Vrae van lesers
Wanneer sal die nasies die uitroep van “vrede en veiligheid” maak?
Soos ons bespreek het in die “Vrae van lesers” wat in ’n onlangse nommer van Die Wagtoringa verskyn het, sal Jehovah binnekort “sy gedagte” in die harte van “die tien horings” (al die politieke magte) sit, naamlik dat hulle hulle gesag en mag aan die “helderrooi wilde dier” – die Verenigde Nasies – gee. Hierdie dier word ook “die beeld van die wilde dier” genoem (Op. 13:14, 15; 17:3, 16, 17). Dan sal “die tien horings” en die wilde dier met sy nuwe gesag valse godsdiens wêreldwyd verwyder. Sal die nasies die uitroep van “vrede en veiligheid”b maak voordat of nadat valse godsdiens vernietig is? – 1 Tess. 5:3.
Eenvoudig gestel, ons weet nie vir seker wanneer die uitroep van “vrede en veiligheid” gemaak sal word nie. As ons al die besonderhede geweet het, sou dit nie vir ons nodig wees om waaksaam en wakker te bly nie. Maar Jesus het sy volgelinge herhaaldelik aangemoedig: “Hou aan waak” (Matt. 24:42; 25:13; 26:41). Kom ons ondersoek nou die geïnspireerde profesie waaroor die apostel Paulus in sy brief aan die Tessalonisense geskryf het.
Paulus het geskryf: “Wanneer hulle ook al sê: ‘Vrede en veiligheid!’ sal skielike vernietiging onverwags oor hulle kom” (1 Tess. 5:2, 3). Ons publikasies het Paulus se woorde dikwels so verduidelik: Die uitroep van “vrede en veiligheid” sal gemaak word net voor die groot verdrukking, wat begin met die vernietiging van Babilon die Grote – die wêreldryk van valse godsdiens. Hierdie toekomstige uitroep is al beskryf as die laaste teken dat die groot verdrukking op die punt is om te begin.
Maar ná ’n deeglike studie lyk dit asof daar nog ’n moontlike verduideliking is wat ons in ag moet neem. Dalk sal die uitroep van “vrede en veiligheid” gemaak word nadat valse godsdiens vernietig is. Hoekom is dit moontlik die geval? Kyk na die volgende vrae.
Watter rol het valse godsdiens gespeel in die oorloë van die nasies? Die Bybel verduidelik: “In haar [“die groot prostituut”, Babilon die Grote] is die bloed [gevind] van almal wat op die aarde doodgemaak is” (Op. 17:1, 5; 18:24). Regdeur die geskiedenis het die groot prostituut die oorloë van die nasies bevorder en was sy dikwels die oorsaak van terrorisme. So sy het oorlog en geweld bevorder, nie vrede en veiligheid nie. Dit laat die vraag ontstaan: Sal die nasies die uitroep van “vrede en veiligheid” maak eers nadat hulle Babilon die Grote verwyder het? Dit is moontlik, maar ons kan nie met sekerheid sê nie.
Wat sal gebeur ná die uitroep van “vrede en veiligheid”? Paulus sê: “Skielike vernietiging [sal] onverwags oor hulle kom” (1 Tess. 5:3). As die wêreld se politieke magte die uitroep van “vrede en veiligheid” maak nadat valse godsdiens verwyder is, sal die vernietiging van al daardie nasies dan baie skielik daarop volg.
Hoe sal Jehovah se volk reageer op die gebeure wat voorspel is? Paulus sê: “Broers, julle is nie in die duisternis sodat daardie dag onverwags oor julle sal kom soos dit oor ’n dief sal kom nie” (1 Tess. 5:4). Dink hieraan: As die uitroep van “vrede en veiligheid” gemaak word nadat valse godsdiens vernietig is, sal Jehovah se volk dan weet dat die nasies binnekort vernietig sal word. Maar uit die nasies se oogpunt sal hulle vernietiging soos ’n dief kom – skielik, sonder waarskuwing.
So, wat kan ons verwag? In die nabye toekoms sal “die tien horings” en die wilde dier aan wie hulle hulle mag en gesag sal gee, valse godsdiens vernietig. Dit sal die begin van die groot verdrukking wees. Ons weet ook dat die nasies op die een of ander stadium die uitroep van “vrede en veiligheid” sal maak. Wanneer sal dit gebeur? Ons het twee moontlikhede bespreek. Moontlikheid een: Daardie uitroep sal gemaak word voor die vernietiging van valse godsdiens. Moontlikheid twee: Daardie uitroep sal kom nadat die politieke elemente valse godsdiens heeltemal vernietig het. Ons sal moet wag en sien wat gebeur. Bybelprofesieë word dikwels heeltemal verstaan wanneer dit vervul word of nadat dit vervul is. – Vergelyk Johannes 12:16.
Wat intussen die meeste saak maak, is nie wanneer die toekomstige uitroep van “vrede en veiligheid” sal wees nie, maar dat ons getrou aan God bly. Ons moet “wakker en helder van verstand bly” sodat ons heeltemal voorbereid is, maak nie saak in watter volgorde dinge sal gebeur nie. – 1 Tess. 5:6.
a Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring vir November 2025.
b Die bewoording wat die apostel Paulus gebruik, laat ruimte vir die moontlikheid dat dit nie een nie, maar ’n reeks uitroepe kan wees.