INSIG IN DIE NUUS
Na die Mis
• ln die “National Catholic Reporter” het Clarence J. Walker vertel van die resultate van sy gesprekke met 300 Katolieke nadat hulle die Mis by verskeie kerke bygewoon het. Omdat hy die onverskilligheid by die Mis opgemerk het, het hy hierdie vrae gestel en die volgende antwoorde gekry: “Meen u dat die priester vandag ’n goeie preek gelewer het?” 100 persent het Ja geantwoord. “Kan u vir ons sê waaroor die preek gehandel het?” 82 persent kon nie.
“Kan u vir ons sê waaroor die eerste of tweede lesing gehandel het?” Nie een kon nie.
“Kan u vir ons sê waaroor die evangelie gehandel het?” 80 persent kon nie.
“Het u vandag enigiemand in die kerk goed genoeg geken om met daardie persoon te gesels?” 98 persent het nie.
“Lees u die Bybel gereeld?” Nie een het nie. “Sou u graag die Bybel beter wou ken?” 98 persent het Ja geantwoord. “Sou u ’n Bybelstudie voor die Mis of in die aand bywoon indien so iets gereël word?” 94 persent het Nee gesê.
Walker het afgesluit met hierdie woorde aan mede-Katolieke: “Ek sien jou volgende Sondag 45 minute lank in die kerk. Tensy jy bekeer is tot ’n groep wat jou ’n deel daarvan maak.”
“Die goeie ou dae”?
• ’n Duitse koerant sê dat die wêreld so vol moeilikheid en so onregeerbaar word, dat die tydperk wat ons binnegaan die een wat die twee wêreldoorloë ingesluit het na “die goeie ou dae” sal laat lyk.
In ’n reeks artikels met die titel “Word die wêreld onregeerbaar?” het die publikasie “Welt am Sonntag” (Die wêreld op Sondag) gesê: “Ons het ’n man na die maan en ruimtetuie na ander planete gestuur, ons het die dieptes van die oseaan binnegedring en staan op die punt om lewe kunsmatig te skep; ons kan die atoom splyt en die mensdom vernietig. Maar ons is nie meer seker wat ‘goed’ en wat ‘sleg’ is nie. . . . Die wêreld word in elk geval skaars regeerbaar deur metodes wat ons as aanvaarbaar sou beskou. Dit beteken nie dat dit gaan ophou draai nie. Maar dit beteken wel dat ’n tydperk van omwenteling begin het wat so erg is dat hierdie eeu se eerste 80 jaar, met inbegrip van sy twee wêreldoorloë, in vergelyking daarmee die goeie ou dae sal wees.”
Jesus het die toestande wat ons in ons dag sou sien akkuraat voorspel, en hy het gesê dat hierdie moeilikhede sou lei tot ’n “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:21). Dan sal God al die aarde se aangeleenthede begin bestuur deur middel van die hemelse koninkryk waarvoor Christene al lank bid. Dit sal die weg baan vir ’n nuwe orde waarin ‘geregtigheid sal woon’.—Dan. 2:44; Matt. 6:9, 10; 2 Pet. 3:13.
Die probleem van getroude priesters
• Toe die Vatikaan aangekondig het dat Anglikaanse geestelikes as Katolieke priesters georden kan word, was dit goeie nuus vir Anglikane wat die Episkopaalse Kerk verlaat het. Een rede hiervoor is dat die Vatikaan se besluit toelaat dat getroude Anglikaanse geestelikes wat hulle tot Katolisisme bekeer as Katolieke geestelikes georden kan word en getroud kan bly indien hulle in ander opsigte aan die vereistes voldoen. Ongetroude Anglikaanse geestelikes wat hulle bekeer, sal ongetroud moet bly, en geen getroude priester kan ’n biskop word nie.
Die besluit het egter probleme geskep. Baie Katolieke meen dat dit onbillik of ten minste inkonsekwent is om getroude Anglikaanse priesters tegemoet te kom, maar nie Katolieke priesters wat wil trou en in die priesteramp wil aanbly nie. Hulle wys op die toenemende tekort aan priesters, en meld algemene teenstand teen verpligte selibaat as een van die hoofredes vir die tekort.
Maar hoef daar enige probleem te wees? Nee, want volgens die Katolieke “Knox”-Bybel sê God se Woord: “’n Biskop moet dus iemand wees met wie daar geen fout gevind kan word nie; getrou aan een vrou, . . . iemand wat ’n goeie hoof vir sy gesin is en sy kinders beheer” (1 Tim. 3:2, 4). Die Bybel laat dus selfs “biskoppe” toe om te trou en kinders groot te maak. Kan enige menslike wette wat strydig is met God se duidelik verklaarde Woord sy seën wegdra?