Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 3/1 bl. 24-29
  • Ons vyf dekades van getroue diens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons vyf dekades van getroue diens
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • VROEË PREDIKINGSWERK
  • TOETSE VAN ONKREUKBAARHEID TYDENS DIE SPAANSE BURGEROORLOG
  • NA-OORLOGSE PROBLEME
  • HUWELIK ONDER ’N KATOLIEKE DIKTATORSKAP
  • ’N SENDELING VAN GILEAD AF WYS VIR ONS HOE OM TE PREEK
  • GESINSEËNINGE
  • TEISTERING DEUR DIE POLISIE
  • ’N TRAGEDIE TREF ONS
  • LANGVERWAGTE VRYHEID
  • ONKREUKBAARHEID EN DIE BAIE SEËNINGE WAT DIT MEEBRING
  • ‘Gelukkig is almal wat op Jehovah bly wag’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • “Aangesien ons hierdie bediening het . . . , gee ons nie moed op nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Barcelona—’n Opelugmuseum met kleur en styl
    Ontwaak!—2003
  • ’n Lewe vol verrassings in Jehovah se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 3/1 bl. 24-29

ONS VYF DEKADES VAN GETROUE DIENS

Soos vertel deur Ramón Serrano

“RAMÓN, het jy geweet dat die Bybel sê dat ons nie ’n onsterflike siel het nie en dat die helse vuur nie bestaan nie?”

Daardie verrassende verklaring deur ’n ongeletterde huisbediende, Francisca Arbeca, het my in my spore laat vassteek. Dit was ’n keerpunt in my en my jonger broer, Francisco (Paco), se lewe. Ek was destyds, in 1932, 15 jaar oud.

Ons moeder, ’n godsdienstige vrou, het ons na ’n nabygeleë Baptiste-skool hier in Barcelona, Spanje, gestuur. Daar het Señor Rosendo, die onderwyser en pastoor, die klassieke Protestantse leerstellings oor die onsterflikheid van die siel en foltering in die helse vuur by ons ingeskerp. Ons huisbediende, Francisca, het andersyds met die plaaslike groepie Getuies van Jehovah geassosieer.

Kort daarna het my moeder begin om ons na die vergaderinge van Jehovah se Getuies te neem. Dit is in ’n huis gehou. By een van hierdie vergaderinge is ek diep beïndruk deur die verduideliking dat Christus “deur die dood hom tot niet [sou] maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel” (Hebr. 2:14). Ek het geredeneer: Hoe kan foltering in die helse vuur vir ewig duur indien die Duiwel tot niet gemaak gaan word? Toe ek later hierdie vraag aan Señor Rosendo stel, het hy kwaad geword omdat hy geen antwoord gehad het nie.

VROEË PREDIKINGSWERK

Omdat ons daarvan oortuig was dat ons Bybelwaarhede gehad het wat ander tot voordeel kon strek, het ek en Paco, met die hulp van ’n ander Getuie, begin om die “evangelie van die koninkryk” van huis tot huis te verkondig (Matt. 24:14). Ek was slegs 17 en Paco net 13. Terwyl die ouer broer die aangrensende dorp Badalona gedek het, het ons ons pogings toegespits op Barcelona, en op Tarrasa, ’n stad sowat 31 kilometer daarvandaan. Dit het beteken dat ons twee sowat 750 000 inwoners gehad het om voor te preek! Ons was egter nie skaam nie. Ons het geweet dat dit die Here se werk is en ons het dit gedoen.

Dit was omstreeks daardie tyd dat ons die grammofoon met plate van broer Rutherford se Bybeltoesprake wat in Spaans vertaal is, begin gebruik het. Soms het die motor afgewen voordat die plaat klaar gespeel het. Ek kan nog onthou hoedat Paco, halfpad deur die kreunende plaat, die masjien koorsagtig opgewen het om dit aan die gang te hou. Hoe het dinge tog in hierdie elektroniese eeu verander!

TOETSE VAN ONKREUKBAARHEID TYDENS DIE SPAANSE BURGEROORLOG

Vanaf 1930 was die politieke situasie in Spanje baie onbestendig. In 1931 het die koning uit die land gevlug en is ’n republiek uitgeroep. Maar die bevolking was verdeeld oor die geskil en politieke haat het onder die oppervlak gesmeul. In Julie 1936 het die verskriklike burgeroorlog uitgebreek, en omdat ons in Katalonië gewoon het, het ons onsself in die republikeinse, anti-geestelike kant van die land bevind. Ondanks die vyandelikhede het ons egter met ons huis-tot-huispredikingswerk voortgegaan.

Terwyl ons eendag in Horta, aan die buitewyke van Barcelona, gepreek het, het ’n Kommunistiese burgersoldaat ons in hegtenis geneem en na die plaaslike hoofkwartier geneem vir ondervraging. Ek was destyds 18 jaar oud en my broer 14. ’n Plaaslike beampte het ’n vurige toespraak afgesteek, ons lektuur gekonfiskeer en ons gewaarsku om nie ons tyd te verkwis deur te preek nie. Hy het vir my gesê dat ek aan die front saam met die kamerade behoort te veg. Dit was die eerste keer dat ons regstreeks geraak is deur die burgeroorlog. Omdat ons jonk was, het hierdie ervaring ons geskok, maar ons het geweet dat ons moes voortgaan om die “evangelie” te verkondig.

Destyds, in 1936, het ons nie so ’n duidelike begrip van Christelike neutraliteit gehad as wat ons vandag het nie (Joh. 15:19). Hierdie onderwerp is eers in Maart 1940 in die Spaanse Wagtoring verhelder. Al wat ek geweet het, was dat ek as ’n Christen nie kon doodslaan nie.—Ex. 20:13.

In 1937, op die ouderdom van 19, is ek opgeroep vir militêre diens in die republikeinse leër. Ek het aanvanklik weggekruip om nie aan hierdie broedermoord deel te neem nie. Na sowat agt maande is ek opgespoor en deur die Spioenasie-en-Hoogverraadhof verhoor. Die oorlogtydse atmosfeer was so gespanne dat my ouers daarvan oortuig was dat ek tereggestel sou word. Ek is ’n vonnis van 30 jaar tronkstraf opgelê. Na ’n paar maande in die tronk is ek egter vrygelaat en na die front in die provinsie Lerida gestuur. Die situasie aldaar was besig om op ’n groot geveg af te stuur.

My eerste toewysing was in ’n kantoor, sodat dit nie vir my nodig was om ’n wapen te gebruik nie. Daardie situasie het eerlank verander toe ons kompanie beveel is om na die gevegsfront naby die dorpie Serós aan die Segre-rivier te gaan. Net soos die res van die troepe is daar nou ook op my geskiet. Terwyl ek by een geleentheid in ’n holte in die grond teen die koeëls geskuil het, was daar aan weerskante van my ’n sersant wat op my geskreeu het om ’n geweer te gryp en te begin skiet. Ek het die bevel veronagsaam. ’n Paar minute later was hulle albei daar langs my dood.

Ons kompanie het eindelik teruggeval, en nadat ons sowat drie weke rondgetrek het, is ek gevange geneem deur die Italiaanse troepe van die Littorio-brigade, wat saam met Franco se volksleër geveg het. As ’n gevangene is daar nie meer druk op my uitgeoefen om aan die oorlog deel te neem nie. Dit was aan die begin van 1939 en ek is na ’n konsentrasiekamp in Deusto, Vizcaya, in die noorde van Spanje gestuur. Maar dit was nie die einde van my probleme nie. Etenstye moes ons almal staan en Fascistiese liedere sing en ons arms lig om die Fascistiese saluut te gee. Ek het net agter bly sit en stil aangehou eet. Ek is gelukkig taamlik kort en dus het niemand my raakgesien nie. Later is ek verplaas om in ’n tugbataljon te gaan werk. Daar is ek beveel om die Fascistiese saluut saam met die ander te gee. Weens gewetensbesware het ek geweier om mee te doen aan iets wat ek as ’n afgodiese daad beskou het. Die ander gevangenes het gedink dat ek mal is. Met Spanje in ’n burgeroorlog gewikkel, het my gesindheid op selfmoord neergekom.

Ek is beveel om voor almal te kom staan en die Fascistiese saluut te gee. Ek het geweier. ’n Offisier het my geslaan en probeer om my arm met geweld op te lig, maar hy kon nie daarin slaag nie. ’n Swaar sak sand is toe op my rug vasgemaak en ek is gedwing om in ’n sirkel te hardloop terwyl my bene met ’n gordel geslaan is. Ek het eindelik flou geword en is toe in eensame opsluiting geplaas. Om myself op te beur, het ek begin om Bybeltekste op die selmuur te skryf. Twee offisiere het ingekom en my probeer oorreed om te salueer. My onversetlike weiering om so ’n “klein” dingetjie te doen, het hulle dronkgeslaan, veral omdat dit nie meer lank sou wees voordat my vonnis sou verstryk nie. Ek het eindelik verskyn voor ’n groep offisiere en leërgeneeshere, wat besluit het om my na ’n hospitaal te stuur sodat daar getoets kon word of ek verstandelik gesond was. ’n Paar weke later is ek vrygelaat, en in April 1939, na die einde van die oorlog, is ek huis toe gestuur. Daardie pynlike ervarings het nou tot die verlede behoort, en ek het my onkreukbaarheid na my beste vermoë gehandhaaf.

NA-OORLOGSE PROBLEME

Spanje se burgeroorlog het op 1 April 1939 geëindig, maar die wonde wat dit veroorsaak het, het nog jare lank met haat gekanker. Vrees vir weerwraak het oral geheers en talle naamlose aanklagte is ingedien. Daar was ’n atmosfeer van angs, wat vererger is deur die oorlogskade en die voedselskaarste.

Dit was teen hierdie agtergrond dat ek na Barcelona teruggekeer het om te vind dat die vergaderinge van Jehovah se volk ‘doodgeloop’ het en dat hulle predikingswerk gestaak is. Ek en Paco het sonder versuim met ander saamgewerk om die vergaderinge weer in Paquita Arbeca se huis te hou (Hebr. 10:24, 25). Ons het dit op Sondae gehou, en ons studies gebaseer op die Bybel, op ou eksemplare van Die Wagtoring en boeke soos Government, Verlossing en Rykdom. Ons predikingswerk is beperk tot informele gesprekke.

Toe die oorlog in 1936 uitgebreek het, is ons kontak met die Wagtoringgenootskap in Brooklyn, New York, verbreek. Al was die oorlog verby, kon ons nie met die Genootskap kommunikeer nie. Waarom nie? Omdat pos aan sensuur onderwerp was en mense verplig was om patriotiese slagspreuke op die koeverte te skryf. Dit het dus vir ons die beste gelyk om nie briewe te skryf nie.

In 1946 het die Spaanse pers ’n nuusberig bevat oor die Blye Nasies- Teokratiese Byeenkoms van Jehovah se Getuies wat in Cleveland, Ohio, V.S.A., gehou is. Dit het ons hoop laat opvlam. Teen daardie tyd was slagspreuke op pos nie meer nodig nie. Ons het om meer inligting aan die Genootskap geskryf. Hoe bly was ons tog toe ons ’n paar weke later ’n brief en ’n pakkie tydskrifte ontvang! Uiteindelik het vars Bybelwaarheid weer na ons verskroeide veld gesyfer.

HUWELIK ONDER ’N KATOLIEKE DIKTATORSKAP

Die jaar 1946 was om ’n ander rede vir my en Paco ’n vreugdevolle jaar. Ek was amper 29 jaar oud en Paco was 25, en ons het altwee uitgegaan met Katalaanse meisies, Carmen en Maria, wat ook die Bybel bestudeer het en vergaderings bygewoon het. Ek en my broer was baie bewus van die nodigheid om “net in die Here” te trou, en daarom was ons geduldig (1 Kor. 7:39). Ons wou al vier op dieselfde dag trou. Daar was net een probleem. Die enigste huwelikseremonie wat destyds beskikbaar was, was ’n Katolieke. Die vraag was: Hoe kon ons die Katolieke ritus vermy? Ons het eindelik ’n priester gevind wat, teen ’n vergoeding, bereid was om ’n eenvoudige seremonie sonder enige godsdienstooisels in sy kerk toe te laat. Net om homself te beskerm, het hy op die dag van die huwelik weggebly en sake aan die koster oorgelaat. In Oktober 1946 het ek dus met Maria Royo getrou, en Paco met Carmen Parera.

’N SENDELING VAN GILEAD AF WYS VIR ONS HOE OM TE PREEK

In Desember 1947 het John Cooke, wat sendelingopleiding in Gileadskool ontvang het, in Barcelona aangekom. Om die waarheid te sê, voor sy koms was ons vergaderinge meer soos bitsige debatte. Maar hy het vir ons gewys hoe ’n Christenvergadering gehou moet word, en diegene wat nie daarvan gehou het nie, het ons gou verlaat.—1 Kor. 14:33.

Toe het die groot uitdaging gekom. Broer Cooke het vir ons gesê dat ons van huis tot huis moes begin preek indien Spanje ooit met die “evangelie” gedek moes word. “Jy moet van jou verstand af wees, broer Cooke!” het ons vir hom gesê. “Jy kan nie so hier in Franco se Spanje preek nie. Miskien in Londen of New York, maar nie hier nie!” Wat het hy gedoen toe hy sien dat ons nie bereid was om te preek nie? Hy het alleen gaan preek en vir ons gewys dat dit gedoen kan word. Dit het ons so skaam gemaak dat ons ook begin preek het. As hy, ’n buitelander, met sy swaar aksent, bereid was om vir ons mense te preek, was ons ook bereid om dit te doen. Hy het vir ons gewys hoe om versigtig te preek en nie al die woonstelle in ’n gebou te besoek nie, maar om eerder hier en daar in die gebied te preek sodat die polisie ons nie kon vang nie.

Baie mense dwarsoor Barcelona het gunstig op ons boodskap gereageer, en ons groepie was gou ’n gemeente. Mettertyd kon ons verskeie gemeentes in die stad stig. Omdat die werk so goed gevorder het, het ek en Paco besluit dat ons nou ‘ons vleuels kon uitslaan’ en in die nabye stede Hospitalet en Prat de Llobregat en ander kusdorpe kon gaan preek om die getuieniswerk daar ’n groter stoot te gee. Wanneer ons nou terugkyk, is dit werklik bemoedigend om te sien dat daar 52 groot gemeentes in die stad Barcelona is, 9 in Hospitalet en nog etlikes in dorpe al langs die kus, waar ons as ouere manne kon dien. Ons meen natuurlik nie dat hierdie vermeerdering aan ons te danke is nie, maar ons is bly dat ons ’n aandeel daaraan kon hê.—1 Kor. 3:5-9.

GESINSEËNINGE

10 Junie 1951 was vir ons familie ’n “geskiedkundige” dag. Op daardie dag is vyf van ons in ’n dammetjie in broer Brunet se tuin gedoop—ek, Carmen, Maria, Paco en ons moeder. Weens omstandighede het ons baie jare op daardie vreugdevolle geleentheid gewag.

Gedurende die moeilike vyftigerjare het ek en Maria drie groot seëninge gehad—die geboorte van ons drie kinders, David, Francisco (Paquito) en Isabel. Dit het die geweldige verantwoordelikheid op ons geplaas om hulle groot te maak volgens die ‘eis van hulle weg’, wetende dat hulle, wanneer hulle ouer is, waarskynlik nie daarvan sou afwyk nie.—Spr. 22:6.

TEISTERING DEUR DIE POLISIE

In 1955 is reëlings getref vir ’n geheime byeenkoms in die woud op die Tibidaboberg wat op Barcelona uitkyk. Dit sou saamval met ’n besoek deur broer F. W. Franz. Ons byeenkomste is gewoonlik in die vorm van ’n piekniek gehou ingeval die polisie ons sou betrap. Hierdie keer is die “piekniek” deur meer as 500 bygewoon. Nog ’n lastige faktor was dat die polisie die vorige week ’n klopjag op ’n broer se huis uitgevoer het en beslag gelê het op ’n eksemplaar van die byvoegsel tot die Informant wat die reëlings vir hierdie byeenkoms aangekondig het. Ek en Maria het die “piekniek” saam met ons twee seuntjies, David en Paquito, bygewoon.

Die program het begin en alles het normaal gelyk totdat ons skielik gesien het hoedat vier mans teen die heuwel op hardloop, die een met ’n pistool in sy hand. Hulle het ons beveel om nie te beweeg nie. Ja, jy het reg geraai, dit was die polisie in burgerdrag. Omdat hulle gedink het dat hulle ’n groot vangs gemaak het, het hulle ons almal—manne, vroue en kinders—in wagtende vragmotors laat klim en ons na die polisiehoofkwartier geneem vir identifikasie en ondervraging. Stel jou voor hoe vies party van hulle was toe hulle besef dat hulle onskadelike gesinne gevange geneem het wat vergader het om die Bybel te bestudeer, eerder as ’n geheime politieke groep. Hoewel dit geen ernstige gevolge gehad het nie, het hierdie ervaring ons onkreukbaarheid versterk en ons gehelp om Jehovah se beskerming te waardeer.—Ps. 34:8.

’N TRAGEDIE TREF ONS

Teen 1963 was ons kinders, David, Paquito en Isabel, onderskeidelik 13, 11 en 9 jaar oud en het hulle mooi vordering gemaak in die waarheid. Dit het ons baie bly gemaak om te sien hoedat hulle velddiens doen en die Bybelstudievergaderinge wat ons in woonhuise bygewoon het, saam met ons geniet het.

Maar eendag in Maart van daardie jaar het Paquito van die skool af by die huis aangekom en gekla van ’n kwaai hoofpyn. Minder as drie uur later het hy aan meningitis gesterf.

Hierdie verskriklike verlies het ons so diep getref dat ek nie weet hoe ons daarin geslaag het om begrafnisreëlings te tref nie, want selfs hierin moes ons met die Katolieke Kerk rekening hou. Ons wou vanselfsprekend ’n siviele begrafnis hê, en daarvoor het ons die goedkeuring van die plaaslike priester nodig gehad. Met ’n dokument wat bewys het dat ons Jehovah se Getuies is, is daardie hindernis te bowe gekom.

Meer as ’n duisend broers, vriende en sakekennisse het by die huis opgedaag. Stel jou voor watter opskudding dit in die buurt veroorsaak het. Die verkeer is geblokkeer en mense op straat het gevra wie die belangrike persoon is wat gesterf het. Daardie baie belangrike persoon was ons dierbare seun, Paquito. Slegs die hoop op die opstanding het ons gedurende daardie moeilike tydperk onderskraag (Joh. 5:28, 29; 11:23-25). As liefdevolle ouers hunker ek en Maria na die dag wanneer ons weer ons seun sal sien en sy opleiding kan voortsit, maar in die nuwe stelsel van dinge wat God vir hierdie aarde belowe het.—2 Pet. 3:13; Jes. 25:8, 9.

Twee weke na die begrafnis is ek na die polisiehoofkwartier ontbied en twee uur lank ondervra. Hulle agente het op die begrafnisskare kom spioeneer en dit was duidelik dat die groot aantal Getuies hulle reaksie uitgelok het. Hulle vrae was daarop gemik om informasie te kry oor broers wat destyds toesig gehou het oor die werk in Spanje. Ek was bewus van hulle taktiek en was vasbeslote om niks te sê wat enigiemand anders kon betrek nie. Ek het vir hulle reguit gesê dat ek nie ’n Judas is nie. Alhoewel hulle my met ’n groot boete gedreig het, het hulle geen bewese aanklag teen my gehad nie, en hulle bluf het gefaal.

LANGVERWAGTE VRYHEID

In 1967 het die Spaanse regering die Wet op Godsdiensvryheid goedgekeur. Dit het groter vryheid vir nie-Katolieke gelowe gewaarborg. Ons het gewonder of die Getuies by hierdie wet sou baat vind en wetlike erkenning sou ontvang. Dit was duidelik dat ons predikingswerk van huis tot huis en ons Christelike neutraliteit vir die politieke en kerklike owerhede ’n struikelblok was toe ons inskrywing in die amptelike register van nie-Katolieke gelowe tot Julie 1970 vertraag is.

Ek en Paco het meer as 30 jaar lank vir daardie dag gewag. Ons kon nou ons geloof wettig beoefen, sonder enige vrees. Stel jou voor hoe verheug ons was om in Februarie 1971 die toewyding van die eerste Koninkryksaal in Barcelona by te woon. Ons harte het daardie dag warm geklop toe ons ons stemme verhef het om saam Koninkryksliedere te sing, iets wat Jehovah se Getuies baie jare lank nie in Spanje kon doen nie.

ONKREUKBAARHEID EN DIE BAIE SEËNINGE WAT DIT MEEBRING

Wanneer ek aan byna vyf dekades in Jehovah se diens terugdink, moet ek erken dat sy goedertierenheid en seën met ons was terwyl ons probeer het om die weg van onkreukbaarheid te bewandel (Ps. 26:1-3, vgl. NW). Hy het vir my en Maria geseën met lojale kinders wat op die weg van die waarheid volhard. Ons is tot vandag toe ’n gelukkige, hegte gesin met ’n sterk liefdesband. Ons seun David is in 1972 tronk toe gestuur weens sy standpunt van Christelike neutraliteit. Dit was die eerste keer dat hy van die gesin geskei is en dit was vir ons almal ’n hartverskeurende ervaring. Maar ons het begryp wat die rede daarvoor was, en dit het ons versterk om te sien hoe hy sy Christelike onkreukbaarheid gedurende drie jaar in die tronk behou. Na sy vrylating in 1976 het hy die verdere voorreg gehad om in Bethel, die Wagtoringgenootskap se takkantoor hier in Barcelona, te dien. Later het hy met ’n toegewyde Christin getrou wat ook ’n ruk lank saam met hom daar gedien het. Ons het onlangs die verblydende seën gehad om die grootouers van ons eerste kleinkind, Jonathan, te word.

In 1976 het ons dogter, Isabel, begin om as ’n pionier (’n voltydse Koninkryksverkondiger) te getuig. Sy vergesel nou haar man in die kringwerk en besoek gemeentes hier in Katalonië.

Jehovah het ons tydens talle moeilike beproewings deur die jare heen onderskraag. En ons is maar doodgewone mense, met dieselfde swakhede as die res van die mensdom. Maar ons ondervindinge as gesin het ons geleer om geduldig op Jehovah te steun en te wag dat sy wil geskied. Ons is vasbeslote om te doen wat Dawid hom in Psalm 26:11, 12 (NW) voorgeneem het: “Wat my betref, ek sal in my onkreukbaarheid wandel. O, koop my los en betoon guns aan my. My eie voet sal stellig op ’n gelyk plek staan; onder die vergaderde menigtes sal ek Jehovah seën.”

[Prent op bladsy 25]

Francisco (links), en Ramón Serrano

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel