Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 3/1 bl. 17-22
  • Is jy ’n lojale verkondiger van God se koningskap?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is jy ’n lojale verkondiger van God se koningskap?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Soortgelyke materiaal
  • Loof Jehovah se heilige naam!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Jehovah is groot in lojale liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Wie sal die Koning loof?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Jehovah verdien ewige lof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 3/1 bl. 17-22

IS JY ’N LOJALE VERKONDIGER VAN GOD SE KONINGSKAP?

“Al u werke sal u prys, o Jehovah, en u lojale dienaars sal u seën. Oor die heerlikheid van u koningskap sal hulle praat, en oor u mag sal hulle spreek.”—Ps. 145:10, 11, NW.

1. Tot watter mate het Jesus God se koninkryk verkondig?

SEDERT die dae van Abel het Jehovah God nog altyd lojale dienaars op aarde gehad om hom te loof. Die vernaamste lojale dienaar van Jehovah, sy eniggebore Seun, Jesus Christus, het die leiding gegee in die verkondiging van Jehovah se mag en koninkryk wat die hele mensdom tot voordeel sal strek. Jesus het gekom as die Gesant, die voorspelde afstammeling van Isai en Dawid, die aangewese Koning, en hy het God se koninkryk die vernaamste dogma van sy leer gemaak (Jes. 11:1, 10; Matt. 21:1-17). Hy het die goeie nuus van die Koninkryk gebring. Omdat hy onder die mense was, kon hy vir hulle vertel van die nabyheid van die Koninkryk soos in hom verteenwoordig, die aangewese Koning, en kon hy vir sy volgelinge leer om eers die Koninkryk te soek (Luk. 17:20, 21, NW) Toe hy sy dissipels geleer het om te bid, het hy die koms van die Koninkryk beklemtoon asook die feit dat dit sou beteken dat God se naam geheilig word en dat God se wil op aarde sou geskied soos in die hemel.—Matt. 4:23; 6:9, 10, 33.

2. Hoe het hy ander beweeg om betrokke te raak in die geskil oor Jehovah se koningskap?

2 Jesus het ander genooi om saam met hom die goeie nuus van die komende Koninkryk te verkondig (Luk. 9:1-6; 10:1-12). Jesus se volgelinge het begryp dat sy teenwoordigheid as koning iets toekomstigs was, soos blyk uit die vraag wat hulle in Mattheüs 24:3 gestel het: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms [of teenwoordigheid, parousia, Grieks] en van die voleinding van die wêreld?” Jesus het toe die tyd van sy teenwoordigheid geïdentifiseer as ’n spesiale tyd om oor die Koninkryk te praat en daarop gewys dat dit in die hele bewoonde aarde gedoen sou word tot ’n getuienis. Ons weet dat Jesus se teenwoordigheid as ’n heersende koning, een wat te midde van sy vyande heers, sedert 1914 ’n feit is, want ons sien “die teken”. —Ps. 110:1; Hebr. 10:12, 13; Matt. 24:14.

3. Hoe het Paulus deelgeneem aan die verkondiging van God se koningskap?

3 “Om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk. U koninkryk is ’n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte” (Ps. 145:12, 13).

Dissipels van Jesus het mense se aandag op uitmuntende wyse op God se koninkryk in die hande van Jesus Christus gevestig. ’n Goeie voorbeeld hiervan is opgeteken in Handelinge 28:23, 30, 31, wat vertel hoedat Paulus die Koninkryk verkondig het terwyl hy ’n gevangene in Rome was. Hy het tevore aan die Korinthiërs geskryf dat Christene “gesante om Christus wil” is en dat hulle mense help om hulle ‘met God te versoen’ (2 Kor. 5:20). As ’n gesant is daar van Paulus verwag om die Koninkryk en die Koning wat hy verteenwoordig het, aan te prys, en hy het dit gedoen. Streef jy sulke koninklike diens na? Hou jy dan aan om oor die Koning en die Koninkryk te spreek?

4. Watter dinge het Paulus en Johannes gesê en geskryf wat ons nou as lojale aanbidders van Jehovah God bekend kan maak?

4 Wanneer Paulus Koninkryksleerstellings verduidelik het, het hy Jesus Christus se verhouding tot Jehovah God in die Koninkryksreëling getoon en gewys dat Jehovah die groot Soewerein van die heelal is. “God [is] die hoof van Christus” (1 Kor. 11:3). Paulus het ook vertel wat aan die einde van die 1 000-jarige bewind van Christus sal gebeur (1 Kor. 15:24-28). Teen die einde van die eerste eeu G.J. het die lojale apostel Johannes eweneens woorde neergeskryf oor die toekomstige magtige dade van Jehovah wat van die heerlikheid van sy koningskap getuig. (Kyk Openbaring 12:9, 10; 19:6; 20:10, 14; 21:3, 4, 22-24.) Dit is dinge wat ons vandag as lojale aanbidders van Jehovah aan die mensekinders kan bekend maak terwyl ons klem lê op die belangrikheid van God se koninkryk sowel as wat dit vir die mensdom gaan doen, alles tot Jehovah se lof. Die Koninkryk moet vir die mensekinders beskryf en verduidelik word sodat hulle kan sien dat God se koninkryk hulle enigste hoop is. Dit gaan dwarsdeur alle opeenvolgende geslagte duur.a

5. (a) Waarmee het Jehovah se dienaars dikwels te kampe? (b) Wat kon Jehovah se volk sedert die Eerste Wêreldoorlog doen, ondanks teenstand gedurende die oorlogsjare?

5 Onder die alfabetiese letter samek, die 15de letter van die Hebreeuse alfabet, sê Psalm 145:14 voorts:

“Die HERE ondersteun almal wat val, en Hy rig almal op wat neergeboë is.”

Diegene wat Jehovah lojaal aanbid en sy koningskap verkondig, het dikwels te kampe met teenstand en probleme weens hulle lojaliteit aan Jehovah (Gen. 3:15). Maar die getuienis van die verlede toon dat Jehovah, getrou aan sy beloftes, sy aanbidders ondersteun en gehelp het en hulle opgerig het wanneer hulle verdruk is. (Gen. hfst. 15; kyk ook die baie voorbeelde in die boek Rigters.) Reg tot hier aan die begin van 1981 het ons in hierdie 20ste eeu gesien hoedat Jehovah die gesalfde oorblyfsel en die “ander skape” van Babiloniese verdrukking verlos het. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog is groot druk op die gesalfde oorblyfsel uitgeoefen. Maar Jehovah het hulle met sy gees en woord van waarheid opgerig. Kort daarna, by hulle byeenkoms in Cedar Point, Ohio, in 1922, het hulle hulle lojaal voorgeneem om die Koning en die Koninkryk te adverteer. Sedertdien lei Jehovah hulle, sodat sy naam en koninkryk vandag wêreldwyd bekend is.

6. Watter voorsiening vir voedsel maak Jehovah vir sy volk?

6 “Die oë van almal wag op U, en U gee hulle hul spys op die regte tyd” (Ps. 145:15).

Dit is veral die lojale aanbidders van Jehovah wat deesdae hulle geestelike voedsel nodig het. Hulle is “bewus van hulle geestelike behoefte” (Matt. 5:3, NW). Hulle het hulle hoopvol tot Jehovah se reëling vir die voorsiening van ryk geestelike voedsel gewend (Matt. 24:45-47). Op hierdie gebied is daar voorwaar oorvloedig aan die verwagtinge van God se dienaars voldoen, en hulle is vol vertroue dat Jehovah sal voortgaan om die geestelike voedsel wat hulle nodig het so gereeld, “op tyd”, te gee.

7. Hoe is Jehovah die Voorsiener, veral in verband met aanbidding?

7 In ooreenstemming hiermee sê Psalm 145:16 voorts:

“U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.”

Jehovah God is die een persoon in die hele heelal wat ’n Voorsiener sonder perke is. Hy is die hemelse Vader en Lewegewer. Sy vrygewigheid en goedertierenheid word gesien in al sy skeppingswerke en in die goeie voorsienings wat hy vir die mens en alle ander skepsele op aarde gemaak het. Omdat hy ons begaaf het met die behoefte om te aanbid, het Jehovah homself en sy voornemens ruimhartig aan die mensdom geopenbaar, en diegene wat hulle aan Jehovah God toewy en wat aan sy aanbidding en diens meedoen, het Jehovah se vrygewigheid al hoe meer ervaar. Al sulke ondervindinge is baie gerusstellend en ons kan vertrou dat Jehovah sal voortgaan om sy gees aan sy dienaars te gee en nooit sal ophou om hulle selfs in hierdie moeilike laaste dae met getuienisse, leiding en geestelike hulp te versadig nie.—Ps. 119:129.

8. Hoe betoon Jehovah lojaliteit?

8 Omdat ons teenoor Jehovah lojaal is, is hy lojaal teenoor ons. Ons lees dus:

“Jehovah is regverdig in al sy weë en lojaal in al sy werke” (Ps. 145:17, NW).

Omdat ons toegewyde knegte van Jehovah en lojale ondersteuners van sy koningskap geword het, kan ons altyd op God vertrou. Hy behandel sy dienaars regverdig en genadig. Sy wonderlike eienskappe verander nie. Wanneer ons Jehovah dus eers aanbid en dien, kan ons daarvan verseker wees dat hy ons nooit in die steek sal laat nie. Hy is voorwaar “lojaal in al sy werke”. Hier het ons dus nog ’n goeie rede om vir ander van Jehovah en sy wonderlike eienskappe te vertel en hulle te nooi om saam met ons lojaal ’n toegewyde lewe van lof aan Jehovah te lei.—Vergelyk Psalm 107.

9. Watter rol speel geloof wanneer ’n mens Jehovah aanroep, en hoe moet ’n mens Jehovah aanroep?

9 Gevolglik maak ons die volgende woorde tot sy lof bekend:

“Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid” (Ps. 145:18).

Dit is belangrik om Jehovah aan te roep. Dit moet in ware geloof gedoen word (Rom. 10:10-15). Die psalmis beklemtoon hoe na Jehovah kom aan diegene wat hom op die regte manier aanroep, en dit sluit die beoefening van geloof in (Hebr. 11:6). En hierdie aanroeping van Jehovah is nie iets wat in die geheim gedoen word nie, maar is in werklikheid ’n openbare belydenis voor mense dat ons in Jehovah glo en op hom vertrou. Paulus beklemtoon hoe nodig dit is om die “evangelie” van die goeie te verkondig en tot die voordeel van ander te preek. Die lof wat Jehovah ontvang van diegene wat hom aanroep, word al hoe meer namate meer getroue verkondigers van die “evangelie” vir nog ander van Jehovah vertel. Deur vir hulle van Jehovah en sy heerlikheid en grootheid, asook van sy koningskap, te vertel, bou die lowers geloof in hierdie mense sodat hulle ook die naam van Jehovah kan aanroep en tot hom kan nader. Die weg tot redding is oop vir almal wat graag gered wil word, en geen onderskeid word getref op grond van ras, kleur of nasionaliteit nie, en diegene wat in Jehovah glo en hom in waarheid aanroep, sal nie teleurgestel word nie. Hoe wonderlik tog van Jehovah om ons toe te laat om ’n verhouding met hom te hê en na aan hom te kom! Dit is veral die geval in hierdie moeilike laaste dae wanneer dit al hoe duideliker word dat dit nodig is om geheel en al op Jehovah, die God van redding, staat te maak.

10. Waarom sal Jehovah die wens vervul van diegene wat hom vrees?

10 “Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle” (Ps. 145:19).

Diegene wat Jehovah waarlik vrees, wy hulle aan hom toe en hulle wens is om sy wil te doen. Ons het alle rede om op Jehovah te vertrou as die bron van ons hulp en verlossing, terwyl ons probeer om sy wil te doen. “Dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het” (1 Joh. 5:14, 15). Ons weet dat dit vandag Jehovah se wil vir ons is om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en sy reine aanbidding te bevorder. Dit moet ons wens wees om mense te laat weet van die groot geskil oor Jehovah se soewereiniteit in die heelal, selfs al ondervind ons baie teenstand wanneer ons dit doen. Sodoende kry allerhande mense die geleentheid om Jehovah se boodskap aan te neem en geloof in hom te stel, daar hulle leer van sy geduld met die mensdom en sy begeerte om te sien dat die mensdom berou toon en gered word.

11. Hoe verhoor Jehovah die hulpgeroep van sy dienaars?

11 Dit is dus ons hartewens om toe te sien dat hierdie Koninkrykswerk gedoen word. Ons doen die werk nie alleen nie. Ons is dienaars van Jehovah en werk saam met hom. In hierdie moeilike “laaste dae” moet ons hom aanroep vir hulp, en wanneer die geskil sy klimaks bereik en “Gog, in die land Magog” ons aanval, soos in Esegiel 38 en 39 voorspel is, sal ons op Jehovah moet steun en hom moet aanroep om beskerm en verlos te word. Koning Dawid is op wonderlike maniere verlos toe die vyande hom agtervolg het. Christus Jesus moes sy lewe gee vir Jehovah se voorneme, maar Jehovah het hom opgewek. Jehovah is dus in staat om enige druk of teenstand deur die vyande van die waarheid te bowe te kom, en hy kan selfs die hulpgeroep van sy dienaars wat die dood ingaan en wat deur die opstanding verlos moet word, verhoor.

12. Waarom hoef ons nie bang te wees wanneer die goddelose verdelg word nie?

12 Die volgende bly dus waar:

“Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose” (Ps. 145:20).

Aangesien ons die hoogtepunt van goddeloosheid bereik het en die “groot verdrukking” voor die deur is, is dit ’n seën om sulke gerusstellende woorde te hê dat Jehovah almal bewaar wat Hom liefhet (Matt. 24:21). Die tyd het aangebreek vir die verdelging van die goddelose, en hulle moet gewaarsku word. Maar Jehovah se dienaars as ’n groep is bestem om die “groot verdrukking” op die goddelose te oorlewe en aldus te sien hoedat Jehovah hulle verlos. Jehovah het diegene wat aan hom lojaal is waarlik lief en sal hulle nie vergeet wanneer sy groot toorn teen die goddelose ontvlam nie. Daar is talle voorbeelde in die Skrif van die magtige dade wat Jehovah verrig het om sy volk te bewaar en te verlos juis op die tye wanneer hy die goddelose gestraf het. Ons smag voorwaar na die tyd wanneer die goddelose verdelg gaan word en wanneer diegene wat Jehovah se koningskap teëstaan, uitgewis sal word.

13. (a) Hoe het Jehovah sy hedendaagse dienaars bewaar? (b) Wat het Jehovah voorberei vir diegene wat hom liefhet?

13 Dwarsdeur hierdie “laaste dae” het Jehovah se dienaars hom aangeroep om hulp en het hulle hulle liefde vir hom betoon. Jehovah het sy dienaars bewaar deur talle moeilike tye heen, veral gedurende die Tweede Wêreldoorlog toe die werk in verskillende dele van die wêreld verbied is en duisende in konsentrasiekampe en tronke gestop is. Gepeupelgeweld het ook in baie dele van die aarde voorgekom. Maar die verkondiging van die goeie nuus oor die Koninkryk het voortgeduur, en Jehovah was goed vir sy dienaars deur vermeerderinge te gee en hy het hulle vertroos deur hulle dwarsoor die wêreld te laat toeneem. Dit is Jehovah se voorneme dat die Koninkryksbewind in die hande van Christus Jesus oor die hele aarde moet strek. Daardie koninkryk sal onderdane op die aarde hê aangesien die “groot menigte” “ander skape” die verdrukking oorleef en die talle verresenes wat uit die grafte kom daarna by hulle sal aansluit. Die verdelging van die goddelose sal dus nie ’n ramp vir Jehovah se dienaars wees nie. Jehovah sal eerder die liefde wat sy dienaars aan hom betoon het, beantwoord en hulle bewaar en sy liefde, barmhartigheid en goedheid aan hulle betoon. En in sy liefde het hy vir sy “ander skape” ’n wonderlike aardse paradys voorberei waar hulle die ewige lewe kan geniet (Luk. 23:43, NW). Die beslegting van die groot geskil oor Jehovah se universele koningskap sal slegs seeninge vir liefhebbers van Jehovah meebring en hulle die geleentheid bied om Jehovah meer en meer te waardeer namate die jare verstryk. Hoe wonderlik sal dit tog wees om te lewe tydens die vervulling van die laaste vers van Psalm 150 wanneer “alles wat asem het” Jehovah sal loof en al die goddelose uitgeroei sal wees!—Ps 150 V. 6.

14. Oor watter seëninge van Jehovah af kan ons spreek?

14 Dink maar terug en kyk net hoe baie seëninge Jehovah op ons uitgestort het. Kyk hoe het hy ons met ryk geestelike voedsel versadig. Verkry groter waardering vir die wonderlike voorreg wat hy ons gegee het om nou sy knegte te wees en vir al die wonderlike vooruitsigte vir die toekoms. Aangesien ons die vooruitsig het om Armageddon te oorlewe, kan ons met vreugde uitsien na die tyd van die opstanding en die wonderlike werk om dan diegene wat uit die grafte kom in te lig en op te lei. Baie van hulle sal vir die eerste keer van die Groot Koning Jehovah moet leer. Hulle sal moet weet aan wie hulle dit te danke het dat hulle weer lewe. Wie gaan vir hulle vertel? Sal elkeen van ons ons nie daarin verheug om dit te kan doen nie? Ja, ons sien daarna uit om Jehovah vir ewig te loof.

15. Watter voorregte het ons in verband met God se koningskap?

15 Maar wat van die hede? Wat doen jy omtrent die groot geskil oor Jehovah se koningskap? Is jy onder die lojale dienaars wat Jehovah vertrou en van dag tot dag oor die heerlikheid van sy koningskap praat? Mag elkeen van ons ’n lojale ondersteuner wees van Jehovah se koningskap in die hande van sy gekroonde Seun, Jesus Christus, die Grotere Dawid, en mag ons net so heelhartig wees in ons persoonlike voorneme om Jehovah in die openbaar te loof as wat koning Dawid was. Hy het gesê:

“My mond sal die lof van die HERE uitspreek, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir ewig en altyd.”—Ps. 145:21.

[Voetnoot]

a Aangesien Psalm 145 ’n alfabetiese psalm is waar elke opeenvolgende vers met die opeenvolgende letter in die Hebreeuse alfabet begin, bevat die 1971-uitgawe van die New World Translation hierdie voetnoot: “’n Vers wat met die Hebreeuse letter noen begin, ontbreek na die mem-vers. In party Hebreeuse manuskripte lui die noen-vers: ‘Jehovah is getrou in al sy woorde, en goedertieren in al sy werke.’ Dit word bevestig deur LXXVgSy.”

[Prente op bladsy 21]

Lojale dienaars spreek oor die heerlikheid van Jehovah se koningskap

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel