Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 4/15 bl. 24-27
  • Van hoë woonstelgeboue tot woeste toendra —Gaan na die mense

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Van hoë woonstelgeboue tot woeste toendra —Gaan na die mense
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Beweeg deur liefde vir Jehovah en vir mense
  • Koninkryksverkondigers bedrywig oor die hele aarde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Telefoon-getuieniswerk—’n Manier om baie mense te bereik
    Ons Koninkryksbediening—1993
  • Hoe nuttig is dit tog om te vertel wat Jehovah gedoen het!
    Ons Koninkryksbediening—1994
  • Suksesvolle telefoongetuieniswerk
    Ons Koninkryksbediening—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 4/15 bl. 24-27

Van hoë woonstelgeboue tot woeste toendra —Gaan na die mense

NIE reën of sneeu of hael of wolwe of bergleeus of vyandelike gebied kon hulle vasberade gees blus nie. Met verbasende spoed het hulle 3000 kilometer te perd afgelê—oor uitgestrekte prêries en deur bruisende riviere en diep valleie—om dringende pos na die Weskus te neem. Wie was hulle?

Hulle was die dapper jong ruiters van die ponie-ekspres.a Wat het sulke vasberadenheid by hierdie jong manne gewek? Miskien was dit die uitdaging, die avontuur en die tevredenheid dat hulle die pos by die bestemming kon kry. Interessant genoeg, elke ruiter het ’n Bybel saam met die voorkeurpos in sy saalsak gedra.

Meer as ’n eeu later word ’n groter gees van vasberadenheid, entoesiasme en toegewydheid geopenbaar deur meer as 113 000 toegewyde Koninkryksverkondigers regoor Kanada. Waardeur word hulle beweeg? Liefde vir God en hulle naaste besiel hulle om Koninkrykswaarhede deur middel van die gedrukte woord en mondelings oor te dra. Hierdie lewegewende waarheid is baie dringender as enige pos wat deur die ponie-ekspres afgelewer is. Ja, dit is die kosbare Koninkryksboodskap van die Heilige Bybel, die einste boek wat in die saalsak van die ponie-ekspres se ruiters was.—Spreuke 2:21, 22; Jesaja 2:2-4; 61:2; Matteus 22:37-39; 24:14.

Beweeg deur liefde vir Jehovah en vir mense

Jehovah se Getuies geniet dit om met mense oor die Koninkryk te praat. Jy sal hulle daarmee besig vind in hoë woonstelgeboue in die stad, in afgeleë toendragemeenskappe, by lughawens, op straat en in ander openbare plekke en oor die telefoon. Waarom op soveel verskillende plekke?

Veranderde lewenstyle wat deur ekonomiese en demografiese toestande veroorsaak word, maak dit uiters moeilik om mense tuis te vind. In baie gevalle moet die man sowel as die vrou werk om in die basiese materiële behoeftes van die gesin te voorsien, wat dikwels tot die verwaarlosing van geestelike behoeftes lei. Te midde van hierdie druk en spanning het hulle ’n hartverblydende boodskap van hoop dringend nodig. Jehovah se Getuies reageer met genoeë hierop. Deur goeie oordeel en vriendelikheid aan die dag te lê, skep hulle geleenthede om die goeie nuus op ’n innemende, gedagteprikkelende wyse aan alle soorte mense uit te dra.—1 Timoteus 2:3, 4.

In ander tale: Toe Jesus sy volgelinge beveel het om ‘te gaan en dissipels te maak’, het hy ruimte gelaat vir inisiatief en vasberadenheid om die boodskap van hoop na mense van alle tale te neem (Matteus 28:19). Soos dit in baie lande die geval is, het Kanada ’n mosaïek van verskillende kulture en tale geword, en baie Koninkryksverkondigers het hulle hierby aangepas deur nuwe tale te leer.

’n Egpaar, wat voltydse bedienaars in Edmonton, Alberta is, het byvoorbeeld gesien dat daar ’n behoefte in hulle stad is om mense wat Mandaryns praat te bereik. Die egpaar moes natuurlik eers die taal leer, en hulle het dus met ’n universiteitstudent in aanraking gekom wat Mandaryns praat. Hy het ingestem om hulle die taal te leer en tegelykertyd Bybelwaarhede by hulle te leer. Die ideale situasie! Binne 24 maande was hierdie twee toegewyde Koninkryksverkondigers in staat om ander in Mandaryns leer. Terselfdertyd het hulle onderwyser-student vir Christenwaterdoop gekwalifiseer.

Soortgelyke ondervindinge word in ander stede geniet wanneer Koninkryksverkondigers, wat deur liefde beweeg word, tale soos Pools, Russies en Viëtnamees leer.

Op die pad: Soos die ponie-ekspres se ruiters van die vorige eeu, wat alleen gereis het, is sommige Koninkryksverkondigers in die binneland van Brits-Columbië alleen op die pad. ’n Groot deel van hulle tyd word bestee aan hulle sekulêre werk om kragtige houtvervoervragwaens deur beboste gebiede na saagmeulens te bestuur. Dit behels voortdurende kontak met ander vragmotorbestuurders deur middel van die burgerbandradio om mekaar in te lig oor verkeersvloei en gevare langs die pad.

Hierdie vindingryke Koninkryksverkondigers gebruik hulle burgerbandradio’s op unieke wyse. Hulle begin besprekings oor die radio deur oor aktuele sake te praat. Dan verwys hulle op bekwame wyse na die Bybel. In een geval het ’n medebestuurder gereageer op wat die Bybel oor ’n hoop vir die dooies sê (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Die dood van ’n ander bestuurder in ’n ongeluk op die hoofweg het hom baie ontstel. Hy het met graagte ’n Bybelstudie aanvaar, en ’n mens hoor nou hoe hy die goeie nuus aan medewerkers en vriende verkondig. Tot sy vreugde is ’n Bybelstudie ook met die weduwee van sy oorlede vriend begin. Wat ’n beloning omdat iemand die inisiatief geneem het om die lewegewende boodskap van waarheid op hierdie ongewone manier te verkondig!

Per vliegtuig: Wanneer die kosbare boodskap van waarheid bekend gemaak word, gaan ywerige Koninkryksverkondigers na waar die mense is deur met ’n ligte vliegtuig ‘in dorpies in te gaan’ (Matteus 10:11, 12). ’n Rukkie gelede het twee groepe, wat beweeg is deur hulle ywer om die goeie nuus te verkondig, op hulle eie onkoste per vliegtuig na die mense gegaan wat oor die uitgestrekte gebied van die toendra versprei is. Elke groep het sowat 3000 kilometer afgelê en in 14 verskillende gemeenskappe geland, wat hulle binne 250 kilometer van die Noordpoolsirkel af gebring het. Hierdie onvermoeibare verkondigers het sewe volle dae daaraan bestee om die mense te bereik wat deur groot afstande afgesonder is.

En was dit alles die moeite werd? Dink net aan die positiewe uitwerking wat die Bybelboodskap op hierdie gemeenskappe gehad het. Die besoekende bedienaars het in ’n noodsaaklike geestelike behoefte help voorsien toe hulle Jehovah se voorneme van ’n paradysaarde in die nabye toekoms uiteengesit het (Matteus 5:3). Lank nadat die draers van die boodskap vertrek het, kon die opregtes van hart in die gemeenskappe uit die 542 Bybels en Bybelstudiehulpe en 3000 tydskrifte lees wat in hulle hande gelaat is.—Vergelyk Handelinge 12:24.

Per telefoon: Duisende stadsbewoners lewe in hoë woonstelgeboue met hipertegnologiese veiligheidstelsels. Nietemin gaan toegewyde Koninkryksverkondigers ywerig voort en lê hulle goeie oordeel aan die dag. Hoe kan hulle gaan na waar hierdie mense is? Hoewel regstreekse kontak verkieslik is, word die interkom in die ingangsportaal van die gebou dikwels met welslae gebruik. Wanneer dit nie moontlik is nie, laat hulle hulle vingers die werk doen deur die telefoon te gebruik.

Een oggend het ’n bejaarde vrou die telefoon geantwoord. Ná ’n kort, vriendelike groet is sy gevra of sy dink dat daar ’n tyd sal kom wanneer mense saans veilig op straat sal wees. Tekste is gelees om haar te verseker dat daar groot vrede in die toekoms sal wees (Psalm 37:10, 11; Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10). Sy het ingestem tot ’n telefoongesprek dieselfde tyd die volgende week om te bespreek waarom ons God se beloftes kan glo. Nadat die Koninkryksverkondiger die Bybel ’n maand lank met die vrou oor die telefoon gestudeer het deur paragrawe uit ’n Bybelstudiehulp te lees en toepaslike vrae te vra, het die vrou haar geprys omdat sy elke week soveel verskillende Bybelonderwerpe kon bespreek. Dit was tyd om die studieboek aan haar te beskryf en haar ’n eksemplaar aan te bied. Toe het hulle reëlings getref om mekaar te ontmoet. Jehovah se Getuies het inderdaad hulle liefde vir mense getoon, en mense reageer daarop omdat hulle sien dat Jehovah met hierdie Christenpredikers is.—Vergelyk 1 Korintiërs 14:25.

Met die gedrukte woord: Koninkryksverkondigers in die oorwegend Franssprekende provinsie Quebec gaan ook na waar die mense is. ’n Reisende bedienaar het gesê: “Jare lank het die broers gemeen dat hulle nie vooruitgang maak nie weens die hewige teenkanting van die kerk. Maar as gevolg van die onvermoeide werk van die broers en hulle herhaalde besoeke het die Bybel, wat feitlik ’n onbekende boek was en net deur die minderheid gelees is, nou sy plek in die meeste huise.”

Namate nuwe evangeliedienaars uit alle stande van die samelewing in Quebec kom, met inbegrip van die mediese gemeenskap, lewer dit opwindende resultate op. Dit was die geval met ’n dokter. Sy vrou, wat self ’n Koninkryksverkondiger is, het die hoop wat die Bybel bied gereeld met hom bespreek. ’n Oplettende gemeentelike ouer man het die inisiatief geneem om die dokter na die gemeentelike vergadering te nooi gedurende die tyd toe die brosjure Hoe kan bloed jou lewe red? bestudeer is. Hy het gekom en selfs deelgeneem. Omdat die gehalte en geestelike diepte van die besprekings hom beïndruk het, het hy ingestem tot ’n persoonlike Bybelstudie. Nou is ook hy ’n Koninkryksverkondiger.

Die doeltreffende gebruik van tydskrifte het ook ’n belangrike rol gespeel om mense na die Bybel aan te trek. ’n Mens weet nooit watter artikel die katalisator sal wees om iemand na die waarheid te trek nie. Een Koninkryksverkondiger het ’n nommer van die Ontwaak! by ’n buurvrou aangebied wat nie na die boodskap wou luister nie, maar in die insektewêreld belang gestel het. Die foto in die artikel “Chagas-siekte—’n kus van die dood” in die Ontwaak! van 22 November 1992 het haar belangstelling gewek. Sy is beïndruk deur wat sy gelees het en het meer tydskrifte gevra. ’n Bybelstudie is begin, en binne ses maande het sy vir ander getuig.

In openbare plekke: Die Kanadese wet laat vryheid van spraak toe in openbare plekke, soos lughawens. By die Halifax- Internasionale Lughawe nader Koninkryksverkondigers reisigers op oordeelkundige wyse tussen vlugte en knoop hulle gesprekke met hulle aan. Tydige uitlokvrae word gebruik om die gesprek op die Bybel te bring. Aangesien hulle ’n Sakbybeltjie en lektuur by hulle het, kan hulle in mense se geestelike behoeftes voorsien. Chirurge, wetenskaplikes, regsgeleerdes, loodse, geestelikes, polisiemanne, huurmotorbestuurders, ingenieurs, onderwysers, militêre personeel en politici uit die buiteland is onder diegene wat die Koninkryksboodskap op hierdie manier gehoor het en saadjies van waarheid na verafgeleë plekke gedra het om daar te ontkiem.—Kolossense 1:6.

Vroeg een oggend by die lughawe het ’n man Die Wagtoring en Ontwaak! geneem. Toe het hy met ’n kalm, stadige stemtoon gesê: “Ag nee, tog nie Jehovah se Getuies nie!” Waarom het hy so gereageer? Die man was ’n vroom Moslem wat so pas in die kapel van die lughawe gebid het. Hy het God gesmeek om hom na wysheid, insig en waarheid te rig. Die gedagte dat Jehovah se Getuies ’n onmiddellike antwoord op sy gebed was, het hom eenvoudig verstom.

Ja, die moedige Koninkryksverkondigers in Kanada laat niks in hulle pad staan om die kosbare Koninkryksboodskap te verkondig nie. Hulle laat hulle nie afskrik deur vreemde tale, slegte grondpaaie, verafgeleë gemeenskappe of woonstelgeboue in die stad waar daar streng veiligheidsmaatreëls is nie. Hulle is vasbeslote om God se boodskap van die lewe aan opregte waarheidsoekers oor te dra. Saam met hulle wêreldwye broederskap van medewerkers gehoorsaam hulle onselfsugtig Jesus se bevel om ‘dissipels te gaan maak’.—Matteus 28:19.

[Voetnoot]

a Die ponie-ekspres was ’n posdiens in die Verenigde State wat van 1860 tot 1861 vir ’n kort periode van 18 maande bestaan het.

[Venster op bladsy 27]

Suksesvolle Koninkryksverkondigers gebruik die telefoon

Party het gesê: “Hallo. My naam is [gee jou naam]. Ek praat kortliks met mense in julle gebou oor hoe vrede bewerkstellig kan word. Dink u daar sal ooit wêreldwye vrede wees? [Wag op ’n antwoord.] Net om u gerus te stel, ek doen nie ’n opname nie en ek verkoop niks nie. Ek deel eerder ’n gedagte uit die Heilige Skrif wat toon dat God beslis vrede gaan bring.” Dan kan die gesprek verder gevoer word met ’n kort skriftuurlike bespreking.

Ander het gesê: “Goeienaand. My naam is [gee jou naam]. Ek is ’n vrywilliger in u gebied. Ek vra die mening van mense wat in julle gebou woon. Baie is besorg oor persoonlike veiligheid weens die toenemende geweld en misdaad in ons gebied. Is dit iets waaroor u besorg is? [Wag op ’n antwoord.] Dink u daar sal ooit ’n tyd wees wanneer die hele wêreld veilig sal voel?” Wag op ’n antwoord en gaan voort met ’n skriftuurlike boodskap.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel