Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 4/15 bl. 20-23
  • Barnabas—die “Seun van Vertroosting”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Barnabas—die “Seun van Vertroosting”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Edelmoedige helper
  • In Antiogië
  • ’n Spesiale sendingtoewysing
  • Die besnydenisgeskil
  • “’n Skerp uitbarsting van toorn”
  • “Seun van vertroosting”
    Wees moedig en maak God gelukkig
  • “Met vreugde en heilige gees gevul”
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Hoe om probleme met liefde op te los
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Hulle het “moedig gepreek omdat Jehovah hulle die gesag gegee het”
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 4/15 bl. 20-23

Barnabas—die “Seun van Vertroosting”

WANNEER laas het ’n vriend jou vertroos? Kan jy onthou wanneer laas jy iemand anders vertroos het? Ons almal het van tyd tot tyd aanmoediging nodig, en hoe waardeer ons tog nie diegene wat dit liefdevol gee nie! Vertroosting impliseer dat ons tyd neem om te luister, te verstaan en te help. Is jy bereid om dit te doen?

Iemand wat sulke gewilligheid op ’n voorbeeldige wyse getoon het, was Barnabas, wat “’n goeie man en vol heilige gees en geloof” was (Handelinge 11:24). Waarom kon dit van Barnabas gesê word? Wat het hy gedoen om hierdie beskrywing te verdien?

’n Edelmoedige helper

Sy eintlike naam was Josef, maar die apostels het hom ’n beskrywende bynaam gegee wat by sy karakter gepas het—Barnabas, wat “Seun van Vertroosting” betekena (Handelinge 4:36). Die Christengemeente was toe maar pas gevorm. Sommige meen dat Barnabas vroeër een van Jesus se dissipels was (Lukas 10:1, 2). Hoe dit ook al sy, hierdie man het ’n goeie reputasie gehad.

Kort ná Pinkster 33 G.J. het Barnabas, wat ’n Leviet uit Siprus was, vrywillig ’n stuk grond verkoop en die geld aan die apostels gegee. Waarom het hy dit gedoen? Volgens die verslag in Handelinge is daar destyds aan alle Christene in Jerusalem ‘uitgedeel volgens hulle behoefte’. Barnabas het klaarblyklik gesien dat daar ’n behoefte is, en hy het op goedhartige wyse iets daaromtrent gedoen (Handelinge 4:34-37). Hy was moontlik welgesteld, maar hy het nie geaarsel om sowel sy materiële besittings as homself vir die bevordering van Koninkryksbelange aan te bied nie.b “Waar Barnabas ook al mense of situasies teëgekom het wat aanmoediging vereis het, het hy al die aanmoediging gegee wat hy kon”, sê die geleerde F. F. Bruce. Dit is duidelik uit die tweede voorval waarby hy betrokke was.

Omstreeks 36 G.J. het Saulus van Tarsus (die toekomstige apostel Paulus), wat teen dié tyd ’n Christen was, met die gemeente in Jerusalem in aanraking probeer kom, “maar hulle was almal bang vir hom, omdat hulle nie geglo het dat hy ’n dissipel is nie”. Hoe kon hy die gemeente daarvan oortuig dat sy bekering opreg was en nie net ’n slim set om dit verder te verwoes nie? “Barnabas [het] hom te hulp gekom en hom na die apostels toe gelei.”—Handelinge 9:26, 27; Galasiërs 1:13, 18, 19.

Waarom Barnabas Saulus vertrou het, word nie gemeld nie. Hoe dit ook al sy, die “Seun van Vertroosting” het sy bynaam gestand gedoen deur na Saulus te luister en hom uit ’n skynbaar hopelose situasie te help. Hoewel Saulus toe na sy geboorteplek Tarsus teruggekeer het, het ’n vriendskapsband reeds tussen die twee mans ontwikkel. In latere jare sou dit baie betekenisvol wees.—Handelinge 9:30.

In Antiogië

Omstreeks 45 G.J. het Jerusalem berig ontvang van ongewone ontwikkelinge in Antiogië in Sirië—talle Griekssprekende inwoners van daardie stad het gelowiges begin word. Die gemeente het Barnabas gestuur om ondersoek in te stel en die werk daar te organiseer. Hulle kon nie ’n wyser keuse gemaak het nie. Lukas sê: “Toe hy daar aankom en die onverdiende goedhartigheid van God sien, het hy hom verheug en hulle almal begin aanmoedig om met hartlike voorneme voort te gaan in die Here; want hy was ’n goeie man en vol heilige gees en geloof. En ’n aansienlike skare is tot die Here bygevoeg.”—Handelinge 11:22-24.

Dit is nie al wat hy gedoen het nie. Volgens die geleerde Giuseppe Ricciotti “was Barnabas ’n praktiese man, en hy het onmiddellik besef dat daar aan die werk gespring moet word om te verseker dat so ’n belowende opbloei deur ’n ryk oes gevolg word. Dit sou dus eerstens belangrik wees om werkers vir die oes te kry.” Aangesien Barnabas van Siprus was, was hy heel moontlik gewoond daaraan om met heidene te verkeer. Hy het miskien gevoel dat hy besonder bevoeg is om vir heidene te preek. Maar hy was gewillig om ander in hierdie opwindende en aanmoedigende bedrywigheid te betrek.

Barnabas het aan Saulus gedink. Heel waarskynlik was Barnabas bewus van die profetiese openbaring aan Ananias ten tye van Saulus se bekering, dat die voormalige vervolger ‘’n uitverkore vat is om Jesus se naam na die nasies te dra’ (Handelinge 9:15). Barnabas het dus na Tarsus vertrek—’n reis van sowat 200 kilometer in een rigting—om Saulus te gaan soek. Die twee het ’n hele jaar lank as metgeselle saamgewerk, en gedurende hierdie tydperk “was [dit] in Antiogië dat die dissipels vir die eerste keer deur goddelike voorsienigheid Christene genoem is”.—Handelinge 11:25, 26.

Gedurende Claudius se heerskappy het kwaai hongersnood verskeie dele van die Romeinse Ryk geteister. Volgens die Joodse geskiedskrywer Josefus “het baie mense [in Jerusalem] gesterf omdat hulle nie gehad het wat nodig was om voedsel te verkry nie”. Die dissipels in Antiogië het dus “besluit om, elkeen van hulle volgens wat hy kon bekostig, onderstand te stuur aan die broers wat in Judea woon; en hulle het dit dan ook gedoen en dit deur die hand van Barnabas en Saulus aan die ouer manne gestuur”. Nadat hulle twee daardie opdrag ten volle uitgevoer het, het hulle saam met Johannes Markus na Antiogië teruggekeer, waar hulle onder die profete en leermeesters van die gemeente gereken is.—Handelinge 11:29, 30; 12:25; 13:1.

’n Spesiale sendingtoewysing

Toe het iets buitengewoons plaasgevind. “Terwyl hulle Jehovah in die openbaar gedien het en gevas het, het die heilige gees gesê: ‘Sonder vir my van almal Barnabas en Saulus af vir die werk waarvoor ek hulle geroep het.’” Dink net daaraan! Jehovah se gees het beveel dat hulle twee ’n spesiale toewysing gegee word. “Gevolglik het hierdie manne, wat deur die heilige gees uitgestuur is, afgegaan na Seleukië, en daarvandaan het hulle weggeseil na Siprus.” Barnabas kon tereg ook ’n apostel, of een wat uitgestuur is, genoem word.—Handelinge 13:2, 4; 14:14.

Nadat hulle deur Siprus gereis het en Sergius Paulus, die Romeinse provinsiale goewerneur van die eiland, bekeer het, het hulle verder gegaan na Perge, aan die suidkus van Klein-Asië, waar Johannes Markus hulle verlaat het en na Jerusalem teruggekeer het (Handelinge 13:13). Dit lyk asof Barnabas tot op daardie tydstip ’n leidende rol gespeel het, moontlik as die meer ervare metgesel. Van toe af is dit Saulus (wat nou Paulus genoem word) wat die leiding neem. (Vergelyk Handelinge 13:7, 13, 16; 15:2.) Het hierdie verwikkeling Barnabas seergemaak laat voel? Nee, hy was ’n ryp Christen wat nederig erken het dat Jehovah ook sy metgesel op kragtige wyse gebruik. Jehovah wou hê dat nog ander gebiede die goeie nuus deur middel van hulle hoor.

Trouens, voordat hulle twee uit Antiogië, in Pisidië, gegooi is, het die hele streek God se woord by Paulus en Barnabas gehoor, en ’n aantal het die boodskap aanvaar (Handelinge 13:43, 48-52). In Ikonium het “’n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowiges geword”. Dit het Paulus en Barnabas beweeg om geruime tyd daar deur te bring en ‘op gesag van Jehovah met vrymoedigheid te spreek, wat gegee het dat tekens en voortekens deur middel van hulle hande plaasvind’. Toe hulle hoor dat ’n komplot gesmee is om hulle te stenig, het hulle twee wyslik gevlug en hulle werk in Likaonië, Listra en Derbe voortgesit. Ten spyte van lewensgevaarlike ondervindinge in Listra, het Barnabas sowel as Paulus aangehou om “die siele van die dissipels [te] versterk en hulle [aan te moedig] om in die geloof te bly en gesê: ‘Ons moet deur baie verdrukkinge heen in die koninkryk van God ingaan.’”—Handelinge 14:1-7, 19-22.

Hierdie twee dinamiese predikers was nie van plan om hulle te laat intimideer nie. Inteendeel, hulle het teruggekeer om die nuwe Christene op te bou in plekke waar hulle reeds hewige teenstand ondervind het, en hulle het waarskynlik bekwame manne gehelp om die leiding in die nuwe gemeentes te neem.

Die besnydenisgeskil

Ongeveer 16 jaar ná Pinkster 33 G.J. was Barnabas betrokke by ’n geskiedkundige gebeurtenis in verband met die geskil oor die besnydenis. “Sekere manne het van Judea [na Antiogië in Sirië] afgekom en die broers begin leer: ‘Tensy julle volgens die gebruik van Moses besny word, kan julle nie gered word nie.’” Barnabas en Paulus het uit ondervinding geweet dat dit nie die geval is nie, en hulle het die punt betwis. Hulle het besef dat hulle nie hulle eie gesag moet laat geld nie, maar dat hierdie kwessie eerder tot die voordeel van die hele gemeenskap van broers besleg moes word. Hulle het die kwessie derhalwe na die bestuursliggaam in Jerusalem verwys, waar hulle verslae die geskil help besleg het. Daarna was Paulus en Barnabas, wat beskryf is as “geliefdes . . . wat hulle siele vir die naam van ons Here Jesus Christus oorgegee het”, onder diegene wat gevra is om die besluit aan die broers in Antiogië oor te dra. Toe die brief van die bestuursliggaam gelees en toesprake gehou is, het die gemeente “hulle oor die aanmoediging verheug” en is hulle “versterk”.—Handelinge 15:1, 2, 4, 25-32.

“’n Skerp uitbarsting van toorn”

Ná so baie positiewe verslae oor Barnabas, voel ons miskien dat ons nooit Barnabas se voorbeeld sal kan navolg nie. Maar die “Seun van Vertroosting” was onvolmaak net soos ons almal. Terwyl hy en Paulus ’n tweede sendingreis beplan het om die gemeentes te besoek, het ’n meningsverskil ontstaan. Barnabas was vasbeslote om sy neef Johannes Markus saam te neem, maar Paulus het gemeen dat dit nie gepas sou wees nie, aangesien Johannes Markus hulle op die eerste sendingreis verlaat het. Daar het “’n skerp uitbarsting van toorn plaasgevind, sodat hulle uitmekaar gegaan het; en Barnabas het Markus saamgeneem en na Siprus weggeseil”, terwyl “Paulus . . . Silas gekies en vertrek” het in ’n ander rigting.—Handelinge 15:36-40.

Hoe jammer tog! Nietemin sê die voorval ons iets anders aangaande Barnabas se persoonlikheid. “Dit sal Barnabas altyd tot eer strek dat hy bereid was om ’n risiko te aanvaar en sy vertroue ’n tweede keer in Markus te stel”, sê ’n geleerde. Soos daardie skrywer te kenne gee, was dit heel moontlik “die vertroue wat Barnabas in hom gestel het wat hom sy eie vertroue help herwin het en as ’n aansporing gedien het om sy verpligtinge na te kom”. Later het dit geblyk dat daardie vertroue ten volle geregverdig was, want die dag het aangebreek toe selfs Paulus Markus se bruikbaarheid in Christelike diens erken het.—2 Timoteus 4:11; vergelyk Kolossense 4:10.

Barnabas se voorbeeld kan ons beweeg om die tyd te neem om na die neerslagtiges te luister, hulle te verstaan en aan te moedig en om praktiese hulp te verleen wanneer ons ook al sien dat dit nodig is. Die verslag van sy gewilligheid om sy broers met sagmoedigheid en moed te dien, sowel as die uitstekende resultate wat dit gehad het, is op sigself ’n aanmoediging. Wat ’n seën is dit tog om vandag mense soos Barnabas in ons gemeentes te hê!

[Voetnote]

a Wanneer iemand “seun van” ’n sekere eienskap genoem is, het dit ’n uitsonderlike karaktertrek beklemtoon. (Sien Deuteronomium 3:18, voetnoot in NW.) In die eerste eeu was dit algemeen om byname te gebruik om die aandag op iemand se eienskappe te vestig. (Vergelyk Markus 3:17.) Dit was ’n soort openbare erkenning.

b Met die oog op wat die Mosaïese Wet bepaal het, het sommige gevra hoe dit moontlik was dat Barnabas, ’n Leviet, grond besit het (Numeri 18:20). ’n Mens moet egter daarop let dat dit nie duidelik is of die eiendom in Palestina of in Siprus was nie. Daarbenewens kon dit bloot ’n begraafplek gewees het wat Barnabas in die omgewing van Jerusalem verkry het. Wat die geval ook al mag wees, Barnabas het van sy eiendom afgesien om ander te help.

[Prent op bladsy 23]

Barnabas “was ’n goeie man en vol heilige gees en geloof”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel