Die herdenking van die dood van die grootste man wat ooit geleef het
“DÁÁR is die mens!” Daardie woorde is nie meer as 6 000 jaar gelede gebesig ten tye van die skepping van die volmaakte man Adam in die tuin van Eden nie. Hulle is ongeveer 4 058 jaar later geuiter oor ’n man wat in elke opsig Adam se gelyke was. Hierdie man is op wonderdadige wyse gebore uit ’n Joodse maagd, Maria, die dogter van Eli van Betlehem. Hy het Jesus geheet en was die Seun van God wie se lewe deur God se mag vanuit die hemel oorgeplaas is. Om die weg te baan sodat hy na die hemel kon terugkeer, is hy met sy hemelse Vader se gees verwek. Dit het gebeur onmiddellik nadat hy in die noordelike herfs van 29 G.J. deur Johannes die Doper in die Jordaanrivier gedoop is. Daar het God uit die hemel gepraat en gesê dat die pasgedoopte Jesus sy Seun is. Johannes die Doper het van hierdie feit getuig.—Joh. 1:29-36.
Drie-en-’n-half jaar later, op Pasgadag in die noordelike lente van 33 G.J., het hy tereggestaan voor die Romeinse goewerneur van die provinsie Judea, Pontius Pilatus. Die Joodse hof in die hoofstad Jerusalem het hom gedurende die Pasganag verhoor en hom aan die Romeinse goewerneur oorgelewer vir ondervraging sodat die doodvonnis wat hulle hom opgelê het deur die Romeinse owerheid bekragtig kon word. Ter vervulling van Bybelprofesie in Psalm 41:10 is hy deur een van sy eie 12 apostels, naamlik Judas Iskariot, verraai en aan sy Joodse vyande oorgelewer. Goewerneur Pilatus het Jesus onskuldig bevind op die aanklagte wat deur die Joodse hoërhof teen hom ingebring is. Hy het dit vir die skare Jode buitekant die goewerneur se paleis gesê. Hulle vyandige antwoord was: “Kruisig, kruisig Hom!” Jesus se Romeinse pynigers het ’n doringkroon op sy hoof geplaas en vir hom ’n purperkleed aangetrek. In ooreenstemming met Jesus se drag, naamlik ’n kroon en ’n purperkleed, het goewerneur Pilatus probeer om ’n beroep te doen op die Jode wat lank gelede hulle koninkryk ontneem is, deur uit te roep: “Dáár is julle Koning!” Skynheilig het die Jode, met hulle hoëpriesters aan die voorpunt, teruggeskreeu: “Ons het geen koning behalwe die keiser nie”—Joh. 19:5-15.
Later daardie selfde dag het Jesus aan ’n folterpaal gesterf en is sy lyk in ’n tuingraf begrawe. Net soos die Pasgalam wat sy apostels die vorige aand geëet het, het hy gesterf, maar nie ’n been in sy liggaam is gebreek nie (Ex. 12:46; Ps. 34:21). Die getroue apostels het die opdrag ontvang om sy dood jaarliks op Pasgadag te herdenk. Nadat Jesus sy verpligting onder die Joodse wet nagekom het om die Pasgamaaltyd saam met sy apostels te nuttig, het hy dadelik iets anders ingestel om sy dood te gedenk. Dit is later die Here se Nagmaal of Aandmaal genoem. Die geïnspireerde verslag oor hoe Jesus die nuwe aandmaal ingestel het, lui:
“En terwyl hulle [die Pasgamaal] eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes. Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader. En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.”—Matt. 26:26-30.
Tydens die Pasgamaal het Jesus die verraderlike dissipel, Judas Iskariot, uitgestuur. Jesus se woorde het dus nie daardie ontroue dissipel ingesluit nie toe hy vir die 11 oorblywende dissipels gesê het: “Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader” (Matt. 26:29). Daardie woorde kon nie beteken dat hulle op aarde vleeslike onderdane van die Koninkryk sou wees tydens die duisendjarige bewind van die Messias Jesus nie. Teen daardie tyd sou hulle al lank dood gewees het en sou hulle ’n opstanding tot menselewe op aarde nodig gehad het na die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon (Openb. 16:14-16). Maar dit is nie wat Jesus bedoel het daar op sulke getroue dissipels, soos hierdie 11, gewag het nie. Hy het bedoel dat hulle saam met hom in die hemelse koninkryk sou wees na ’n opstanding uit die dode tot geeslewe.
Gedurende die vorige jaar (32 G.J.), het hy vir hierdie dissipels gesê: “Julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee” (Luk. 12:30-32). Omdat die hemelse Vader die hemelse koninkryk aan hulle sou gee, sou dit ’n ‘verbond vir die Koninkryk’ behels, en dit is waarna die Here Jesus verwys het toe hy vir die 11 getroue apostels tydens die aandmaalviering van sy dood gesê het: “Maar julle is diegene wat in my beproewinge steeds by my gebly het; en ek sluit ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk, sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink, en op trone kan sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel.”—Luk. 22:28-30, NW.
Hieruit is dit baie duidelik dat diegene wat deelgeneem het aan daardie eerste viering van die Here se Aandmaal die geleentheid sou hê om eendag saam met die verheerlikte Jesus Christus in die hemelse koninkryk te regeer. Alle latere deelnemers aan die viering van die Here se Aandmaal moet eweneens persone wees wat die hemelse roeping het en met wie Jesus Christus die ‘verbond vir die Koninkryk’ sluit.
Dit was aan Christene van hierdie klas dat die apostel Paulus omtrent 22 jaar later (omstreeks 55 G.J.) sy brief geskryf het waarin hy die Here se Aandmaal sowel as die opstanding van die dode, dit wil sê, “die eerste opstanding”, bespreek. Hy het onder meer vir hulle gesê: “So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. ’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ’n natuurlike liggaam, en daar is ’n geestelike liggaam. . . . en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. En soos ons die beeld van die aardse [Adam] gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.”—1 Kor. 15:42-49; Openb. 20:5, 6.
Maar voordat die apostel Paulus die opstanding bespreek het, het hy geskryf oor die jaarlikse viering van die Here se Aandmaal en gesê: “Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker na die ete [met die brood], met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament [verbond, NW] in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.”—1 Kor. 11:23-26.
Hierdie ‘verkondiging van die dood van die Here’ het geestelike waarde gehad, want in hierdie opsig het hulle van die natuurlike Jode verskil. In plaas daarvan om jaarliks die Pasgamaal te vier en hulle verlossing uit die verdrukkende land Egipte te herdenk, sou hulle die dood herdenk van die een wat gesimboliseer of afgebeeld is deur die Paaslam wat in Egipte geslag is. Daardie eertydse Paaslam was nodig vir die verlossing van die natuurlike Israeliete uit slawerny in Egipte, maar dit het hulle nie bevry van die veroordeling van sonde nie. Die dood van die “Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”, bevry andersyds Jesus Christus se dissipels van die veroordeling van sonde en bewerk hulle verlossing sodat hulle nie ’n deel van hierdie wêreldlike stelsel van dinge, die teenbeeldige Egipte, is nie. Dit herinner die dissipels ook aan die grondslag vir die nuwe verbond, God se reëling waarmee hy ’n volk vir sy naam uit die wêreld neem, omdat Jesus Christus, die Grotere Moses, die middelaar van hierdie “nuwe verbond” is (Jer. 31:31-33). Dit herinner hulle ook aan die ‘verbond vir ’n koninkryk’, ’n verbond wat met hulle gesluit is. Hulle moet nooit die feit uit die oog verloor dat hulle tot daardie hemelse koninkryk geroep is om mede-erfgename van Jesus Christus, die afstammeling van koning Dawid, die “Koning van die konings en die Here van die here”, te wees nie.—Openb. 19:16.
“SKAPE” WAT DIE VIERING AS WAARNEMERS BYWOON
Vandag, naby die einde van hierdie gedoemde stelsel van dinge, is daar slegs ’n oorblyfsel van Christus se dissipels wat saam met hom erfgename van die hemelse koninkryk is. Maar hulle jaarlikse Gedenkmaalviering is van lewensbelang vir ’n toenemende menigte mense van alle nasionaliteite. Hulle is baie bly om die uitnodiging te ontvang om die viering van die Here se Aandmaal by te woon wanneer dit gevier word deur die oorblyfsel geestelike Israeliete, wat in die nuwe verbond en ook in die Koninkryksverbond is.
Hulle het ook hierdie wêreld in die mag van die Duiwel die rug toegekeer en trek saam met die oorblyfsel geestelike Israeliete op na ’n beter Beloofde Land, God se nuwe stelsel van dinge onder die koninkryk in die hande van Jesus Christus en sy 144 000 mede-erfgename. Hulle is afgeskadu deur die menigte mense van gemengde bloed, nie-Israeliete, wat die demon-beheerde Egipte op daardie eerste Pasganag verlaat het, hulle lot saam met die vertrekkende Israeliete ingewerp het en Jehovah God begin aanbid het (Ex. 12:38). Hierdie “menigte mense van gemengde bloed” het saam met die ontsnappende Israeliete deur die Rooi See getrek en het daar getuies geword van Jehovah se verlossing van sy volk, en het ook hulle deelgenote geword. Hulle kon hulle ook daaroor verheug!
Die hedendaagse “menigte mense van gemengde bloed” wat metgeselle van die oorblyfsel geestelike Israeliete is, is afgebeeld deur die ongetelde “groot menigte” wat die apostel Johannes in Jehovah se geestelike tempel sien juig het. Omdat hulle hulle afgeskei het van hierdie besoedelde ou wêreld, word hulle afgebeeld as “bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande”. Net soos die oorblyfsel geestelike Israeliete het hulle hulle onvoorwaardelik toegewy aan Jehovah God deur sy Lam, Jesus Christus, en het hulle hierdie toewyding deur waterdoop gesimboliseer. Hulle sien daarna uit om uit te kom uit die “groot verdrukking” wat vir die gedoemde wêreld ophande is, waarna hulle inderdaad vreugdevol sal kan uitroep: “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” (Openb. 7:9, 10). Hierdie “groot menigte” het dus die allergrootste redes om saam met die geestelike oorblyfsel te vergader op die aand wanneer die dood van die Lam gedenk word.
Sedert die Gedenkmaalviering in die noordelike lente van 1936 het lede van die “groot menigte” vry gevoel om die viering van die Here se Aandmaal by te woon, alhoewel hulle nie die sinnebeeldige brood en wyn gebruik het nie.a Sedert die lede van die groot menigte van Openbaring 7:9-17 op 31 Mei 1935 by die byeenkoms van Jehovah se Getuies in Washington (D.C.) geïdentifiseer is, is hulle in die besonder deur die gesalfde oorblyfsel uitgenooi om die Maal as waarnemers by te woon. Hulle doen dit met opregte waardering vir die losprysoffer van die Here Jesus Christus. Hulle onthouding was nie ’n kunsmatige, mensgemaakte beperking wat aan hulle gestel is nie, maar strook met God se Woord.
Waarom is dit so? Omdat die Insteller van die viering dit daargestel het as ’n herdenking deur diegene met wie hy ’n verbond vir die hemelse koninkryk gesluit het. Alhoewel hulle toegewy en gedoop is, besef die lede van die “groot menigte” dat daardie verbond vir die Koninkryk nie met hulle gesluit is nie. Hulle is nie geestelike Israeliete nie, aangesien hulle nie opgeneem is in die “nuwe verbond”, wat deur middel van die Middelaar Jesus Christus met die geestelike Israeliete gesluit is nie. Hulle is nie verwek deur die heilige gees wat op Pinksterdag van 33 G.J. vir die eerste keer op 120 dissipels in Jerusalem uitgestort is nie. Hulle het, figuurlik gesproke, nie “saam met Christus gesterwe” deur alle toekomstige aardse lewensvooruitsigte in ’n paradysaarde onder God se koninkryk prys te gee nie. Hulle verwag nie om saam met Christus “begrawe” te word sodat hulle ‘gelykvormig aan sy opstanding’ kan wees nie. Indien hulle dus die brood en die wyn sou gebruik wat hoofsaaklik simbole van Jesus Christus se vleeslike liggaam en bloed is, sou hulle die feit dat Jesus Christus, die Lam van God, nie sulke reëlings met hulle getref het nie, loënstraf. Daarom gebruik hulle nie hierdie embleme saam met die gesalfde oorblyfsel nie. Maar hulle onthouding verhinder hulle nie om ewige lewe te kry nie, want dit kom deur geloof in Jesus Christus en die voorsiening van die losprysoffer.—Rom. 6:4, 5; Kol. 2:12, 20, NAB; 1 Joh. 2:1, 2.
Maar as lede van die “ander skape” is hulle versamel deur die Goeie Herder, Jesus Christus, en maak hulle “een kudde” uit saam met die oorblyfsel geestelik skape wat in “hierdie stal” is waarvan Jesus in Johannes 10:16 gepraat het. Hulle besef dat hulle redding tot ewige lewe op die beloofde Paradysaarde van God af kom deur hierdie Goeie Herder, aan wie se kudde hulle nou behoort. Hoe kan hulle dan ooit versuim om Christus te vereer deur nie as waarnemers teenwoordig te wees by die aandmaal wat hy ingestel het ter herdenking van sy dood, waardeur hierdie barmhartige redding kom nie? Hulle kan dit redelikerwyse nie doen nie! Hulle wil dit nie doen nie. Solank as die viering op aarde herdenk word deur die oorblyfsel erfgename van God se hemelse koninkryk, besef hulle dat hulle onder verpligting staan om die Here se Aandmaal as waarnemers by te woon. Al is daar in baie plekke nie ’n lid van die oorblyfsel om die embleme te gebruik nie, wil Jehovah se Getuies reëlings tref vir die viering met die hoogste agting vir wat dit beteken en om enige aanwesige, wat ’n lid van die oorblyfsel kan wees, die geleentheid te bied om die embleme te gebruik.
Jehovah se Getuies gaan die Here se Aandmaal vanjaar na sononder op 19 April 1981 vier. Almal wat dit wil by woon om die dood van die Lam van God, Jesus Christus, te herdenk, moet in verbinding tree met die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies. Godvresende persone wat nie weet waar die plaaslike gemeente vergader nie, kan aan die Wagtoringgenootskap skryf en die nodige inligting aanvra.
[Voetnoot]
a Kyk The Watchtower, 15 April 1936, bl. 123, pare. 44, 46.