BYBELKARAKTER
Wees moedig en lojaal soos Benaja
Benaja was ’n dapper soldaat wat onder koning Dawid en koning Salomo gedien het. Al was Benaja die seun van ’n priester en het hy gewoonlik nie wapens gebruik nie, het hy aktief deelgeneem aan die oorloë van Jehovah. Hy het gewys dat hy baie moedig is. Byvoorbeeld, hy het ’n leeu in ’n waterput doodgemaak en ’n gewapende reus oorwin. Dawid het Benaja so baie vertrou dat hy hom die hoof van sy lyfwag gemaak het. – 2 Sam. 23:20-23.
Benaja het gedurende die opstand van Absalom en van Adonia lojaal aan Dawid gebly (2 Sam. 8:18; 15:18; 1 Kon. 1:8). Op Dawid se oudag het Benaja Salomo ook gehelp om koning te word (1 Kon. 1:32-40). Ja, Benaja was lojaal aan Jehovah en Sy gesalfdes selfs wanneer ander dislojaal was.
Ons het ook moed nodig om teen ons magtige vyand, Satan, en sy ondersteuners te veg. En ons moet vasbeslote wees om aan te hou om volgens Jehovah se standaarde te lewe (Ef. 6:11; 1 Pet. 5:8, 9). Al kies party om Jehovah te verlaat, bly ons lojaal aan hom, met die vertroue dat hy ons sal beloon. – 2 Sam. 22:26.