Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 12/1 bl. 10-15
  • Vrees vir God—Kan dit jou tot voordeel strek?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrees vir God—Kan dit jou tot voordeel strek?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Beskou die voordele
  • Ons moet leer om Jehovah te vrees
  • Neig jou hart om Jehovah te vrees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Leer om genot te vind in die vrees van Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Waarom moet ons God vrees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Waarom moet ons God vrees en nie mense nie?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 12/1 bl. 10-15

Vrees vir God—Kan dit jou tot voordeel strek?

“Vrees die ware God en hou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens.”—PREDIKER 12:13, NW.

1, 2. (a) Waarop moet ons aanbidding van God gegrond wees? (b) Maar wat vereis God nog? (Deuteronomium 10:12),

KLINK die uitdrukking “vrees vir God” vir jou vreemd? Baie meen dalk dat as hulle God werklik liefhet hulle hom nie ook hoef te vrees nie. Moet ons werklik albei doen? Hoe strek die vrees vir God ons dan tot voordeel?

2 Die Skrif toon dat ons aanbidding van en diens aan God op liefde gegrond moet wees. Jesus het dit duidelik gestel toe hy gesê het dat ons Jehovah met ons hele hart, siel, verstand en krag moet liefhê (Markus 12:30). Maar die belangrikheid van vrees vir God word ook in sy Woord beklemtoon. In Prediker 12:13 (NW) word daar reguit vir ons gesê: “Vrees die ware God en hou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens.” Is Jehovah inkonsekwent wanneer hy ons vra om hom te vrees en om hom lief te hê?

3. Wat moet ons in verband met vrees in gedagte hou?

3 Nie regtig nie—as ons in gedagte hou dat daar verskillende vorme van vrees is. Wanneer mense aan vrees dink, dink hulle gewoonlik aan ’n morbiede gevoel wat hoop vernietig en ons ontmoedig. Dit spreek vanself dat Jehovah nie wil hê dat ons so ’n gevoel vir hom moet hê nie! Ons hemelse Vader wil hê dat ons na hom moet kom soos ’n kind na sy vader sou kom—seker van sy vader se liefde, maar terselfdertyd bang om hom te mishaag. Sulke vrees sal ons help om aan ons hemelse Vader gehoorsaam te bly wanneer ons in die versoeking kom om te sondig. Dit is ’n gepaste “godvrugtige vrees” wat Christene moet hê.—Hebreërs 5:7, NW; 11:7, NW.

4. Watter soort vrees sal deur liefde uitgeskakel word?

4 Jehovah is nie soos ’n ongevoelige regter wat sy knegte eenvoudig straf elke keer dat hulle ’n fout begaan nie. Hy het hulle eerder lief en wil hê dat hulle sukses moet behaal. As ons ’n fout begaan of sondig, moet vrees vir Jehovah ons dus nie daarvan weerhou om met hom daaroor te praat nie (1 Johannes 1:9; 2:1). Ons eerbiedige vrees vir Jehovah is nie vrees dat ons afgejak of verwerp sal word nie. Soos ons in 1 Johannes 4:18 (vgl. NW) lees: “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees [lê ’n beperking op].” Maar “volmaakte liefde” sal nie die diepe eerbied en gepaste vrees wat ons vir Jehovah as ons Skepper en Lewegewer behoort te hê, uitskakel nie.—Psalm 25:14, vgl. NW,

Beskou die voordele

5. (a) Hoe alleenlik kan wysheid verkry word? (b) Wat het ’n voormalige dwelmslaaf aangespoor om sy onverstandige lewenswyse te verander?

5 Laat ons sommige van die voordele bespreek wat uit “die vrees vir Jehovah” voortspruit. Dit lei byvoorbeeld daartoe dat ons ware wysheid verkry. Mense het op talle maniere probeer en het geen moeite ontsien nie om sulke wysheid te verkry, maar hulle het gefaal omdat hulle ’n basiese beginsel verontagsaam: “Die vrees vir Jehovah is die begin van wysheid” (Psalm 111:10, NW; Spreuke 9:10, NW). Beskou hoe hierdie vrees ’n voormalige dwelmslaaf gehelp het om verstandig op te tree. Hy verduidelik: “Namate ek kennis van God opgedoen het, het ek ook begin vrees om hom te krenk of te mishaag. Ek het geweet hy hou my dop, en ek wou graag sy goedkeuring wegdra. Dit het my beweeg om die dwelms wat ek gehad het te vernietig deur dit in die toilet weg te spoel.” Hierdie man het sy slegte gebruike laat vaar, sy lewe aan Jehovah toegewy en is nou ’n bedienaar in Johannesburg, Suid-Afrika.

6. Hoe sal “die vrees vir Jehovah” ons teen slegte dinge beskerm, en waarna sal dit ons lei?

6 Wil jy graag die slegte vermy? “Die vrees [vir Jehovah] is om te haat wat sleg is” (Spreuke 8:13, vgl. NW). Ja, hierdie gepaste vrees kan jou weerhou van talle slegte gewoontes wat deur God veroordeel word, soos die rookgewoonte, dwelmmisbruik, dronkenskap en geslagsonsedelikheid. Buiten die feit dat jy Jehovah behaag, beskerm jy jou ook teen die verskriklike dinge wat met mense gebeur, waaronder die vreeslike siektes waaraan hulle hulle blootstel (Romeine 1:26, 27; 12:1, 2; 1 Korinthiërs 6:9, 10; 1 Thessalonicense 4:3-8, vgl. NW). Vrees vir God sal jou nie net help om te waak teen wat sleg en verdorwe is nie, maar sal jou lei na wat rein en heilsaam is, want ons word meegedeel dat ‘die vrees vir Jehovah rein is’.—Psalm 19:10, vgl. NW.

7, 8. (a) Hoe het een jong meisie ondervind dat “die vrees vir Jehovah” tot geluk lei? (b) Meld ander voordele vir diegene wat Jehovah vrees.

7 Geluk is nog ’n doelwit waarna die meeste mense streef. Hoe kan jy dit verkry? God se Woord sê: “Gelukkig is die man wat Jehovah vrees” (Psalm 112:1, NW; 128:1, NW). Die ondervinding van ’n tienermeisie bevestig dit. Sy het by allerhande ongeoorloofde seks, sowel as spiritisme en diefstal, betrokke geraak. Toe het sy die Bybel begin bestudeer en besef dat dit nodig is om na Jehovah te luister en hom te vrees. Sy sê: “Kennis van Jehovah is die beste ding wat met my gebeur het. Jehovah het my baie gehelp om die waarheid en geluk te vind. Ek voel dat ek so baie aan hom verskuldig is, omdat hy my oë geopen en my die geleentheid gegee het om werklik te dink en hom te vind. Ek wil ander mense nou help om hierdie geluk te vind.”

8 Jehovah belowe ook dat hy ‘die wat sy Naam vrees’, sal beloon (Openbaring 11:18). Daarbenewens is “die vrees [vir Jehovah] . . . tot die lewe; en versadig bring ’n mens die nag deur, sonder om deur ’n onheil besoek te word” (Spreuke 19:23, vgl. NW). Ja, dit is “die vrees vir Jehovah” wat in al ons behoeftes sal voorsien. Wanneer dit met nederigheid gepaard gaan, bring dit “rykdom en eer en die lewe” mee.—Spreuke 22:4; 10:27.

9. Waarom lei “die vrees vir Jehovah” tot die enigste lewenswyse wat blyk gee van wysheid? (Job 28:28; Miga 6:9).

9 Is dit nie vir ons ’n groot aansporing om die ware God te vrees nie? “Die vrees vir Jehovah” is inderdaad uiters aantreklik. Dit lei tot al die dinge wat ons ware bevrediging sal verskaf—iets wat vandag ’n seldsame ervaring is. Hoe bemoedigend is hierdie geïnspireerde woorde tog: “Hoewel ’n sondaar miskien honderd maal kwaad doen en ’n lang tyd bly soos hy verkies, is ek tog ook daarvan bewus dat dit goed sal gaan met hulle wat die ware God vrees, omdat hulle hom vrees. Maar dit sal volstrek nie goed gaan met die goddelose nie en hy sal nie sy dae, wat soos ’n skaduwee is, verleng nie, omdat hy God nie vrees nie”! (Prediker 8:12, 13, NW). Wie is daar wat nie wil hê dat dit met hom ‘goed moet gaan’ nie? Slegs diegene wat God vrees, sal hierdie geluk smaak.—Psalm 145:19.

10. Wat is ’n paar ander belangrike redes wat ons behoort te beweeg om God te vrees?

10 Behoort dit ons nie vasbeslote te maak om diepe eerbied, ja, ontsag, vir ons hemelse Vader Jehovah te hê nie? Ons moet in werklikheid ’n heilsame vrees hê om hom te mishaag. Ons het diepe waardering vir al die liefde en goedheid wat hy aan ons betoon het. Alles wat ons het, kom van hom af (Openbaring 4:11). Daarbenewens is hy die Opperregter, die Almagtige, met die mag om diegene wat ongehoorsaam aan hom is, dood te maak. “Werk julle eie heil [“redding”, NW] uit met vrees en bewing”, maan die apostel Paulus.—Filippense 2:12; Hosea 3:5; Lukas 12:4, 5, vgl. NW.

11. (a) Watter gesindheid moet Christene in hierdie laaste dae vermy? (b) Watter gees moet ons aankweek?

11 Hier is geen aanduiding dat ons redding kan verkry deur ’n traak-my-nieagtige gesindheid aan te neem, so min moontlik te doen en te hoop dat dinge op die een of ander manier goed sal afloop nie. Christene wat in hierdie laaste dae daarna strewe om ’n verhouding te handhaaf met die Een wat tot in hulle harte kan sien en hulle diepste gedagtes en bedoelinge ken, moet nie hierdie gesindheid openbaar nie (Jeremia 17:10). Alleenlik diegene wat Jehovah behoorlik erken, sal deur hom erken word. Hy sê: “Ek slaan ag op die mens in nood, op dié een wat berou het oor sy sonde, wat ontsag het vir my woord.”—Jesaja 66:2, NAV.

Ons moet leer om Jehovah te vrees

12. (a) Op watter maniere is die nasie Israel meer as ander nasies begunstig? (b) Wat het Jehovah op sy beurt van hulle verwag?

12 ’n Ondersoek van Jehovah se handelinge met Israel kan ons verder bewus maak van hoe nodig dit is om hom te vrees. Geen ander nasie het soveel sorg en aandag van die Soewerein van die heelal ontvang nie (Deuteronomium 4:7, 8, 32-36; 1 Samuel 12:24). Die Israeliete het met hulle eie oë gesien wat Jehovah aan die Egiptenaars gedoen het, wat hom nie gevrees het nie en derhalwe sy volk tot slawe gemaak en hulle verdruk het. Wat het hy op sy beurt van hulle verwag? “Laat die volk byeenkom, die manne en die vroue en die kinders en jou vreemdeling wat in jou poorte is, dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer om die HERE julle God te vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie wet te hou. En hulle kinders wat dit nie ken nie, moet hoor en leer om die HERE julle God te vrees al die dae wat julle lewe in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem.”—Deuteronomium 31:12, 13; 14:23.

13. Wat moet vir ouers van die allergrootste belang wees wanneer dit by kinders kom?

13 God se hedendaagse knegte moet, soos die Israeliete, ‘leer om Jehovah te vrees’. Dit plaas inderdaad ’n groot verantwoordelikheid op ons almal—veral op ouers! Ouers, vra julle af: ‘Hoe kan ek my kinders help om ’n hart te verkry wat Jehovah vrees?’ Watter beter beskerming as dit kan daar op geestelike, verstandelike of materiële gebied vir jou kinders wees wanneer hulle eendag volwasse is en die huis verlaat? Jehovah beklemtoon self die belangrikheid hiervan wanneer hy sê: “Ag, as hulle maar so ’n hart [ontwikkel] het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan.”—Deuteronomium 5:29, vgl. NW; 4:10.

14. Meld een faktor wat ouers in gedagte moet hou wanneer hulle hulle kinders oplei om Jehovah te vrees, en verduidelik hoe dit toegepas moet word.

14 Enige Christen wat ’n gesin grootgemaak het, sal geredelik erken dat dit nie ’n maklike taak is nie. Tog vestig God se geïnspireerde Woord ouers se aandag op ’n paar uiters belangrike faktore. Een faktor is om te begin wanneer die kinders jonk is. Hoe jonk? Toe die Israeliete byeengekom het om deur Jehovah onderrig te word, was die “kinders” ingesluit (Deuteronomium 29:10-13; 31:12, 13). Israelitiese vroue het natuurlik by sulke geleenthede hulle babas saamgebring, aangesien almal aanwesig moes wees. Hulle seuns en dogters sou “van kleins af” leer dat hulle by sulke vergaderinge stil moet wees en moet luister (2 Timotheüs 3:15). Bring dus julle “kinders” saam met julle na die vergaderinge. Betrek hulle ook by velddiens sodra hulle daaraan kan deelneem. Baie jongmense het geleer om ’n tydskrif of ’n traktaat aan te bied selfs voordat hulle begin skoolgaan het. Begin om julle “kinders” reeds vroeg in klein dingetjies “die vrees vir Jehovah” te leer.

15. Wat is ’n tweede faktor, en hoe kan ouers dit doen?

15 Nog ’n faktor is om konsekwent te wees. Dit kan gedoen word as ons altyd by God se Woord bly in die opleiding, dissipline en onderrig wat ons ons kinders gee. Selfs wanneer dit by ontspanning of vermaak kom, moet ons konsekwent wees en Bybelbeginsels laat voorskryf wat by sulke geleenthede toegelaat sal word (Efesiërs 6:4). Dit sal inspanning verg, soos God se Woord baie duidelik toon wanneer dit sê: “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronomium 6:4-9; 4:9; 11:18-21). Sulke konsekwentheid deur die jare heen sal jou kinders baie help om ’n hart te ontwikkel wat Jehovah vrees.

16. (a) Wat is die derde faktor, en waarom is dit so belangrik? (b) Watter vrae kan ouers hulle afvra?

16 Ouers moet ook probeer om dit in hul kinders se verstand en hart in te prent dat hulle as ouers “Jehovah vrees” (Psalm 22:23, NW). Een manier waarop hulle dit kan doen, is deur teokratiese raad toe te pas wanneer hulle hul kinders oplei en dissiplineer. Dit is die derde faktor wat in ag geneem moet word. Vra jou af: ‘Hou ek gereeld ’n Bybelstudie met my kinders?’ ‘Benut ek hulpmiddele soos My boek met Bybelverhale en Luister na die Groot Onderwyser ten volle vir my jonger kinders?’ ‘Gebruik ek die boek Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benut en die artikels oor “Jongmense vra” in Ontwaak! namate hulle ouer word?’ ‘Reël ek heilsame ontspanning en vermaak wat my kinders nie sal benadeel nie?’ ‘Het ek aanvaar wat Jehovah se organisasie oor gevorderde onderwys sê?’ ‘Onderrig ek my kinders dienooreenkomstig?’ ‘Is die doelwitte wat ek vir my kinders gestel het doelwitte wat hulle sal help om “godvrugtige vrees” te hê?’—Hebreërs 5:7, NW.

17. Wie vind daarby baat wanneer kinders leer om Jehovah te vrees? Lig dit toe.

17 Nie net jou kinders nie, maar ook jy, sal die voordele en vreugde ontvang omdat jy alles in jou vermoë doen om hulle in “die vrees vir Jehovah” te onderrig. Beskou byvoorbeeld ’n Getuie wat, wanneer sy aan die einde van die dag “oorlogsmoeg” voel, soos sy dit stel, alles weer die moeite werd ag wanneer sy haar sewejarige dogtertjie tot Jehovah hoor bid. Trane skiet in haar oë en sy kry ’n knop in die keel wanneer sy na haar dogtertjie se gebed luister: “Liefdevolle Jehovah, dankie vir al die goeie dinge wat u vandag vir my gedoen het. En dankie vir my kos. Help al die broers in die tronk en die konsentrasiekampe om kos te kry, Jehovah, en al die maer broers en susters in ander lande. Help hulle ook om genoeg kos te kry, Jehovah. En help die siekes om gesond te word sodat hulle na die vergaderinge kan gaan. Laat die engele my asseblief oppas terwyl ek in die nag slaap, Jehovah, en my mamma en pappa en my boetie, en my ouma en oupa en al die broers en susters in die waarheid. Deur u Seun, Jesus, Amen.”

18. Hoe beïnvloed ons mekaar met betrekking tot vrees vir Jehovah?

18 Wanneer dit by hierdie saak van vrees vir Jehovah kom, moet ons onthou dat ons mekaar beïnvloed deur die voorbeeld wat ons stel. Ouers beïnvloed hulle kinders. Ouere manne en bedieningsknegte beïnvloed hulle gemeentes. Reisende opsieners beïnvloed diegene wat hulle dien. Dit is natuurlik waarom die konings in Israel beveel is om God se Wet al die dae van hulle lewe te lees sodat hulle kon “leer om die HERE . . . te vrees” (Deuteronomium 17:18-20). Die voorbeeld wat die koning ten opsigte van vrees vir Jehovah sou stel, kon die hele nasie beïnvloed.

19. Waarvan getuig die geskiedenis aangaande die Israeliete?

19 Die geskiedenis getuig van die feit dat Israel, as ’n nasie, hulle vrees vir Jehovah verloor het. Hulle het gemeen dat die tempel in Jerusalem hulle soos die een of ander “gelukbringer” sou beskerm, ongeag of hulle sy wette gehoorsaam het of nie (Jeremia 7:1-4; Miga 3:11, 12). Maar hulle het dit mis gehad. Jerusalem en die tempel aldaar is vernietig. Toe hulle later as ’n nasie herstel is, het hulle weer versuim om gepaste vrees vir Jehovah te toon (Maleagi 1:6). Ons kan baie uit hierdie ondervinding leer, wat in die volgende artikel bespreek sal word.

20. Hoe kan ons opsom waarom ons Jehovah moet vrees?

20 Onthou dan dat vrees vir Jehovah nie ons liefde vir hom laat afneem nie; dit versterk dit eerder. Gehoorsaamheid aan al sy bevele sal nie net bewys dat ons Jehovah vrees nie, maar ook dat ons hom liefhet. Albei dinge is lewensbelangrik. Dit is onmoontlik om die een sonder die ander te hê. Hoe belangrik is dit tog dat ouers hierdie godvrugtige vrees en liefde vir Jehovah by hulle kinders inskerp! En dit is voorwaar ’n bron van groot vreugde vir oud sowel as jonk! Mag ons dan soos die psalmis voel toe hy gesê het: “Verenig my hart om u naam te vrees.”—Psalm 86:11, NW.

Gedagtes om te bepeins

◻ Hoe kan ons Jehovah liefhê én vrees?

◻ Wat is sommige van die voordele wat spruit uit vrees vir Jehovah?

◻ Watter drie faktore kan ouers help om hulle kinders by te staan om ’n hart te ontwikkel wat Jehovah vrees?

◻ Hoe beïnvloed ons mekaar ten opsigte van vrees vir Jehovah?

[Prent op bladsy 12]

Vrees vir Jehovah sal jongmense help om versoekinge om te sondig te weerstaan

[Prent op bladsy 14]

Ouers moet hulle kinders help om ’n heilsame vrees vir Jehovah te ontwikkel

[Prent op bladsy 15]

‘Dit sal goed gaan met die wat die ware God vrees.’—Prediker 8:12.

[Erkenning]

Met vergunning van Hartebeespoortdam se Slang-en-dierepark

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel