Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 9/15 bl. 28-31
  • Volhard in die pionierdiens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Volhard in die pionierdiens
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geldelike behoeftes
  • Deeltydse werk
  • Swak gesondheid en ontmoediging
  • Bewaar jou diensvoorreg as ’n skat
  • Die seëninge van die pionierbediening
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Ondersteun die pioniers
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Pioniers bring en ontvang seëninge
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Die seëninge van die pionierbediening
    Ons Koninkryksbediening—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 9/15 bl. 28-31

Volhard in die pionierdiens

SOWAT 4 500 000 Getuies van Jehovah verkondig die goeie nuus wêreldwyd. Onder hulle is daar meer as 600 000 pioniers, of voltydse Koninkryksverkondigers. Hierdie menigte pioniers se ouderdomme wissel van dié wat nog nie in hulle tienderjare is nie tot afgetredenes in hulle negentigerjare. Hulle kom van alle agtergronde en lewensterreine.

Al hierdie voltydse predikers wil natuurlik welslae in hulle pionierbediening behaal. Baie wil dit hulle loopbaan maak. Sommige kan dit om sekere redes nie doen nie. Tog kan ander ten spyte van geldelike probleme, swak gesondheid, ontmoediging en ander probleme daarmee aanhou. Hoe kan voltydse predikers dan sulke probleme die hoof bied en steeds in die pionierdiens volhard?

Geldelike behoeftes

Gewoonlik doen pioniers, soos die apostel Paulus, sekulêre werk om hulle uitgawes te dek (1 Thessalonicense 2:9). In die meeste wêrelddele het hulle te kampe met pryse van voedsel, klere, huisvesting en vervoer wat die hoogte inskiet. Dikwels is dit moeilik om die deeltydse sekulêre werk te vind wat hulle nodig het. As daar wel sulke betrekkings beskikbaar is, bied hulle gewoonlik net ’n minimum salaris sonder ’n mediese fonds aan.

As ons ‘eers die koninkryk van God en sy geregtigheid soek’, kan ons seker wees dat Jehovah in ons materiële behoeftes sal voorsien. As pioniers derhalwe geldelike probleme ondervind, hoef hulle hulle ‘nie oor môre te kwel nie’ (Mattheüs 6:25-34). Terwyl hulle hard probeer om sulke probleme op te los, sal sterk geloof in Jehovah hulle onnodige spanning bespaar.

Wanneer iemand geldelike probleme ondervind, kan hy dalk sy uitgawes verminder. Met ’n paar veranderinge in sy begroting is dit dalk moontlik om in sy behoeftes—en nie bloot materiële luukses nie—te voorsien. Om uitgawes te besnoei, deel party pioniers ’n woonstel met ander Christene. Ouers help soms hulle kinders om aan die pionierdiens deel te neem deur losies gratis of teen ’n minimale koste te verskaf. Ander help pioniers met voedsel- en vervoerkoste. Maar pioniers moenie vir ander ’n las word nie, want hulle het ’n skriftuurlike plig om hulleself te onderhou.—2 Thessalonicense 3:10-12.

Vervoerkoste kan verminder word deur die onkoste met ander pioniers te deel. As twee pioniers elkeen ’n motor het, kan hulle saam in dieselfde gebied aan die predikingswerk deelneem, net een motor gebruik en die onkoste van twee voertuie uitskakel. Pioniers wat nie ’n motor het nie, kan dalk saam met dié wat een het, ry en die vervoerkoste deel. Reiskoste kan verder verminder word deur soveel moontlik te stap wanneer nabygeleë gebiede gedek word. In baie lande gebruik pioniers goedkoop openbare vervoer.

Newton Cantwell en sy vrou was onder diegene wat hulle geldelike probleme oorkom en in die voltydse diens volhard het. Hulle het hulle plaas verkoop en in 1932, gedurende die Groot Depressie, met ses van hulle sewe kinders die pionierdiens betree. “Ons het kort voor lank alles uitgegee wat ons vir ons plaas gekry het—hoofsaaklik op doktersrekeninge”, het broer Cantwell geskryf. “Ons onthou nog dat ons, toe ons na ons tweede toewysing gegaan het, net genoeg gehad het om twee weke se huur vooruit te betaal, en ons het [15 rand] oorgehad. Ons het nogtans geweet dat Jehovah sou voorsien solank ons ywerig in ons diens was. . . . Ons het geleer om op verskillende maniere geld te bespaar. Wanneer ons na ’n nuwe gebied toe gegaan het, het ek byvoorbeeld met party van die vulstasie-eienaars gepraat en verduidelik dat ons elke dag drie motors op die pad het om ons Christelike werk te doen. Dit het gewoonlik daartoe gelei dat ons afslag op ons petrol gekry het. Ons seuns het gou geleer om motorherstelwerk te doen, wat ons baie aan motorhawerekeninge bespaar het.” Die Cantwells het dus geldelike uitdagings met welslae die hoof gebied en in die voltydse diens volhard. Broer Cantwell was nog op die pionierlys toe hy op die ouderdom van 103 gesterf het.

Deeltydse werk

Baie pioniers onderhou hulleself deur middel van deeltydse werk. Om homself in Korinthe in die bediening te onderhou, het Paulus saam met sy medegelowiges Aquila en Priscilla as ’n tentmaker gewerk (Handelinge 18:1-11). Vandag is talle geestelike broers bereid om vir pioniers deeltydse sekulêre werk te gee. Ander pioniers kry sulke werk deur middel van werkverskaffingsagentskappe wat deeltydse werk aanbied. Geloof in God is noodsaaklik, asook opregte gebed om sy leiding wanneer besluite met betrekking tot werk geneem word.—Spreuke 15:29.

Een pionier het gesê: “Nadat ek baie krag uit my biddende oorweging geput het, het ek my opsigter meegedeel dat my bedieningswerk ’n ernstige persoonlike verantwoordelikheid is en dat ek nie die voltydse betrekking sal kan aanvaar nie. Die volgende Woensdag is ek gevra of ek die betrekking sou heroorweeg, maar op ’n deeltydse grondslag. Ek het dit met genoeë aanvaar.” Moenie die krag van gebed onderskat nie, en tree in ooreenstemming met jou gebede op.

Pioniers sal dit dalk raadsaam vind om vir voornemende werkgewers te sê dat hulle deeltydse werk wil hê om hulle in die bediening te onderhou. Hulle kan meld watter dae hulle beskikbaar is en hoeveel uur per week hulle aan ’n betrekking kan wy. Twee vleeslike susters kon ’n voltydse werk by ’n regsfirma deel, en elkeen kon toe twee en ’n half dae per week werk. Dit het hulle as pioniers gehelp totdat hulle die Wagtoring-Bybelskool Gilead bygewoon en sendingtoewysings ontvang het.

Verskeie soorte skriftuurlik aanvaarbare poste kan gevind word deur met medegelowiges en ander te praat of deur na koerantadvertensies te kyk. Nederigheid is belangrik, want dit kan keer dat pioniers te kieskeurig is oor die soort werk wat hulle wil doen. (Vergelyk Jakobus 4:10.) Om hulle pionierdiens te kan voortsit, sal hulle dalk sekulêre werk moet doen wat ander mense as eenvoudig of minderwaardig beskou. As hulle sulke werk aanvaar, maar graag iets anders wil doen, sal hulle later dalk ’n ander werk kan kry.

Swak gesondheid en ontmoediging

Sommige moet hulle pionierdiens staak omdat hulle ernstige gesondheidsprobleme het. Maar as pioniers nie te haastig hieroor besluit nie, vind hulle moontlik uit dat ’n siekte genees kan word of dat hulle gesondheid soveel verbeter het dat hulle met die pionierdiens kan aanhou. Baie is in die pionierdiens ten spyte van gesondheidsprobleme omdat hulle mediese behandeling ontvang, ’n gepaste dieet volg en die nodige rus en oefening kry. ’n Reisende opsiener het gesien dat een pioniersuster so erg aan gewrigsontsteking ly dat sy hulp nodig het om in die bediening van huis tot huis te loop (Handelinge 20:20). Nogtans het sy en haar man 33 tuisbybelstudies gehou en 83 mense gehelp om God se waarheid aan te neem. Haar gesondheid het mettertyd verbeter, en sy het 11 jaar later die Pionierdiensskool bygewoon.

Ontmoediging kan veroorsaak dat sommige die pionierbediening verlaat (Spreuke 24:10, NW). Een pionier het vir ’n reisende opsiener gesê: “Ek gaan ophou met die pionierdiens. . . . Ek het rekeninge om te betaal.” Hy het ’n bril nodig gehad wat 60 rand gekos het. “Gaan jy die pionierdiens opgee omdat jy [60 rand] nodig het?” het die opsiener gevra. Daar is voorgestel dat die pionier ’n dag lank in die plaaslike koffieplantasie werk, die 60 rand verdien, die bril koop en met die pionierdiens aanhou. Verdere gesprekke het getoon dat die grondliggende probleem ontmoediging oor duur motorherstelwerk was. Die pionier is aangemoedig om sy uitgawes te besnoei deur elke dag binne ’n omtrek van ’n paar kilometer te ry pleks van oor ’n groot gebied. Daar is ook voorgestel dat hy geestelik sterk bly. Die pionier het die raad toegepas en ses maande later is hy na die Gileadskool genooi. Ná sy graduering is hy na die buiteland gestuur, en hy het baie jare tot sy dood getrou daar gedien. Ja, ons kan dikwels groot seëninge ontvang as ons nie toelaat dat ontmoediging ons onderkry nie, maar onthou dat Jehovah met ons is.

Bewaar jou diensvoorreg as ’n skat

Ondanks beproewinge, soos in gevalle van nood en tye sonder voedsel, het Paulus sy bediening as ’n skat beskou (2 Korinthiërs 4:7; 6:3-6). Ten spyte van ontberinge en vervolging het baie van Jehovah se hedendaagse knegte in Afrika, Asië, Oos-Europa en op ander plekke vasgehou aan hulle voorreg om in die pionierdiens te wees. Wanneer hulle voor beproewinge te staan kom, probeer hulle alles in hulle vermoë om in hierdie diensvoorreg te volhard, tot lof van Jehovah.

Die meeste pioniers kon die voltydse predikingswerk betree net omdat hulle hulle lewenstyl vereenvoudig het. Soos Paulus het hulle materialistiese versoekings weerstaan en geleer om met “voedsel en klere” tevrede te wees. Om in die pionierdiens te volhard, moet hulle met die noodsaaklike dinge tevrede bly (1 Timotheüs 6:8). Ons put vreugde daaruit as ons ons godgegewe voorregte as ’n skat bewaar en hulle bo materiële besittings stel.

Ter toeligting: Anton Koerber het die voorreg gehad om Koninkryksbelange voor regeringsamptenare in Washington, DC, te verdedig. Hy het ’n tyd lank as ’n pionier gedien en was in die vyftigerjare ’n kringopsiener. Party van sy voormalige sakevennote het hom eenkeer met ’n handelstransaksie genader wat hom in staat sou stel om driemiljoen rand suiwer wins te maak. Maar om dit te kon doen, sou hy ’n jaar lank al sy tyd aan sake-aangeleenthede moes bestee. Nadat hy om leiding en die gees van ’n gesonde verstand gebid het, het hy gesê: “Dit is nie vir my moontlik om my wonderlike voorreg van diens aan Jehovah hier vir selfs net een jaar op te gee nie, nie vir al die geld ter wêreld nie. Om my broers hier in Washington te dien, is vir my kosbaarder, en ek weet dat ek hier Jehovah se seën het. Ek sal ongetwyfeld [driemiljoen rand] verdien, maar hoe sal dit geestelik, of selfs liggaamlik, aan die einde van ’n jaar van daardie soort lewe met my gaan?” Daarom het hy die aanbod van die hand gewys. Waardering vir hulle voorregte het baie al op ’n soortgelyke wyse gehelp om in die pionierdiens te volhard.

Watter wonderlike seëninge geniet pioniers tog nie! Dit is ’n seën om baie ure daaraan te bestee om oor Jehovah se glorieryke koningskap te praat (Psalm 145:11-13). Omdat pioniers soveel tyd aan die bediening bestee, geniet hulle die seën daarvan om geestelike vertroosting vir die armes en verdruktes, die siekes of bedroefdes te bring. As die omstandighede ons dus toelaat om aan die voltydse predikingswerk deel te neem, sal ons beslis baie seëninge geniet. Dit is ‘die seën van Jehovah wat ryk maak’ (Spreuke 10:22). En dit is met sy hulp en seën wat die talle Koninkryksverkondigers vreugdevol in die pionierdiens volhard.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel