Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 9/1 bl. 5-6
  • Die Bybel se beskouing van vrede en veiligheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Bybel se beskouing van vrede en veiligheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrede en veiligheid—’n Voorspel tot wat?
  • Tydfaktore geopenbaar
  • ‘Botsing’ tussen wêreldmoondhede
  • “Vrede en veiligheid”—Dan “skielike verderf”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Kyk verder as mensgemaakte “vrede en veiligheid”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Vrede van God af—Wanneer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Ware vrede en veiligheid is ophande!
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 9/1 bl. 5-6

Die Bybel se beskouing van vrede en veiligheid

Baie mense aanvaar sonder meer die skynbare neiging in die rigting van groter wêreldeenheid en die vrede en veiligheid wat dit kan bring. Hulle hoop dat so ’n beweging tot ’n beter wêreld sal lei. Maar die Bybel dui aan dat daar meer daarby betrokke is.

VREDE en veiligheid is ’n onderwerp wat vir Christene van besondere belang is as gevolg van wat die apostel Paulus onder inspirasie aan ’n Christengemeente van die eerste eeu geskryf het. Sy woorde is in die Bybel in 1 Thessalonicense 5:3 opgeteken: “Wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.” Hierdie teks gee aanleiding tot belangrike vrae.

Vrede en veiligheid—’n Voorspel tot wat?

As jy die konteks lees van Paulus se woorde wat hierbo aangehaal word, sal jy sien dat diegene wat “vrede en veiligheid” sê nie waaksame Christene is nie, maar eerder mense is wat nie ag slaan op wat werklik gebeur nie. Hulle verkeer in ’n gevaarlike posisie maar is nie daarvan bewus nie, omdat hulle meen dat die situasie werklik beter word. Paulus het egter aangaande Christene gesê: “Oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie” (1 Thessalonicense 5:1). Ja, ons moet bewus wees van God se tydrooster van gebeure. Waarom? Omdat Paulus gesê het dat ’n tyd van skielike verderf, wat “die dag van die Here” genoem word, “net soos ’n dief in die nag” sal kom.—1 Thessalonicense 5:2.

Wat sluit die voorspelde praatjies van vrede en veiligheid in? Dit moet ongetwyfeld meer as blote praatjies wees. Die mensdom praat al bykans net so lank van vrede as wat hulle oorloë voer. Paulus se woorde moet op ’n tyd dui wanneer dit lyk of die nasies werklik vrede en veiligheid tot stand bring. Maar dit is blote skyn. ’n Oënskynlike vrede en veiligheid wat tot skielike verderf lei, is gewis nie ware vrede of werklike veiligheid nie.

Jesus het ook van hierdie skielike verderf gepraat. Hy het dit beskryf as ’n “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie”. Honderde jare voor Jesus het die profeet Daniël ook daarvan gepraat, en hy het dit beskryf as “’n tyd van benoudheid . . . soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie”.—Mattheüs 24:21; Daniël 12:1.

Hetsy dit ’n groot verdrukking of ’n tyd van benoudheid genoem word—dit sal volgens die profesieë elke spoor van Satan se aardse stelsel uitwis. Pleks dat dit goddelike goedkeuring aandui, lei die voorspelde praatjies van vrede en veiligheid eerder tot presies die teenoorgestelde!—Vergelyk Sefanja 3:8.

Tydfaktore geopenbaar

Is die onlangse oënskynlike stappe in die rigting van groter wêreldeenheid en die gevolglike verwagtinge van vrede en veiligheid ’n vervulling van Paulus se profetiese waarskuwing? Wel, hierdie tydskrif het al dikwels die aandag daarop gevestig dat ons sedert 1914 die vervulling van talle Bybelprofesieë in verband met Jesus se hemelse teenwoordigheid in Koninkryksmag sien (Mattheüs, hoofstukke 24, 25; 2 Timotheüs 3:1-5; Openbaring 6:1-8). Jesus het daarop gewys dat Jehovah se dag, wanneer skielike verderf oor die goddeloses gaan kom, sal aanbreek terwyl lede van die geslag mense wat die begin van hierdie tyd gesien het nog lewe.—Lukas 21:29-33.

Die apostel Paulus het ook ’n tydfaktor genoem. Hy het gesê: “Terwyl hulle praat van vrede en veiligheid, word hulle meteens deur onheil oorval.” Hierdie vertaling van Paulus se woorde in The New English Bible toon duidelik dat die groot verdrukking plaasvind “terwyl hulle praat”. Soos ’n dief in die nag—onverwags—sal vernietiging kom wanneer dit die minste verwag word, wanneer die aandag van die meeste mense op hulle verwagte vrede en veiligheid is. Hoewel ons dus nie nou beslis kan sê dat die huidige situasie van vrede en veiligheid Paulus se woorde vervul nie—of in watter mate die praatjies van vrede en veiligheid verder sal moet ontwikkel nie—waarsku die feit dat sulke praatjies nou meer as ooit tevore gehoor word Christene dat hulle te alle tye waaksaam moet bly.

‘Botsing’ tussen wêreldmoondhede

Toe hy van die tyd van benoudheid gepraat het, het die profeet Daniël ook ’n tydfaktor genoem. Hy het getoon dat die tyd van benoudheid sou plaasvind aan die einde van ’n langdurige konflik tussen twee magsblokke, waarvan die een “die koning van die noorde” en die ander “die koning van die suide” genoem word (Daniël 11:5-43). Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog word hierdie twee magsblokke verteenwoordig deur ’n kapitalistiese “koning van die suide” en ’n sosialistiese “koning van die noorde”.

Daniël het voorspel dat die bittere wedywer tussen hierdie twee blokke, wat gedurende die afgelope 45 jaar duidelik was, soos ’n “botsing” sal wees, net soos twee stoeiers wat worstel om die oorhand te kry. Dit lyk of die botsing onlangs afgeneem het. In Mei verlede jaar het die Sowjetunie se Minister van Buitelandse Sake byvoorbeeld verklaar dat die Koue Oorlog verby is. In Junie het die tydskrif Time melding gemaak van ’n spitsberaad tussen die Verenigde State en die Sowjetunie en gesê: “Sommige van die verdrae oor wapenbeheer en die toets van kernwapens sou ’n paar jaar gelede na ’n besondere prestasie gelyk het. Nou lyk selfs al die verdrae saam na ’n antiklimaks.”

Die tyd sal leer of hierdie oënskynlike vriendskap tussen die twee supermoondhede tydelik of permanent is. Een ding is egter duidelik. Die tydperk waarvan Jesus gepraat het, het al ver gevorder. En wêreldgebeure dui daarop dat die gebeure wat deur die apostel Paulus en die profeet Daniël voorspel is voor die deur is. Al kan onlangse politieke verwikkelinge in sekere mate aan die invloed van die Christendom se kerke toegeskryf word, sal dit nie tot blywende vrede lei nie. Die getuienis toon dat dit presies die teenoorgestelde vir die nasies van hierdie wêreld tot gevolg sal hê.

[Prent op bladsy 6]

Die tyd sal leer hoe lank die oënskynlike vriendskap tussen die twee supermoondhede sal hou

[Erkenning]

USSR Mission to the UN

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel