Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 5/1 bl. 14-20
  • Koninkryksverkondigers bedrywig oor die hele aarde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Koninkryksverkondigers bedrywig oor die hele aarde
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • In afwagting van die einde van die Heidense Tye
  • Ywerige verkondiging van die opgerigte Koninkryk
  • Pogings om die hele bewoonde aarde te bereik
  • Almal word sover moontlik met die goeie nuus bereik
  • Deel 2—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die goeie nuus word in die openbaar en van huis tot huis verkonding
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Deel 5—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 5/1 bl. 14-20

Koninkryksverkondigers bedrywig oor die hele aarde

“Julle sal my getuies wees . . . tot aan die uiterste van die aarde.”—HANDELINGE 1:8.

1. Watter boodskap het Jesus gesê sou sy volgelinge in ons dag verkondig?

TOE Jesus die werk beskryf het waarvoor Jehovah sy Seun aarde toe gestuur het, het hy gesê: ‘Ek moet die goeie nuus van die koninkryk van God verkondig’ (Lukas 4:43, NW). En toe Jesus vertel het van die werk wat sy dissipels op die aarde sou doen wanneer hy in koninkryksmag terugkeer, het hy gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Mattheüs 24:14, NW.

2. (a) Waarom is dit so belangrik dat die Koninkryksboodskap op groot skaal bekend gemaak word? (b) Watter vraag moet elkeen van ons ons afvra?

2 Waarom is nuus oor God se Koninkryk so belangrik? Waarom moet die Koninkryk op so ’n groot skaal bekend gemaak word? Omdat dit die Messiaanse Koninkryk is wat Jehovah se universele soewereiniteit sal regverdig (1 Korinthiërs 15:24-28). Deur die Koninkryk sal Jehovah sy oordeel aan die huidige sataniese stelsel van dinge voltrek en sy belofte nakom om al die gesinne van die aarde te seën (Genesis 22:17, 18; Daniël 2:44). Jehovah het mense gebruik om aangaande die Koninkryk te getuig en het sodoende diegene gevind wat hy daarna as mede-erfgename van sy Seun gesalf het. Deur middel van die verkondiging van die Koninkryk vind daar vandag ook ’n skeidingswerk plaas (Mattheüs 25:31-33). Jehovah wil hê dat mense uit alle nasies oor sy voorneme ingelig word. Hy wil hulle die geleentheid gee om die lewe as onderdane van sy Koninkryk te kies (Johannes 3:16; Handelinge 13:47). Het jy ’n volle aandeel aan die verkondiging van hierdie Koninkryk?

In afwagting van die einde van die Heidense Tye

3. (a) Watter onderwerp het C. T. Russell gepas beklemtoon tydens ’n vroeë reis om Bybelstudiegroepe te vorm? (b) Wat het daardie vroeë Bybelstudente besef ten opsigte van die plek wat God se Koninkryk in hulle lewe moes inneem?

3 In 1880 het Charles Taze Russell, die eerste redakteur van die Watch Tower, deur die noordoostelike dele van die Verenigde State gereis om die vorming van Bybelstudiegroepe aan te moedig. Dit was gepas dat hy oor die onderwerp “Dinge met betrekking tot die Koninkryk van God” gepraat het. Soos vroeë nommers van die Watch Tower toon, het die Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het) besef dat hulle die Koninkryk eerste moet stel en hulle lewe, vermoëns en hulpbronne met blydskap in diens daarvan moet gebruik as hulle waardig geag wil word om deelgenote van God se Koninkryk te wees. Alle ander dinge in die lewe moes die tweede plek inneem (Mattheüs 13:44-46). Hulle verantwoordelikheid het ook behels dat hulle die goeie nuus oor God se Koninkryk aan ander verkondig (Jesaja 61:1, 2). In watter mate het hulle dit voor die einde van die Heidense Tye in 1914 gedoen?

4. In watter mate het die klein groepie Bybelstudente voor 1914 Bybellektuur versprei?

4 Van die 1870’s tot 1914 was daar relatief min Bybelstudente. Teen 1914 was daar maar ongeveer 5 100 wat die openbare getuieniswerk gedoen het. Maar wat ’n buitengewone getuienis was dit tog! In 1881, net twee jaar nadat die Watch Tower die eerste keer verskyn het, het hulle die publikasie Food for Thinking Christians, met 162 bladsye, begin versprei. Binne ’n paar maande het hulle 1 200 000 daarvan versprei. Binne ’n paar jaar is daar jaarliks tienmiljoene traktate in baie tale versprei.

5. Wie was die kolporteurs, en watter soort gesindheid het hulle aan die dag gelê?

5 Party het ook van 1881 af hulle dienste as kolporteurs begin aanbied. Hulle was die voorlopers van die hedendaagse pioniers (voltydse evangeliedienaars). Party van die kolporteurs het, te voet of per fiets, persoonlik die getuieniswerk in byna elke deel van die land gedoen waar hulle gewoon het. Ander het na ander lande verhuis, en hulle was die eerstes wat die goeie nuus na lande soos Finland, Barbados en Birma (wat nou Myanma is) geneem het. Hulle het ’n sendingywer soortgelyk aan dié van Jesus Christus en sy apostels geopenbaar.—Lukas 4:43; Romeine 15:23-25, NW.

6. (a) Hoeveel het broer Russell gereis om Bybelwaarheid te verkondig? (b) Wat is nog gedoen om die verkondiging van die goeie nuus voor die einde van die Heidense Tye in die buiteland te bevorder?

6 Broer Russell het self baie gereis om die waarheid te verkondig. Hy het herhaaldelik na Kanada toe gegaan; in Panama, Jamaika en Kuba toesprake gehou; twaalf keer na Europa toe gereis en tydens ’n evangelisasiereis om die wêreld gereis. Hy het ook ander manne uitgestuur om met die verkondiging van die goeie nuus in die buiteland te begin en die leiding daarin te neem. Adolf Weber is in die middel-1890’s na Europa toe gestuur, en sy bediening het van Switserland af tot in Frankryk, Italië, Duitsland en België gereik. E. J. Coward is na die Karibiese gebied toe gestuur. Robert Hollister is in 1912 na die Ooste toe gestuur. Spesiale traktate is daar in tien tale gedruk, en miljoene eksemplare is deur plaaslike verspreiders deur die hele Indië, China, Japan en Korea versprei. Sou jou hart jou, as jy destyds gelewe het, beweeg het om ’n ywerige poging aan te wend om ander in jou gemeenskap en verder daarvandaan met die goeie nuus te bereik?

7. (a) Hoe is koerante gebruik om ’n omvattender getuienis te gee? (b) Wat was die “Fotodrama van die Skepping”, en hoeveel mense het dit binne net een jaar gesien?

7 Toe die Heidense Tye ten einde begin loop het, is koerante gebruik om Bybelpreke te publiseer wat deur broer Russell gehou is. Die hoofdoel daarvan was nie om die jaar 1914 te beklemtoon nie, maar eerder God se voorneme en die feit dat dit gewis tot stand sou kom. Tot 2 000 koerante op ’n keer, wat 15 000 000 lesers bereik het, het hierdie preke gereeld gepubliseer. Toe, aan die begin van 1914, het die Genootskap die “Fotodrama van die Skepping” aan die publiek begin vertoon. Bybelwaarhede van die skepping af tot in die Millennium is in vier aanbiedings van twee uur elk vertoon. Binne net ’n jaar het gehore van meer as negemiljoen in Noord-Amerika, Europa, Australië en Nieu-Seeland dit gesien.

8. Hoeveel lande het die Bybelstudente teen 1914 reeds met die goeie nuus bereik?

8 Volgens beskikbare gegewens het hierdie ywerige groep evangeliedienaars God se Koninkryk teen die einde van 1914 reeds in 68 lande verkondig.a Maar dit was net ’n begin!

Ywerige verkondiging van die opgerigte Koninkryk

9. Hoe is daar by die byeenkomste in Cedar Point spesiale stukrag aan die Koninkryksgetuieniswerk gegee?

9 Toe die Bybelstudente in 1919 in Cedar Point, Ohio, bymekaargekom het, het J. F. Rutherford, wat destyds die president van die Wagtoringgenootskap was, gesê: “Ons roeping [was en is] om die inkomende, glorieryke koninkryk van die Messias aan te kondig.” By die tweede byeenkoms in Cedar Point, in 1922, het broer Rutherford die feit beklemtoon dat ‘die Koning van heerlikheid’ in 1914, aan die einde van die Heidense Tye, ‘sy groot mag aangeneem en begin regeer het’. Daarna het hy die saak ronduit aan sy gehoor gestel en gesê: “Glo jy dat die Koning van heerlikheid begin regeer het? Keer dus terug na die veld, o seuns van die allerhoogste God! . . . Verkondig die boodskap wyd en syd. Die wêreld moet weet dat Jehovah God is en dat Jesus Christus die Koning van die konings en die Here van die here is. Dit is die dag der dae. Kyk, die Koning heers! Julle is sy reklame-agente.”

10, 11. Hoe is die radio, klankmotors en plakkate op doeltreffende wyse gebruik om mense met die Koninkrykswaarheid te bereik?

10 Meer as 70 jaar het al verloop sedert daardie byeenkomste in Cedar Point—byna 80 jaar sedert Jehovah begin het om sy soewereiniteit deur die Messiaanse heerskappy van sy Seun uit te oefen. In watter mate het Jehovah se Getuies wel die werk volbring wat vir hulle in God se Woord uiteengesit word? Watter aandeel het jy persoonlik daaraan?

11 Aan die begin van die twintigerjare het die radio beskikbaar geword as ’n instrument wat benut kon word om groot publisiteit aan die Koninkryksboodskap te gee. Gedurende die dertigerjare is byeenkomstoesprake wat die Koninkryk as die hoop van die wêreld beklemtoon het deur radionetwerke of kettinguitsendings en telefoonlyne regoor die wêreld uitgesaai. Motors wat met luidsprekers toegerus was, is ook gebruik om Bybeltoesprake op openbare plekke te speel. Toe, in 1936, het ons broers in Glasgow, Skotland, plakkate begin dra wanneer hulle deur sakegebiede geloop het om openbare toesprake te adverteer. Hierdie was almal doeltreffende metodes om vir baie mense ’n getuienis te gee toe ons getalle nog klein was.

12. Wat is volgens die Skrif een van die doeltreffendste maniere waarop ons persoonlik kan getuig?

12 Die Skrif stel dit natuurlik duidelik dat ons as Christene elkeen die verantwoordelikheid het om te getuig. Ons kan nie net koerantartikels of radio-uitsendings die werk laat doen nie. Duisende lojale Christene—mans, vroue en jongmense—het daardie verantwoordelikheid aanvaar. Gevolglik het die predikingswerk van huis tot huis ’n vername kenmerk van Jehovah se Getuies geword.—Handelinge 5:42; 20:20, vgl. NW.

Pogings om die hele bewoonde aarde te bereik

13, 14. (a) Waarom verhuis sommige Getuies na ander dorpe, selfs na ander lande, om hulle bediening daar voort te sit? (b) Hoe het sommige se liefdevolle besorgdheid oor mense in hulle geboorteland gehelp dat die goeie nuus oral verkondig word?

13 Omdat hulle weet dat die Koninkryksboodskap in die hele bewoonde aarde verkondig moet word, het sommige Getuies van Jehovah ook ernstig nagedink oor wat hulle persoonlik kan doen om gebiede buite hulle gemeenskap te bereik.

14 Baie mense het die waarheid geleer nadat hulle hulle geboortegrond verlaat het. Hoewel hulle moontlik om materiële gewin verhuis het, het hulle iets kosbaarders gevind, en sommige het hulle genoodsaak gevoel om na hulle geboorteland of -gemeenskap toe terug te keer om die waarheid daar te verkondig. Só het die verkondiging van die goeie nuus vroeg in hierdie eeu na Skandinawië, Griekeland, Italië, lande van Oos-Europa en baie ander gebiede uitgebrei. Selfs nou, in die negentigerjare, word die Koninkryksboodskap op dieselfde wyse verkondig.

15. Wat is gedurende die twintiger- en dertigerjare vermag deur sommige wat die gesindheid aan die dag gelê het wat in Jesaja 6:8 gemeld word?

15 Deur die raad van God se Woord in hulle lewe toe te pas, kon sommige hulle beskikbaar stel vir diens op plekke waar hulle nie voorheen gewoon het nie. W. R. Brown (wat dikwels “Bible Brown” genoem is) was een van hulle. In 1923 het hy van Trinidad af na Wes-Afrika verhuis om die evangelisasiewerk te bevorder. Gedurende die dertigerjare was Frank en Gray Smith, Robert Nisbet en David Norman onder diegene wat die Koninkryksboodskap al met die ooskus van Afrika langs verkondig het. Ander het gehelp om die Suid-Amerikaanse veld te bearbei. In die vroeë twintigerjare het George Young, ’n Kanadees, aan die werk in Argentinië, Brasilië, Bolivia, Chili en Peru deelgeneem. Juan Muñiz, wat in Spanje gedien het, het die werk in Argentinië, Chili, Paraguay en Uruguay voortgesit. Hulle het almal die gesindheid aan die dag gelê wat in Jesaja 6:8 gemeld word: “Hier is ek, stuur my.”

16. Waar is die getuieniswerk in die vooroorlogse jare gedoen bo en behalwe in die vernaamste bevolkingsentrums?

16 Die goeie nuus is selfs in afgeleë gebiede verkondig. Bote met Getuies op het al die buitehawens van Newfoundland, die Noorweegse kus tot by die Noordpool, die eilande van die Stille Oseaan en die hawens van Suidoos-Asië besoek.

17. (a) Hoeveel lande het die Getuies teen 1935 reeds bereik? (b) Waarom was die werk toe nog nie klaar nie?

17 Dit is verbasend dat Jehovah se Getuies teen 1935 reeds in 115 lande bedrywig was en dat hulle toe al ’n verdere 34 lande bereik het deur middel van getuienisveldtogte of lektuur wat deur die pos gestuur is. Nogtans was die werk nie klaar nie. Daardie jaar het Jehovah hulle laat besef dat hy voornemens is om “’n groot menigte” in te samel wat tot in sy nuwe wêreld behoue sal bly (Openbaring 7:9, 10, 14). Daar was nog baie getuieniswerk om te doen!

18. Watter rol het die Gileadskool en die Bedieningsopleidingskool al in die Koninkrykspredikingswerk gespeel?

18 Selfs toe die hele wêreld in die greep van die Tweede Wêreldoorlog was en daar in baie lande ’n verbod op die lektuur of bedrywigheid van Jehovah se Getuies geplaas is, is daar met die Wagtoring-Bybelskool Gilead begin om voornemende sendelinge op te lei om die internasionale Koninkrykspredikingswerk op ’n selfs groter skaal te doen. Tot op hede het Gileadgegradueerdes al in meer as 200 lande gedien. Hulle het meer gedoen as om net lektuur te versprei en dan verder te gaan. Hulle het Bybelstudies gehou, gemeentes georganiseer en mense opgelei om teokratiese verantwoordelikhede op hulle te neem. In onlangser tye het ouere manne en bedieningsknegte wat aan die Bedieningsopleidingskool gegradueer het ook op ses vastelande gehelp om in die noodsaaklike behoeftes in verband met hierdie werk te voorsien. ’n Vaste grondslag vir volgehoue groei is gelê.—Vergelyk 2 Timotheüs 2:2.

19. In watter mate het Jehovah se knegte die uitnodiging aangeneem om in gebiede te dien waar daar hulp nodig is?

19 Kon ander help om na van die ongewerkte gebiede om te sien? In 1957 is individue en gesinne—ryp Getuies van Jehovah—wêreldwyd by byeenkomste aangemoedig om dit te oorweeg om na gebiede te verhuis waar daar hulp nodig was om daar te gaan woon en hulle bediening daar voort te sit. Die uitnodiging was baie soos die een wat God aan die apostel Paulus gerig het toe hy in ’n visioen ’n man gesien het wat hom gesmeek het: “Kom oor na Macedonië en help ons!” (Handelinge 16:9, 10). Sommige het gedurende die vyftigerjare verhuis; ander later. Tot duisend Getuies het na Ierland en Colombia toe verhuis; honderde het na baie ander plekke toe verhuis. Tienduisende ander het na plekke in hulle eie land verhuis waar daar hulp nodig was.—Psalm 110:3.

20. (a) Wat is sedert 1935 ter vervulling van Jesus se profesie in Mattheüs 24:14 vermag? (b) Hoe is die werk gedurende die afgelope paar jaar bespoedig?

20 Vanweë Jehovah se seën op sy volk maak die Koninkrykspredikingswerk buitengewoon vinnig vooruitgang. Sedert 1935 het die aantal verkondigers byna tagtigvoudig toegeneem, en die toename in die pioniergeledere was 60 persent hoër as die toename onder die verkondigers. Die tuisbybelstudiereëling is gedurende die dertigerjare begin. Daar word nou elke maand gemiddeld meer as vier en ’n half miljoen tuisbybelstudies gehou. Sedert 1935 is daar al meer as 15 miljard uur aan die Koninkryksverkondigingswerk gewy. Die goeie nuus word nou gereeld in 231 lande verkondig. Namate die verkondiging van die goeie nuus met groter vryheid in gebiede in Oos-Europa en Afrika gedoen kon word, is internasionale byeenkomste doeltreffend gebruik om die Koninkryksboodskap daadwerklik onder die publiek se aandag te bring. Soos Jehovah lank gelede in Jesaja 60:22 belowe het, ‘bespoedig hy die werk beslis op tyd’ (NW). Wat ’n wonderlike voorreg het ons tog om daaraan deel te neem!

Almal word sover moontlik met die goeie nuus bereik

21, 22. Wat kan ons persoonlik doen om waar ons ook al dien ons werk as Getuies doeltreffender te doen?

21 Die Here het nog nie gesê die werk is klaar nie. Baie duisende word nog ware aanbidders. Daarom ontstaan die vraag: Doen ons alles wat moontlik is om die tyd goed te gebruik wat Jehovah se lankmoedigheid vir hierdie werk toelaat?—2 Petrus 3:15.

22 Nie almal kan na gebiede verhuis wat selde gedek word nie. Maar benut jy die geleenthede wat jy het ten volle? Getuig jy vir medewerkers? vir onderwysers en skoolmaats? Het jy jou by veranderende situasies in jou gebied aangepas? Het jy, as daar vanweë veranderende werkspatrone bedags baie min mense tuis is, jou rooster verander sodat jy hulle saans kan besoek? Doen jy telefoongetuieniswerk of getuig jy per brief as geboue ontoeganklik gemaak word vir ongenooide besoekers? Gaan jy terug na belangstellendes en bied jy tuisbybelstudies aan? Voer jy jou bediening ten volle uit?—Vergelyk Handelinge 20:21; 2 Timotheüs 4:5.

23. Wat moet Jehovah in ons geval duidelik kan sien as hy kyk na wat ons in sy diens doen?

23 Laat ons almal ons bediening op ’n wyse vervul wat duidelik vir Jehovah toon dat ons waarlik die groot voorreg waardeer om in hierdie belangrike tye sy Getuies te wees. Mag dit ons voorreg wees om ooggetuies te wees wanneer Jehovah sy oordeel aan die verdorwe ou stelsel voltrek en die glorieryke Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus inlui!

[Voetnoot]

a Getel volgens die wyse waarop die wêreld in die vroeë negentigerjare verdeel was.

Ter hersiening

◻ Waarom is die verkondiging van die Koninkryksboodskap so belangrik?

◻ In watter mate is die goeie nuus tot 1914 verkondig?

◻ Hoe groot is die getuienis wat gegee is sedert die Koninkryk opgerig is?

◻ Wat kan help dat ons meer produktief in die bediening is?

[Venster/Prente op bladsy 16, 17]

JEHOVAH SE GETUIES—VERKONDIGERS VAN GOD SE KONINKRYK

Gedurende 1993-94 is ’n nuwe boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk by honderde byeenkomste in alle wêrelddele vrygestel. Dit is ’n uiters insiggewende, omvattende geskiedenis van Jehovah se Getuies. Die boek het 752 bladsye en is pragtig geïllustreer met meer as duisend prente en foto’s wat uit 96 lande versamel is. Dit het teen die einde van 1993 reeds in 25 tale verskyn en word in nog tale vertaal.

Waarom is so ’n boek vandag van belang? In onlangse jare het miljoene mense wêreldwyd Getuies van Jehovah geword. Hulle moet almal goed bekend wees met die geskiedenis van die organisasie waaraan hulle verbonde is. Daarbenewens het hulle predikingswerk en hulle wyse van aanbidding by nasionale en rassegroepe oor die hele wêreld ingang gevind en is dit deur jonk en oud en deur mense op elke ekonomiese en opvoedingsvlak aangeneem. Baie mense wat sien wat gebeur, vra gevolglik vrae oor die Getuies—nie net oor wat hulle glo nie, maar ook oor hulle oorsprong, hulle geskiedenis, hulle organisasie, hulle oogmerke. Ander het al oor hulle geskryf, hoewel hulle nie altyd onpartydig was nie. Maar niemand ken die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies beter as die Getuies self nie. Die redakteurs van hierdie boek het daardie geskiedenis op ’n objektiewe en eerlike wyse probeer weergee. Daardeur het hulle ook die feite verskaf oor die vervulling tot op hede van die baie belangrike aspek van die teken van Christus se teenwoordigheid wat in Mattheüs 24:14 aangetref word, en hulle het besonderhede daaroor verstrek wat net deur diegene verstrek kan word wat diep betrokke is by die werk wat daar voorspel is.

Die boek is in sewe hoofafdelings verdeel:

Afdeling 1: Hierdie deel ondersoek die geskiedkundige oorsprong van Jehovah se Getuies. Dit bevat ook ’n eerlike, insiggewende oorsig van hulle hedendaagse geskiedenis van 1870 tot 1992.

Afdeling 2: Dit is ’n insiggewende oorsig van die progressiewe ontwikkeling van leerstellings wat Jehovah se Getuies van ander godsdiensgroepe onderskei.

Afdeling 3: Hierdie deel van die boek ondersoek die ontwikkeling van hulle organisasie se struktuur. Dit bevat interessante feite oor hulle gemeentelike vergaderinge en byeenkomste, asook oor die manier waarop hulle Koninkryksale, groter Byeenkomssale en fasiliteite vir die druk van Bybellektuur bou. Dit toon met watter ywer Jehovah se Getuies God se Koninkryk verkondig, asook die liefde wat geopenbaar word terwyl hulle in krisistye na mekaar omsien.

Afdeling 4: Hier sal jy fassinerende besonderhede aantref oor hoe die verkondiging van God se Koninkryk groot lande en afgeleë eilande oor die hele wêreld bereik het. Stel jou net voor—die predikingswerk is in 1914 in 43 lande gedoen, maar teen 1992 in 229 lande! Die ondervindinge van diegene wat aan hierdie wêreldwye uitbreiding deelgeneem het, is inderdaad hartverblydend.

Afdeling 5: Om al hierdie Koninkryksverkondigingswerk te kon doen, moes internasionale fasiliteite opgerig word om Bybels asook Bybellektuur in meer as tweehonderd tale te druk. Hier sal jy leer wat hierdie aspek van hulle werk behels.

Afdeling 6: Die Getuies het ook al beproewinge deurgemaak—sommige weens menslike onvolmaaktheid, ander weens valse broers en selfs meer weens openlike vervolging. God se Woord het gewaarsku dat dit die geval sou wees (Lukas 17:1; 2 Timotheüs 3:12; 1 Petrus 4:12; 2 Petrus 2:1, 2). Hierdie afdeling van die boek vertel op aanskoulike wyse wat wel gebeur het en hoe Jehovah se Getuies se geloof hulle in staat gestel het om as oorwinnaars uit die stryd te tree.

Afdeling 7: Ten slotte bespreek die boek waarom Jehovah se Getuies vas oortuig is dat die organisasie waaraan hulle behoort waarlik deur God gelei word. Dit bespreek ook waarom hulle dit as noodsaaklik beskou om as organisasie en as individue waaksaam te bly.

Benewens die bogenoemde bevat hierdie mooi saamgestelde boek ook ’n pragtige en baie insiggewende deel met 50 bladsye kleurfoto’s van die wêreldhoofkwartier en die takfasiliteite wat wêreldwyd deur Jehovah se Getuies gebruik word.

Indien jy dit nie reeds gedoen het nie, sal jy waarlik daarby baat vind om ’n eksemplaar van hierdie fassinerende publikasie aan te skaf en te lees.

Kommentare van sommige wat dit gelees het

Hoe het diegene gereageer wat hierdie boek reeds gelees het? Hier is ’n paar voorbeelde:

“Ek het so pas die fassinerende, treffende dokumentêre boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk klaar gelees. Net ’n organisasie wat lojaal en nederig aan die waarheid vashou, kan met soveel eerlikheid, moed en gevoel skryf.”

“Dit lees soos die boek Handelinge, met sy eerlikheid en openhartigheid.”

“Wat ’n boeiende nuwe publikasie! . . . Dit is ’n geskiedkundige meesterstuk.”

Nadat een man omtrent die helfte van die boek gelees het, het hy geskryf: “Ek was met ontsag vervul, sprakeloos en na aan trane . . . In al my jare het geen ander publikasie sulke emosionele trefkrag gehad nie.”

“My hart sing elke keer as ek daaraan dink hoe hierdie boek die geloof sal versterk van jongmense asook nuwelinge wat vandag in die organisasie inkom.”

“Ek het nog altyd die waarheid waardeer, maar hierdie boek het my oë laat oopgaan en my beter as ooit help besef dat Jehovah se heilige gees al hierdie dinge tot stand gebring het.”

[Prente op bladsy 18]

Baie mense is met die Koninkryksboodskap bereik selfs toe daar min Getuies was

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel