‘Waak en wees nugter’
“Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.”—1 Thess. 5:6.
1. Watter vervulling van Bybelprofesie kan ons binnekort verwag?
TOE Jesus die vernietiging van Jerusalem in sy geslag voorspel het, het hy gesê: “Dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word” (Luk. 21:22). In 70 G.J. is God se regverdige oordeel voltrek aan diegene wat sy naam ontheilig, sy wette verbreek en sy knegte vervolg het. God se regverdige voltrekking van oordeel aan hierdie teenswoordige goddelose stelsel sal eweneens binnekort plaasvind en weer eens toon dat al die dinge wat in Bybelprofesie geskryf is gewis vervul sal word. En daardie oordeel sal met skokkende skielikheid kom vir diegene wat onvoorbereid is, want die Bybel sê: “Wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ’n skielike verderf hulle.”—1 Thess. 5:2, 3.
2. Watter raad gee God se Woord ons wat ons in die onmiddellike toekoms kan toepas?
2 Dit is noodsaaklik dat Jehovah se knegte van nou af tot die tyd wanneer God se oordele heeltemal voltrek is, die hoogste mate van waaksaamheid en doelbewustheid aan die dag lê. Die apostel Paulus, wat die geïnspireerde profesie in 1 Thessalonicense 5:2, 3 opgeteken het, het ook gesê: “Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees” (1 Thess. 5:6). Jesus het vermaan: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug” (Luk. 21:36). Die apostel Petrus het eweneens geskryf: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?”—2 Pet. 3:11.
KOM NOU NA JEHOVAH TOE
3. Wat moet ’n persoon doen as hy tot in God se nuwe orde behoue wil bly?
3 Enigiemand wat tot in God se regverdige nuwe orde behoue wil bly, moet nou sonder versuim in ’n regte verhouding met Jehovah en Sy aardse organisasie kom. “Die Naam van die HERE is ’n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut” (Spr. 18:10). “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom” (Jes. 2:2). Ja, enige lede van die nasies wat in God se paradysagtige nuwe orde wil lewe, moet nou na Jehovah se berg, sy ware aanbidding, wat vasstaan en bo enige ander soort aanbidding verhewe is, toestroom.
4. Hoe toon Jesus dat dit noodlottig kan wees om te lank te wag om na Jehovah toe te kom?
4 Waarom is dit nou so dringend om na Jehovah se ware aanbidding te kom? Kan ’n opregte persoon nie wag totdat hy inderdaad sien hoe Jehovah sy vonnisse begin voltrek en hom dan gou aan Sy kant skaar nie? Dit klink moontlik vir party goed. Maar sal daar dan genoeg tyd wees om die regte verhouding met Jehovah op te bou? Die getuienis uit die Skrif antwoord: Nee. Jesus het gewaarsku: “Pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon” (Luk. 21:34, 35). Let daarop dat diegene wat nie geestelik wakker is nie onverhoeds gevang sal word, want daardie “dag” “oorval” hulle “skielik” net soos “skielike verderf” diegene wat “Vrede en veiligheid” sê, sal “oorval”.
5. Watter Bybelvoorbeelde het ons om te toon dat mense van Jehovah moet leer voordat vernietiging begin?
5 Jesus het sulke persone vergelyk met ’n dier wat onwetend in ’n strik inloop. Hy het ook persone wat geestelik onbehoedsaam is, vergelyk met diegene in Noag se dag wat “geen ag . . . geslaan het totdat die vloed gekom en hulle almal weggevee het nie”. Het daardie mense tyd gehad om van Jehovah te leer en onder sy beskerming te kom nadat die Vloed begin het? Nee, want Jesus sê duidelik dat toe die Vloed gekom het, dit “hulle almal weggevee het”. Hulle was nie reeds saam met Noag en sy gesin in die ark van beskerming nie. En was daar enige persone wat weggekom het nadat vurige vernietiging uit die hemel begin reën het toe God sy oordeel aan Sodom en Gomorra voltrek het? Nee, want almal behalwe Lot en sy dogters, wat reeds die gebied verlaat het, is vernietig. Selfs Lot se vrou, wat begin het om uit te gaan maar toe geaarsel het, is deur die vernietigingskragte oorweldig. Dit is met goeie rede dat Jesus gesê het: “Dink aan die vrou van Lot!”—Matt. 24:37-39, vgl. NW; Luk. 17:32.
6. Watter opvatting is in stryd met die oorwig van die bewyse in die Skrif?
6 Kan daar nietemin ’n tydperk na die ondergang van “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, wees wanneer mense die geleentheid kan kry om geestelik te ontwaak en Jehovah te soek? Die oorwig van die bewyse in die Skrif getuig van die teendeel. Benewens die gemelde voorbeelde is daar ook dié van die eerste-eeuse Joodse nasie. Daardie godsdienstige Jode het gemeen dat hulle God goed genoeg aanbid het en nie nodig gehad het om na die prediking van Jesus of van sy volgelinge te luister nie. Jesus het egter gewaarsku: “Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan” (Luk. 21:20-22). Maar toe die Romeinse leërs wat Jerusalem omsingel het in die jaar 66 G.J. terugtrek, het die oormoedige Jode nie begin “vlug” nie. Omdat hulle die terugtrekkende Romeinse leër op die vlug gejaag het deur die agterhoede aan te val, het die Jode geen nodigheid gesien om te vlug nie. Hulle het geglo dat God met hulle was en hulle het selfs nuwe silwer muntstukke met die inskripsie “Jerusalem die Heilige” daarop gemunt. Maar Jesus se geïnspireerde profesie het getoon dat Jerusalem nie meer vir Jehovah heilig was nie.
7. Wat het gebeur met die Jode wat reëlreg in stryd met Jesus se raad gehandel het?
7 Omdat hulle deur valse godsdiens mislei is, het die Jode Jerusalem en Judea nie verlaat toe hulle die geleentheid gehad het om dit te doen nie. Trouens, in die noordelike lente van die jaar 70 G.J. het hulle die teenoorgestelde gedoen! Hulle het na Jerusalem gestroom vir ’n godsdiensfees. Maar op daardie selfde tyd het sterk Romeinse leërs onder generaal Titus teruggekeer, Jerusalem omsingel en al daardie mense vasgekeer, soos diere wat in strikke gevang was. Na ’n kort beleëring is Jerusalem vernietig. ’n Ooggetuie van daardie gebeure, geskiedskrywer Flavius Josefus, het geskryf: “Die getal van diegene wat gedurende die hele oorlog gevange weggevoer is, het op sewe-en-negentig-duisend te staan gekom; en die getal van diegene wat gedurende die hele beleëring vergaan het, was elfhonderdduisend [1 100 000], waarvan die grootste deel wel aan dieselfde nasie behoort het [as die burgers van Jerusalem], maar nie in die stad self gewoon het nie; want hulle het van dwarsoor die land gekom na die fees van die ongesuurde brode, en is skielik deur ’n leër vasgekeer, . . . die hele nasie was nou deur die noodlot toegesluit soos in ’n tronk, en die Romeinse leër het die stad omring.”—Wars of the Jews, Boek VI, hfst. IX, pare. 3, 4, vertaal deur William Whiston.
8. Wat was die gevolg vir Christene wat na Jesus geluister het, in teenstelling met die lot van diegene wat probeer het om op die laaste oomblik te vlug?
8 Maar die Christene wat gewaak en nugter gebly het, was reeds uit Jerusalem en die hele Judea, daar hulle na veiligheid gevlug het toe die geleentheid hom na die jaar 66 G.J. voorgedoen het. Deur die profetiese woorde van Jesus te glo en dienooreenkomstig op te tree, het hulle behouegebly. Maar toe daardie “groot verdrukking” die Jode in 70 G.J. tref, was daar nie meer tyd oor om te vlug nie. Etlike duisende wat probeer het om uit die stad en deur die Romeinse beleëringsmagte te kom, is deur die soldate gevang, wat selfs party van daardie Jode oopgesny het om die goud te kry wat baie van hulle ingesluk het.
HOE OM DIE ERNSTIGER “VERDRUKKING” TE OORLEEF
9, 10. (a) Hoe ernstig sal die “groot verdrukking” wees? (b) Waarom lyk dit of daar geen tydperk van kalmte na die vernietiging van “Babilon die Grote” sal wees nie?
9 Dit was voorwaar ’n ernstige “verdrukking” wat oor die Jode gekom het, presies soos Jesus voorspel het (Luk. 19:43, 44). Maar Jesus se woorde het getoon dat ’n veel groter “verdrukking” in ons dag, gedurende Jehovah se ‘dag van wraak’, sou kom. In antwoord op ’n vraag oor die “teken” van sy “teenwoordigheid” het Christus gesê: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:3, 21, vgl. NW). Hierdie “verdrukking” sal nie alleen oor “Babilon die Grote” kom nie, maar ook oor die res van Satan se stelsel, onder meer sy politieke, maatskaplike en ekonomiese reëlings.
10 Hoewel die vernietiging ‘skielik’ met valse godsdiens begin, duur dit onverpoosd voort tot die einde toe (1 Thess. 5:3). Iets wat daarop dui dat daar nie ’n tydperk van kalmte op “Babilon die Grote” se omverwerping sal volg nie, is die feit dat Bybelprofesie toon dat die magte wat teen God gekant is en “Babilon die Grote” vernietig ook nie aan Jehovah se toegewyde getuies enige guns sal betoon nie. Inteendeel, hierdie magte wat teen God gekant is, sal God se volk haat en hulle ook aanval. Die Bybel toon dat dieselfde “dier” met “tien horings” wat “Babilon die Grote” verlate gemaak het ook teen “die Lam”, Jesus Christus, wat deur sy volgelinge op aarde verteenwoordig word, ‘oorlog sal voer’ (Openb. 13:1; 17:12-14, 16; 19:19). In die roes van die oorwinning sal hierdie oorwinnaars van valse godsdiens ongetwyfeld God se knegte beskou as net nog ’n godsdiens waarvan daar ontslae geraak moet word sodat daar niks sal oorbly wat hulle verhinder om aardwye heerskappy uit te oefen nie.—Eseg. 38:14-16.
11. Hoe bereik die “groot verdrukking” sy klimaks?
11 Maar hierdie aanval op God se knegte kom neer op ’n aanval op God, want hy sê: “Wie julle aanraak, raak [my] oogappel aan” (Sag. 2:8; Eseg. 38:18, 19). Dit lok onmiddellike reaksie by Jehovah uit. Dit laat hom sy Armageddontoorn op die aanvallers uitgiet (Openb. 16:14, 16). Hy beveel sy Koning-Seun, Christus Jesus, en sy hemelse leërskare om tot die aanval oor te gaan! Met verbryselende krag bring Christus en sy hemelse leërskare die konings van die aarde en alle ander oorblywende elemente van hierdie goddelose stelsel, asook enigiemand wat dit ondersteun, tot ’n val. ’n Engel wat met ’n groot stem uitroep, rig die uitnodiging tot die voëls van die hemel: “Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot” (Openb. 19:17, 18). So bereik die “groot verdrukking” sy klimaks. God se regverdige ‘dag van wraak’ oor hierdie duiwelse stelsel loop ten einde.
12. Wanneer moet opregte persone ‘Jehovah soek’?
12 Van die begin van die “skielike verderf wat met die vernietiging van “Babilon die Grote” begin, tot by die nasies se aanval op Jehovah se knegte en reg tot by God se oorlog te Armageddon, is daar oënskynlik geen onderbreking in die “groot verdrukking” nie. Daar bestaan dus geen Skriftuurlike rede om te dink dat daar genoeg tyd sal wees om ’n mens tot God te wend nadat valse godsdiens vernietig is nie. Diegene wat God se nuwe orde lewend wil bereik, moet hulle eerder nou tot Jehovah wend. “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is” (Jes. 55:6). Dit is nou dat opregte persone hulle daarop moet toelê om lewens van geloof, moed, liefde en diens te lei. Hulle moet hulle nou voorberei om die druk te weerstaan wat op God se volk uitgeoefen sal word gedurende die vinnig naderende “groot verdrukking”.
13. Waarmee word God se getroue knegte vergelyk, en in watter opsigte?
13 God se Woord vergelyk sy getroue knegte met goed opgeleide soldate wat opmerksaam is, wat hulle beskermende wapenrusting aanhet en wat gereed is om enige bevel van hulle leier te gehoorsaam. Hulle is nie soos onvoorbereide troepe wat in die barakke slaap wanneer gevaar dreig en daar vinnig opgetree moet word nie. Paulus sê: “Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees. Want die wat slaap, slaap in die nag; en die wat dronk word, is in die nag dronk. Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid. Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus.”—1 Thess. 5:6-9.
14. Wat toon dat God se knegte beslis behoorlik ingelig sal wees sodat hulle God se wil kan doen?
14 En God se knegte het die volle vertroue dat hy sy organisasie goed op hoogte sal hou, sodat hulle die nodige stappe vir oorlewing kan doen. Ons kan hiervan seker wees, want die geïnspireerde profesie in Openbaring, hoofstuk sewe, toon dat “’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale . . . uit die groot verdrukking kom” en behoue bly tot in God se nuwe orde waar ‘God alle trane van hulle oë sal afvee’ (Openb. 7:9, 14, 17). En waarom bly die “groot menigte” behoue? Omdat ‘hulle God dag en nag dien’, en daarom ‘span hy sy tent oor hulle oop’ (Openb. 7:15). Omdat hulle behoorlik ingelig is, weet hulle hoe om God op aanneemlike wyse te dien. Hulle wag nie passief om te sien wat gaan gebeur nie. Hulle weet dat hy “wat die wil van God doen” die een is wat ‘vir ewig sal bly’.—1 Joh. 2:17.
GROTER BEDRYWIGHEID
15. Hoe het Jehovah se Getuies die bevel gehoorsaam om ‘die evangelie van God se koninkryk in die hele wêreld te verkondig’?
15 Die vervulling van Jesus se profesie is deel van God se wil vir ons dag: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:14). Vir ware Christene is hierdie profetiese woorde in werklikheid ’n bevel om vir ander die goeie nuus van God se koninkryk en die inkomende nuwe orde te vertel. En Jehovah se Getuies het dit inderdaad in hierdie “laaste dae” gehoorsaam. (2 Tim. 3:1; vergelyk Mattheüs 28:19, 20.) Hulle het hulle tyd en middele onselfsugtig gebruik om vir ander van God se wonderlike voorneme met hierdie aarde te leer. As gevolg van al hierdie harde werk het meer as vyfmiljoen persone dwarsoor die wêreld belangstelling in God se nuwe orde en sy voorsiening vir redding deur Jesus Christus getoon deur verlede April te vergader om die Herdenking van Christus se dood te vier.
16, 17. (a) Walter instruksies is aan die nasie Israel gegee voordat God Jerigo vernietig het? (b) Hoe is daardie instruksies uitgevoer?
16 Dit ly geen twyfel dat die omvang van die werk sal toeneem namate Jehovah se voorwaarts bewegende organisasie die laaste jare van sy predikingswerk teenoor hierdie wêreld nader nie. Dink terug aan wat die Israeliete beveel is om te doen net voordat God Jerigo vernietig het. Eerstens, hulle is beveel om ses dae lank elke dag een keer om die stad te loop. Maar toe is hulle meegedeel: “Op die sewende dag moet julle die stad sewe maal omtrek; en die priesters moet op die horings blaas; en as hulle lang geluide op die ramshoring blaas, as julle die geluid van die horing hoor, moet die hele volk ’n groot krygsgeskreeu aanhef: dan sal die stadsmuur op sy plek inval.”—Jos. 6:2-5.
17 Op daardie sewende en laaste dag moes die Israeliete hulle bedrywigheid sewevoudig vermeerder! Toe moes hulle “’n groot krygsgeskreeu aanhef”. Hulle het dit gedoen, presies soos hulle beveel is. “Op die sewende dag het hulle vroeg klaargemaak toe die rooidag uitkom, en die stad op dieselfde manier sewe maal omgetrek . . . En toe die priesters die sewende keer op die horings blaas, sê Josua vir die volk: Skreeu! want die HERE gee die stad aan julle oor. . . . en toe die volk die geluid van die horing hoor, het die volk ’n groot krygsgeskreeu aangehef; en die muur het op sy plek ingeval.”—Jos. 6:15, 16, 20.
18. Wat verwag ons ten opsigte van die omvang en aard van die predikingswerk voordat hierdie stelsel eindig?
18 Ons kan nou, by hierdie klimaks van die eeue, ’n soortgelyke uitbreiding van ons predikingsbedrywigheid verwag. Voordat die “groot verdrukking” ten einde loop, sal ons ongetwyfeld die grootste getuienis vir God se naam en koninkryk in die geskiedenis van hierdie wêreld aanskou. En hoewel die getuienis nou nog die uitnodiging insluit om na Jehovah se organisasie te kom vir redding, sal die tyd ongetwyfeld aanbreek wanneer die boodskap ’n harder toon verkry, soos ’n “groot krygsgeskreeu”. Openbaring 16:21 sê: “Groot hael, omtrent ’n talent [amper 35 kilogram] swaar het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.” Haelstene is bevrore, verharde water. Dit beeld dus af hoedat Jehovah se oordeelsboodskap wat teen die einde op die ongehoorsame mensdom sal neerreën soos ’n hewige haelstorm sal wees. Die feit dat die plaag van die hael as “ontsettend groot” beskryf word, dui daarop dat daar reg aan die einde ’n harde verkondiging van Jehovah se ‘dag van wraak’ deur Jehovah se knegte sal wees.
19. ‘Watter soort mense behoort ons te wees’ in die lig van wat die onmiddellike toekoms inhou?
19 Ons kan dus gerus ook soos Petrus sê: “Aangesien al hierdie dinge ontbind gaan word, watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toewyding”! (2 Pet. 3:11, NW). Ons moet mekaar beslis ‘bemoedig en die een die ander opbou’. Ons moet ‘altyd najaag wat goed is teenoor mekaar’ (1 Thess. 5:11, 15). “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof” (Gal. 6:10). Daarom moet ons nie nalaat om ‘te waak en nugter te wees nie’.—1 Thess. 5:6.
[Prent op bladsy 16]
Alle persone wat tot in God se nuwe orde behoue wil bly, moet nou na Jehovah se ware aanbidding toestroom
[Prent op bladsy 18]
Christene wat Jesus gehoorsaam het, het betyds uit Jerusalem gevlug en is nie in 70 G.J. saam met die stad vernietig nie
[Prent op bladsy 19]
God se Woord vergelyk sy wakker knegte met goed opgeleide soldate wat beskermende wapenrusting aanhet en gereed is om bevele te gehoorsaam
[Prent op bladsye 20, 21]
Toe die Israeliete “’n groot krygsgeskreeu aangehef” het, het Jerigo se mure ingeval