Waarom moet ons God vrees?
“VREES God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom” (Openbaring 14:7). Hierdie aansporende woorde is vir die eerste keer in ’n visioen deur die bejaarde apostel Johannes gehoor. ’n Engel wat in die middel van die lug gevlieg het, het dit geuiter en dit veral gerig tot mense wat gedurende hierdie tyd van die einde, die aanvangstydperk van “die dag van die Here”, lewe.—Openbaring 1:10.
Maar hoe onvanpas klink hierdie woorde dalk vir sommige! Talle trek selfs die bestaan van God in twyfel, laat staan nog om hom te vrees. Vir sommige wat beweer dat hulle Christene is, is die idee om God te vrees ouderwets. Die liefde vir God is vir hulle aanvaarbaar. Maar om hom te vrees, grens skynbaar meer aan die Middeleeue. Is dit hoe jy die saak beskou?
Jesus se vrees vir God
Indien wel, dink aan wat dit beteken om ’n Christen te wees. Volgens die Bybel beteken dit dat ons noukeurig in die voetspore van Jesus Christus volg (1 Petrus 2:21, NAV). Hoewel daar geen twyfel bestaan dat Jesus God liefgehad het nie, sê die Bybel uitdruklik dat hy hom ook gevrees het. Jesaja het profeties van Jesus gesê dat hy “die Gees van kennis en van die vrees van die HERE” sou hê (Jesaja 11:2). Dit is egter interessant dat hierdie vrees nie ’n las op Jesus was nie. Ons moet nie daaraan dink as die manier waarop ’n kind ’n wrede vader vrees of waarop ’n bevolking deur ’n tirannieke heerser geterroriseer word nie. Trouens, Jesaja het ook van Jesus geprofeteer: “Hy het ’n welgevalle aan die vrees van die HERE” (Jesaja 11:3). Hoe kan dit jou geval om vir iemand bang te wees?
Feit is dat die woord “vrees” in die Bybel ’n paar fyn betekenisverskille het. Daar is die fisiese vrees of angs wat ons ervaar wanneer iemand ons leed wil aandoen. Byvoorbeeld: die Israelitiese leërs “was baie bang” vir Goliat (1 Samuel 17:23, 24). Dan is daar die vrees vir die skielik onverwagte of onbekende, soos Sagaria ervaar het toe Jehovah se engel skielik voor hom in die tempel verskyn het (Lukas 1:11, 12). Maar die vrees wat Jesus vir sy Vader gehad het, was anders as hierdie vrese.
Die oorspronklike Hebreeuse en Griekse woorde wat in die Bybel vir “vrees” gebruik word, slaan dikwels eerder op ’n diepe eerbied en ontsag vir God. Dít was die godvrugtige vrees wat Jesus gehad het en wat die engel almal wat vandag leef, aangemoedig het om aan te kweek. Hierdie eerbiedige ontsag, of vrees, skiet wortel in ons hart wanneer ons oor Jehovah se mag en krag peins en dit met ons eie volslae nietigheid vergelyk. Dit neem toe wanneer ons oor sy magtige werke nadink, en dit word ook ontwikkel deur biddend die feit te onthou dat hy die Opperregter is met die mag om lewe te gee, asook om die ewige dood as straf op te lê.
Sulke vrees is lewensbelangrik, omdat dit ons daarvan weerhou om verkeerd te doen en God as ’t ware as vanselfsprekend te aanvaar. Dit help ons om ’n gesindheid te vermy soos: ‘God sal my vergewe. Hy weet dat ek swak is’, wanneer ons voor versoeking te staan kom en eerder daarvoor sal swig as daarteen sal stry. Soos Spreuke 8:13 ons meedeel: “Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is.” En Spreuke 16:6 voeg by: “Deur die vrees van die HERE wyk ’n mens of van die kwaad.” Adam en Eva het nie hierdie behoorlike, heilsame vrees vir Jehovah aan die dag gelê toe hulle aan hom ongehoorsaam was nie. Die gevolge? Hulle het ’n ander, negatiewe soort vrees ervaar en van sy teenwoordigheid weggekruip. Adam het gesê: “Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees.”—Genesis 3:10.
Job was, in teenstelling met Adam en Eva, ’n man wat ondanks die kwaaiste beproewing getrou aan Jehovah gebly het. Waarom? Jehovah self het gesê dat Job ‘’n man was wat hom gevrees het en wat derhalwe van die kwaad sou afwyk’ (Job 1:8; 2:3). Vandag moet ons seker wees dat Jehovah dieselfde van ons kan sê! Die vrees vir God is gepas, en dit moet ’n deel van ons denke wees.
Vrees vir God en vrees vir die mens
Vrees vir God is ’n natuurlike gevoel wat ons dieselfde sekuriteit gee wat ’n vader, wat diep respek inboesem, aan sy kinders gee. Sulke vrees help ook om die onaangename, negatiewe vrees vir die mens, wat ’n strik is, te verdryf (Spreuke 29:25). Iemand wat nie hierdie les geleer het nie, was Uria, die seun van Semaja, wat voor 607 v.G.J. saam met Jeremia in Jerusalem gepreek het. Anders as Jeremia het Uria toegelaat dat vrees vir die koning hom verstrik. Hy het opgehou preek en van sy toewysing gevlug. Die koning het hom uiteindelik gevang en laat doodmaak (Jeremia 26:20-23). Hoe kon Uria daardie tragiese dood vermy het? Deur ’n vrees vir Jehovah op te bou wat sterker as sy vrees vir die mens was.
Na sy opstanding en hemelvaart het Jesus sy volgelinge gemaan: “Vrees vir niks wat jy sal ly nie” (Openbaring 2:10). Die geskiedenis toon hoe belangrik daardie raad is, aangesien Christene—van die Romeinse arenas tot die Nazi-konsentrasiekampe—voor skrikwekkende situasies te staan gekom het. Hoe was hulle in staat om die vrees te oorwin wat hulle vyande by hulle probeer inboesem het? Deur Jesus se woorde toe te pas: “Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie; maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp.”—Lukas 12:4, 5.
In Psalm 19:10 leer ons: “Die vrees van die HERE is rein: dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die HERE is waarheid—tesame is hulle regverdig.” Daar is dus niks negatiefs omtrent die vrees vir God nie. Dit is rein en beskermend en maak ’n kneg van God sterker as sy vyande. Soos Jesus, put ’n Christen bevrediging uit hierdie vrees net soos hy ’n welgevalle het aan alle ander seëninge van Jehovah.—Jesaja 11:3.
Dit is derhalwe heeltemal gepas dat die engel die hele mensdom vandag aanspoor om God te vrees. Sonder behoorlike godvrugtige vrees sal ons waarskynlik voor verkeerde impulse of vrees vir die mens swig. As ons die regte soort vrees aankweek, sal ons gehelp word om verstandig op te tree. “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE” (Spreuke 9:10; Psalm 111:10). Ja, ons moet God met ons hele hart, siel, verstand en krag liefhê (Markus 12:30). En ons moet ook ontsag vir hom hê, hom eerbiedig, of, in die woorde van die engel, ‘God vrees en Hom heerlikheid gee, want die uur van sy oordeel het gekom’.—Openbaring 14:7.
[Prent op bladsy 30]
As Uria ’n diep vrees vir Jehovah gehad het, sou vrees vir die mens nie ’n strik vir hom gewees het nie