Waarom die Here se Aandmaal vir jou betekenis inhou
JESUS CHRISTUS het die Here se Aandmaal ingestel op die laaste aand van sy lewe as ’n mens. Dit was Donderdagaand, 31 Maart, en Jesus het op die Vrydagmiddag, 1 April, gesterf. Aangesien die dae van die Joodse kalender van die een aand tot die volgende aand geduur het, het die Here se Aandmaal én Jesus se dood op 14 Nisan 33 G.J. plaasgevind.
Waarom het Jesus hierdie maaltyd ingestel? Wat beteken die brood en die wyn wat hy gebruik het? Wie moet daarvan gebruik maak? Hoe dikwels moet hierdie maaltyd gehou word? En hoe kan dit vir jou betekenis inhou?
Waarom is dit ingestel?
Jesus het aangaande die Here se Aandmaal vir sy apostels gesê: “Doen dit tot my gedagtenis.” Volgens ’n ander vertaling het hy gesê: “Doen dit as ’n herdenking aan my” (1 Korinthiërs 11:24; The New English Bible). Trouens, daar word dikwels van die Here se Aandmaal as die herdenking van Christus se dood gepraat.
Jesus het gesterf as ’n handhawer van onkreukbaarheid en van Jehovah se soewereiniteit en het gevolglik bewys dat Satan ’n leuenagtige smader is omdat hy gesê het dat opregte mense God net om selfsugtige redes dien (Job 2:1-5). Sy dood het God se hart verbly.—Spreuke 27:11.
Deurdat Jesus as ’n volmaakte mens gesterwe het, het hy ook ‘sy lewe as ’n losprys vir baie gegee’ (Mattheüs 20:28). Toe die eerste mens teen God gesondig het, het hy volmaakte lewe as ’n mens en die vooruitsigte daarop verbeur. Maar “so lief het God die wêreld [van mense] gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Ja, “die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here”.—Romeine 6:23.
“Van die Here ontvang”
Die apostel Paulus se woorde werp lig op die herdenking van Christus se dood: “Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê; Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.”—1 Korinthiërs 11:23-26.
Aangesien Paulus nie op 14 Nisan 33 G.J. saam met Jesus en sy 11 apostels was nie, was hierdie inligting klaarblyklik deur ’n geïnspireerde openbaring “van die Here ontvang”. Jesus het die Gedenkmaal ingestel “in die nag waarin Hy verraai is” deur Judas, wat hom oorgelewer het aan Joodse godsdiensvyande wat die Romeine oorreed het om Christus aan die paal te hang. Diegene wat die emblematiese brood en wyn mag gebruik, sal dit tot sy gedagtenis doen.
Hoe dikwels moet dit gevier word?
Wat beteken Paulus se woorde: “So dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom”? Getroue gesalfde Christene sou die Gedenkmaalembleme “dikwels” gebruik totdat hulle sterf, en later sou hulle tot die hemelse lewe opgewek word. Hulle sou gevolglik dikwels voor God en die wêreld hulle geloof in Jehovah se voorsiening van Jesus se offerande verkondig. Hoe lank sou hulle dit doen? “Totdat Hy kom”, het Paulus gesê, wat klaarblyklik beteken het dat hierdie vieringe sou voortduur totdat Jesus kom om sy gesalfde volgelinge deur ’n opstanding gedurende sy “teenwoordigheid” in die hemel te ontvang (1 Thessalonicense 4:14-17, NW). Dit stem ooreen met Christus se woorde aan die 11 lojale apostels: “As Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”—Johannes 14:3.
Moet Christus se dood daagliks of miskien weekliks herdenk word? Wel, Jesus het die Here se Aandmaal ingestel en gesterf op die Pasga, wat Israel se verlossing uit slawerny in Egipte herdenk het. Trouens, hy word ‘Christus ons paaslam’ genoem omdat hy die Lam is wat vir Christene geoffer is (1 Korinthiërs 5:7). Die Pasga is net een keer per jaar op 14 Nisan gevier (Exodus 12:6, 14; Levitikus 23:5). Dit toon dat Jesus se dood net so dikwels soos die Pasga herdenk moet word—jaarliks, nie daagliks of weekliks nie.
Baie verklaarde Christene het eeue lank Jesus se dood een keer per jaar herdenk. Omdat hulle dit op 14 Nisan gedoen het, is hulle Quartodecimane genoem, wat “veertienders” beteken. Die geskiedskrywer J. L. von Mosheim het oor hulle geskryf: “Die Christene van Klein-Asië was gewoond daaraan om hierdie heilige fees, wat die instelling van die Here se Aandmaal en die dood van Jesus Christus herdenk het, op dieselfde tyd te vier wanneer die Jode hulle Paaslam geëet het, op die aand van die veertiende dag van die eerste maand [Nisan]. . . . Hulle het die navolging van Christus se voorbeeld in dieselfde dringende lig beskou as om wette te gehoorsaam.”
Die betekenis van die embleme
Paulus het gesê dat Jesus “brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek”. Om daardie dun, bros brood te eet wat van meel en water sonder suurdeeg (of gis) gebak word, moes dit gebreek word. In die Bybel is suurdeeg simbolies van sonde of verdorwenheid. Toe Paulus die Christene in Korinthe aangespoor het om ’n onsedelike man uit die gemeente te sit, het hy gesê: “Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ’n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (1 Korinthiërs 5:6-8). Soos ’n bietjie suurdeeg die hele baksel brood sou suur maak, sou die gemeente onrein in God se oë geword het as die sondige man se verderflike invloed nie verwyder is nie. Hulle moes die “suurdeeg” onder hulle verwyder, net soos die Israeliete geen suurdeeg in hulle huise kon hê gedurende die Fees van die Ongesuurde Brode wat ná die Pasga gevier is nie.
Jesus het aangaande die ongesuurde Gedenkmaalbrood gesê: “Dit is my liggaam wat vir julle gebreek word” (1 Korinthiërs 11:24). Die brood verteenwoordig Jesus se volmaakte vleeslike liggaam, waaroor Paulus geskryf het: “Daarom sê [Jesus], as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ’n liggaam berei. Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom—in die boekrol is dit van my geskrywe—om u wil te doen, o God. . . . Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal” (Hebreërs 10:5-10). Jesus se volmaakte menseliggaam was sondeloos en het as ’n losprysoffer vir die mensdom gedien.—Hebreërs 7:26.
Nadat Jesus oor die beker suiwer rooi wyn gebid het, het hy gesê: “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed” (1 Korinthiërs 11:25). ’n Ander vertaling lees: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond wat deur my bloed bekragtig word” (Moffatt). Net soos die bloed van geofferde bulle en bokke die Wetsverbond tussen God en die nasie Israel bekragtig het, het Jesus se bloed wat uitgestort is toe hy gesterf het die nuwe verbond bekragtig. Die feit dat daar van die nuwe verbond gepraat word, help ons om die regmatige gebruikers van die Gedenkmaalembleme te identifiseer.
Wie moet dit gebruik?
Jesus se gesalfde volgelinge, wat in die nuwe verbond is, het die reg om die Gedenkmaalembleme te gebruik. Hierdie verbond word tussen God en geestelike Israel gesluit (Jeremia 31:31-34; Galasiërs 6:16). Maar die nuwe verbond sal uiteindelik vir alle gehoorsame mense seëninge bring, en jy kan onder diegene wees wat daardie seëninge ontvang.
Gebruikers van die Gedenkmaalembleme moet ’n deel wees van die persoonlike verbond vir die Koninkryk wat Jesus gesluit het. Toe Jesus hierdie maaltyd ingestel het, het hy vir sy lojale apostels gesê: “Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het” (Lukas 22:29). Die Koninkryksverbond wat God met koning Dawid gesluit het, het vooruitgewys na die koms van Jesus, die een wat vir ewig in die hemelse Koninkryk sou heers. Die 144 000 geestelike Israeliete wat saam met hom sal heers, word uitgebeeld waar hulle saam met die Lam, Jesus Christus, op die hemelse berg Sion staan. Wanneer hulle opgewek word, sal hulle saam met Christus as medekonings en -priesters heers (2 Samuel 7:11-16; Openbaring 7:4; 14:1-4; 20:6). Slegs diegene wat in die nuwe verbond en in die persoonlike verbond met Jesus is, het die reg om die embleme van die Here se Aandmaal te gebruik.
God se gees getuig saam met die gees van die gesalfdes dat hulle Sy kinders en mede-erfgename met Christus is. Paulus het geskryf: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word” (Romeine 8:16, 17). God se heilige gees, of werkende krag, skep in die gesalfdes die versekering dat hulle ’n hemelse lewe sal verkry. Hulle beskou alles wat die Skrif oor die hemelse lewe sê as op hulle van toepassing en is bereid om alle aardse dinge op te offer, waaronder hulle lewe as ’n mens. Hoewel die lewe in ’n aardse Paradys wonderlik sou wees, het hulle nie daardie hoop nie (Lukas 23:43). ’n Vaste en onveranderlike hemelse hoop wat nie op valse godsdiensoortuigings gegrond is nie, gee hulle die reg om die Gedenkmaalembleme te gebruik.
Jehovah sal ontevrede wees as ’n mens hom voordoen as iemand wat geroep is om ’n hemelse koning en priester te wees terwyl hy glad nie so ’n roeping het nie (Romeine 9:16; Openbaring 22:5). God het Korag tereggestel omdat hy verwaand was en die priesterskap begeer het (Exodus 28:1; Numeri 16:4-11, 31-35). Sê nou sterk emosies of eertydse godsdiensidees het ’n mens verkeerdelik van die Gedenkmaalembleme laat gebruik? Dan moet hy of sy dit ophou gebruik en nederig om God se vergifnis bid.—Psalm 19:13, NW.
Hoe jy geraak word
’n Mens hoef nie van die Gedenkmaalembleme te gebruik om te kan baat vind by Jesus se losprysoffer en ewige lewe op aarde te ontvang nie. Die Bybel sê byvoorbeeld nêrens dat godvresende mense soos Abraham, Sara, Isak, Rebekka, Boas, Rut en Dawid ooit van hierdie embleme sal gebruik nie. Maar hulle en al die ander wat ewige lewe op hierdie aarde wil hê, sal geloof in God en Christus en in Jehovah se voorsiening van Jesus se losprysoffer moet stel (Johannes 3:36; 14:1). Die jaarlikse herdenking van Christus se dood dien as ’n herinnering aan daardie groot offerande.
Die belangrikheid van Jesus se offer is getoon toe die apostel Johannes gesê het: “Ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ’n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Johannes 2:1, 2). Gesalfde Christene kan sê dat Jesus “’n versoening vir [hulle] sondes” is. Maar hy is ook ’n offerande vir die sondes van die hele wêreld, wat ewige lewe vir gehoorsame mense moontlik maak in die Paradysaarde wat nou op hande is!
As jy teenwoordig is vir die herdenking van Christus se dood, sal jy baat vind by die gedagteprikkelende Bybeltoespraak. Jy sal herinner word aan hoe baie Jehovah God en Jesus Christus vir ons gedoen het. Dit sal geestelik lonend wees om byeen te kom met diegene wat diepe eerbied het vir God en Christus en vir Jesus se losprysoffer. Die geleentheid kan heel moontlik jou begeerte versterk om ’n ontvanger van God se onverdiende goedheid te wees wat na die ewige lewe lei. Ons nooi jou hartlik om saam met Jehovah se Getuies op 6 April 1993 ná sononder te vergader om die dood van Jesus Christus te herdenk, aangesien die Here se Aandmaal vir jou groot betekenis kan inhou.