“Vrede en veiligheid”—Dan “skielike verderf”
“Wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ’n skielike verderf hulle.”—1 Thess. 5:3.
1. Wat sê baie waarnemers van wêreldtoestande nou?
TALLE waarnemers van menseaangeleenthede stem saam dat wêreldtoestande in die laaste jare versleg het. By ’n Globale Konferensie oor die Toekoms in Kanada het die voorsitter van die Klub van Rome,a Aurelio Peccei, gesê: “Die wêreld is vandag in ’n slegter toestand as tien jaar gelede—en dit word erger. Die wêreld laat ’n mens vandag al hoe meer dink aan ’n opslagkoeël terwyl dit van die een ramp na die ander slinger.” André Fontaine, redakteur van die Paryse dagblad Le Monde, het gesê: “Niemand in die Weste is skynbaar opgewasse teen geweldige probleme soos inflasie en werkloosheid nie. Die gaping tussen die Noorde en die Suide word groter. Daar is al hoe meer oorloë, en die wapenwedloop is skrikwekkend. Ek sien dus geen rede vir optimisme nie. . . . Ek sien vandag geen Regering in die wêreld wat opgewasse is teen die groot ekonomiese probleme van ons tyd nie.” En ’n Suid-Afrikaanse tydskrif het berig: “Die mensdom het skynbaar ’n nuwe laagtepunt bereik op die gebied van barbaarsheid, onsedelikheid, onverantwoordelikheid, selfsug en hebsug.”
2. Hoe kom toestande in die mensegemeenskap ooreen met dié wat net voor die vloed van Noag se dag bestaan het?
2 Toestande in die mensegemeenskap kom vandag beslis ooreen met wat op aarde gebeur het kort voordat God ’n antieke wêreld deur middel van ’n globale vloed vernietig en slegs regverdige Noag en sy gesin gespaar het. Die Bybel sê van daardie dae: “Die HERE [het gesien] dat die boosheid van die mens op die aarde groot was . . . die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld” (Gen. 6:5, 11). “Net soos die dae van Noag was”, het Jesus Christus voorspel, so is dit ook in ons dag (Matt. 24:37). Die hele aarde is weer eens “vol geweld” omdat “die boosheid van die mens” groot is. Sulke toestande voor die Vloed het gedien as getuienis van die naderende einde van daardie antieke stelsel. Die getuienis van wêreldtoestande ter vervulling van Bybelprofesie staaf vandag ook duidelik die feit dat hierdie teenswoordige stelsel in sy “tyd van die einde”, sy “laaste dae”, is. Dit is sedert die jaar 1914 G.J. die geval.—Dan. 12:4; Matt. 24:3-14; 2 Tim. 3:1-5.
3. (a) Hoe weet ons dat ons diep in die “laaste dae” is? (b) Waarom kan ons ons volle vertroue in Bybelprofesie stel?
3 Jesus het voorspel dat party van diegene wat gelewe het toe die “laaste dae” begin het, hierdie stelsel se einde sal sien. Reeds 67 jaar het verloop sedert die “geslag” van 1914 die begin van hierdie moeilikhede gesien het (Matt. 24:34). Die tyd het dus so te sê vir hierdie “krom en verdraaide geslag” verstryk (Filip. 2:15). Binnekort sal ons ooggetuies wees van die vervulling van die baie Bybelprofesieë oor die vernietiging van “die wêreld” (1 Joh. 2:17). En ons kan die volle vertroue hê dat hierdie profesieë tot in die fynste besonderhede vervul sal word. Jehovah, “wat van die begin af verkondig die einde”, wat hierdie profesieë geïnspireer het, “het gesweer en gesê: Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand”.—Jes. 14:24; 46:10; 2 Pet. 1:20, 21.
JEHOVAH SE ‘DAG VAN WRAAK’
4. Wat is een van die profesieë oor hierdie stelsel se einde, en watter vrae opper dit?
4 Onder die talle Bybelprofesieë aangaande die einde van hierdie stelsel is die een wat opgeteken is in 1 Thessalonicense hoofstuk 5, verse 2 en 3. Dit lui: “Want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.” Wat is hierdie verklaring van “Vrede en veiligheid”? Wie sê dit? En watter verderf volg onmiddellik daarop?
5. Met watter gebeurtenis staan die profesie in 1 Thessalonicence 5:2, 3 in verband?
5 Hierdie Bybelverse praat van “die dag van die Here”, wat “skielike verderf” sal meebring. Dit is dus duidelik dat hierdie profesie in verband staan met die “dag” of tydperk wanneer Jehovah sy oordele voltrek aan hierdie goddelose stelsel wat deur Satan die Duiwel beheer word (2 Kor. 4:4; Openb. 12:9). Dit sal Jehovah se ‘dag van wraak’ wees (Jes. 61:2). Jesus het soos volg van hierdie tydperk gepraat: “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:21). Die apostel Paulus het geskryf dat die komende voltrekking van oordeel sou plaasvind tydens “die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie”. Hy het bygevoeg: “Hulle sal as straf ondergaan ’n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte.”—2 Thess. 1:7-9.
6. Hoe begin en eindig die “groot verdrukking”?
6 Die komende “groot verdrukking”, Jehovah se ‘dag van wraak’, sal die hele teenswoordige stelsel raak—sy valse godsdienste asook sy ekonomiese, maatskaplike en politieke reëlings. Die volgorde van gebeure in daardie “groot verdrukking” word aangedui deur die profesieë wat in die Bybelboek Openbaring opgeteken is. Hierdie profesieë openbaar dat Jehovah se ‘dag van wraak’ begin met die vernietiging van alle valse godsdiens. Dit eindig wanneer die politieke en ander elemente van die Duiwel se wêreld, tesame met die ondersteuners daarvan, “klein sowel as groot”, finaal vernietig word.—Openb. hfste. 17 tot 19.
“SKIELIKE VERDERF”
7. Wat volg onmiddellik op die verklaring “Vrede en veiligheid”?
7 Die verklaring “Vrede en veiligheid” word dus gedoen net voor die “skielike verderf” van die wêreldryk van valse godsdiens, wat in Bybelprofesie “Babilon die Grote” genoem word (Openb. 17:5, NW). Sy word ook die “groot hoer” genoem “met wie die konings van die aarde gehoereer het” (Openb. 17:1, 2). Maar dit is ironies dat baie van hierdie “konings van die aarde”, wat eens die hoer se ‘minnaars’ was, haar sal aanval, want ons word meegedeel: “Hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak en haar vlees eet en haar met vuur verbrand.”—Openb. 17:16.
8. Waarom oordeel Jehovah wêreldlike godsdiens so straf?
8 Waarom word hierdie wêreld se godsdiensstelsel so straf geoordeel? God se Woord antwoord: “Want haar sondes reik tot aan die hemel” (Openb. 18:5). Hierdie sondes sluit in: “Die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op die aarde gedood is” (Openb. 18:24). Terwyl wêreldlike godsdiens versuim het om haar aanhangers die waarheid omtrent God en sy wette te leer, het sy betrokke geraak by oorloë wat gelei het tot die slagting van honderdmiljoene mense deur die eeue heen. En valse godsdiens het die leiding geneem om God se ware knegte te vervolg (Luk. 11:47-51; Openb. 17:6). Jehovah hou “Babilon die Grote” dus regstreeks of onregstreeks, as gevolg van wat sy gedoen het of nagelaat het om te doen, verantwoordelik vir die bloed van “almal wat op die aarde gedood is”.
9, 10. (a) Hoe het party mense kennis geneem van valse godsdiens se verantwoordelikheid vir bloedskuld reg tot ons dag? (b) Wie dien “Babilon die Grote” in werklikheid?
9 Valse godsdiens gaan tot vandag toe voort om bloedskuld op te hoop. New York se Post van 18 Mei 1981 het byvoorbeeld berig: “Voormalige president Carter het gister gesê dat haat en geweld dit laat lyk of ‘die wêreld kranksinnig geword het’.” Hy het ook gesê dat “diepe godsdiensoortuiging wat mense in liefde behoort saam te bind oënskynlik dikwels deel van die kranksinnigheid en moord is”. Twee dae tevore het ’n hoofartikel deur Mike Royko in dieselfde publikasie eweneens gesê dat Katolieke, Protestante, Moslems en Jode “hulle toewyding aan [God] toon deur mekaar dood te maak”. Hy het gesê: “Ek veronderstel hulle redeneer dat as die een kant die ander kant kan uitwis, dit sal bewys dat hulle manier van aanbidding reg is.” Hy het ook gesê dat hoewel die pous van die Rooms-Katolieke Kerk volgens berig ’n vredeliewende man is, “sy volgelinge al ’n paar miljoen [liters] bloed verspil het wanneer hulle humeure opgevlam het”.
10 Die “groot verdrukking” begin dus tereg met die vernietiging van die lasterlike, skynheilige wêreldryk van valse godsdiens. Dit is ’n regverdige oordeel, want wêreldlike godsdiens, “Babilon die Grote”, beweer dat sy God dien, maar dien in werklikheid die Duiwel. Deur haar “towery” is honderdmiljoene mense gevolglik mislei om die Duiwel se belange te bevorder.—Openb. 17:3-6; 18:23.
11. Wat toon dat valse godsdiens se vernietiging met skokkende skielikheid kom?
11 Die val van “Babilon die Grote” kom baie skielik, heeltemal onverwags uit die wêreld se standpunt. Sy sal so skielik vernietig word dat dit die politieke heersers wat haar ondersteun het, sal skok, want ons lees: “Die konings van die aarde wat met haar gehoereer en weelderig geleef het, sal oor haar ween en oor haar weeklaag wanneer hulle die rook van haar verbranding sien, terwyl hulle ver weg staan uit vrees vir haar pyniging en sê: Wee, wee jou, o groot stad Babilon, o sterk stad, want in een uur het jou oordeel gekom!” Ander—die “handelaars” of kommersiële elemente wat haar ondersteun het—roep eweneens uit: “Wee, wee . . . omdat in een uur soveel rykdom verwoes is!”—Openb. 18:9-19.
12. Hoe kom vernietiging onverwags en pynlik?
12 Dit pas by die beskrywing in 1 Thessalonicense 5:2 en 3, wat toon dat die verderf of vernietiging baie skielik en onverwags kom, want “die dag van die Here” sal kom “net soos ’n dief in die nag”. Hoe kom dit “soos ’n dief in die nag”? In die sin dat die meerderheid van die mensdom nie wakker gebly het vir die progressiewe openbaring van God se wil nie. Hulle is geestelik aan die slaap. Hulle is soos ’n persoon wat in die nag slaap wanneer ’n dief onverwags kom. Sulke persone het toegelaat dat hulle sinne afgestomp word sodat hulle hierdie gedoemde stelsel ondersteun. Die vernietiging van Babilon die Grote tref hulle dus onverwags. Die “dag van die Here” vir die vernietiging van alle elemente van Satan se stelsel sal inderdaad kom “net soos ’n dief in die nag”. God se vyande sal skielik en pynlik vernietig word, “soos die barensnood ’n swanger vrou [oorval], en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie”.—Kyk ook 2 Petrus 3:10.
DIE VERKLARING “VREDE EN VEILIGHEID”
13, 14. (a) Hoe praat die nasies al lank oor vrede en veiligheid? (b) Waarom kon nie een van daardie vredespogings ’n vervulling van 1 Thessalonicense 5:2, 3 gewees het nie?
13 Die “skielike verderf van valse godsdiens en Satan se hele wêreld sal gekenmerk word deur gebeure wat die wêreld skud. Maar daardie vernietiging word onmiddellik voorafgegaan deur die verklaring “Vrede en veiligheid”. Dit is dus van groot belang om te weet wat hierdie verkondiging van “Vrede en veiligheid” kan beteken. Dit blyk onder meer nie net die gewone pogings van die nasies wat vrede begeer te wees nie. Hulle praat al lank daaroor. Na die Eerste Wêreldoorlog het die nasies byvoorbeeld die vredesverdrag te Versailles onderteken. Later het die meeste lande die Kellogg-Briand-vredes-verdrag van 1928 onderteken. Die Tweede Wêreldoorlog het ook met die ondertekening van vredesverdrae geëindig. In die laaste jare het die Sowjet-Unie en die Verenigde State oor vrede gepraat en ’n paar wapenbeperkingsverdrae onderteken. Verskeie nasies van die Midde-Ooste het van tyd tot tyd vredesverdrae met mekaar gesluit.
14 Maar nie een van hierdie pogings pas by die beskrywing in 1 Thessalonicense 5:2, 3 nie. Waarom nie? Omdat die “groot verdrukking”, Jehovah se ‘dag van wraak’, nog nie begin het nie. Onthou, Paulus het gesê dat verderf onverwags, “skielik”, na die verklaring “Vrede en veiligheid” sou kom. Bowendien moet die vervulling treffend genoeg wees om die feit te regverdig dat dit opgeteken is as ’n spesifieke profesie wat deur Jehovah geïnspireer is. Die “Vrede en veiligheid” moet ’n buitengewone verwikkeling wees, iets wat verskil van die talle vredespogings wat tot op daardie tydstip aangewend is.
15. Wie sal logieserwys “Vrede en veiligheid” sê?
15 En wie is die “hulle” wat sê “Vrede en veiligheid” net voordat die einde kom? Dit is onwaarskynlik dat enige deel van hierdie wêreld so iets sal verkondig sonder die samewerking of leiding van die vernaamste politieke moondhede. Dit lyk gevolglik of die heersers van die nasies ’n groot rol by die vervulling van hierdie profesie speel. Die Verenigde Volke-Organisasie, wat glo toegewy is aan vrede, kan ook ’n rol speel. En wat van die godsdienselemente? Aangesien hulle tot so ’n groot mate ’n deel van die wêreld is en ‘met die konings van die aarde hoereer’, sal hulle waarskynlik die pogings wat die politieke moondhede aanwend om hierdie doel te bereik, ondersteun en daadwerklik bevorder. Sodoende sal hulle die valse profete van antieke Juda navolg wat valslik gesê het: “Die HERE het gespreek: Julle sal vrede hê.” Jehovah het eerder kort daarna onheil oor hulle gebring, net soos sy ware profeet Jeremia voorspel het.—Jer. 23:16-22.
16, 17. (a) Lyk dit of die nasies nou in die rigting van enige soort “vrede en veiligheid” beweeg? (b) Waarom kan ons egter seker wees dat dit sal gebeur?
16 Maar beweeg die nasies die afgelope ruk in die rigting van enige soort “vrede en veiligheid”? Uit onlangse nuusberigte wil dit lyk asof die teenoorgestelde die geval is. George Kennan, voormalige Amerikaanse ambassadeur in die Sowjet-Unie, het gesê: “Die politieke spanning het die afgelope 30 jaar nie so hoog geloop en so ’n gevaarlike punt bereik as wat vandag die geval is nie. Gedurende hierdie hele tydperk was daar nie soveel misverstande, agterdog, verwarring en louter militêre vrees” as wat daar vandag is nie. ’n Hoofartikel in Toronto se Star het bygevoeg: “Dit was nie vrees vir die toekoms nie, maar iets baie onheilspellenders: Vrees vir die hede.”
17 In die laaste maande het die groot moondhede mekaar beskuldig en gedreig. Burgerlike oproere, revolusies en oorloë het op een plek op aarde na die ander uitgebreek. Die wêreld se ekonomie het baie onbestendig geword. Misdadigheid en gewelddadigheid neem steeds toe sodat dit epidemiese afmetings aanneem. Dit lyk beslis moeilik om te sien hoe “mense” “Vrede en veiligheid” kan sê. Maar Jehovah se Woord faal nooit (Jes. 55:11; 1 Thess. 5:3, NTP; Die Lewende Nuwe Testament). Wanneer dit vir ons sê dat daar so ’n verwikkeling sal wees net voordat “skielike verderf” kom, sal dit inderdaad gebeur, al lyk dit op die oomblik ook hoe onwaarskynlik.
18. Hoe kan die profesieë teen antieke Babilon ons help om vertroue in die hedendaagse vervulling van profesie te stel?
18 Dink terug aan die talle profesieë wat God sy knegte geïnspireer het om teen antieke Babilon, die magtige wêreldmoondheid wat eeue voor die Gewone Jaartelling bestaan het, uit te spreek. Een skrywer het bereken dat die moontlikheid dat die Bybel se vernaamste profesieë teen Babilon vervul word, 5 000 000 000 teen een was! Baie lede van God se volk in die ou tyd moes ongetwyfeld gewonder het hoe daardie profesieë ooit vervul kon word teen so ’n sterk en verskanste wêreldmoondheid soos Babilon. Maar hulle is vervul, tot in die fynste besonderhede. Dit kan vandag ook lyk of die verklaring “Vrede en veiligheid” gevolg deur die vernietiging van die wêreldstelsel onwaarskynlik is. Maar God se profetiese Woord sê dat dit is wat gaan gebeur!
SLEGS SKYN
19. Wat sal die verklaring “Vrede en veiligheid” nie beteken nie?
19 Van een ding kan ons seker wees: Die uitroep “Vrede en veiligheid”—ongeag watter vorm dit aanneem—beteken nie dat die onderliggende toestand van hierdie wêreld heeltemal sou verander het nie. Dit beteken ook nie dat die nasies hulle sal ontwapen of hulle vyandige gesindhede sal laat vaar nie. “Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie!” (Jes. 57:21). Dit is net dat wêreldleiers in wanhoop of omdat hulle meen dat ’n nuwe beleid die een of ander selfsugtige voordeel inhou, op daardie oomblik duideliker as tevore sal uitroep “Vrede en veiligheid”.
20. (a) Waarom kan ons so seker wees dat wêreldtoestande steeds sal versleg? (b) Wat kan ons verwag dat die meerderheid mense ten opsigte van die aanbidding van God sal doen?
20 Waarom kan ons so seker wees dat hierdie wêreld steeds sal versleg? Omdat 2 Timotheüs 3:1, 13 voorspel dat “goddelose mense en bedrieërs [in die laaste dae] sal voortgaan van kwaad tot erger”. Die verklaring “Vrede en veiligheid” sal dus slegs skyn wees. Dit sal nie die ware toestand van die mensdom raak nie. Niks wat hierdie wêreld onder Satan doen, sal die vlaag misdadigheid en geweld keer, of gesinsverbrokkeling beëindig, of verregaande onsedelikheid stuit, of die miljoene aborsiemoorde op ongebore kinders elke jaar voorkom, of enige van die ander groot probleme van die mensdom oplos nie (Jer. 10:23). En die meerderheid mense sal hulle ook nie skielik tot die ware aanbidding van God wend nie. Bybelprofesie het tereg gesê dat mense in ons dag “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God [sou wees]: mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het”.—2 Tim. 3:4, 5; kyk ook Mattheüs 7:13, 14.
21. As wat sal Jehovah se knegte die komende verklarings oor “Vrede en veiligheid” beskou?
21 Terwyl die wêreld dus gedurende die komende verkondiging van “Vrede en veiligheid” deur ydel verwagtings mislei gaan word, sal Jehovah se knegte nie mislei word nie. Hulle sal eerder hierdie komende vervulling van profesie sien vir wat dit werklik is: ’n finale teken dat die “groot verdrukking” gaan begin. Hulle weet ook dat, wanneer God se ‘dag van wraak’ verby is, sy getroue knegte ’n regverdige nuwe stelsel sal binnegaan om vir ewig te lewe op ’n gereinigde aarde wat in ’n paradys omskep gaan word (2 Pet. 3:13; Openb. 7:9-17). Wat moet ons gesindheid wees terwyl al hierdie aangrypende gebeure vinnig nader kom?
[Voetnoot]
a ’n Groep hoogs gerespekteerde intellektuele wat wêreldtoestande ontleed.
[Prente op bladsy 10]
Hedendaagse toestande op aarde kom ooreen met dié voor die Vloed toe die aarde “vol geweld” was
[Prent op bladsy 12]
God se oordeel oor valse godsdiens is so straf omdat ‘haar sondes tot aan die hemel reik’
[Prent op bladsy 13]
Geen vorige vredespogings in ons eeu pas by die beskrywing in 1 Thessalonicense 5:2, 3 nie, want “skielike verderf” het nog nie gekom nie
[Lokteks op bladsy 15]
God se knegte sal nie mislei word deur die komende uitroep “Vrede en veiligheid” nie