Vrae van lesers
In Romeine 9:3 het die apostel Paulus geskryf: “Want ek sou self kon wens om ter wille van my broers, my stamgenote na die vlees, ’n vervloeking te wees, weg van Christus af.” Het hy bedoel dat hy sy lewe sou opoffer om mede-Jode te red?
Jesus het die uitnemendste voorbeeld van liefde gestel. Hy was bereid om sy siel, of lewe, vir die sondige mensdom af te lê. Gedurende sy openbare bediening het hy hom ten behoewe van sy landgenote—Jode—ingespan sodat soveel van hulle as moontlik onder diegene sou wees wat by sy losprysoffer baat vind (Markus 6:30-34). Die feit dat die Joodse volk nie op die boodskap van redding gereageer het nie en dit teëgestaan het, het nooit Jesus se liefdevolle besorgdheid oor hulle laat afneem nie (Mattheüs 23:37). En hy het ‘’n voorbeeld nagelaat sodat ons sy voetstappe kan navolg’.—1 Petrus 2:21.
Is dit vir onvolmaakte mense moontlik om Jesus se voorbeeld van liefde na te volg? Ja, en ons kan as voorbeeld hiervan na die apostel Paulus kyk. Hy was so besorg oor mede-Jode dat hy, uit liefde vir hulle, gesê het hy wens hy was self ter wille van hulle ‘’n vervloeking, weg van Christus af’.
Paulus het hier ’n soort hiperbool, of oordrywing, gebruik om sy punt te stel. Jesus het ’n soortgelyke oordrywing in Mattheüs 5:18 gebruik toe hy gesê het: “Voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.” Jesus het geweet die hemel en die aarde sou nie verbygaan nie. Paulus sou ook nie ’n vervloeking geword het en al die Jode sou nie die Christelike godsdiens aangeneem het nie. Maar die punt wat Paulus gemaak het, was dat hy so te sê enigiets sou doen om die Jode te help om by God se voorsiening van redding deur Jesus Christus baat te vind. Dit is geen wonder nie dat die apostel mede-Christene kon aanmoedig: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is”!—1 Korinthiërs 11:1.
Christene moet vandag dieselfde besorgdheid aan die dag lê as wat Jesus en Paulus vir ongelowiges gehad het. Ons moet nooit toelaat dat ’n gebrek aan belangstelling of regstreekse teëstand van mense in ons getuienisgebied ons liefde vir ons naaste en ons ywer om hulle te help om van die weg van redding te leer, laat verflou nie.—Mattheüs 22:39.