Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w26 Februarie bl. 26-29
  • Kinders is “’n erfdeel van Jehovah”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kinders is “’n erfdeel van Jehovah”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE UITDAGINGS
  • WAT VERWAG JEHOVAH VAN OUERS?
  • JEHOVAH WIL HÊ DAT JULLE SUKSESVOL MOET WEES
  • Ouers – Leer julle kinders om Jehovah lief te hê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Ouers – Help julle kinders om Jehovah lief te kry
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Ouers, voorsien in die behoeftes van julle gesin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Hoe om ’n geestelike sterk gesin te bou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
w26 Februarie bl. 26-29
’n Pa en ma is gelukkig en gee hulle dogtertjie ’n drukkie.

Kinders is “’n erfdeel van Jehovah”

WAARAAN dink jy wanneer jy die woord “erfdeel” hoor? Jy dink dalk aan geld, ’n stuk eiendom of ’n kosbare erfstuk wat jy by ’n geliefde familielid gekry het. Wat dit ook al is, ’n erfdeel is waardevol, en jy wil sekerlik goed daarna kyk.

Die Bybel noem kinders “’n erfdeel van Jehovah” (Ps. 127:3). Christenouers beskou beslis hulle kinders as kosbare geskenke van hulle hemelse Vader en wil alles doen wat hulle kan om hulle veilig te hou en om fisies, emosioneel en geestelik goed vir hulle te sorg.

Maar ongelukkig beskou party ouers van vandag nie hulle kinders as ’n beloning van God nie (Jes. 49:15; 2 Tim. 3:​1-3). Ander wil dalk regtig vir hulle kinders sorg, maar sukkel om dit te doen as gevolg van verskillende uitdagings. Wat is party van hierdie uitdagings wat dit vir ouers moeilik maak om vir hulle kinders te sorg? Wat verwag Jehovah van ouers? En hoe kan Christenouers hulle kinders suksesvol grootmaak?

DIE UITDAGINGS

  • Druk van die gemeenskap en die familie. In party dele van die wêreld ontvang ouers met baie kinders meer respek van die gemeenskap. Daarom ondervind paartjies dalk druk van hulle familie of hulle bure om baie kinders te hê – dalk meer as waarvoor die paartjie persoonlik kan sorg.

  • Bekommernis oor die toekoms. In lande waar die sterftesyfer van babas hoog is as gevolg van wanvoeding, siekte en beperkte gesondheidsdienste het party paartjies baie kinders om seker te maak dat ten minste party van hulle volwassenheid bereik. Ander paartjies kies dalk om baie kinders te hê om seker te maak dat daar iemand sal wees om vir hulle as ouers te sorg wanneer hulle oud word. Dit is veral waar in lande waar die regering nie vir bejaardes hulp of geld voorsien nie.

  • Gesinsbeplanning. In ander gebiede het party paartjies beperkte toegang tot voorbehoedmiddels. Ander is bang vir die newe-effekte van lae gehalte voorbehoedmiddels wat aan hulle beskikbaar is. En ander kan nie voorbehoedmiddels bekostig nie omdat dit baie duur is.a

WAT VERWAG JEHOVAH VAN OUERS?

’n Gesin geniet tyd saam in ’n park. Die pa luister aandagtig na hulle tienerdogter terwyl sy sê hoe sy voel. En die ma speel met ’n bal saam met hulle jong seun.

Spandeer tyd saam met elkeen van julle kinders

Voorsien in julle kinders se behoeftes. Jehovah het ouers die verantwoordelikheid gegee om materieel vir hulle minderjarige kinders te sorg. Hy verwag dat ouers gewillig moet wees om hard te werk om vir elke kind kos te voorsien, sowel as klere en ’n plek om te bly. Jehovah verwag ook dat ouers hulle kinders moet opvoed. So Christenouers stuur nie net hulle kinders na koshuise nie. Hulle maak eerder seker dat hulle kinders by hulle bly totdat hulle groot is sodat hulle behoorlike opvoeding en persoonlike aandag kan kry, wat hulle veilig en geliefd laat voel. Maar Jehovah is redelik; hy verwag nie dat ouers ryk moet wees nie. Om die waarheid te sê, Jehovah het hardwerkende maar arm ouers gekies om sy eie geliefde Seun groot te maak. – Matt. 13:​55, 56; Luk. 2:24.

Bybelbeginsel: “Ja, as iemand nie vir sy eie mense sorg nie, veral nie vir lede van sy huisgesin nie, het hy die geloof verwerp en is hy erger as iemand sonder geloof.” – 1 Tim. 5:8.

Jehovah verstaan dat ouers dalk praktiese hulp nodig sal hê wanneer hulle ouer word. Om die waarheid te sê, een manier hoe kinders hulle ouers kan eer, is deur te reël dat daar vir hulle gesorg word later in hulle lewe (Eks. 20:12; 1 Tim. 5:4). Maar Jehovah is gelukkig wanneer ouers hoofsaaklik dink oor hoe hulle vir hulle kinders sal sorg eerder as oor hoe hulle kinders dalk vir hulle sal sorg. – 2 Kor. 12:14.

Voorsien in hulle geestelike behoeftes. Christenouers het ook die verantwoordelikheid om hulle kinders op te lei om Jehovah lief te hê en te aanbid. Hy beskou die geestelike opleiding wat ouers voorsien as ’n noodsaaklike deel van hulle kinders se opvoeding. – Deut. 6:​6, 7.

Bybelbeginsel: “Hou aan om [julle kinders] in die dissipline en riglyne van Jehovah op te voed.” – Ef. 6:4.

JEHOVAH WIL HÊ DAT JULLE SUKSESVOL MOET WEES

’n Paartjie hou ’n gesprek in hulle huis. Die Bybel is oop op die tafel voor hulle.

Bespreek vooraf hoeveel kinders julle graag wil hê

Beplan vooruit. As julle dit oorweeg om kinders te hê, dink mooi oor julle omstandighede. Byvoorbeeld, sal julle genoeg geld hê om vir baie kinders se kos, klere en opvoeding te betaal? As julle dit nie kan doen nie, bespreek saam as ’n paartjie hoeveel kinders julle graag wil hê sodat julle vir enige kinders wat julle besluit om te hê, kan sorg op die manier wat Jehovah verwag. Jehovah verstaan natuurlik dat ’n mens nie alles in die lewe kan beplan nie (Pred. 9:11). Maar hy sal julle opregte pogings seën om suksesvolle ouers te wees.

Bybelbeginsels: “Die planne van hardwerkende mense lei tot sukses, maar almal wat oorhaastig is, sal arm word.” – Spr. 21:5.

“Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan bereken nie eers die koste om te sien of hy genoeg het om dit te voltooi nie?” – Luk. 14:28.

Stel Jehovah eerste in julle gesin. Maak die aanbidding van Jehovah die belangrikste ding vir julle gesin. As julle alreeds kinders het, wees vasbeslote om elkeen van hulle te leer om Jehovah lief te hê. Help hulle om by gemeentelike vergaderinge aandag te skenk en te leer. Behou ’n weeklikse roetine vir Gesinsaanbidding. Lei julle kinders in die bediening op. Moenie julle verantwoordelikhede as ouers vir julle ouer kinders of ander familielede gee nie. Om kinders groot te maak wat Jehovah liefhet, sal tyd en inspanning verg, maar dit hou baie seëninge in.

Bybelbeginsel: “Niks gee my groter vreugde as wanneer ek hoor dat my kinders voortgaan om die weg van die waarheid te volg nie.” – 3 Joh. 4.b

Vertrou op Jehovah. Of julle nou daaraan dink om ’n gesin te begin of alreeds kinders het, wees oortuig dat Jehovah se standaarde belangriker is as plaaslike kultuur of gebruike.

Collage: 1. Ouers sit saam met hulle seun gedurende ’n gemeentelike vergadering. Die seun steek sy hand op om te antwoord. 2. ’n Gesin werk saam in die veldbediening. Die pa werk saam met die tienerdogter terwyl die ma saam met die twee jonger kinders werk.

Om in die geestelike behoeftes van kinders te voorsien, verg tyd en inspanning

As julle besluit om die aantal kinders wat julle sal hê, te beperk, vertrou dat Jehovah op julle oudag nog steeds vir julle sal sorg. Weerstaan enige druk om kinders as ’n tipe “aftreeplan” te beskou. Julle hoef nie bang te wees dat julle niemand sal hê om vir julle te sorg nie. Jehovah het belowe om vir julle te sorg, en hy hou altyd sy beloftes. – Jos. 23:14.

Bybelbeginsels: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart, en moenie op jou eie begrip staatmaak nie. Neem hom in ag in alles wat jy doen, en hy sal jou paaie gelykmaak.” – Spr. 3:​5, 6.

“Ek was eens jonk en nou is ek oud, maar ek het nog nooit gesien dat ’n regverdige verlaat word of dat sy kinders na brood soek nie.” – Ps. 37:25.

“Hou dan aan om eers die Koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.” – Matt. 6:33.

Kinders is kosbare geskenke wat Jehovah vir ouers gegee het. Jehovah is sekerlik baie gelukkig wanneer Christenpaartjies vir hulle kinders sorg op die manier hoe hy wil hê hulle moet! Hulle voorsien liefdevol in die fisiese, emosionele en geestelike behoeftes van hulle kinders; hulle beplan die grootte van hulle gesin; en hulle stel God se vereistes getrou bo plaaslike kultuur of gebruike. Wanneer Christenpaartjies dit doen, wys hulle dat hulle kinders ’n kosbare geskenk is – “’n erfdeel van Jehovah”.

Hulle voel oor niks spyt nie

’n Pa hou gesinsaanbidding saam met sy vrou en twee jong kinders.

Ly ouers daaronder wanneer hulle kies om die aantal kinders te beperk wat hulle in die wêreld inbring? Dit is ’n vraag wat ouers het in baie dele van die wêreld waar ekonomiese probleme algemeen is. Kyk wat party getroue gesinshoofde in ’n paar van hierdie lande oor die onderwerp te sê gehad het.

Was daar druk op julle geplaas om ’n groot gesin te hê?

“Ja, selfs van party binne die gemeente. Een paartjie het vir ons gesê: ‘Hoekom het julle net een seun? Hier in Afrika is dit asof julle geen kinders het as julle een seun het nie. As julle twee het, is dit asof julle net een het.’ Selfs ná die geboorte van ons tweede dogter het die druk nie opgehou nie.” – Jeremias

Het julle fisies of geestelik daaronder gely omdat julle die grootte van julle gesin beperk het?

“Nee. Eintlik die teenoorgestelde. Omdat ons gekies het om ’n klein gesin te hê, kon ek en my vrou beter voorsien in ons materiële behoeftes en, nog belangriker, ons geestelike behoeftes. Ek het in ’n groot gesin grootgeword, en ek het gesien hoe baie ons pa en ma gesukkel het om seker te maak dat ons het wat ons nodig gehad het en dat ons skool toe kon gaan.” – Jeremias

Hoe voel julle kinders oor julle besluit?

“Ons kinders voel aangemoedig omdat hulle nie dieselfde moeilike tye ondervind het as ander kinders wie se ouers gesukkel het om vir hulle te sorg omdat hulle so baie kinders gehad het nie.” – Filipe

“Ons kinders was gelukkig terwyl hulle grootgeword het omdat hulle veilig en geliefd gevoel het. Ons het altyd die geselskap van geestelik volwasse broers en susters gehad, wat ons aangemoedig het om geestelike doelwitte te stel. Vandag sien ons hoe ons kinders hulle goeie voorbeelde volg.” – Carlos

Het julle baat gevind by julle besluit om die grootte van julle gesin te beperk?

“Ons kon beter voorsien in die materiële behoeftes van ons gesin as gevolg van ons besluit. Ek het omtrent drie jaar gelede ’n goed betaalde werk verloor. Dit was vir ons makliker om daardie verandering in ons omstandighede te hanteer omdat ons ’n klein gesin was en nie baie geld nodig gehad het om vir ons almal te sorg nie.” – Jeremias

“Ons besluit het ons in staat gestel om materieel en geestelik vir ons kinders te sorg. Ons kon in gebiede dien waar daar meer verkondigers nodig was. Dit is vir ons makliker om in elke kind se behoeftes te voorsien. Al ons kinders dien Jehovah en het geestelike doelwitte.” – Lenadi

Watter gedagte wil julle graag met ouers deel?

“Ek het die waarheid gesien van Psalm 34:10b, wat sê: ‘Dié wat Jehovah dien, sal niks goeds kortkom nie.’ Jehovah het alles voorsien wat ek en my gesin nodig het.” – Rafael

a Elke paartjie sal besluit hoeveel kinders hulle sal hê, wanneer hulle hulle sal hê en of hulle voorbehoedmiddels sal gebruik of nie. Niemand moet hulle oordeel vir sulke besluite nie (Rom. 14:​4, 10-13). Hulle sal natuurlik nooit voorbehoedmiddels gebruik wat ’n swangerskap sal beëindig nie. Getroude Christene hou ook die raad in 1 Korintiërs 7:​3-5 in gedagte.

b Al verwys die kinders wat in hierdie Bybelvers genoem word na Christendissipels, voel ouers dieselfde oor hulle eie kinders wat Jehovah dien.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel