Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 2/15 bl. 10-15
  • 14 Nisan—’n gedenkdag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • 14 Nisan—’n gedenkdag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Onvergeetlike dag
  • Wat het plaasgevind? Wat het dit beteken?
  • Verheerliking, liefde en eenheid
  • Waarom die Here se Aandmaal vir jou betekenis inhou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Waarom moet ons die Here se Aandmaal vier?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Die Here se Aandmaal—Hoe moet dit herdenk word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Gedenkmaal (Die Here se Aandmaal)
    Redenering uit die Skrif
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 2/15 bl. 10-15

14 Nisan​—’n gedenkdag

„Doen dit tot my gedagtenis.”​—1 KORINTHIËRS 11:24.

1. Hoe het Jesus die wêreld oorwin?

„HOU goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.” Met sulke woorde van vertroosting en bemoediging het Jesus sy 11 getroue apostels die nag voor sy dood versterk. Jesus het bewys dat hy ’n wêreldoorwinnaar is! Hy het elke poging wat sy Teenstander, Satan die Duiwel, aangewend het om sy lojaliteit aan Jehovah te verbreek met welslae weerstaan. En hoewel hy ’n paar uur later aan ’n folterpaal moes sterf, was hy vol vertroue dat hy sy onkreukbaarheid tot die einde sou handhaaf.​—Johannes 16:33; Hebreërs 12:2.

2. Waarom het Jesus „die aandmaal van die Here” ingestel?

2 Hierdie gebeurtenis van universele belang het 1 952 jaar gelede op die 14de dag van Nisan, die eerste maanmaand van die Joodse heilige kalender, plaasgevind. Sy toegewyde dissipels sou nooit hierdie dag vergeet nie. Om te verseker dat sy getroue volgelinge nooit die belangrikheid van wat sou plaasvind oor die hoof sou sien nie, het Jesus ’n spesiale gedenkaandmaal ingestel, wat die apostel Paulus as „die aandmaal van die Here” beskryf het. Paulus vertel onder goddelike inspirasie dat Jesus by hierdie geleentheid sy dissipels aldaar beveel het: „Doen dit tot my gedagtenis” (1 Korinthiërs 11:20, 24, vgl. NW). Besef jy, indien jy een van Jesus se volgelinge wil wees, waarom hy daardie bevel gegee het, wat dit van jou vereis en wat dit vir jou toekoms kan beteken?

’n Onvergeetlike dag

3. Waarom, en onder watter omstandighede, was 14 Nisan al tevore ’n gedenkdag gemaak?

3 Dit was nie die eerste keer in die mensegeskiedenis dat 14 Nisan as ’n gedenkdag opsygesit is nie. In 1513 v.G.J. het Jehovah die Israeliete deur sy kneg Moses beveel: „Hierdie dag [14 Nisan] moet vir julle ’n gedenkdag wees, en julle moet dit as ’n fees tot eer van die HERE vier.” Wat het destyds tot die viering gelei? Jehovah self het geantwoord: „Dit is ’n paasoffer aan die HERE, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref [het].”​—Exodus 12:14, 27.

4. Watter belangrike geskille was by Israel se verlossing uit Egipte betrokke?

4 Daardie ontsagwekkende verlossing van elke Israelitiese eersgeborene, mens sowel as dier, in Egipte het op daardie nag van 14 Nisan plaasgevind. Dit was die klimaks van nege voorafgaande aanslae teen die demongode wat deur die Egiptenaars aanbid is, en dit het Jehovah se vroeër verklaarde voorneme aan hoogmoedige Farao bevestig: „Maar juis hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig.” Jehovah se naam en krag is ’n paar dae later verder geopenbaar toe hy miljoene Israeliete en ’n menigte van gemengde bloed by die Rooi See verlos het terwyl hy die room van Farao se leër laat verdrink het. Geen wonder dan nie dat Moses en die kinders van Israel gesing het: „Ek wil sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe”!​—Exodus 9:16; 15:1.

5. Wat was die doel van die Pasgaviering?

5 Nadat die Israeliete hulle gevestig het in die land wat aan hulle voorvader Abraham beloof is, moes die hele volk in gehoorsaamheid aan die bevel in Deuteronomium 16:1-8 die Pasga een keer per jaar in Jerusalem vier. Jehovah het sodoende gereël dat sy tipiese volk altyd 14 Nisan in die besonder sou onthou. Wat was die doel hiervan? Dit was ’n dag waarop Jehovah se naam verheerlik en sy groot verlossingsdade onthou moes word. Eeue later sou die betekenis van die Pasga derhalwe voor in die hart en gedagtes wees van Jesus se ouers wat, soos ons vertel word, „gewoond [was] om elke jaar met die paasfees na Jerusalem te gaan”. Volgens die Joodse gebruik sou hulle seun Jesus saam met hulle gaan.​—Lukas 2:41, 42.

6. Waarom was Jesus gretig om die Pasga van 33 G.J. met sy getroue apostels te vier?

6 Jesus sou waarskynlik na sy doop in die Jordaan en die aanvang van sy bediening voortgaan om die Paasfees saam met Maria, sy aardse moeder, en haar seuns, sy halfbroers, te vier. Maar Jesus het gereël om die fees op 14 Nisan 33 G. J. saam met sy 12 apostels te vier. Lukas se verslag vertel vir ons hoe Jesus oor hierdie geleentheid gevoel het: „Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly” (Lukas 22:15). Waarom was dit so ’n sterk begeerte by Jesus? Omdat hy die betekenis besef het van die gebeure wat weldra op daardie onvergeetlike dag, wat met sononder begin het, sou plaasvind. Jesus het ook geweet dat sulke gebeure die gebeure in 1513 v.G.J. verreweg sou oorskadu. Hulle sou Jehovah se naam meer as ooit verheerlik en sou die grondslag lê sodat al die geslagte van die aarde eindelik geseën sou word. Daar was ook baie dinge wat hy voor sy dood vir sy dissipels wou sê om hulle moed in te praat sodat hulle sy lojale volgelinge kon bly. Die gedetailleerde Evangelieverslae laat ons as ’t ware inluister op wat Jesus gesê en gedoen het.​—Johannes 12:31; 17:26.

Wat het plaasgevind? Wat het dit beteken?

7. (a) Watter gebeure tydens Jesus se laaste Pasgamaal het daartoe gelei dat hy die Herdenking van sy dood ingestel het? (Johannes 13:1-30) (b) Beskryf die prosedure wat Jesus gevolg het toe hy die Here se Aandmaal ingestel het.

7 Jesus het gedurende die maaltyd opgestaan en sy dissipels se voete gewas en sodoende ’n volmaakte voorbeeld in nederigheid gestel. Toe het Jesus gesê: „Een van julle sal My verraai.” Kort daarna het hy hom tot Judas gewend en gesê: „Wat jy doen, doen dit haastig.” Johannes se verslag sê: „Hy [het] dadelik uitgegaan. En dit was nag” (Johannes 13:21, 27, 30). Dit was hierna dat Jesus die Herdenking van sy dood ingestel het. Kom ons luister na hoe die ooggetuie Mattheüs die gebeure beskryf: „Terwyl hulle verder eet, neem Jesus ’n brood, en na hy ’n seën gevra het, breek hy dit en gee dit aan die dissipels en sê: ,Neem, eet. Dit beteken my liggaam.’ Ook neem hy ’n beker, en na hy ’n dankgebed uitgespreek het, gee hy dit aan hulle terwyl hy sê: ,Drink almal hieruit; want dit beteken my „bloed van die verbond”, wat ten behoewe van baie vergiet sal word tot vergifnis van sondes. Maar ek sê vir julle: Van nou af sal ek geensins meer iets van die produk van die wynstok drink tot op die dag waarop ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader nie.’ Ten slotte gaan hulle, na hulle die lofsang gesing het, na die Olyfberg.”​—Mattheüs 26:26-30, NW; kyk ook Markus 14:22-26, Lukas 22:19, 20 en 1 Korinthiërs 11: 23-26.

8. Waarom is dit so belangrik om die betekenis te verstaan van Jesus se woorde en dade toe hy die Gedenkmaal ingestel het?

8 Wat was die volle betekenis van wat Jesus by daardie geleentheid gesê en gedoen het? Paulus het nadruk gelê op hoe belangrik dit vir al Christus se gesalfde volgelinge is om dit te besef en gesê: „Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here.” Sekerlik nie een van die gesalfdes wil ,onwaardig’ in Jehovah se oë wees en gevolglik deur hom veroordeel word nie. Dit moet ook die „groot menigte” se begeerte wees om waardig geag te word as metgeselle van die gesalfde oorblyfsel. Met die nadering van nog ’n Gedenkmaal op Donderdag, 4 April 1985, is dit derhalwe nou die tyd vir ons almal om hierdie saak weer saam noukeurig te ondersoek.​—1 Korinthiërs 11:27.

9. (a) Waarom is die vertaling van Jesus se woorde, „Dit beteken my liggaam” juister as „Dit is my liggaam”? (Kyk voetnoot.) (b) Watter spesiale betekenis het Jesus aan die brood geheg? (c) Aan die wyn?

9 Jesus het gesê: „Dit beteken my liggaam.”a Met hierdie woorde het Jesus ’n spesiale betekenis aan die brood geheg​—dit was ’n simbool van sy eie sondelose, vleeslike liggaam wat hy „vir die lewe van die wêreld” gegee het (Johannes 6:51). Toe hy van die beker wyn gesê het, „Dit beteken my ,bloed van die verbond’, wat . . . vergiet sal word tot vergifnis van sondes”, het hy eweneens die gegiste wyn in die beker as ’n simbool van sy eie bloed gebruik. Hierdie bloed sou die grondslag wees waarop „’n nuwe verbond” in werking gestel sou word. Sy vergote bloed sou ook ’n middel wees waardeur „vergifnis van sondes” geskenk sou word.​—Mattheüs 26:28, NW; Jeremia 31:31-33; Hebreërs 9:22.

10. Wat gee dit te kenne wanneer die brood en wyn gebruik word?

10 Wat gee diegene wat met die viering van die Gedenkmaal van die brood en die wyn gebruik dan te kenne? Die daad self toon aan die gebruikers, en aan die toeskouers, dat hulle alreeds by die losprysoffer van Christus Jesus baat gevind het, maar op ’n besondere manier en vir ’n besondere doel. Hoe so? Op grond van hulle geloof in Christus se offerande en hulle toewyding aan Jehovah reken God die waarde van Jesus se menseoffer aan hulle toe. Waarom? Sodat menslike volmaaktheid aan hulle toegeskryf kan word en hulle gevolglik ’n regverdige naam by God kan hê. Jehovah verwek hulle dan deur sy heilige gees en hulle word sy geestelike seuns. Hulle is nou in ’n posisie om hulle reg op lewe op aarde op te offer in ruil vir ’n hemelse erfenis. Dit alles het plaasgevind voordat hulle aan die Here se Aandmaal deelneem.​—Romeine 5:1, 2, 8; 8:15-17; Jakobus 1:18.

11, 12. (a) Op watter twee bykomende dinge dui die drink van die wyn? (b) Verduidelik die verbond wat Jesus met die gebruikers sluit.

11 Kyk nou wat anders die drink van die wyn beteken. Hoewel Jehovah geregtigheid aan sy geestelike seuns toegeskryf en hulle as seuns aangeneem het, verkeer hulle nog in die onvolmaakte vlees. Hulle is steeds geneig tot sonde en hulle besef dit. Deur die wyn te drink, erken hulle dat hulle daagliks afhanklik is van die bloed van Christus Jesus, wat „ten behoewe van baie vergiet” is.​—1 Johannes 1:9, 10; 2:1.

12 Die drink van die wyn behels egter nog iets. Die gebruikers getuig dat hulle ingebring is in die „nuwe verbond” wat Jehovah lank gelede deur die profeet Jeremia voorspel het. Hierdie verbond is deur die bloed van Jesus in werking gestel. Die partye in daardie verbond is Jehovah God en sy geestelike seuns, wat gesamentlik geestelike Israel uitmaak. Elke lid word deur God verkies. Jesus is die Middelaar van die verbond, waardeur hy daardie 144 000 verbondslede help om deel van die saad van Abraham te word (Jeremia 31: 31-34; 2 Thessalonicense 2:13; Hebreërs 8:10, 12; 12:22-24; Galasiërs 3:29, vgl. NW). Dit is ook met hulle wat Jesus ’n ,verbond vir ’n koninkryk’ sluit. Gevolglik sal hulle uiteindelik saam met hulle Koning Jesus Christus gebruik word om Jehovah se seëninge van lewe aan al die geslagte van die aarde oor te dra.​—Lukas 22:28-30, NW; Johannes 6:53; Openbaring 5:9, 10; Genesis 22:15-18.

13. Waaraan moet 14 Nisan ons nou herinner?

13 Wanneer ons die volle betekenis van Jesus se woorde wat op hierdie gedenkdag geuiter is in oënskou neem, word ons waarlik kragtig herinner aan die liefde wat Jehovah bewys het deur sy geliefde Seun te voorsien. Ons word ook herinner aan die liefde wat Jesus bewys het deur sy lewe as ’n losprys te gee vir almal wat geloof beoefen (Johannes 3:16; Romeine 5:8; 1 Timotheüs 2:5, 6). Daar is egter ander kosbare waarhede wat Jesus daardie aand met sy volgelinge bespreek het. Die apostel Johannes is die enigste Bybelskrywer wat hierdie uiters intieme gesprek opgeteken het.

Verheerliking, liefde en eenheid

14. (a) Hoe word Jehovah deur elke Gedenkmaalviering verheerlik? (b) Watter rol speel liefde wanneer ons Jesus onthou, en tot watter selfondersoek behoort dit by alle gebruikers aanleiding te gee?

14 Jesus het gesê: „Nou is die Seun van die mens verheerlik, en God is in Hom verheerlik” (Johannes 13:31). Sedert Israel uit Egipte verlos is, is 14 Nisan met die regverdiging van God se naam, sy soewereiniteit en sy krag geassosieer. Nou, met Jesus se getrouheid tot die dood en daarna sy heerlike opstanding deur God se krag, is nog meer eer en heerlikheid op God se naam gebring. (Vergelyk Spreuke 27:11.) Jesus het vir sy dissipels gesê dat hulle bewys van dissipelskap sou lewer deur „’n nuwe gebod” te hou, naamlik om ,mekaar lief te hê soos hy hulle liefgehad het’ (Johannes 13:34, 35). Die diepte van ons broederliefde is ’n weerspieëling van ons waardering vir die liefde wat Jesus destyds vir ons getoon het.​—1 Johannes 4:19.

15. (a) Watter hoop op lewe word alle waardige gebruikers voorgehou? (b) Hoe word liefde vir Jesus getoon?

15 Die hoop om eendag in ’n hemelse tuiste te woon, is deel van die vreugde wat diegene voorgehou word wat verkies is om medeheersers van Christus te wees (Openbaring 20:6). Jesus meld hierdie hoop en sê: „Ek gaan om vir julle plek te berei. . . . Ek [kom] weer en sal julle na My toe neem” (Johannes 14:2-4). Watter tuiskoms wag daar tog op almal wat tot die einde getrou bly! Jesus vermaan gevolglik: „As julle My liefhet, bewaar my gebooie.” Dit beteken al sy gebooie, die bevel om te onderrig en dissipels te maak inkluis.​—Johannes 14:15, 21; Mattheüs 28:19.

16. (a) Hoe het Jesus die nodigheid vir eenheid onder sy volgelinge beklemtoon, en waarom is hierdie eenheid so belangrik? (b) Wat moet al Jesus se volgelinge onder die oë sien, maar wat help hulle om dit te doen?

16 Hoe belangrik is dit tog vir Jesus se volgelinge om een met hom en mekaar te wees! Jesus gebruik die illustrasie van ’n wynstok en sy lote om hierdie feit te beklemtoon. Eenheid lei daartoe dat vrug gedra word, en dit verheerlik dan die Vader (1 Korinthiërs 1:10; Johannes 15:1, 5, 8). Vervolging en teenkanting wag op al Jesus se volgelinge. Maar hoe geloofversterkend is dit tog om te weet dat Jesus sy onkreukbaarheid as ’n wêreldoorwinnaar ondanks al Satan se aanvalle gehandhaaf het!​—Johannes 15:18-20; 16:2, 33.

17. Bespreek party van Jesus se versoeke in sy gebed wat in Johannes hoofstuk 17 opgeteken is.

17 Jesus sluit die aand met ’n innige gebed aan sy Vader af. Sy eerste versoek het te doen met die verheerliking van sy Vader. Hy bid dat sy volgelinge teen die bose, Satan, beskerm sal word terwyl hulle afgeskeie van die wêreld bly. En hy bid ook dat die liefdevolle eenheid wat daar tussen hom en die Vader bestaan steeds onder sy immertoenemende aantal volgelinge sal groei.​—Johannes hoofstuk 17

18. Waarom het so min van diegene wat die Gedenkmaal in 1984 bygewoon het van die embleme gebruik?

18 Ons het net ’n paar van die kosbare waarhede en gedagtes bespreek wat Jesus daardie nag ongeveer 1 952 jaar gelede met sy dissipels gedeel het, maar dit help ons onteenseglik om te verstaan waarom 14 Nisan inderdaad ’n gedenkdag is. Geen wonder dan nie dat 7 416 974 van Jehovah se Getuies en hulle vriende verlede jaar die belangrikheid daarvan ingesien het om bymekaar te kom om die Here se Aandmaal te vier. En tog was daar slegs 9 081 van daardie ontsaglike menigte wat van die embleme gebruik het. Waarom? Omdat die oorgrote meerderheid van Jehovah se Getuies hulleself vandag as deel van die „groot menigte” beskou wat „voor die troon en voor die Lam” staan. Hulle sien daarna uit om op die aarde as hulle ewige tuiste te woon, en nie in die hemele waar die 144 000 „saam met [Christus] as konings [sal] regeer duisend jaar lank” nie.​—Openbaring 7:9; 20:6; Psalm 37:11.

19. Wat gaan volgende week bespreek word, en waarom is dit belangrik dat almal teenwoordig moet wees?

19 Daar het egter enkele vrae ontstaan oor die verband tussen die Here se Aandmaal en die „groot menigte” „ander skape” (Johannes 10:16). Dit is dus gepas dat hierdie sake in die volgende artikel bespreek word sodat niemand onder ’n misverstand sal verkeer noudat nog ’n Gedenkmaalviering nader kom nie.​—1 Thessalonicense 5:21.

[Voetnote]

a Party Bybelvertalings lui: „Dit is my liggaam.” (Kyk Afrikaanse Bybel, King James Version, Katolieke Douay Version, The New English Bible, en party moderne vertalings.) Maar die Griekse woord wat met „is” vertaal is, is e·stin, in die sin van aandui, beteken, voorstel. (Kyk voetnoot oor Mattheüs 26:26, NW-naslaanuitgawe.) Dieselfde Griekse woord word in Mattheüs 9:13 en 12:7 gebruik en word in albei gevalle met „beteken” vertaal.

Kan jy onthou​—

◻ Wie gebruik die Gedenkmaalembleme?

◻ Aan watter belangrike sake behoort die Gedenkmaal ons te herinner?

◻ Hoe toon ons dat ons elke dag aan Jesus dink?

◻ Watter belangrike geskil word altyd met 14 Nisan geassosieer?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel