Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 4/15 bl. 28-30
  • Sal ons altyd—leërs nodig hê?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sal ons altyd—leërs nodig hê?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Begeerte na ’n wêreldwye “polisieman”
  • “Jehovah van die leërs”
  • God se leërs begin veg
  • Stel jou ’n wêreld sonder oorlog voor
  • Die naderende “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Die universele geskil word vir goed besleg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Ware vrede—Uit watter bron?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • “Julle moet die waarheid en die vrede liefhê”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 4/15 bl. 28-30

Sal ons altyd—leërs nodig hê?

LEËRS het ’n groot deel van die mens se hulpbronne verbruik en die mens se geluk grootliks vernietig. Sommige mense het dus gewonder: ‘Kan die mensdom ooit die soort wêreldveiligheid bewerkstellig sodat leërs ontbind kan word?’ Noudat wapens vir massavernietiging die uitwissing van alle lewe moontlik gemaak het, word die kwessie dringend. Hoe realisties is dit om te hoop op ’n wêreld sonder leërs?

Daar is talle voorbeelde wat bewys dat dit tot ’n mate van ontwapening kan lei wanneer daar goeie internasionale betrekkinge is wat vertroue wek. Die algemene vriendskapsbande tussen Kanada en die Verenigde State het byvoorbeeld tot gevolg gehad dat die grens van 5000 kilometer tussen hulle reeds meer as ’n eeu en ’n half lank nie deur leërs bewaak word nie. Noorweë en Swede het tot ’n soortgelyke ooreenkoms gekom, net soos baie ander lande. Kan ’n ooreenkoms tussen alle nasies ’n wêreld sonder leërs bewerkstellig? Met die gruwels van die Eerste Wêreldoorlog het die idee ongekende gewildheid verkry.

Toe vrede in 1918 gesluit is, was een van die doelstellings van die vredesverdrag van Versailles “om die instelling van ’n algemene beperking op die wapentuig van alle nasies moontlik te maak”. Gedurende die daaropvolgende jare het pasifisme gewild geword. Party pasifiste se teorie was dat oorlog die ergste ding is wat ’n nasie kan oorkom en derhalwe erger is as om ’n nederlaag te ly. Teenstanders van pasifisme het nie daarmee saamgestem nie en daarop gewys dat Jode in groot gebiede deur die eeue heen baie min gewapende teenstand teen aanvallers gebied het, en tog het wrede pogings om hulle uit te wis, voortgeduur. Afrikane het min geleentheid gehad om diegene teë te staan wat hulle as slawe na die Amerikas gebring het, en tog is hulle eeue lank wreed mishandel.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het baie pasifiste egter tot die slotsom gekom dat lande beskerming nodig het. Toe die Verenigde Nasies dus ná die Tweede Wêreldoorlog gestig is, was die klem minder op ontwapening en meer op internasionale samewerking om aggressie te voorkom. Die lede het gehoop dat die veiligheid wat sodoende verkry word nasies die vertroue sou gee om hulle te ontwapen.

Nog ’n probleem het al hoe duideliker geword. Dikwels het die pogings van ’n nasie om hom te beveilig sy buurland onveilig laat voel. Hierdie bose kringloop het tot ’n wapenwedloop aanleiding gegee. Maar korter gelede het die verbeterde betrekkinge tussen die groter nasies die hoop op ontwapening versterk. Maar sedertdien het die Golfoorlog en die probleme in die voormalige Joego-Slawië die hoop op ontwapening vir baie verydel. Ongeveer vyf jaar gelede het die tydskrif Time gesê: “Hoewel die koue oorlog verby is, het die wêreld eerder ’n gevaarliker as ’n veiliger plek geword.”

Begeerte na ’n wêreldwye “polisieman”

Talle waarnemers kom tot die slotsom dat die mensdom ’n enkele wêreldgesag nodig het met ’n leër wat sterk genoeg is om almal te beskerm. Aangesien nóg die Verenigde Nasies nóg die wêreld se vernaamste militêre magte dit kan doen, meen party dat daar min hoop vir die toekoms is. Maar as jy die Bybel as God se Woord aanvaar, het jy miskien al gewonder of die almagtige God in hierdie dringende behoefte sal voorsien.

Sal die Een wat die Bybel “die God van liefde en van vrede” noem militêre mag gebruik om geregtigheid te handhaaf? Indien wel, watter leër? Baie hedendaagse leërs beweer dat hulle God se ondersteuning het, maar voer hulle werklik God se wil uit? Of gaan God op ’n ander manier tussenbeide tree en vrede en veiligheid voorsien?—2 Korintiërs 13:11.

Tydens die eerste opstand het die almagtige God Adam en Eva uit Eden gesit en gerubs daar geplaas sodat hulle nie kon teruggaan nie. Hy het ook sy voorneme bekend gemaak om alle opstand teen sy soewereiniteit uit die weg te ruim (Genesis 3:15). Kan dit beteken dat God ’n leër sal gebruik?

Die Bybel meld geleenthede toe God wel leërs gebruik het om sy oordele te voltrek. Die koninkryke in die land Kanaän het byvoorbeeld geslagsomgang met diere gehad, kinderofferandes gebring en sadistiese oorloë gevoer. God het bepaal dat hulle heeltemal vernietig moet word en Josua se leër gebruik om die vonnis te voltrek (Deuteronomium 7:1, 2). Koning Dawid se leër het insgelyks God se oordeel aan die Filistyne voltrek as ’n voorbeeld van hoe God alle goddeloosheid tydens sy laaste oordeelsdag sal uitwis.

Daardie gebeurtenisse was insiggewend. Jehovah het getoon dat hy ’n leër kan gebruik om mense veiligheid te gee. Trouens, Jehovah het ’n unieke soort leër wat sal klaarspeel met die universele opstand teen sy heerskappy.

“Jehovah van die leërs”

Die Bybel gebruik die uitdrukking “Jehovah van die leërs” meer as 250 keer. Die uitdrukking verwys basies na God se posisie as die aanvoerder van groot engelemagte. By een geleentheid het die profeet Miga vir konings Agab en Josafat gesê: “Ek het die HERE sien sit op sy troon terwyl al die hemelse leërskare [“leërs”, NW] by Hom staan, aan sy regter- en aan sy linkerhand” (1 Konings 22:19). Dit verwys hier na engeleleërs. Jehovah het hierdie leërs gebruik om sy volk te beskerm. Toe die stad Dotan beleër is, het Elisa se dienaar hoop opgegee. Maar om hom gerus te stel, het God hom ’n wonderdadige visioen van sy leër geesskepsele gegee. “Die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur.”—2 Konings 6:15-17.

Beteken sulke gebeure dat God vandag leërs ondersteun? Party leërs van die Christendom beweer moontlik dat hulle God se leërs is. Baie het geestelikes gevra om hulle te seën. Maar die leërs van die Christendom veg dikwels teen mekaar, teen medeaanbidders. Die twee wêreldoorloë van hierdie eeu het tussen leërs begin wat beweer het dat hulle Christelik is. Dit kan nie God se werk wees nie (1 Johannes 4:20). Sulke militêre magte beweer dalk dat hulle vir vrede veg, maar het Jesus sy volgelinge beveel om sulke leërs op die been te bring om sodoende te voorkom dat die vrede in die wêreld versteur word?

’n Ernstige skending van vrede het plaasgevind toe ’n gewapende skare die hande aan Jesus geslaan het in ’n tuin waar hy saam met sy dissipels gebid het. Een van die dissipels het met ’n swaard na ’n man in die skare gekap. Jesus het die geleentheid gebruik om ’n belangrike beginsel te verduidelik. Hy het gesê: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan. Of dink jy dat ek nie ’n beroep op my Vader kan doen om op hierdie oomblik meer as twaalf legioene engele aan my beskikbaar te stel nie?” Jesus het ’n ontsaglike leër tot sy beskikking gehad, maar nie Petrus of enige ander mens is as soldaat daarvoor gewerf nie. Petrus en die res van Jesus se volgelinge is eerder geroep om “vissers van mense” te wees (Matteus 4:19; 26:47-53). ’n Paar uur later het Jesus die situasie aan Pilatus verduidelik. Hy het gesê: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie. As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het sodat ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar my koninkryk is nou eenmaal nie uit hierdie bron nie” (Johannes 18:36). Anders as die koninkryk van Dawid wat op die aarde opgerig was, is die Koninkryk wat God aan Jesus gegee het in die hemel en sal dit vrede op die aarde bring.

God se leërs begin veg

God se leërs sal binnekort optree. Waar Openbaring die slag beskryf wat voorlê, noem dit Jesus “Die Woord van God”. Ons lees: “Die leërs wat in die hemel was[, het] hom op wit perde gevolg, en hulle was geklee in wit, skoon, fyn linne. En uit sy mond kom ’n skerp lang swaard, dat hy die nasies daarmee kan slaan.” Die Bybel sê dat hierdie geveg die einde van “die konings van die aarde en hulle leërs” sal beteken. Sover dit ander betref wat nie hulle lojaliteit teenoor God toon nie, voeg die profesie by: “Die res is gedood met die lang swaard wat uitgaan uit die mond van die een wat op die perd sit.” Selfs Satan die Duiwel sal buite aksie gestel word. Dit sal waarlik ’n wêreld van vrede sonder leërs tot stand laat kom.—Openbaring 19:11-21; 20:1-3.

Stel jou ’n wêreld sonder oorlog voor

Kan jy jou ’n wêreld voorstel wat so veilig is dat leërs nie nodig is nie? ’n Bybelpsalm sê: “Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring, wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde.”—Psalm 46:9, 10.

Wat ’n verligting sal dit tog nie wees nie! Stel jou die moontlikhede vir die mensegemeenskap voor wat uiteindelik bevry is van die swaar las om vir leërs en hulle toerusting te betaal! Mense sal hulle kragte gebruik om almal se lewensomstandighede te verbeter, om die aarde skoon te maak en weer te beplant. Daar sal nuwe geleenthede wees vir uitvindings wat waarlik nuttig vir die mensdom sal wees.

Hierdie belofte sal ’n wêreldwye vervulling ondergaan: “Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie—van geen verwoesting of verbreking in jou grondgebied nie” (Jesaja 60:18). Nooit weer sal miljoene radelose vlugtelinge, wat hulle huis en eiendom noodgedwonge moes verlaat om in vlugtelingkampe te bly, uit oorlogsgebiede stroom nie. Mense sal nooit weer treur oor hulle geliefdes wat in konflikte tussen nasies doodgemaak of vermink is nie. Jehovah se hemelse Koning sal permanente wêreldvrede tot stand bring. “In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld.”—Psalm 72:7, 14.

Dit sal selfs nog aangenamer wees om saam met mense te lewe wat geleer het om nie te haat nie, maar om God se weë van liefde na te volg. God se Woord voorspel: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” Hoe sal dit wees om saam met mense te lewe wat Jehovah ken en liefhet? Dieselfde boek voorspel: “Die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid. En my volk sal woon in ’n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke van ongestoorde rus.”—Jesaja 11:9; 32:17, 18.

Mense wie se geloof op Bybelkennis gegrond is, onderskei dat God se leërs gereed is om die aarde van alle vyande van vrede te reinig. Hierdie kennis gee hulle die vertroue om te lewe volgens wat die Bybel sê “aan die einde van die dae” moet gebeur. Dit is: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Jesaja 2:2-4.

Mense uit baie nasies wat Jehovah se Getuies geword het, leer reeds nie meer om ‘oorlog te voer’ nie. Hulle het hulle vertroue in die beskerming van God se hemelse leërs gestel. Jy kan dieselfde vertroue verkry deur die Bybel saam met hulle te studeer.

[Foto-erkenning op bladsy 28]

U.S. National Archives photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel