Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w26 Maart bl. 20-25
  • Tree met insig op en jy “sal suksesvol wees”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Tree met insig op en jy “sal suksesvol wees”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WEES NEDERIG EERDER AS TROTS
  • WEES KALM EERDER AS WOEDEND
  • VERTROU OP JEHOVAH EERDER AS OM BANG TE WEES
  • VERKRY EN BEWAAR INSIG
  • ’n Moedige meisie praat oor haar God
    Wees moedig en maak God gelukkig
  • Die soldaat en die dogtertjie
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • ’n Trotse man word nederig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Sy wou help
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
w26 Maart bl. 20-25

25-31 MEI 2026

LIED 135 God se liefdevolle versoek: “Wees wys, my seun”

Tree met insig op en jy “sal suksesvol wees”

“Die een wat met insig optree, sal suksesvol wees.” – SPR. 16:20.

FOKUS

Hoe dit ons kan help om moeilike situasies suksesvol te hanteer as ons met insig optree.

1-2. Wat is insig, en hoe kan dit ons help?

HET jy al ooit gevoel dat iemand jou nie met die nodige respek behandel het nie? Het jy al ooit gevoel dat iemand ’n verkeerde opinie omtrent jou gehad het of jou onregverdig behandel het? Of het jy al ooit ’n situasie ondervind wat jou bang gemaak het? Indien wel, weet jy heel moontlik hoe moeilik dit kan wees om op ’n positiewe manier te reageer. Gelukkig vertel die Bybel ons van ’n eienskap wat ons in hierdie en baie ander omstandighede kan help: insig.

2 Insig is die vermoë om dieper as die oppervlak van ’n situasie te kyk. Dit stel ons in staat om te verstaan hoekom iets dalk gebeur het of hoekom iemand dalk op ’n sekere manier opgetree het. So insig kan ons help om wys en verstandig op te tree. Byvoorbeeld, dit kan ons help om ‘ons lippe te beheer’ en om te weet wanneer om ‘stil te bly’ (Spr. 10:19; Ps. 4:4). Dit kan ons help om ons woede te beheer en om oortredings oor te sien. Dit kan ons ook help om raad en teregwysing te aanvaar (Spr. 19:20). Wanneer ons met insig optree, maak ons nie net Jehovah gelukkig nie, maar ons en dié wat deur ons woorde en dade geaffekteer word, vind ook daarby baat. En wanneer ons in ’n moeilike situasie is wat ons baie ontstel, sal ons nie so kwaad word dat ons op die verkeerde manier reageer nie. Kom ons bespreek drie Bybelverslae wat wys hoe insig ons kan help om nederig en kalm te bly en om heeltemal op Jehovah te bly vertrou.

WEES NEDERIG EERDER AS TROTS

3. Wie was Naäman?

3 Om werklik suksesvol te wees, moet ons trots verwerp (1 Pet. 5:5). Insig kan ons help om dit te doen. Hoe? Dink aan die voorbeeld van Naäman. Hy het in Sirië gebly, ’n nasie noord van Israel. Naäman was ’n prominente man, die hoof van die Siriese leërmag. Maar hy het aan ’n verskriklike velsiekte gely – melaatsheid. – 2 Kon. 5:1.

4. Hoe het die manier hoe Naäman op die meisietjie se woorde gereageer het, gewys dat hy wys is?

4 Naäman se vrou het ’n Israelitiese diensmeisie gehad wat vir haar gesê het dat daar ’n profeet in Israel is wat haar man se siekte kan genees (2 Kon. 5:​2, 3). Naäman kon gedink het: ‘Kan ’n eenvoudige slavin van ’n vyandige nasie regtig vir my iets sê wat my sal help?’ Maar Naäman het gedink oor wat sy gesê het. In plaas daarvan om alles wat sy gesê het, trots te verwerp, was hy nederig en het hy haar woorde ernstig opgeneem. Hy het by die koning van Sirië toestemming gekry om na Israel te gaan om genees te word. – 2 Kon. 5:​4, 5.

5. Wat het gebeur toe Naäman in Israel aankom?

5 Naäman het by die hof van koning Joram van Israel aangekom en gehoop om van sy melaatsheid genees te word. Maar Joram het gedink dat die koning van Sirië net moeilikheid probeer soek. Toe die profeet Elisa hiervan hoor, het hy Joram gevra om Naäman na hom toe te stuur (2 Kon. 5:​6-9). Dinge het nie uitgedraai soos Naäman verwag het nie. Elisa het nie eers uit sy huis gekom om Naäman te ontmoet of om met hom te praat nie. Elisa het eerder ’n boodskapper gestuur om vir Naäman te sê wat hy moet doen om genees te word. – 2 Kon. 5:10.

6. (a) Wat het dalk veroorsaak dat Naäman trots reageer op die boodskapper se instruksies? (b) Hoe het Naäman se knegte met insig opgetree, en wat was die gevolg? (2 Konings 5:​13, 14)

6 Naäman het eers nie goed gereageer op die boodskapper of op die instruksies nie. Hy “het kwaad geword” en “woedend weggegaan” (2 Kon. 5:​11, 12). Hoekom? Dalk het hy gevoel dat hy nie met die soort respek behandel is wat hy as ’n hooggeplaaste militêre offisier verdien het nie. En Naäman het dalk gevoel dat Elisa se instruksies ’n gebrek aan respek vir Sirië gewys het. Wat ook al die geval is, Naäman was gereed om huis toe te gaan sonder om genees te word. Maar sy knegte het met insig opgetree toe hulle hom smeek om die saak te heroorweeg. Naäman het sy trots wyslik opsygesit en het Elisa se instruksies nederig gevolg. As gevolg daarvan is hy genees! – Lees 2 Konings 5:​13, 14.

7. Wat kan ons uit Naäman se ondervinding leer? (Spreuke 22:4) (Sien ook prente.)

7 Wat kan ons uit hierdie verslag leer? Ons tree met insig op wanneer ons dieper as die oppervlak kyk, wat uiterlike voorkoms kan insluit. Ons tree ook met insig op wanneer ons nie toelaat dat ons emosies ons beheer nie. Insig kan ons beweeg om nederig te wees. Ons erken in werklikheid dat ons nie al die antwoorde het nie. Ons het dalk ander se hulp nodig, veral Jehovah s’n. Naäman was nog nie ’n aanbidder van Jehovah nie; maar hy het met ’n mate van insig opgetree deur nederig na ander te luister: sy vrou se Israelitiese slavin, sy eie knegte en, die belangrikste, Jehovah se verteenwoordiger Elisa. Naäman kon verby sy seergemaakte gevoelens kyk. Op die ou end het hy ’n wyse besluit gemaak wat tot sukses gelei het. Voordat ons op ’n saak reageer – soos wanneer ons Bybelse raad waarmee ons nie saamstem nie of teokratiese riglyne wat ons nie verstaan nie, ontvang het – moet ons pouseer en dink of dit wat ons wil sê of doen, wys dat ons trots of nederig is. – Lees Spreuke 22:4.

Collage: ’n Broer tree met insig op terwyl hy nederig na ander luister. 1. Hy luister na ’n jonger broer wat met behulp van die “Leer hoe om beter te lees en onderrig”-⁠brosjure vir hom raad gee. 2. Hy luister terwyl ’n ouer suster oor die gemeente se reëlings vir die lektuurtrollies met hom praat. 3. Hy luister terwyl hy ’n JW Broadcasting-⁠program op sy tablet kyk.

Net soos Naäman nederig na ander geluister het, moet ons luister wanneer ons raad kry, wanneer ander ’n probleem het of wanneer ons riglyne van God se organisasie kry (Sien paragraaf 7)


WEES KALM EERDER AS WOEDEND

8. In watter omstandighede vind ons dit dalk moeilik om kalm te bly?

8 Insig kan ons help om kalm te bly en dit te vermy om met woede op frustrerende situasies te reageer. Dit is natuurlik nie altyd maklik nie omdat ons goeie rede kan hê om ontsteld te wees, veral wanneer iemand onvriendelik of onregverdig teenoor ons is (Ef. 4:26). Kyk hoe Dawid en Abigail gedurende ’n gespanne situasie met insig opgetree het.

9. Hoe het Nabal Dawid behandel?

9 Stel jou die toneel voor: Dawid en sy manne lewe as vlugtelinge in die wildernis Paran (1 Sam. 25:1). Terwyl hulle daar is, beskerm hulle liefdevol die herders en die kleinvee van ’n ryk man met die naam Nabal (1 Sam. 25:​15, 16). Gedurende die skaapskeerdery-⁠seisoen stuur Dawid boodskappers met goeie wense na Nabal en vra hy nederig vir enige kos wat hy vir hulle kan gee (1 Sam. 25:​6-8). Maar Nabal is glad nie dankbaar vir alles wat Dawid en sy manne vir hom gedoen het nie. Hy reageer op ’n baie onbeskofte manier op Dawid se versoek en beledig selfs Dawid en sy manne. – 1 Sam. 25:​10, 11.

10. Hoe het Dawid en Abigail met insig opgetree? (1 Samuel 25:​32, 33) (Sien ook prent.)

10 As jy in Dawid se situasie was, hoe sou jy gevoel het? Dit is nie moeilik om te verstaan hoekom Dawid baie kwaad geword het nie. Hy was ’n man met sterk emosies, en in hierdie geval het hy so kwaad geword dat hy Nabal wou doodmaak! (1 Sam. 25:​13, 21, 22). Om die waarheid te sê, Dawid was op pad om dit te doen toe hy deur Nabal se verstandige vrou, Abigail, gekeer is. Hoe het Abigail met insig opgetree? Sy het besef dat Dawid ’n goeie man is ten spyte van sy reaksie, en daarom het sy gedoen wat sy kon om hom te help om sy woede te beheer. Sy het vir hom ’n groot geskenk gebring en nederig vir hom ’n bietjie wyse raad gegee (1 Sam. 25:​18, 23-31). Dawid het met insig opgetree deur aandag te skenk aan wat Abigail gesê het en te besef dat haar woorde Jehovah se beskouing van die saak weerspieël het. As gevolg daarvan het Dawid gekalmeer en dit vermy om ’n ernstige fout te maak. – Lees 1 Samuel 25:​32, 33.

Dawid luister aandagtig na Abigail terwyl sy op die grond kniel en hom smeek. Dawid se manne staan daar naby en hou hulle dop. Abigail se knegte wag agter haar en hou baie geskenke vas.

Deur gedurende ’n gespanne situasie met insig op te tree, het Dawid en Abigail gekeer dat ’n tragedie plaasvind (Sien paragraaf 10)


11. Hoe kan dit ons help as ons met insig optree wanneer iemand ons kwaad maak? (Spreuke 19:11)

11 Wat kan ons uit hierdie verslag leer? Om met insig op te tree, kan ons help om vreedsaam op ’n saak te reageer, al het ons ’n geldige rede om kwaad te wees. Dit kan ons help om aan die gevolge van ons woorde en dade te dink. (Lees Spreuke 19:11.) Toe Dawid aan Jehovah se denke herinner is, kon hy sy woede onder beheer kry. As iets jou frustreer of kwaad maak, verwerp die versoeking om te reageer sonder om te dink (Jak. 1:19). Bid tot Jehovah en dink aan hoe hy die saak beskou, wat jou heel moontlik sal help om te kalmeer.

12. Hoe kan ander ons help om met insig op te tree en kalm te bly?

12 Net soos Jehovah Abigail gebruik het om Dawid te help om kalm te bly en om te verstaan hoe Hy dink, kan Hy vandag ook ons broers en susters gebruik om ons te help verstaan hoe Hy dink. So voordat jy op ’n frustrerende situasie reageer, oorweeg dit om met ’n volwasse Christen te praat – iemand wat jou kan help om sake te sien soos Jehovah dit sien (Spr. 12:15; 20:18). Aan die ander kant, kan jy Abigail navolg as jy die geleentheid het om ’n vriend in so ’n situasie te help? Kan jy jou vriend help om Jehovah se beskouing van die saak te sien? Jehovah sal jou pogings om ander te help om met insig op te tree en kalm te bly, sekerlik seën.

VERTROU OP JEHOVAH EERDER AS OM BANG TE WEES

13. Hoe kan insig ons help om verby ons vrese te kyk?

13 Ons sal soms situasies ondervind wat ons bang laat voel. Insig kan ons help om verby ons vrese te kyk deur te onthou dat enige skrikwekkende gebeure in hierdie wêreld niks is in vergelyking met Jehovah se ongelooflike krag nie (Ps. 27:1). Jehovah kan ons in enige situasie help, selfs dié wat hopeloos lyk. Daardie les kan duidelik gesien word in die lewe van die profeet Jona. Hy was ’n geestelike man, maar hy het meer insig nodig gehad om suksesvol te wees in ’n moeilike toewysing.

14. Hoekom was Jona dalk huiwerig om die toewysing wat Jehovah vir hom gegee het, te aanvaar?

14 Jehovah het Jona ’n baie moeilike toewysing gegee: om na Nineve te gaan en ’n oordeelsboodskap aan die inwoners te verkondig (Jona 1:​1, 2). Hoe sou jy gevoel het as jy daardie toewysing ontvang het? Die moeilike reis te voet van Israel na die Assiriese stad Nineve sou Jona omtrent ’n maand geneem het. Die Assiriërs was bekend as aggressiewe en gewelddadige mense. Nineve was selfs “die stad van bloedskuld” genoem (Nah. 3:​1, 7). Eerder as om die toewysing te aanvaar, het Jona besluit om te vlug. – Jona 1:3.

15. Hoe het Jona meer vertroue in Jehovah ontwikkel? (Jona 2:​6-9)

15 Jona was besig om te vlug toe Jehovah hom aan Sy krag herinner het deur Jona se lewe op ’n merkwaardige manier wonderdadig te red (Jona 1:​15, 17). Jona het ’n les geleer. Hy het begin om verby die skrikwekkende aspekte van die toewysing in Nineve te kyk en om op die feit dat Jehovah hom teen enige gevaar kan beskerm, te fokus. (Lees Jona 2:​6-9.) Toe Jehovah hom ’n tweede kans gee om die toewysing te aanvaar, het Jona nie teruggehou nie. Hy het na Nineve gegaan, waar sy bediening ’n groot sukses was. – Jona 3:5.

16. Hoe kan insig ons in skrikwekkende situasies help? (Spreuke 29:25) (Sien ook prente.)

16 Wat kan ons uit hierdie verslag leer? Ons wil nie toelaat dat enige iets, veral mensevrees, ons terughou in ons aanbidding van Jehovah nie. (Lees Spreuke 29:25.) Om met insig op te tree, het Jona gehelp om verby die uitdagings van sy toewysing te kyk en om op Jehovah se ondersteuning te fokus. Net so wil ons verby ons vrese kyk en nadink oor hoe Jehovah ons in die verlede gehelp en beskerm het. Ons kan ook nadink oor die voorbeelde van broers en susters wat skrikwekkende situasies suksesvol hanteer het of na moeilike toewysings omgesien het deur op Jehovah te vertrou (Heb. 13:6).a Laat ons met insig optree deur ten volle op Jehovah te vertrou en ander te help om dit ook te doen.

Collage: 1. Die profeet Jona stap na die stadspoorte van Nineve. 2. ’n Tienerbroer stap in ’n skoolgang terwyl hy omring is deur dinge wat Jehovah nie goedkeur nie. Die gang is vol vlae met reënboë. ’n Seun word deur ’n ander seun geboelie.

Jona se voorbeeld leer ons dat insig ons kan help om God se leiding te aanvaar en om suksesvol te wees in ’n moeilike situasie (Sien paragraaf 16)


VERKRY EN BEWAAR INSIG

17. Hoe kan ons meer insig verkry?

17 Soos ons bespreek het, kan dit ons help om moeilike situasies suksesvol te hanteer as ons met insig optree. Hoe kan ons meer insig verkry? Jehovah is die belangrikste Bron van insig, en hy gee dit aan sy aanbidders deur middel van sy Woord en sy heilige gees (Neh. 9:20; Ps. 32:8). Hy gee vir ons raad wat ons kan gebruik om wyse besluite te maak en ons emosies te beheer (Ps. 119:​97-101). Ons verkry insig wanneer ons mooi dink oor wat die Bybel sê en Jehovah in gebed vir sy kragtige heilige gees vra. Dit stel ons in staat om ’n duideliker prentjie van ’n saak te hê en om te weet wat die beste manier is om dit te hanteer sodat dit wat ons sê en doen, Jehovah se denke weerspieël. – Spr. 21:11.

18. Wat is jy vasbeslote om te doen?

18 Laat ons aanhou om Jehovah vir sy wysheid te vra (Ps. 14:2). As ons dit doen, sal ons nooit “van die weg van insig” afdwaal nie (Spr. 21:16). Maar ons sal meer vasbeslote as ooit wees om ten alle tye en in elke situasie met insig op te tree. As gevolg daarvan sal ons “suksesvol wees”.

HOE KAN ONS MET INSIG OPTREE, NET SOOS . . .

  • Naäman?

  • Dawid en Abigail?

  • Jona?

LIED 42 Die gebed van God se kneg

a Byvoorbeeld, kyk na die ondervinding van Georgi Portsjoeljan in die artikelreeks “Lewensverhale van Jehovah se Getuies” in JW Library® of op jw.org.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel