Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 9/15 bl. 24-28
  • Daar word met volharding in die land van ys en vuur gepreek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Daar word met volharding in die land van ys en vuur gepreek
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Die goeie nuus bereik Ysland
  • Meer arbeiders vir die oes
  • In en om die hoofstad
  • Na die oostekant
  • Die noordelike roete
  • Gunstige vooruitsigte vir vermeerdering
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 9/15 bl. 24-28

Daar word met volharding in die land van ys en vuur gepreek

YSLAND is in die Noord-Atlantiese Oseaan ongeveer halfpad tussen Noord-Amerika en Europa geleë. Hoewel hy net onder die Noordpoolsirkel lê, het hy danksy die verwarmende invloed van die Golfstroom ’n sagter klimaat as wat ’n mens sou verwag. Ysland is al die land van ys en vuur genoem omdat Europa se grootste gletser daar aangetref word en dit een van die aktiefste vulkaangebiede ter wêreld is. Hy is baie bekend vir sy talle warm bronne en solfataras, vulkaniese gebiede wat warm dampe en swaelhoudende gasse afgee.

Die 260 000 bewoners van hierdie tweede grootste eiland van Europa is afstammelinge van die Vikings, wat hulle meer as 1 100 jaar gelede hier gevestig het. Yslands is in wese dieselfde as Oud-Noors, die Skandinawiese taal van die Viking-tydperk. Dit het byna glad nie verander nie, want die Yslanders het daarvan gehou om hulle ou sagas te lees, wat grotendeels in die 13de eeu geskryf is.

Teen die 16de eeu is daar begin om die Bybel in Yslands te vertaal. ’n “Nuwe Testament” het in 1540 verskyn en teen 1584 ’n volledige Bybel. Meer as 90 persent van die mense behoort aan die Evangelies-Lutherse Kerk, die amptelike Staatsgodsdiens. Hoewel die Bybel in byna elke huis aangetref word, glo min dat dit God se Woord is. Die meeste Yslanders het liberale beskouings oor godsdiens, en die meeste van hulle is vrydenkers.

Die goeie nuus bereik Ysland

Die eerste Yslanders wat die goeie nuus van die Koninkryk gehoor het, het destyds in Kanada gewoon. Een van hulle was Georg Fjölnir Lindal. Sy ouers was van Ysland, en hy het Yslands gepraat. Kort nadat hy sy lewe aan Jehovah God toegewy het, het hy ’n voltydse prediker van die goeie nuus geword. In 1929, toe hy 40 was, het hy die goeie nuus na die mense in daardie land van ys en vuur geneem.

Wat ’n ontsaglike taak vir een mens! Ysland strek oor ongeveer 320 kilometer van noord na suid en oor sowat 500 kilometer van oos na wes. Die kuslyn, met inbegrip van die fjords en inhamme, is ongeveer 6 400 kilometer lank. Destyds was daar geen noemenswaardige paaie en so te sê geen motors of enige ander moderne vervoergeriewe nie. Tog het broer Lindal die hele eiland binne tien jaar gedek en duisende boeke versprei. Hy het per boot met die kus langs gevaar, en wanneer hy die plase in die binneland besoek het, het hy twee perde gebruik, een vir hom en die ander een om sy lektuur en sy besittings te dra.

Broer Lindal was byna 18 jaar lank die enigste Getuie in Ysland. Ten spyte van sy harde werk het niemand gedurende daardie tyd hulle standpunt vir die Koninkryk ingeneem nie. Sy lang, eensame verblyf het op 25 Maart 1947 geëindig toe die eerste gegradueerdes van die Wagtoring-Bybelskool Gilead daar aangekom het. Jy kan jou sy vreugde voorstel toe Jehovah eindelik sy gebede om meer arbeiders vir die oes verhoor het (Mattheüs 9:37, 38). Broer Lindal het in Ysland bly dien totdat hy in 1953 na Kanada teruggekeer het.

Meer arbeiders vir die oes

Die sendelinge wat in 1947 gekom het, was twee Deense broers. Twee jaar later het daar nog sendelinge gekom. Terwyl hulle die predikingswerk voortgesit het saam met ’n paar vriende wat na Ysland verhuis het, is duisende publikasies versprei. Die meeste Yslanders lees graag, maar nie baie het gunstig op die goeie nuus gereageer nie. Ná 27 jaar van plant en natmaak, het die geduldige broers die vrugte van hulle arbeid begin sien. In 1956 het sewe nuwelinge hulle standpunt vir die Koninkryk ingeneem en hulle lewe aan Jehovah toegewy.

Gedurende die afgelope tien jaar het die aantal Koninkryksverkondigers meer as verdubbel. Nou is daar sewe gemeentes en een afgesonderde groep; altesaam 280 verkondigers van die goeie nuus. Kom ons besoek hierdie gemeentes op die eiland.

In en om die hoofstad

Die broers en susters wat al daardie jare volhard het, is ryklik geseën. Daar is nou twee florerende gemeentes in Reykjavik, die hoofstad. Hulle kom in ’n mooi Koninkryksaal bymekaar wat in dieselfde gebou as die takkantoor geleë is wat in 1975 toegewy is.

Friðrik en Ada was onder die sewe wat in 1956 gedoop is. “Ek onthou dat ons ons vergaderinge gehou het in ’n kamertjie in die solder waar die sendelinge gewoon het”, sê Friðrik. “Daar was plek vir 12 stoele, maar soms wanneer daar meer as gewoonlik opgedaag het, het ons die kamertjie langsaan se deur oopgemaak. Wat ’n verskil is dit tog vandag wanneer twee gemeentes die Koninkryksaal vul!”

Friðrik was verantwoordelik vir die Voedselverskaffingsafdeling toe die eerste byeenkomste gehou is. “Ek het die meeste van die werk self gedoen, en dit was terselfdertyd niks ongewoons dat ek elke dag drie of vier dele op die program gehad het nie. Terwyl ek in die kombuis gewerk het, het ek ’n voorskoot gedra. Wanneer dit tyd was om ’n toespraak te hou, het ek my baadjie aangetrek en my na die saal gehaas. Die broers moes my verskeie kere daaraan herinner om die voorskoot af te haal. Nou woon tussen 400 en 500 die byeenkomste by, onder andere bekwame ouere manne wat gedeeltes op die program behartig. Daar is ook baie gewillige hande wat in die Voedselverskaffingsafdeling help.”

Die gemeente naaste aan Reykjavik is Keflavik, ongeveer 50 kilometer wes daarvandaan. Gedurende die rit ry ons deur lawavelde. Tien persent van Ysland is met lawa bedek. Die eerste plantegroei wat op hierdie velde verskyn, bestaan uit ligene en mos, maar op die ouer lawavelde sal jy wildebessies en laaggroeiende struike aantref.

Die gemeente in Keflavik het 19 verkondigers en is in 1965 gestig. Die internasionale lughawe is daar naby, en daar is ook ’n Amerikaanse militêre basis. Hoewel die Getuies nog nooit op die basis self van huis tot huis kon werk nie, is daar al baie Bybelstudies gehou, en ’n hele paar het die waarheid geleer.

Daar is nog ’n gemeente in Selfoss, 55 kilometer oos van Reykjavik. Hier sien ons groen weivelde met beeste en skape en Ysland se grootste melkery. Ons ry onderweg by Hveragerði, ’n klein dorpie in ’n skilderagtige vallei, verby. Van ver af sien ons kolomme stoom van warm bronne wat oor die hele vallei voorkom. Dit is een van die uitgebreidste termale gebiede in die land, en baie kweekhuise is al gebou om hierdie hulpbronne te benut en kweekhuistamaties, -komkommers en ’n verskeidenheid -blomme te voorsien.

In hierdie gebied is daar ’n klein maar bedrywige gemeente van 19 Koninkryksverkondigers. Sigurður en Guðrún Svava het ongeveer die tyd toe die gemeente in 1988 gestig is van Reykjavik af verhuis om hierdie groepie te ondersteun. Sigurður is die enigste ouere man hier. Voordat hy byna tien jaar gelede een van Jehovah se Getuies geword het, was hy ’n bekende musikant wat die tromslaner in verskeie groepe was. Vandag maak hy ’n bestaan as ’n ruitwasser, en hy gee ook musieklesse. Sy lewenswyse as ’n verhoogkunstenaar het vir hom baie probleme meegebring, soos dwelmmisbruik, strawwe drinkery en ’n gebroke huwelik. Hoe tevrede is hy tog noudat hy ’n doel in die lewe het en Jehovah dien!

Na die oostekant

Wanneer ons Selfoss verlaat, begin ons ’n rit van 680 kilometer, wat grotendeels oor smal en hobbelagtige gruispaaie strek. Ons is op pad na die volgende gemeente in die dorp Reyðarfjörður, aan die ooskus. Binne ’n halfuur kan ons Hekla, die bekendste Yslandse vulkaan, sien. Dit het hierdie eeu al vier keer uitgebars.

In 1973 het daar ’n dramatiese vulkaniese uitbarsting op Vestmannaeyjar (Westmann-eilande) plaasgevind. Die hele bevolking van sowat 5 300 is binne ’n kwessie van ure veilig na die vasteland geneem. Nadat die dorp opgeknap is, het die meeste van die inwoners geleidelik teruggekeer. Daar woon nou twee Getuies, en hulle verkondig die goeie nuus aan die mense in hierdie gemeenskappie. Nadat ons nog twee uur gery het, verlustig ons ons in die pragtige uitsig op die majestueuse Vatnajökull, by verre Ysland se grootste gletser, met ’n oppervlakte van 8 300 vierkante kilometer. Onderweg ry ons ook by pragtige watervalle en riviere verby.

Nadat ons ongeveer tien uur op die pad deurgebring het, bereik ons ons bestemming. In Reyðarfjörður ontmoet ons die 12 verkondigers van die jongste gemeente in Ysland. Geen Getuies het in hierdie gebied gewoon totdat daar aan die einde van 1988 ’n sendinghuis gestig is nie. Kjell en Iiris, ’n Sweedse sendelingpaar, wat al sedert 1963 in Ysland dien, het die toewysing om onder die 15 000 mense in hierdie plattelandse gebied te werk. Baie woon in vissersdorpies langs die kus wat oor ongeveer 500 kilometer strek.

Kjell sê: “Jehovah het ongetwyfeld die Koninkrykswerk in hierdie deel van Ysland geseën. Op 1 Januarie 1993 is ’n gemeente gestig, en ons hou talle goeie Bybelstudies met persone wat uitstekende vordering maak. Hoewel die vervoermiddele verander het sedert broer Lindal te perd gereis het, is dit nie altyd maklik om gedurende die koue wintermaande op bevrore paaie oor die bergpasse te reis nie, selfs nie met ’n vierwielaangedrewe jeep nie. Die jeep is een keer van ’n bevrore pad afgewaai en het twee of drie keer teen ’n hang afgerol. Hoe bly was ons tog dat ons nie seergekry het nie!”

Ná 30 jaar in Ysland sê Iiris: “Deur die jare heen het baie van ander lande af gekom om te help. Hoewel die meeste om verskillende redes moes weggaan, het hulle beslis ’n groot aandeel aan die plant- en natmaakwerk gehad. Ons is bly dat ons kon bly, aangesien ons nou die voorreg het om te sien hoe die oes ingesamel word. Ook hier bespoedig Jehovah sy werk.”

’n Groot gedeelte van die vermeerdering vind plaas omdat nuwelinge vir hulle werkmaats getuig. Atli het die waarheid by die sendelinge geleer en met ander begin praat by die boumaatskappy waar hy gewerk het. Twee van sy werkmaats neem nou aan die predikingswerk deel, en die een is in November 1992 saam met sy vrou gedoop. ’n Derde werkmaat studeer die Bybel saam met die Getuies.

Die noordelike roete

Van Reyðarfjörður af ry ons weswaarts. Die volgende gemeente is 300 kilometer daarvandaan in die dorp Akureyri. In die vroeë vyftigerjare het spesiale voltydse predikers die toewysing ontvang om daar te werk. Die werk is van die begin af kwaai deur sommige geestelikes teëgestaan. Artikels het in die plaaslike koerant verskyn om mense teen Jehovah se Getuies te waarsku. Baie van die dorpsmense was ook by spiritisme betrokke. Maar danksy die volharding en geduld van verskeie pioniers en sendelinge is daar vandag ’n bedrywige en liefdevolle gemeente van 35 Koninkryksverkondigers.

Friðrik, een van die ouere manne hier, was ’n visser. Nadat hy in 1982 die streekbyeenkoms bygewoon het, was hy oortuig dat wat hy geleer het die waarheid was. Hy het na Akureyri teruggekeer en was vasbeslote om vir sy familie, vriende en werkmaats te getuig. Friðrik het reëlings getref om sy werk as visser op te gee sodat hy meer tyd saam met die gemeente kon deurbring. Hy het vir sy vriendin Helga gesê dat hulle nie meer kan saambly totdat hulle getroud is nie, aangesien hy een van Jehovah se Getuies gaan word. Friðrik wou ook hê dat sy die Bybel bestudeer omdat hy nie met ‘’n ongelowige wou trou’ nie (1 Korinthiërs 7:39). Tot sy verbasing het Helga begin studeer. Hulle het in Februarie 1983 getrou en is kort daarna gedoop. Friðrik se ma en suster het mettertyd ook die waarheid aangeneem.

Ons laaste stilhouplek is Akranes, 350 kilometer van Akureyri af, en ’n mens moet oor drie bergreekse en deur talle pragtige valleie ry om daar te kom. Hier is die paaie uitgelê, wat dit ’n aangename rit maak in vergelyking met die hobbelagtige en smal gruispaaie waarop ons die meeste van die tyd moes ry. In Akranes het ons die kleinste gemeente in Ysland—vyf verkondigers, waarvan twee as ouere manne dien. Dit bestaan uit twee gesinne wat aan die Macedoniese oproep gehoor gegee het, een van die groter gemeentes in Reykjavik verlaat het en hulle in hierdie dorpie gevestig het waar daar hulp nodig is (Handelinge 16:9, 10). Hulle verkondig nou al meer as twee jaar geduldig die goeie nuus in hierdie gebied, vol vertroue dat Jehovah dinge sal laat groei.—1 Korinthiërs 3:6.

Gunstige vooruitsigte vir vermeerdering

Met kweekhuise wat deur geotermiese energie en kunsmatige beligting verhit word, kan Yslandse boere ’n groot verskeidenheid vrugte, groente en ander plante kweek. Die Getuies, wat met geestelike waarheid, die hartlikheid van vriendelike oorreding en die seën van Jehovah se heilige gees toegerus is, ondervind eweneens wonderlike resultate in die Yslandse veld.

Hierdie jaar het 542 mense die herdenking van Christus se dood gevier, en daar word nou byna 200 tuisbybelstudies gehou. Daarbenewens gee die gunstige reaksie op die aanmoediging om in ontoegekende gebiede te dien ons die vertroue dat alle skaapgeaarde mense op hierdie ontsaglike eiland die stem van die Goeie Herder, Jesus Christus, sal hoor (Johannes 10:14-16). Wat ’n vreugdevolle resultaat vir daardie getroue Koninkryksverkondigers wat soveel geduld en volharding aan die dag gelê het in die verkondiging van die goeie nuus in die land van ys en vuur gedurende die afgelope 64 jaar!

[Kaart op bladsy 24]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Akureyri

Akranes

Keflavik

Selfoss

Vestmannaeyjar

Reyðarfjörður

Hekla

Geysir

VATNAJÖKULL

REYKJAVIK

[Erkenning]

Based on map by Jean-Pierre Biard

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel