BYBELKARAKTER
Obadja – Ontwikkel vrees vir God
Obadja was in beheer van die huishouding van goddelose koning Agab, die heerser wat toegelaat het dat Baälaanbidding die land vul. Maar Obadja het “van jongs af” ’n gesonde vrees vir Jehovah ontwikkel (1 Kon. 18:1-13). So toe koningin Isebel beveel dat al Jehovah se profete doodgemaak moet word, het Obadja geweet dat hy moedig sou moes optree om te keer dat dit gebeur. Om net een profeet weg te steek, was gevaarlik, maar Obadja het 100 profete weggesteek en het gedurende ’n hongersnood vir hulle kos geneem! Dink net hoe moeilik dit was om nie uitgevang te word deur die honderde valse profete wat vir die koning en die koningin gewerk het nie. – 1 Kon. 18:19.
Wat kan ons leer by hierdie man wat vrees vir God gehad het? Al was Obadja bang vir Agab, het hy groter vrees vir God gehad. Dit het hom die moed gegee om sy lewe te waag om sy broers te beskerm. As ware godsdiens verbied word waar ons woon, kan ons ook vrees vir God ontwikkel. Hierdie soort vrees sal ons versterk om ons broers en susters wat moeilike tye deurmaak, te ondersteun.