STUDIEARTIKEL 14
LIED 8 Jehovah is ons toevlug
“Kies . . . self wie julle gaan dien”
“Ek en my huisgesin sal Jehovah dien.” – JOS. 24:15.
FOKUS
Om ons te herinner aan die redes hoekom ons gekies het om Jehovah te dien.
1. Wat moet ons doen om regtig gelukkig te wees, en hoekom? (Jesaja 48:17, 18)
ONS hemelse Vader is baie lief vir ons, en hy wil hê dat ons die lewe nou en in die toekoms moet geniet (Pred. 3:12, 13). Hy het ons met ’n hele paar wonderlike talente geskep, maar hy het ons nie die vermoë gegee om suksesvol oor onsself te heers of om ons eie standaarde van reg en verkeerd te stel nie (Pred. 8:9; Jer. 10:23). Hy weet dat ons hom moet dien en volgens sy standaarde moet lewe as ons regtig gelukkig wil wees. – Lees Jesaja 48:17, 18.
2. Wat wil Satan hê moet ons glo, en hoe het Jehovah op daardie valse aantyging gereageer?
2 Satan wil hê dat ons moet glo dat ons sonder Jehovah gelukkig kan wees, dat mense suksesvol oor hulleself kan heers (Gen. 3:4, 5). Jehovah het op daardie valse aantyging gereageer deur opstandige mense toe te laat om vir ’n beperkte tyd oor hulleself te heers. Ons hoef nie ver te kyk om die hartseer gevolge van menseheerskappy te sien nie. Aan die ander kant is die Bybel vol voorbeelde van mans en vrouens wat bevredigende lewens in Jehovah se diens gehad het. Die beste voorbeeld hiervan is Jesus Christus. Eerstens, kom ons kyk na die redes hoekom hy gekies het om Jehovah te dien. Dan sal ons bespreek hoekom ons hemelse Vader ons aanbidding verdien. Laastens sal ons kyk na party van die redes hoekom ons kies om Jehovah te dien.
HOEKOM JESUS GEKIES HET OM JEHOVAH TE DIEN
3. Watter aanbod het Jesus ontvang, en watter keuse het hy gemaak?
3 Terwyl Jesus op die aarde was, moes hy besluit wie hy sou dien. Kort nadat Jesus gedoop is, het Satan vir hom al die koninkryke van die aarde aangebied in ruil vir net een daad van aanbidding. Jesus het gesê: “Gaan weg, Satan! Want daar staan geskryf: ‘Jy moet Jehovah jou God aanbid en hom alleen dien’” (Matt. 4:8-10). Hoekom het Jesus daardie keuse gemaak? Kom ons kyk na ’n paar van die redes.
4-5. Wat is ’n paar redes hoekom Jesus gekies het om Jehovah te dien?
4 Die hoofrede hoekom Jesus gekies het om Jehovah te dien, is liefde – Jesus is baie, baie lief vir sy Vader (Joh. 14:31). En Jesus dien Jehovah omdat dit die regte ding is om te doen (Joh. 8:28, 29; Op. 4:11). Hy weet dat Jehovah die Bron van die lewe is en dat Hy betroubaar en vrygewig is (Ps. 33:4; 36:9; Jak. 1:17). Jehovah het nog altyd die waarheid met Jesus gepraat en het hom alles gegee wat hy besit het (Joh. 1:14). Aan die ander kant het Satan die dood veroorsaak. Hy is ’n leuenaar wat gemotiveer word deur gierigheid en selfsugtigheid (Joh. 8:44). Omdat Jesus hierdie dinge geweet het, het hy dit nooit eens oorweeg om Satan na te volg deur teen Jehovah in opstand te kom nie. – Fil. 2:5-8.
5 Nog ’n rede hoekom Jesus gekies het om Jehovah te dien, is omdat hy uitgesien het na wat sy lojale diens sou bereik (Heb. 12:2). Hy het geweet dat hy sy Vader se naam sou heilig en dit moontlik sou maak vir sonde en die dood om verwyder te word as hy getrou bly.
HOEKOM JEHOVAH ONS AANBIDDING VERDIEN
6-7. Hoekom is daar vandag baie mense wat Jehovah nie dien nie, maar hoekom verdien hy ons aanbidding?
6 Vandag is daar baie mense wat Jehovah nie dien nie, want hulle het nog nie geleer oor sy wonderlike eienskappe nie, en hulle is onbewus van alles wat hy vir hulle gedoen het. Dit was die geval met dié vir wie die apostel Paulus in Atene gepreek het. – Hand. 17:19, 20, 30, 34.
7 Paulus het aan sy luisteraars verduidelik dat die ware God “aan alle mense lewe en asem en alles gee”. Hy het bygevoeg: “Deur hom het ons lewe en beweeg en bestaan ons.” God is die Skepper wat “uit een mens elke nasie van die mensdom gemaak” het, en daarom het hy die reg op ons aanbidding. – Hand. 17:25, 26, 28.
8. Wat sal Jehovah nooit doen nie? Verduidelik.
8 As die Skepper en die Soewerein van die heelal kon Jehovah mense gedwing het om hom te dien. Maar Jehovah sal dit nooit doen nie. Hy gee ons eerder bewyse dat hy bestaan en dat hy elkeen van ons baie liefhet. Hy wil hê dat soveel mense as moontlik vir ewig sy vriende moet wees (1 Tim. 2:3, 4). Daarom het Jehovah ons opgelei om ander te leer oor sy doel vir mense en om vir hulle te vertel van die goeie dinge wat hy vir alle mense sal doen (Matt. 10:11-13; 28:19, 20). Hy het ons in gemeentes georganiseer en het gereël dat liefdevolle opsieners vir ons sorg. – Hand. 20:28.
9. Hoe kan Jehovah se liefde duidelik gesien word?
9 Jehovah se ongelooflike liefde kan duidelik gesien word in die manier hoe hy dié behandel wat kies om sy bestaan te ignoreer. Kyk na hierdie feite: Regdeur die geskiedenis het miljarde mense gekies om volgens hulle eie standaarde van reg en verkeerd te lewe. Tog het Jehovah hulle nog steeds gegee wat hulle nodig het om te bly lewe en om die lewe te geniet (Matt. 5:44, 45; Hand. 14:16, 17). Hy het hulle die vermoë gegee om liefdevolle verhoudings te hê, om ’n gesin groot te maak en om die belonings van hulle harde werk te geniet (Ps. 127:3; Pred. 2:24). Die bewyse wys duidelik dat ons hemelse Vader alle mense liefhet (Eks. 34:6). Kom ons herinner onsself nou aan party van die redes hoekom ons kies om Jehovah te dien en hoe hy dié seën wat kies om hom te dien.
HOEKOM ONS KIES OM JEHOVAH TE DIEN
10. (a) Wat is die hoofrede hoekom ons Jehovah dien? (Matteus 22:37) (b) Hoe het jy baat gevind by Jehovah se geduld? (Psalm 103:13, 14)
10 Soos Jesus dien ons Jehovah hoofsaaklik uit diep liefde vir Hom. (Lees Matteus 22:37.) Ons voel aangetrokke tot Jehovah wanneer ons omtrent sy eienskappe leer. Byvoorbeeld, dink aan hoe geduldig Jehovah met ons is. Toe die Israeliete ongehoorsaam was aan hom het hy hulle gesmeek: “Hou asseblief op om slegte dinge te doen” (Jer. 18:11). Jehovah hou in gedagte dat ons onvolmaak is, dat ons stof is. (Lees Psalm 103:13, 14.) Beweeg dit jou nie om Jehovah vir ewig te dien wanneer jy nadink oor sy geduld en sy ander mooi eienskappe nie?
11. Wat is ’n paar ander redes hoekom ons kies om ons hemelse Vader te dien?
11 Ons word ook gemotiveer om Jehovah te dien omdat dit die regte ding is om te doen (Matt. 4:10). Wat meer is, ons weet wat ons lojale diens sal bereik. Wanneer ons Jehovah getrou dien, heilig ons sy naam, bewys ons dat die Duiwel ’n leuenaar is en maak ons ons Vader se hart bly. En as ons kies om Jehovah vandag te dien, het ons die vooruitsig om hom vir ewig te dien! – Joh. 17:3.
12-13. Wat leer ons uit die ondervinding van Jane en Pam?
12 Terwyl ons nog baie jonk is, kan ons ’n diep liefde vir Jehovah ontwikkel, ’n liefde wat sal aanhou brand terwyl ons oud word. Kyk na die voorbeeld van twee vleeslike susters met die name Jane en Pam.a Jane was 11 jaar oud en Pam was 10 jaar oud toe hulle die Bybel begin studeer het. Al het hulle ouers nie daarin belanggestel om te studeer nie, het hulle Jane en Pam toestemming gegee om met die Getuies te assosieer solank die meisies oor naweke kerkdienste saam met die gesin bygewoon het. Jane sê: “Wat die Getuies my uit die Bybel geleer het, het my gehelp om die druk te weerstaan wat ek van my skoolmaats gekry het om betrokke te raak by dwelms en onsedelikheid.”
13 Toe hulle in hulle laat tienerjare was, het albei meisies verkondigers geword. Later het hulle begin pionier terwyl hulle vir hulle bejaarde ouers gesorg het. Wanneer Jane terugkyk op hulle ondervinding, sê sy: “Ek het eerstehands geleer dat Jehovah getrou vir sy vriende sorg en dat, soos 2 Timoteus 2:19 sê, ‘Jehovah dié ken wat aan hom behoort.’” Daar is geen twyfel dat Jehovah vir dié sorg wat kies om hom lief te hê en om hom te dien nie!
14. Hoe kan ons Jehovah deur ons woorde en dade verdedig? (Sien ook prente.)
14 Ons wil hê dat ander die waarheid oor Jehovah moet weet. Dink aan hierdie scenario: Jy het ’n goeie vriend wat liefdevol, vrygewig en vergewensgesind is. Eendag hoor jy hoe iemand jou vriend daarvan beskuldig dat hy wreed en oneerlik is. Hoe reageer jy? Jy verdedig hom. Net so verdedig ons Jehovah deur die waarheid oor hom te vertel en sy naam ywerig te verdedig wanneer Satan en dié onder sy invloed Jehovah se reputasie deur die modder probeer sleep deur leuens oor Hom te versprei (Ps. 34:1; Jes. 43:10). Ons wys deur ons woorde en dade dat ons Jehovah heelhartig wil dien.
Sal jy help om Jehovah se naam te verdedig? (Sien paragraaf 14)b
15. Hoe het die apostel Paulus daarby baat gevind toe hy sy doelwitte aangepas het? (Filippense 3:7, 8)
15 Ons pas ons doelwitte in die lewe gewilliglik aan sodat ons Jehovah op ’n aanvaarbare manier kan dien of meer in sy diens kan doen. Byvoorbeeld, die apostel Paulus het gekies om ’n belangrike posisie in sy gemeenskap op te gee om Christus te volg en Jehovah te dien (Gal. 1:14). As gevolg daarvan het hy ’n bevredigende lewe gehad en die geleentheid gekry om saam met Christus in die hemel te regeer. Hy was nooit spyt oor sy besluit om Jehovah te dien nie, en ons sal ook nie spyt wees nie. – Lees Filippense 3:7, 8.
16. Wat leer ons uit Julia se ondervinding? (Sien ook prente.)
16 As ons ons diens aan Jehovah ons hooffokus maak, kan ons nou en in die toekoms ’n gelukkige lewe lei. Kyk na die ondervinding van ’n suster met die naam Julia. Voordat sy die waarheid geleer het, het Julia in ’n kerkkoor gesing vandat sy ’n jong dogtertjie was. ’n Professionele operasanger het haar talent raakgesien en haar opgelei. Kort voor lank het Julia beroemd geword en in welbekende musieksale opgetree. Terwyl sy ’n beroemde musiekskool bygewoon het, het ’n klasmaat met haar oor God begin praat en verduidelik dat God ’n naam het, Jehovah. Nie lank daarna nie het Julia die Bybel twee keer ’n week begin studeer. Uiteindelik het sy besluit om haar lewe daarop te fokus om Jehovah te dien eerder as om ’n musiekloopbaan na te jaag. Daardie besluit was nie maklik nie. Sy sê: “Baie mense het vir my gesê dat ek my talent mors, maar ek wou my lewe ten volle gebruik om Jehovah te dien.” Hoe voel sy vandag oor daardie keuse wat sy meer as 30 jaar gelede gemaak het? “Ek het innerlike vrede, en ek vertrou dat Jehovah al die begeertes van my hart in die toekoms sal vervul.” – Ps. 145:16.
Wanneer ons diens aan Jehovah ons hooffokus is, geniet ons die gelukkigste lewe moontlik (Sien paragraaf 16)c
HOU AAN OM JEHOVAH TE DIEN
17. Hoe raak die dringendheid van ons tye dié wat gekies het om God te dien en dié wat dit nog nie gedoen het nie?
17 Ons lewe in dringende tye. Die apostel Paulus het geskryf: “Want nog ‘’n baie kort rukkie’, en ‘die een wat kom, sal kom en sal nie lank neem nie’” (Heb. 10:37). Hoe raak dit ons? Om maar een ding te noem, die oorblywende tyd vir mense om te kies om Jehovah te dien, is kort (1 Kor. 7:29). En as ons reeds gekies het om God te dien, weet ons dat al moet ons moeilike tye verduur, dit net vir “’n baie kort rukkie” sal wees.
18. Wat wil Jesus en Jehovah hê moet ons doen?
18 Jesus het sy dissipels nie net aangemoedig om hom te begin volg nie, maar ook om aan te hou om hom te volg (Matt. 16:24). So as ons Jehovah al jare lank dien, mag ons vasbeslote wees om nie op te gee nie. Ons moet hard werk om te bly by ons besluit om hom te dien. Dit is dalk nie maklik nie, maar ons kan selfs nou gelukkig wees en baie seëninge geniet! – Ps. 35:27.
19. Wat leer ons uit Gene se ondervinding?
19 Party voel dat ons te veel opofferinge moet maak om Jehovah te dien. As jy jonk is, voel jy dat jy dalk op iets uitmis as jy Jehovah dien? ’n Jong broer met die naam Gene sê: “Ek het gevoel dat dit beperkend is om een van Jehovah se Getuies te wees. Dit het gelyk asof baie van die kinders met wie ek grootgeword het dinge geniet het soos om partytjie te hou, met iemand uit te gaan of om gewelddadige videospeletjies te speel, terwyl ek my tyd moes gebruik om vergaderinge by te woon en velddiens te doen.” Watter uitwerking het hierdie denke op Gene gehad? Hy sê: “Ek het ’n dubbele lewe begin lei, en vir ’n rukkie het ek dit geniet. Maar ek was nie regtig gelukkig nie. Ek het begin dink aan die Bybelwaarhede wat ek gekies het om te ignoreer en het besluit om Jehovah heelhartig te dien. Van toe af lyk dit asof Jehovah al my gebede beantwoord het.”
20. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?
20 ’n Psalmis het vir Jehovah gesing: “Gelukkig is die een wat u kies en laat nader kom om in u voorhowe te woon” (Ps. 65:4). Laat ons net so vasbeslote soos Josua wees wat gesê het: “Ek en my huisgesin sal Jehovah dien.” – Jos. 24:15.
LIED 28 Verkry Jehovah se vriendskap
a Party name is verander.
b BESKRYWING VAN PRENT: Nadat ’n vrou ons teenstanders buite ’n byeenkomsterrein hoor, gaan sy na ’n lektuurtrollie en hoor sy woorde van waarheid.
c BESKRYWING VAN PRENT: ’n Dramatisering van die keuse wat Julia gemaak het om haar lewe daarop te fokus om Jehovah te dien.