Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w26 Maart bl. 26-31
  • Hoekom jy gelukkig kan wees wanneer jy gehaat word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoekom jy gelukkig kan wees wanneer jy gehaat word
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOEKOM ONS GEHAAT WORD
  • HOEKOM ONS GELUKKIG KAN WEES WANNEER ONS GEHAAT WORD
  • Liefde help ons om te volhard wanneer ons gehaat word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • ’n Brief wat ons kan help om getrou te volhard tot die einde toe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Hoe Jehovah ons help om te volhard
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • “Kies . . . self wie julle gaan dien”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
w26 Maart bl. 26-31

1-7 JUNIE 2026

LIED 111 Ons redes tot vreugde

Hoekom jy gelukkig kan wees wanneer jy gehaat word

“Gelukkig is julle wanneer mense julle haat.” – LUK. 6:22.

FOKUS

Hoekom ons gelukkig kan wees wanneer ons gehaat word omdat ons Jehovah dien.

1. Wat het Jesus gesê, en hoekom verbaas dit ons?

IN SY Bergpredikasie het Jesus gesê: “Gelukkig is julle wanneer mense julle haat” (Luk. 6:22). Daardie woorde het sy luisteraars sekerlik verbaas. Niemand hou tog daarvan om gehaat te word nie. Hoekom het Jesus daardie stelling gemaak? Dit is ’n goeie vraag om oor te dink omdat Jesus se volgelinge vandag deur baie mense gehaat word. Ons sal bespreek hoekom ons gehaat word en hoekom ons gelukkig kan wees wanneer ons gehaat word.

HOEKOM ONS GEHAAT WORD

2-3. Wat is een rede hoekom ware Christene vervolg word, en hoe kan dit ons beskouing van teenstanders affekteer? (Johannes 16:​2, 3)

2 Ons word gehaat omdat ons Jehovah aanbid. Jesus het die volgende gesê oor dié wat party van sy volgelinge sou vervolg en selfs sou doodmaak: “Hulle [het] my nie leer ken . . . nie, en ook nie die Vader nie.” (Lees Johannes 16:​2, 3.) Wie is eintlik verantwoordelik vir die feit dat God se volk teëgestaan word? Satan is. Hy is “die god van hierdie wêreld” (2 Kor. 4:​3, 4). Hy verblind mense vir die waarheid omtrent Jehovah en beïnvloed hulle om dié wat God ken en liefhet, teë te staan (Joh. 8:​42-44). Hoe kan hierdie kennis ons beskouing van teenstanders affekteer? Om maar een ding te noem, dit help ons om hulle nie te haat nie omdat ons besef dat hulle bedrieg is.

3 Kyk na die voorbeeld van Pavel,a wat in ’n land bly waar ons werk verbied is. Omdat hy Jehovah getrou bly aanbid het, is hy gearresteer, wreed geslaan en vir maande in alleenopsluiting gesit. Pavel sê nou: “Dit is vir my duidelik dat vervolging die gevolg is van demoniese teenstand teen ware aanbidding. Dit lyk asof die meeste mense wat by die tronke werk, ons nie haat nie. Hulle doen maar net hulle werk.” ’n Broer in Kroasië wat wrede vervolging van sy ongelowige ouers verduur het, sê: “Ek het besef dat Satan eintlik my vyand is, nie my ouers nie.” – Ef. 6:12.

4. Wat kan ons uit Jesus en die dissipel Stefanus se voorbeelde leer? (Sien ook prent.)

4 Ons haat nie ons teenstanders nie. Om die waarheid te sê, ons word dalk beweeg om vir hulle te bid (Matt. 5:44). In hierdie verband kan ons by Jesus en die dissipel Stefanus leer. Toe Jesus deur Romeinse soldate aan die folterpaal gehang is, het hy gebid: “Vader, vergewe hulle” (Luk. 23:34). Jesus het Jehovah gevra om hierdie soldate wat beveel is om hom dood te maak, te vergewe. Hy het dalk ook gedink aan dié in die skare wat geskree het dat hy doodgemaak moet word omdat hulle deur sy godsdiensvyande beïnvloed is. Jesus het besef dat hierdie mense nie regtig geweet het wat hulle doen nie. Net so het die dissipel Stefanus God gevra om die manne wat hom sou doodmaak, te vergewe (Hand. 7:​58-60). Het Jehovah Jesus en Stefanus se gebede beantwoord? Ja. Baie wat by Jesus se verhoor en teregstelling betrokke was, het later berou getoon, geloof in Jesus beoefen en hulle laat doop (Hand. 2:​36-41). En ten minste een persoon wat Stefanus se teregstelling goedgekeur het – Saulus van Tarsus – het ’n Christen geword en was baie spyt oor die verskriklike dinge wat hy gedoen het. – 1 Tim. 1:13.

’n Broer met kneusplekke op sy gesig bid in sy tronksel terwyl ’n wag daar naby staan.

Net soos Jesus en die dissipel Stefanus vir dié wat hulle vervolg het, gebid het, kan ons vir dié wat ons vervolg, bid (Sien paragraaf 4)


5. Wat leer jy uit César se ondervinding?

5 Vandag beantwoord Jehovah nog steeds ons gebede vir dié wat ons teëstaan. Kyk na die voorbeeld van César, wat in Venezuela bly. Sy pa het die waarheid hewig teëgestaan. César sê: “My ma was alles wat ’n vrou en ma moet wees. Al het sy altyd die Koninkryk eerste gestel, het sy my pa nooit afgeskeep nie. Sy het my en my broers en susters geleer om ons pa te respekteer. Sy het ons ook geleer om hom te gehoorsaam tensy hy ons gevra het om iets te doen wat teen God se wil is.” Oor die jare heen het sy pa se gesindheid versag. César sê: “Op ’n dag, nadat ek ’n opregte gebed gedoen het, het ek my pa gevra of ek die Bybel met hom kan studeer. Dit is moeilik om die emosies te beskryf wat ek gevoel het toe hy ja sê.” Met verloop van tyd het César se pa hom laat doop. Nie alle teenstanders maak sulke veranderinge nie, maar party versag hulle gesindheid nadat hulle ons respekvolle spraak en goeie gedrag gesien het. Ons is baie bly wanneer hulle dit doen! Ons sien daarna uit om te sien hoe Jehovah, die genadige “Regter van die hele aarde”, sulkes dalk nog na hom toe sal trek. – Gen. 18:25.

6. Wat is nog ’n rede hoekom ons gehaat word volgens Markus 13:13?

6 Ons word gehaat omdat ons Jesus respekteer. Jesus het gesê dat ware Christene deur alle mense gehaat sou word “as gevolg van [sy] naam”. (Lees Markus 13:13.) Wat verteenwoordig Jesus se “naam”? Dit verteenwoordig sy reputasie en sy gesag as die Koning van God se Koninkryk. Ons word gehaat deur mense wat hulle vertroue in aardse leiers gestel het eerder as in die een wat Jehovah gekies het om oor die heelal te regeer, Jesus Christus. Jesus regeer al vanaf 1914 as Koning van die Koninkryk. Hy sal binnekort alle ander regerings wat sy gesag verwerp het, verwyder.

7-8. Hoekom word party van Jehovah se volk gespot? (Johannes 15:​18-20) (Sien ook prente.)

7 Ons word gehaat omdat ons Satan se wêreld verwerp. Jesus het verduidelik dat sy volgelinge gehaat sou word omdat hulle “geen deel van die wêreld is nie”. (Lees Johannes 15:​18-20.) Soos die vroeë Christene verwerp ons die wêreld se goddelose gesindhede, gedrag en spraak. As gevolg hiervan word baie broers en susters by die werk of by die skool gespot (1 Pet. 4:​3, 4). Maar ons is bly dat party teenstanders uiteindelik hulle gesindheid verander en ons vir ons standpunt begin bewonder.

8 Kyk na die voorbeeld van Ignacio, in Sentraal-⁠Amerika. Hy was op ’n skool waar ’n onderwyser hom jare lank vir sy hoë sedelike standaarde gespot het. Maar voordat Ignacio skool klaargemaak het, het daardie onderwyser hom gevra hoe hy dit regkry om in so ’n vyandige omgewing volgens Bybelstandaarde te lewe. Ignacio het verduidelik dat hy God se wette as ’n beskerming beskou. Hy het die onderwyser toe na ’n gemeentelike vergadering genooi. Ignacio was verbaas toe die onderwyser die vergadering bywoon! Die liefde van die gemeente het die onderwyser so beïndruk dat hy aangehou het om gemeentelike vergaderinge by te woon. Later het die onderwyser self teenstand ondervind omdat hy die Bybel studeer het. Maar hy het aangehou om geestelike vordering te maak en is uiteindelik gedoop.

Collage: ’n Dramatisering van Ignacio by die skool. 1. Hy sit stil en respekvol in ’n klaskamer terwyl sy onderwyser hom voor ander studente spot. 2. Later luister Ignacio se onderwyser aandagtig terwyl Ignacio met hom praat.

Maak nie saak hoe oud ons is nie, ons kan ons geloof moedig verdedig en suksesvol wees (Sien paragraaf 8)b


9-10. (a) Wat is nog ’n rede hoekom Christene anders as Satan se wêreld is? (b) Wat kan ons uit die apostel Paulus se voorbeeld leer?

9 Ons is ook anders as Satan se wêreld omdat ons neutraal is wanneer dit by die politiek en oorlog kom (Joh. 18:36). In ooreenstemming met die raad in Romeine 13:1 probeer ons om wetsgehoorsame burgers te wees. Maar as Christene bly ons neutraal wanneer dit by politieke konflik kom, so ons probeer nie om verkies te word of stem nie vir politieke kandidate nie. Hoekom nie? Omdat ons lojaal aan Jehovah en aan sy Koninkryk onder Christus is. Baie van Jehovah se Getuies is in die tronk gegooi weens hulle Christelike geloof. Ten spyte hiervan hou ons broers en susters wat in die tronk is aan preek. So hulle volg die apostel Paulus na, wat jare lank onder huisarres en in die tronk was (Hand. 24:27; 28:​16, 30). Hy het aangehou om die goeie nuus te deel met almal wat wou luister, insluitende tronkbewaarders, hofbeamptes, goewerneurs, konings en dalk selfs beamptes van die Romeinse keiser Nero. – Hand. 9:15.

10 Net so preek ons broers wat in die tronk is, vir almal wat wil luister, insluitende regters, regeringsamptenare en wagte. ’n Broer wat meer as ses jaar lank in die tronk was omdat hy polities neutraal gebly het, het gesê dat hy sy tyd in die tronk nie as ’n straf beskou het nie, maar as ’n toewysing van Jehovah om opregtes te vind. Ons is baie bly as Jehovah ons gebruik om sulke individue met die goeie nuus te bereik! (Kol. 4:3). Kom ons kyk ook na ander redes wat ons het om gelukkig te wees selfs wanneer ons gehaat word omdat ons Jehovah dien.

HOEKOM ONS GELUKKIG KAN WEES WANNEER ONS GEHAAT WORD

11. Hoe kan dit ons geloof versterk as ons vervolging ondervind? Gee ’n voorbeeld.

11 Ons weet dat die wêreld se haat Bybelprofesieë vervul. Jehovah het in die eerste opgetekende profesie voorspel dat Satan en sy simboliese nageslag – dié wat hom volg – individue wat Jehovah liefhet en dien, sou haat (Gen. 3:15). Jesus het dikwels bevestig dat daardie profetiese woorde waar is, soos opgeteken is deur al vier Evangelieskrywers (Matt. 10:22; Mark. 13:​9-12; Luk. 6:​22, 23; Joh. 15:20). En ander Christenbybelskrywers het dieselfde gedoen (2 Tim. 3:12; Jak. 1:2; 1 Pet. 4:​12-14; Jud. 3, 17-19). So wanneer ons vervolg word, is ons nie geskok nie. Ons is eerder bly omdat Bybelprofesieë vervul word. Dit verseker ons van die feit dat ons die ware God dien. ’n Suster wat in ’n land bly waar ons werk beperk is, sê: “Toe ek my aan Jehovah toewy, het ek geweet dat ek die een of ander tyd vervolging sou ondervind. So moeilike tye het my nie geïntimideer of my verbaas nie.” Haar man was een van haar baie teenstanders. Hy het haar sleg behandel en haar Bybel en Bybellektuur verbrand. Maar in plaas daarvan om bang te wees en toe te laat dat haar geloof swakker word, het haar geloof sterker geword (Heb. 10:39). Sy sê: “Vervolging is voorspel, so ek het geweet dat dit moet gebeur. Om vervolging te ondervind, het my oortuig dat dit die ware godsdiens is.”

12. Wat het ’n broer gehelp om vervolging te hanteer?

12 Al verwag ons om vervolg te word, vind ons dit dalk nog steeds moeilik om dit te verduur. ’n Broer het die volgende oor sy tyd in die tronk geskryf: “Soms het ek depressief of bekommerd gevoel, en dan het ek net gehuil.” Wat het hierdie broer gehelp om dit te hanteer? “Ek het altyd gebid,” het hy gesê. “Ek het elke oggend met gebed begin. Gedurende die loop van die dag het ek gebid wanneer moeilike situasies ook al opgeduik het. En wanneer ander my sleg behandel en my kwaad gemaak het, het ek myself in die badkamer toegesluit en gebid.” Ons broer het ook oor eertydse en hedendaagse voorbeelde van integriteit nagedink. Dit het hom gehelp om die vervolging te verduur en om die vrede wat Jesus vir sy volgelinge belowe het, te verkry. – Joh. 14:27; 16:33.

13. Wat kan ons help om haat te oorwin?

13 Ons het liefde wat sterker is as haat. Jesus het tot sy dood sy Vader met sy hele hart liefgehad. Jesus het ook sy vriende liefgehad (Joh. 13:1; 15:13). Wanneer ons sulke liefde vir Jehovah en vir ons broers en susters ontwikkel, sal ons ook haat kan oorwin. Hoe so? Kom ons kyk na die voorbeeld van die apostel Paulus om daardie vraag te beantwoord.

14. Wat het Paulus gehelp om standvastig te wees toe hy doodgemaak sou word?

14 Kort voordat hy doodgemaak sou word, het Paulus aan sy dierbare vriend Timoteus geskryf: “Die gees wat God ons gegee het, maak ons nie lafhartig nie, maar gee ons krag [en] liefde” (2 Tim. 1:7). Wat het Paulus bedoel? Paulus het eintlik gesê dat sterk liefde vir Jehovah ’n Christen kan beweeg om gewillig te wees om baie moeilike situasies te verduur (2 Tim. 1:8). Al het Paulus geweet dat hy dalk doodgemaak sou word, het sy sterk liefde vir Jehovah hom sekerlik gehelp om die moed te hê om lojaal aan Hom te bly. – Hand. 20:​22-24.

15. Hoe het ons broers en susters in ons tyd onselfsugtige liefde aan mekaar betoon? (Sien ook prent.)

15 Ons is beslis lief vir ons medegelowiges wat gedurende vervolging standvastig bly. Vandag stel party hulleself gewilliglik in gevaar vir hulle broers en susters, soos Aquila en Priscilla gedoen het toe hulle hulle lewens vir Paulus gewaag het (Rom. 16:​3, 4). In Rusland het baie byvoorbeeld na howe toe gegaan om dié wat gearresteer is, aan te moedig. Toe ’n suster wat in hegtenis geneem is, ’n groot groep van haar geestelike broers en susters by die hof sien, het dit haar so diep geraak dat sy ’n ruk lank nie kon praat nie. Die onselfsugtige liefde van haar medegelowiges het haar versterk toe sy dit regtig nodig gehad het. Ons kan baie bly wees dat ons liefde het wat sterker is as haat!

’n Suster word deur twee vroulike polisiebeamptes in ’n bussie gesit terwyl ’n groep van haar broers en susters vir haar hande klap.

Selfs waar ons werk verbied of beperk is, het ons broers en susters onselfsugtige liefde aan mede-⁠Christene betoon (Sien paragraaf 15)c


16. Hoekom het die apostel Petrus gesê dat dié wat mishandel word omdat hulle God dien, rede het om gelukkig te wees? (1 Petrus 4:14)

16 Ons weet dat ons God se goedkeuring het wanneer ons haat verduur. (Lees 1 Petrus 4:14.) Die apostel Petrus het gesê dat dié wat mishandeling verduur omdat hulle God dien, rede het om gelukkig te wees. Hoe so? Sulke mishandeling is ’n bewys dat “[ons] die gees van God” het. Petrus het geweet hoe dit voel om God se goedkeuring te hê en om vervolging te verduur. Kort ná Pinkster 33 HJ is die Joodse tempelpolisie gestuur om Petrus en ander apostels te arresteer omdat hulle gepreek het. Maar Petrus het sy geloof moedig verdedig (Hand. 5:​24-29). Selfs nadat hy en sy mede-⁠apostels geslaan is, het hulle nie ophou preek nie. Hulle was eerder vreugdevol omdat hulle “waardig bevind is om ter wille van [Jesus se] naam verneder te word”. Ons kan ook vreugdevol wees wanneer ons moeilike tye verduur. – Hand. 5:​40-42.

17. Wat het Jesus op die aand voor sy dood vir sy dissipels gesê?

17 Op die aand voor sy dood het Jesus vir sy dissipels gesê: “My Vader sal lief wees vir enigiemand wat lief is vir my, en ek sal lief wees vir daardie persoon” (Joh. 14:21). Ons sien baie uit na die tyd wanneer mense ons sal liefhê – nie haat nie – omdat ons Jehovah dien! (2 Tess. 1:​6-8). Laat die baie redes wat ons het om gelukkig te wees wanneer ons gehaat word, ons intussen vertroos en versterk.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoekom word Jesus se volgelinge gehaat?

  • Hoe is ons liefde sterker as haat?

  • Hoekom kan ons gelukkig wees wanneer ons gehaat word?

LIED 149 ’n Oorwinningslied

a Party name is verander.

b BESKRYWING VAN PRENT: ’n Dramatisering van Ignacio wat vir sy onderwyser preek.

c BESKRYWING VAN PRENT: ’n Dramatisering van broers en susters wat ’n medeaanbidder ondersteun wat tronk toe geneem word weens haar geloof.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel