Waarom sal ’n liefdevolle God wraak neem?
“God is liefde.”—1 Joh. 4:8.
1. Wat sal ons help om ’n oënskynlike teenstrydigheid in ons tema te verstaan?
WRAAK? Deur ’n liefdevolle God? Hoe is dit moontlik? Is die gedagte dat ’n liefdevolle God iets wraaksugtigs sal doen dan nie ’n teenstrydigheid nie? Dit lyk miskien so. Maar kom ons beskou die liefdevolle eienskappe wat die Skepper aan die dag lê, en dan sal ons duideliker verstaan hoe dit met sy wraak verband hou.
2. Waarom kan ons sê dat God se liefde onoortreflik is, en wat is party van sy liefdevolle voorsienings waarvoor ons dankbaar behoort te wees? (Ps. 136:1-6).
2 Wanneer ons van God se liefde praat, kan ons sê dat dit onoortreflik is, dit wil sê, van die hoogste graad. En dit is op tallose maniere aan ons betoon. Dink maar aan die aarde waarop ons woon. Die Bybel sê dat die aarde ‘God se gawe’ aan die mense is (Ps. 115:16). En wat ’n wonderlike gawe is dit tog! Dink net hoe liefdevol God hierdie aardbol vir ons voorberei het. God het dit in die hemele geplaas sodat dit net die regte hoeveelheid hitte en lig van die son af kry, en het dit met ’n pragtige groen tapyt oortrek, asook met ’n groot verskeidenheid blomme in mooi kleure. En weens sy liefde het God ons aarde van ’n oorvloed diere, voëls en visse, volop graan en ander voedselsoorte voorsien.—Ps. 104:1, 13-15.
3. Hoe het God liefde bewys in die wyse waarop hy mense geskape het?
3 Maar God se liefde word nie net bewys deur die dinge wat hy vir ons gemaak het nie; dit word ook bewys deur die wyse waarop hy ons gemaak het. Hy het ons gemaak om sy skeppingswerke te geniet. Hoe goed het die psalmis dit tog gestel toe hy gesê het: “HERE, . . . Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is”! (Ps. 139:1, 14). Weens sy vrygewigheid en liefde het God vir ons oë gegee om die skoonheid van die wêreld om ons te sien. Hy het vir ons ore gegee waarmee ons ons kan verlustig in verskillende klanke, soos musiek en mensestemme. Hy het vir ons ’n neus gegee waarmee ons die aromas van voedsel en die geur van blomme kan ruik. Die kroon word gespan deur die mens se brein, wat redeneer, onthou en liggaamsfunksies koördineer. Ons staan werklik verbaas oor die milde wyse waarop God ons liggame toegerus het. Ja waarlik, “God is liefde”.—1 Joh. 4:8.
GOD SE LIEFDE IS ONS REDDING
4. Hoe is God se liefde in die paradys van Eden bewys?
4 Toe God die eerste man, Adam, geskape het, het hy hom in die pragtige paradys van Eden geplaas. Hoeveel genot moes Adam tog geput het uit die oorvloed van God se liefdevolle voorsienings om hom! Later het God Eva gemaak en haar na Adam gebring. Hoe aangenaam was dit tog vir Eva om op die eerste dag van haar lewe verenig te word met ’n man en hoof wat haar sou liefhê en lei! Saam kon hulle daarna uitsien om God se wil uit te voer deur die aarde te verfraai en te bevolk en liefdevol oor die diereskepping te heers. Watter wonderlike toekoms het God aan hulle voorgehou!
5. (a) Wat het ons eerste voorouers gedoen sodat hulle God se liefde nie meer verdien het nie? (b) Maar hoe is God se liefde aan hulle nakomelinge bewys?
5 Maar ongelukkig sou hulle nie daardie toekoms geniet nie. ’n Opstandige geesskepsel het God se liefde verwerp en homself Satan die Duiwel gemaak. Hierdie Duiwel het vir Eva, en deur haar vir Adam, oorreed om ‘hulle eie kop te volg’. Hulle het dus ’n weg van selfsug en onafhanklikheid van hulle Skepper ingeslaan. Sodoende het hulle getoon dat hulle glad nie hulle Skepper se liefde verdien nie. God het dus tereg die doodvonnis oor daardie moedswillige sondaars uitgespreek. Maar weens sy liefde vir die mensdom het hy hulle toegelaat om voort te bestaan totdat hulle kinders kon voortbring, anders sou ons nie nou gelewe het nie. Alhoewel die mensdom sonde en die dood van ons eerste ouers geërf het, het die liefdevolle God nietemin ’n grondslag vir hoop voorsien.—Gen. 3:16-23; Rom. 8:20, 21.
6. Watter verklarings in Eden het God se liefde getoon, en hoe?
6 Hoe? Wel, reg aan die begin van die opstand het God bekend gemaak dat hy ’n ‘Saad’ dit wil sê, ’n nakomeling, sou verwek. Hy sou hierdie Een uit sy lojale hemelse organisasie stuur om al die skade wat deur die Duiwel, en deur Adam en Eva, aangerig is, ongedaan te maak. Maar reeds daar in Eden het die liefdevolle God ook gesê dat hy wraak gaan neem op Satan en op almal wat hulself deel van Satan se saad sou maak deur God se liefde te verwerp.—Gen. 3:15; Openb. 12:9.
’N GOD VAN LIEFDE, EN VAN WRAAK
7. Watter rede het ons, ooreenkomstig Deuteronomium 32:43, om te jubel?
7 Die God van liefde het dus gesê dat hy ook ’n God van wraak is. Maar dit sou reg wees wanneer hy op sy vyande wraak neem. Waarom? Omdat dit die weg vir alle persone wat God liefhet, sou baan om te jubel, om hulle te verheug. Ons kan ons beslis nou verheug dat God die weg vir ons gaan baan om sy voorsiening van ewige lewe te geniet. Let op wat God Moses geïnspireer het om te sê: “Jubel, o nasies, oor sy volk, want Hy sal die bloed van sy knegte wreek, en Hy sal wraak oefen op sy teëstanders.”—Deut. 32:43.
8, 9. (a) Watter twee dinge is God, weens sy liefde, voornemens om te doen? (b) Watter wonderlike gawe het God as blyk van sy liefde gegee?
8 Ja, dit is ons liefdevolle God se voorneme om die regmatigheid van sy heerskappy te regverdig en om diegene wat hom liefhet van hulle teëstanders te red. Hy gaan ons selfs red van die groot vyand, die dood, wat ons van ons eerste ouers geërf het (Rom. 5:12). Maar hoe doen God dit? Die Bybel deel ons mee dat hy dit doen deur middel van die gawe van sy Seun: “God is liefde. Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes.”—1 Joh. 4:8-10; 1 Kor. 15:25, 26.
9 God het dus sy Seun Jesus Christus gegee om ons te bevry van die dood wat ons lot is weens die sonde wat ons van Adam geërf het. Ja, Christus het ‘Homself gegee as ’n losprys vir almal’ wat in hom sou glo, soos die Bybel in 1 Timotheüs 2:6 sê. Jesus kon dus van sy volgelinge, wat met skape vergelyk word, sê: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed”, ja, ewige lewe.—Joh. 10:10, NAB.
10. (a) Waarom is die ‘God van liefde’ ook ’n God van “wraak”? (b) Waarom is dit vandag so belangrik dat ons God moet ken en moet gehoorsaam?
10 Tog deel die Bybel ons herhaaldelik mee dat die ‘God van liefde’ ook ’n ‘God van wraak’ is. Waarom? Omdat God se liefde boosheid nie vir ewig kan duld nie (Nah. 1:2; Deut. 32:35, 41). Dit is waarom die apostel Paulus skryf van die “openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie” (2 Thess. 1:6-9). Hoe belangrik is dit dan tog dat ons God leer ken! Hoe belangrik is dit tog in hierdie verwarde wêreld vol verskillende gelowe om ‘die ware God te soek en hom te vind’, soos die Bybel sê!—Hand. 17:27.
WRAAK MET LIEFDE GEBALANSEER
11, 12. (a) Watter situasie het vroeg in mensegeskiedenis ontstaan, en watter optrede het dit van God se kant vereis? (b) Hoe is God se wraak daar met sy liefde gebalanseer?
11 Kom ons keer egter terug na die begin van die mens se geskiedenis. Dit sal ons help om die verband tussen God se liefde en sy wraak beter te verstaan. God het liefdevol toegelaat dat die afstammelinge van Adam vermenigvuldig. Maar eiesinnige mense het daardie liefde nie beantwoord nie. Na sowat 500 jaar het Jehovah dus sy profeet Henog gestuur om die goddelike oordeel oor goddelose mense uit te spreek weens hulle goddelose dade en die skokkende dinge wat hulle teen God gespreek het (Jud. 14, 15). Nog ’n duisend jaar het verstryk, en daardie antieke wêreld het sy toppunt van onsedelikheid en geweld bereik. Die Bybel sê gevolglik: “Die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld. Toe sien God die aarde aan, en—dit was verdorwe.”—Gen. 6:11, 12.
12 Wat sou God nou doen? Sou hy wraak uitoefen? Ja! Maar selfs hierin het sy liefde na vore gekom. Waarom sê ons so? Daar was destyds een gesin op aarde wat God se wil van harte gedoen het. Dit was die gesin van Noag, die man wat in die Bybel ’n “prediker van geregtigheid” genoem word. Liefdevol het Jehovah Noag ’n ark laat bou “tot redding van sy huisgesin”. Toe het die globale vloed gekom en Noag se bose bure verdelg (2 Pet. 2:5; Hebr. 11:7). Die hele aarde is van verderflike geweld en onsedelikheid gereinig sodat dit weer eens ’n geskikte plek was vir gesinne van die mensdom om te vermeerder.—Gen. 6:9, 22; 7:21-23; 8:15-17.
13. Was Jehovah se veroordeling van Sodom en Gomorra liefdeloos, en waarom sê jy so?
13 Maar sondige neigings wat van Adam geërf is, het voortbestaan, en goddelose mense het gou weer begin om slegte karaktertrekke te openbaar (Ps. 51:7). Beskou byvoorbeeld die mense van Sodom en Gomorra, wat gewoon het in ’n gebied wat eens “soos die tuin van die HERE” was. Die Bybel sê vir ons: “Die manne van Sodom was sleg en groot sondaars voor die HERE.” Hulle was homoseksuele, en het van geweld gebruik gemaak om hulle wellus te bevredig (Gen. 13:10, 13; 19:4-11). Die liefdevolle God, Jehovah, het hom voorgeneem om daardie stede te vernietig. So sou regverdige Abraham en sy neef Lot nie langer sulke aanstootlike bure hoef te duld nie. Die “Regter van die ganse aarde”, Jehovah, het ‘reg gedoen’, soos Genesis 18:25 sê. Hy het Lot en sy twee dogters verlos, maar vurige vernietiging op Sodom en Gomorra laat neerreën en daardie hele streek gereinig.—Luk. 17:29; Jud. 7.
14, 15. (a) Hoe onskuldig was die Kanaäniete? (b) Het God reg opgetree deur wraak op hulle uit te oefen?
14 Jare daarna het Jehovah weer eens aan sy volk, Israel, ‘reg gedoen’. Hoe? Deur te reël dat die Kanaäniete uit die Beloofde Land verdryf word (Deut. 18:9-12). ‘Maar was dit nie onbillik teenoor daardie onskuldige Kanaäniete nie?’ vra iemand miskien. Onskuldige Kanaäniete? Hulle was allesbehalwe onskuldig! Daardie Kanaäniete was afskuwelik weens hulle bloedskande, geslagsonreinheid, owerspel, kinderofferandes, homoseksualiteit en bestialiteit. Tydens die aanbidding van hulle valse gode het hulle byvoorbeeld hulle kinders opgeoffer deur hulle lewend in die vuur te gooi. Hulle het ook vroulike en manlike tempelprostitute gehad.a Jehovah het dus die volgende instruksies aan sy volk gegee: “Verontreinig julle nie deur al hierdie dinge nie, want deur al hierdie dinge is die heidene verontreinig wat Ek voor julle uit verdryf. So het die land dan onrein geword; en Ek besoek sy ongeregtigheid daaraan, sodat die land sy inwoners uitspuug.”—Lev. 18:1-25.
15 Dit was weer eens as gevolg van sy liefde vir sy eie volk dat Jehovah Israel beveel het om daardie oortreders uit te roei. Hulle smerige lewenswyse het God se volk in gevaar gestel. Dit was “vir die HERE ’n gruwel”, soos die Bybel dit stel. God se wraak het dus tereg teen hulle ontvlam.—Ps. 106:34-40; Deut. 18:12.
16. Hoe het God sy liefde en geduld teenoor Israel betoon?
16 Hoe het God andersyds met die volk Israel gehandel? Jehovah het ’n allerteerste liefde teenoor hulle bewys. Moses het dit met hierdie pragtige woorde in Deuteronomium 32:11, 12 beskryf: “Soos ’n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels—die HERE alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie.” Maar, helaas! Mettertyd hét Israel vreemde gode begin aanbid. Die God wat gesê het dat hy wraak op hulle teëstanders sou uitoefen, was dus verplig om wraak op sy eie volk uit te oefen. Maar hoe geduldig was Jehovah tog met Israel! Hy het hulle eiesinnigheid altesaam 900 jaar lank verduur! Daardie hele tyd het Jehovah sy hand van barmhartigheid na hulle uitgestrek. “Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie”, het Jehovah God gesê, “maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?”—Eseg. 33:11.
17. (a) Watter waarskuwing het God tot Israel gerig? (b) Hoe is die wraak wat God op Israel uitgeoefen het deur sy liefde versag?
17 God het sy volk herhaaldelik gewaarsku oor die gevolge van hulle afgodediens, hulle onsedelikheid en hulle vergieting van onskuldige bloed. Maar eindelik was Jehovah verplig om wraak op Israel uit te oefen deur toe te laat dat koning Nebukadnesar van Babilon Jerusalem en hulle tempel vernietig. Die oorlewendes is na Babilon weggevoer. Maar na 70 jaar het God die omverwerping van Babilon teweeggebring sodat ’n oorblyfsel Israeliete wat nog waardering gehad het na hulle eie land kon terugkeer en ware aanbidding aldaar kon hervat.—2 Kon. 24:3, 4; 2 Kron. 36:12-21; Esra 1:1-3; Hebr. 12:6.
JESUS SPREEK VAN LIEFDE EN WRAAK
18. Wat het Jesus gesê oor (a) God se liefde, en (b) sy wraak?
18 Wat het Jesus Christus oor God se liefde en wraak te sê gehad? Hy het onder meer met waardering oor sy Vader se liefde gepraat en gesê: “So lief het God die wêreld [die mensdom] gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). Maar het hy geaarsel om van God se wraak te praat? Nee! Want die Bybel sê dat Jesus, net soos sy Vader, “geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat” het. Jesus het veral die ongeregtigheid en bloedskuld van die godsdiensleiers gehaat (Hebr. 1:9; Ps. 11:5, 7). Hy het nooit doekies omgedraai wanneer hy met of van die Joodse geestelikes van sy dag gepraat het nie. In sy Bergpredikasie het hy hulle drie keer “geveinsdes” genoem (Matt. 6:2, 5, 16). Hy het vir daardie geestelikes gesê: “Julle het die duiwel as vader”, en hulle aldus met ‘die saad van die slang’ geassosieer (Joh. 8:44; Gen. 3:15). En net drie dae voordat hy om die lewe gebring is, het Jesus daardie Joodse godsdiensleiers in die openbaar veroordeel en gesê: “Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?”—Matt. 23:13-33.
19. (a) Waarom was Jesus se gesindheid en waarskuwende boodskap uiters liefdevol? (b) Maar hoe het Jehovah tereg opgetree?
19 Het dit beteken dat Jesus liefdeloos was? Glad nie, want alhoewel Jesus geweet het dat daardie Jode hulle bloedskuld groter sou maak deur hom dood te maak, het hy nogtans in Mattheüs hoofstuk 23 gesê: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig die wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt. 23:37, 38; Hand. 3:13-15). Sewe-en-dertig jaar later het Romeinse leërs Jerusalem geplunder en sy tempel verwoes. Dit was ’n ramp waartydens 1 100 000 van sy opstandige inwoners gesterf het! Dit was toe dat die volle betekenis van Jesus se profetiese woorde duidelik geword het. Jehovah het tereg wraak uitgeoefen!
20. Watter interessante dinge word in Jesaja 61:1, 2 in verband met liefde en wraak gesê?
20 Eeue tevore het Jesaja, een van die profete wat volgens berig in eertydse Jerusalem vermoor is, hierdie woorde gespreek: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges . . . om uit te roep die jaar van die welbehae van die HERE en ’n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos.”—Jes. 61:1, 2.
21. (a) Wat was moontlik die rede waarom Jesus Jesaja 61:1, 2 slegs gedeeltelik aangehaal het? (b) Watter vraag ontstaan ten opsigte van Jesaja 2:2-5?
21 Jesus het ’n deel van hierdie profesie aan die begin van sy aardse bediening gelees en dit op homself as die vernaamste Gesalfde van Jehovah toegepas (Luk. 4:18-21). Maar toe Jesus daardie woorde van Jesaja aangehaal het, het hy opgehou voor die vermelding van die dag van God se wraak. Waarom? Die grootste klem op die verkondiging van die dag van God se wraak sou klaarblyklik “aan die einde van die dae” kom, soos Jesaja hoofstuk 2 dit stel. Het ons nou daardie tyd bereik?
[Voetnoot]
a Kyk ook Aid to Bible Understanding, wat uitgegee is deur die Wagtoringgenootskap, bladsy 76, 145 en 287, onder “Anath”, “Ashtoreth” en “Canaan, Canaanite”.
[Venster op bladsy 3]
“HOE talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele! . . . Loof die HERE, o my siel! Halleluja!”—Ps. 104:24, 35.
[Venster op bladsy 4]
DIE GROOTSTE GAWE VAN GOD SE LIEFDE
Uit die diepte van sy liefde vir die lydende mensdom was God bereid om sy kosbaarste besitting, sy intiemste metgesel, die “meesterwerker” saam met hom tydens die skepping, die “een in wie hy hom dag na dag verlustig het”, op te offer. Hy was bereid om sy eersgebore hemelse Seun na hierdie aarde toe te stuur om al die smaad, vernederinge en wreedhede te verduur waaraan die Duiwel en sy trawante hom kon onderwerp. Die Seun sou bewys dat hy, as ’n volmaakte man, tydens die kwaaiste beproewinge, selfs tot die dood toe, vir God se soewereiniteit kon vasstaan. Daarbenewens sou hy sodoende “sy lewe . . . gee as ’n losprys” vir die baie onder die sondige mensdom wat in hom sou glo (Spr. 8:30, NW; Matt. 20:28). Jesus kon dus van sy volgelinge, die “klein kuddetjie” sowel as sy “ander skape”, sê: “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie.” Die meerderheid sou daardie lewe deur ’n opstanding uit die dode verkry (Luk. 12:32; Joh. 10:16, 28; 5:28, 29). Watter onverdiende goedheid is dit tog teenoor die hulpelose mensdom! As ons hierdie liefdevolle voorsiening sou versmaai, sou ons inderdaad God se wraak en toorn verdien!
[Venster op bladsy 5]
ONS LEWENS HANG DAAR VAN AF!
Die meeste mense word in ’n geloof gebore. Maar beteken dit dat hulle die ware God aanbid? Is die geloof van die meeste nie eerder ’n toeval van geboorte nie? Maar ons lewens hang daarvan af dat ons ‘God ken en gehoorsaam is aan die evangelie van die Here Jesus’ wat hy gestuur het om ons van sonde en die dood vry te koop (2 Thess. 1:8; Mark. 10:45). Dit is baie duidelik dat die wêreld rondom ons “God nie ken nie”. Die Bybel sê duidelik dat daar “een God en Vader van almal” is (Ef. 4:6). Die mensdom is egter verdeeld in die aanbidding van ’n magdom gode. Daar is die Boeddhas, die voorvaderlike gode van Sjintoïsme en Confucianisme, Allah van die Moslems, ook Brahma, Wisjnoe en Siwa—die drie-eenheid van die Hindoes—en die Christendom se drie-eenheid wat bestaan uit die Vader, die Seun en die “Heilige Gees”. Baie persone aanbid selfs gesiene manne soos verhoogkunstenaars, sporthelde en rebelleleiers, hetsy hulle nog lewe of al dood is.
[Venster op bladsy 6]
ARGEOLOGIESE ONTDEKKINGS IN KANAÄN:
“Die Kanaäniete het aanbid deur onsedelikheid as ’n godsdiensritus voor hulle gode te bedryf; en dan het hulle hulle eersgeborenes vermoor as ’n offerande aan hierdie selfde gode. Dit wil voorkom of die land Kanaän grotendeels ’n soort Sodom en Gomorra op nasionale skaal geword het. . . . Het ’n beskawing wat sedelik so gruwelik en wreed was enige reg gehad om langer te bestaan? . . .
Argeoloë wat opgrawings in ruïnes van Kanaänitiese stede doen, is verbaas dat God hulle nie selfs vroeër vernietig het nie.”—“Halley’s Bible Handbook”, H. H. Halley, bl. 161.
[Venster op bladsy 7]
JEHOVAH SE UITNEMENDE BARMHARTIGHEID
Selfs toe Jehovah opstandige Israel kwaai getugtig het, het hy sy hand van barmhartigheid uitgestrek en deur sy profeet Jeremia gesê: “Die Here sal nie vir ewig verstoot nie. Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenhede; want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie.”—Klaagl. 3:31-33.