WAARHEID BRING VRYHEID EN GELUK
Bybelwaarheid het geestelike vryheid en groot geluk tot gevolg. Dit is beslis so in die geval van ’n man genaamd Carlos, ’n inwoner van Portugal.
ln 1968 het Carlos regstreekse en listige metodes gebruik om sy vrou, Olga, te ontmoedig om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer. Eindelik het sy opgehou om te studeer, maar sy het nog die dinge geglo wat sy uit die Skrif geleer het.
Eendag, nadat hulle verhuis het, het hulle driejarige seun gesê dat ’n Getuie-buurman by hulle deur aangeklop het. Verbasend genoeg het Carlos vir Olga gesê om hierdie buurman oor te nooi. Die Getuie en sy vrou het gekom en drie uur lank Bybelvrae beantwoord. Hulle het gereël om die volgende week terug te kom vir ’n Bybelstudie en ’n eksemplaar van die Bybelstudiehulp “Die waarheid wat lei tot die ewige lewe” by hulle gelaat. Toe die Getuies vir die studie terugkeer, het Carlos al die hele boek gelees. Twee maande nadat hy begin studeer het, het hy gevra of hy Christenvergaderinge kan bywoon. Die Getuies (wat destyds in Portugal verbied was) het geaarsel, want Carlos was ’n agent van die geheime polisie. Maar daar was geen probleme nie.
ln 1972 het Carlos twee keer aansoek gedoen om ontslag uit die geheime polisie, en eindelik is sy versoek toegestaan. Toe kom die rewolusie van April 1974. Op 30 April het nege soldate hom tronk toe vergesel, waar hy sewe dae deurgebring het. Volgens ’n onlangse wet moet alle agente van die geheime polisie onder die voormalige bewind verhoor en tronk toe gestuur word, sonder enige voorsiening vir begenadiging. Carlos is dus op 10 Julie 1979 deur ’n krygshof verhoor. Tydens die verhoor is daar gemeld dat hy etlike jare tevore uit die geheime polisie bedank het en een van Jehovah se Getuies is. Tot almal se verbasing is Carlos vrygespreek.
Carlos, wat sy standpunt as ’n neutrale Christen ingeneem het, is nou ’n opsiener in die plaaslike gemeente (Joh. 15:19). Saam met sy vrou, seun en skoonmoeder dien hy Jehovah nou gelukkig, dankbaar vir die waarheid wat ’n mens vrymaak.—Joh. 8:32.