde besit’