Is wraak verkeerd?
Op ’n deurpad in die Verenigde State het ’n motor nie vinnig genoeg na die kant van die pad beweeg sodat ’n ander motor kon verbysteek nie. Die bestuurder van die tweede motor het wraak geneem deur op die voertuig wat in sy pad was te skiet, en die dood van ’n onskuldige passasier veroorsaak.
’n Tienermeisie moes ’n rol in ’n skoolopvoering aan ’n ander meisie afstaan. Sy het wraak geneem deur die meisie se kêrel te vertel dat die meisie ’n verhouding met ’n seun in ’n ander skool het. Sy het sodoende die meisie se verhouding met die kêrel verongeluk.
BAIE mense meen dat hulle die reg het om wraak te neem wanneer hulle dink dat hulle veronreg is. Op die een of ander manier volg hulle die leuse: “Moenie kwaad word nie, betaal eerder met gelyke munt terug.” Naasteliefde het vandag ’n laagtepunt bereik, en die gees van vergelding is aan die toeneem.—Mattheüs 24:12.
Maar hoe beskou jy wraak? As jy in die Bybel glo, meen jy miskien dat wraak in beginsel verkeerd is. Maar omdat ons in ’n goddelose wêreld lewe, meen jy dalk dat vergewensgesindheid, die teenoorgestelde van wraaksug, dikwels onrealisties is. Hoe sal jy reageer as jy bedrieg of beroof word? Raak jy wraaksugtig as iemand jou ignoreer of neerhalend van jou praat teenoor ander mense? Is jy wraaksugtig of vergewensgesind?
’n Wraaksugtige gesindheid is skadelik
Alle oortredings is natuurlik nie ewe ernstig nie. Maar die meeste mense wat wraak wil neem op iemand is nie beroof of aangerand nie. Die “oortredings” wat aan die begin van die artikel genoem is, was taamlik gering, hoewel hulle groot gelyk het in die gedagtes van dié wat besluit het om wraak te neem.
Die Bybel sê dat ons nie ’n wraaksugtige gesindheid moet aankweek nie. Spreuke 24:29 maan: “Moenie sê nie: Soos hy aan my gedoen het, so sal ek aan hom doen.” Waarom nie? Om maar een rede te noem, so ’n gesindheid is emosioneel en fisies skadelik. Wraaksugtige gedagtes ontneem jou jou gemoedsrus en belemmer gesonde redenasie. Beskou hierdie nuusberig: “Twee boere het mekaar vanuit hulle bakkies in ’n parkeerterrein doodgeskiet en sodoende ’n einde gemaak aan ’n 40 jaar lange vete wat begin het toe hulle kinders was.” Dink net daaraan: die denke van hierdie twee mans is hulle hele lewe lank vergiftig deur ’n verterende, wraaksugtige gees!—Spreuke 14:29, 30, NW.
Nog ’n rede waarom ’n mens nie ’n wraaksugtige gees moet aankweek nie, is dat mense wat foute begaan—selfs dié wat ernstige foute begaan—kan verander. Die apostel Paulus het byvoorbeeld vroeër die “vermoording” van die dissipel Stefanus goedgekeur en ‘dreiging en moord geblaas teen die dissipels van die Here’. Maar hy het verander. Jare later het die apostel Petrus—wie se lewe gedurende daardie vroeër tyd deur Paulus bedreig is—hom “ons geliefde broeder Paulus” genoem (Handelinge 8:1; 9:1; 2 Petrus 3:15). Christene kon probeer het om op Paulus wraak te neem, veral toe hy in Damaskus gewag het terwyl hy blind was (Handelinge 9:3-15). Wat ’n tragiese fout sou dit tog nie gewees het nie!
Paulus kon dus tereg in Romeine 12:20 maan: “As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink.” Waarom? Omdat ons ons vyand se gesindheid verhard en die vyandskap tussen ons vererger as ons ons op hom wreek. Maar as ons goed doen aan iemand wat ons te na kom of ons seermaak, kan ons sy gesindheid versag en ’n vriend van ’n gewese vyand maak.
As ons ons eie swakhede erken, help dit ons ook om die bitterheid te oorkom wat tot wraaksug lei. Die psalmis het gevra: “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?” (Psalm 130:3). Ons het almal al iemand seergemaak of hulle te na gekom. Was ons nie bly as hulle ons nie met gelyke munt probeer terugbetaal het nie? Moet ons ons dan nie ook daarvan weerhou nie? Jesus het gemaan: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen.”—Mattheüs 7:12.
Die Bybel sê weliswaar: “Haat die kwaad!” (Psalm 97:10; Amos 5:15). Maar dit sê nie dat ons die persoon moet haat wat die kwaad doen nie. Trouens, Jesus het ons beveel: “Julle moet jul vyande liefhê; . . . en bid vir die wat julle . . . vervolg” (Mattheüs 5:44). As ons kwaad met kwaad vergeld, volg ons die gesindheid van die oortreder na. Die ou spreuk lui: “Moenie sê: Ek wil die kwaad vergelde nie! Wag op die HERE, dat Hy jou help” (Spreuke 20:22). Wat ’n verstandige gesindheid! Hoeveel beter is dit tog om te toon dat ons die oorwinnaars is deurdat ons die versoeking weerstaan om oortreders se voorbeeld te volg.—Johannes 16:33; Romeine 12:17, 21.
Straf—deur wie?
Sommige oortredings is natuurlik ernstiger as persoonlike beledigings of gekrenktheid. Sê nou ons is die slagoffer van ’n misdaad? Natuurlik meen ons dat daar ter wille van geregtigheid iets gedoen moet word. Maar wat? In sommige gemeenskappe was dit nie ongewoon om die saak in eie hande te neem en wraak te neem nie. Maar sulke gemeenskappe is dikwels uiteindelik deur bloedvetes verskeur. Vandag laat nóg God se wette en, in die meeste gevalle, nóg mensewette toe dat individue persoonlik wraak kan neem vir misdade, en met goeie rede. Sulke persoonlike geweld lei net tot meer geweld.
Moet ’n slagoffer van ’n misdaad die saak dan net daar laat en die onreg gelate aanvaar? Nie noodwendig nie. Wanneer ons persoon of ons besittings geskend word, is daar owerhede tot wie ons ons kan wend. Jy kan die polisie inroep. By die werk kan jy na die opsiener gaan. By die skool kan jy die hoof gaan spreek. Dit is een rede waarom hulle daar is—om toe te sien dat geregtigheid geskied. Die Bybel sê vir ons dat regeringsowerhede “’n dienaar van God [is], ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf” (Romeine 13:4). Geregtigheid vereis dat die regering sy gesag uitoefen, ’n einde maak aan oortredings en die oortreders straf.
Soms neem dit weliswaar lank vir geregtigheid om te geskied. Een lewensmoë skrywer het gesê: “Geregtigheid is soos ’n trein wat byna altyd laat is.” Soms kom die trein inderdaad nooit by sy bestemming aan nie. Mense wat ongeregtigheid doen, kan so invloedryk wees dat die owerheid hulle nie aan bande kan lê nie. Die wyse weg is nogtans selfbeheersing. Die Bybel sê: “’n Dwaas laat sy hele gees uit, maar die wyse hou dit kalm tot op die laaste.”—Spreuke 29:11, NW.
Wraak—deur wie?
Daarom sal dit vir ons voordele inhou as ons ons van wraak weerhou, en ons kan rustig wag in die wete dat as daar straf uitgedeel moet word, God dit op die regte tyd sal doen. Jehovah weet dat oortredings wat ongestraf bly tot groter boosheid lei (Prediker 8:11). Hy sal nie toelaat dat die verstokte goddeloses die mensdom vir ewig onderdruk nie. Dit is waarom die apostel Paulus ons gemaan het: “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Romeine 12:19). Die Bybel praat inderdaad van die Skepper se dag van wraak. Wat sal hierdie dag van wraak wees? En wie sal die teikens van God se wraak wees? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.
[Venster op bladsy 4]
Om wraakgevoelens te onderdruk, onthou dat
□ God besorg is oor geregtigheid
□ dit skadelik is om ’n wraaksugtige gesindheid te koester
□ dit dikwels probleme verminder as ons vriendelik teenoor ander is
□ baie van ons eie oortredings oorgesien is
□ oortreders kan verander
□ ons die wêreld oorwin deur sy weë te weerstaan