Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 4/1 bl. 28-31
  • Wees gelukkig en georganiseerd

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wees gelukkig en georganiseerd
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Georganiseerd en gelukkig
  • Moenie wreed wees teenoor jouself nie
  • ’n Lewendige hond of ’n dooie leeu?
  • Doen goed aan jouself
  • Doen goed aan ander
  • Sorg vir elke individu
  • Bly na aan die kudde
  • God se knegte—’n georganiseerde en gelukkige volk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Wat is die geheim van geluk?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Gelukkig is diegene wat “die gelukkige God” dien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Wees liefdevolle herders van God se kudde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 4/1 bl. 28-31

Wees gelukkig en georganiseerd

AS ONS georganiseerd is, kan ons dinge goed doen. Doeltreffende optrede help ons om ons tyd en hulpmiddele op die beste manier moontlik te gebruik (Galasiërs 6:16; Filippense 3:16, NW; 1 Timotheüs 3:2, NW). Maar die lewe behels meer as organisasie en doeltreffende optrede. Die geïnspireerde psalmis het geskryf: “Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!” (Psalm 144:15, NW). Die uitdaging is om gelukkig sowel as georganiseerd te wees in alles wat ons doen.

Georganiseerd en gelukkig

Jehovah God is die voortreflikste voorbeeld van goeie organisasie. Al sy skeppingswerke, van enkele selle tot ingewikkelde lewende wesens, van klein atome tot enorme sterrestelsels, getuig van orde en presisie. Sy universele wette stel ons in staat om ons lewe met vertroue te beplan. Ons weet dat die son elke oggend sal opkom en dat die somer op die winter sal volg.—Genesis 8:22; Jesaja 40:26.

Maar Jehovah is meer as ’n God van orde. Hy is ook “die gelukkige God” (1 Timotheüs 1:11, NW; 1 Korinthiërs 14:33). Sy vreugde word in sy skeppingswerke gesien. Spelerige katjies, pragtige sonsondergange, smaaklike voedsel, besielende musiek, stimulerende werk en ’n menigte ander dinge toon dat hy wou hê ons moet die lewe geniet. Sy wette is nie vermoeiende beperkings nie, maar dit beskerm ons geluk.

Jesus Christus volg die voorbeeld van sy Vader. Hy is “die gelukkige en enigste Maghebber” en tree presies soos sy Vader op (1 Timotheüs 6:15, NW; Johannes 5:19). Toe hy sy Vader met die skeppingswerk gehelp het, was hy meer as net ’n bekwame “meesterwerker”. Hy was gelukkig in wat hy gedoen het. Hy was “die hele tyd vrolik voor [Jehovah], vrolik oor die produktiewe land van sy aarde, en die dinge waarin [hy] ’n geneentheid gehad het, was met die mensekinders”.—Spreuke 8:30, 31, NW.

Ons wil soortgelyke goedhartigheid, vrolikheid en geneentheid vir mense weerspieël in alles wat ons doen. Maar soms in ons ywer om dinge deeglik te doen, vergeet ons dalk dat om ‘ordelik deur God se gees te wandel’, beteken dat ons die vrugte van God se gees moet voortbring (Galasiërs 5:22-25). Ons kan ons dus gerus afvra: Hoe kan ons georganiseerd sowel as gelukkig wees in ons eie bedrywighede en wanneer ons die werk van ander lei?

Moenie wreed wees teenoor jouself nie

Beskou die goeie raad wat in Spreuke 11:17 opgeteken staan. Die geïnspireerde skrywer sê eers vir ons: “’n Man wat ’n weldaad bewys, doen goed aan sy eie siel.” Dan sê hy in teenstelling hiermee: “Maar ’n wreedaard pynig sy eie vlees.” Die New International Version stel dit só: “’n Goedhartige man bevoordeel homself, maar ’n wreedaard benadeel homself.”

Hoe kan ons onbewustelik wreed wees teenoor onsself? Een manier is om goeie bedoelinge te hê, maar heeltemal gedisorganiseerd te wees. Met watter gevolge? Een kenner sê: “Iets wat jou ontgaan, ’n dokument wat verkeerd geliasseer is, ’n opdrag wat nie ten volle begryp is nie, ’n telefoonoproep wat nie reg aangeteken word nie—dit is die klein onderdele van mislukking, die wurms wat in die weefsel van bekwaamheid invreet en die beste bedoelinge in die wiele ry.”—Teach Yourself Personal Efficiency.

Dit kom ooreen met wat die geïnspireerde skrywer gesê het: “Hy wat hom slap hou in sy werk, hy is ’n broer van ’n verwoester” (Spreuke 18:9). Ja, gedisorganiseerde mense wat nie bekwaam optree nie, kan rampspoed en verwoesting oor hulleself en ander bring. Om hierdie rede vermy ander hulle dikwels. As gevolg van hulle traagheid veroorsaak hulle dat ander hulle uitsluit.

’n Lewendige hond of ’n dooie leeu?

Maar ons kan ook wreed teenoor onsself wees deur uitermate hoë standaarde te stel. Ons kan strewe, sê die bogenoemde skrywer oor bekwaamheid, na “’n standaard van volmaaktheid wat onmoontlik is om ten volle te bereik”. Die gevolg, sê hy, is dat ons “uiteindelik hartseer en ontnugtering oor onsself sal bring”. ’n Perfeksionis is dalk goed georganiseerd en tree bekwaam op, maar hy sal nooit werklik gelukkig wees nie. Vroeër of later ondervind hy net hartseer.

As ons geneig is om ’n perfeksionis te wees, kan ons gerus onthou dat ‘’n lewendige hond beter is as ’n dooie leeu’ (Prediker 9:4). Ons sal ons dalk nie letterlik doodmaak deur ’n onrealistiese strewe na volmaaktheid nie, maar ons kan onsself ernstig benadeel deur ons uit te brand. Dit, sê een gesaghebbende, sluit “fisiese, emosionele, geestelike, intellektuele en interpersoonlike uitputting” in (Job Stress and Burnout). As ons onsself uitput deur na onbereikbare doelwitte te strewe, is ons beslis wreed teenoor onsself en beroof dit ons onvermydelik van geluk.

Doen goed aan jouself

Onthou: “’n Man wat ’n weldaad bewys, doen goed aan sy eie siel” (Spreuke 11:17). Ons doen goed aan onsself wanneer ons vir ons realistiese en redelike doelwitte stel en in gedagte hou dat die gelukkige God, Jehovah, ons beperkinge ken (Psalm 103:8-14). Ons kan gelukkig wees as ons ook daardie beperkinge erken en ons dan, binne ons vermoë, “beywer” om ons verpligtinge goed na te kom.—Hebreërs 4:11; 2 Timotheüs 2:15; 2 Petrus 1:10.

Daar is natuurlik altyd die gevaar om na die ander uiterste oor te gaan—om te goed vir onsself te wees. Moenie Jesus se antwoord vergeet nie op die apostel Petrus se voorstel: “Wees goed vir uself, Here”, toe onverskrokke optrede in werklikheid nodig was. Petrus se denkwyse was so gevaarlik dat Jesus gesê het: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense” (Mattheüs 16:22, 23). Om goed te doen aan onsself beteken nie dat ons ’n sorgelose, selfbevredigende gesindheid moet hê nie. Dit kan ons ook van alle geluk beroof. Ons moet redelik wees en nie fanaties nie.—Filippense 4:5, NW.

Doen goed aan ander

Die skrifgeleerdes en Fariseërs van Jesus se dag het moontlik gedink hulle tree baie bekwaam op en is goed georganiseerd. A Dictionary of the Bible sê aangaande hulle manier van aanbidding: “Elke Bybelse gebod was omring deur ’n netwerk van beuselagtige regulasies. Daar was geen vergunning vir veranderende omstandighede nie; volkome gehoorsaamheid aan die Wet tot in die kleinste besonderhede is meedoënloos van elke Jood verwag . . . Wetlike besonderhede is vermenigvuldig totdat godsdiens ’n ambag geword het en die lewe ’n ondraaglike las. Mense is verlaag tot morele robotte. Die stem van die gewete is onderdruk; die lewende krag van die Goddelike woord is geneutraliseer en gesmoor onder ’n magdom ewige reëls.”

Geen wonder Jesus Christus het hulle hiervoor veroordeel nie. “Hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra”, het hy gesê, “en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie” (Mattheüs 23:4). Liefdevolle ouere manne weerhou hulle daarvan om die kudde met ’n magdom beuselagtige reëls en regulasies te belas. Hulle doen goed aan die kudde van God deur die goedhartige, verfrissende voorbeeld van Christus Jesus na te volg.—Mattheüs 11:28-30; Filippense 2:1-5.

Selfs wanneer organisatoriese verantwoordelikhede toeneem, sal liefdevolle ouere manne nooit die feit vergeet dat hulle met mense te doen het nie—mense vir wie God lief is (1 Petrus 5:2, 3, 7; 1 Johannes 4:8-10). Hulle sal nooit so besig wees met organisatoriese sake of prosedures dat hulle hulle vernaamste rol as herders, bewaarders en beskermers van die kudde vergeet nie.—Spreuke 3:3; 19:22; 21:21; Jesaja 32:1, 2; Jeremia 23:3, 4.

’n Intense besorgdheid oor roosters en syfers kan byvoorbeeld besorgdheid oor mense verdring. Neem byvoorbeeld ’n busbestuurder wat dink dat dit sy belangrikste plig is om bekwaam op te tree deur by sy rooster te bly ongeag wat gebeur. Hy word gedryf deur ’n begeerte om in presies die aangewese tyd van die een punt van sy roete na die volgende te kom. Ongelukkig is passasiers, vanuit sy oogpunt gesien, ’n beslommernis. Hulle is stadig en gedisorganiseerd en kom altyd by die bushalte aan net wanneer hy wegtrek. Pleks dat hy onthou dat dit juis sy werk is om in die behoeftes van sy passasiers te voorsien, beskou hy hulle as ’n beslommernis wat sy stiptelikheid in die wiele ry en ignoreer hy hulle.

Sorg vir elke individu

’n Hartelose najaging van bekwaamheid veroorsaak dikwels dat individue se behoeftes geïgnoreer word. Swakkeres wat nie so bekwaam optree nie, kan as laste beskou word. Wanneer dit gebeur, kan dit vreeslike gevolge hê. Swak en sieklike kinders is byvoorbeeld in die antieke Griekse stadstaat Sparta onbeskut gelaat om te sterf. Hulle sou nie sterk, bekwame soldate word wat ’n sterk, vooruitstrewende staat sou kon verdedig nie. “Wanneer ’n kind gebore is”, sê die filosoof Bertrand Russell, “het die vader hom na die oudstes van sy familie gebring om ondersoek te word: as hy gesond was, is hy vir die vader teruggegee om groot te maak; indien nie, is hy in ’n diep waterput gegooi.”—History of Western Philosophy.

Onbuigsaamheid en strengheid, nie geluk nie, het so ’n wrede staat gekenmerk. (Vergelyk Prediker 8:9.) Die Spartaanse owerhede het ongetwyfeld gemeen hulle het ’n sterk saak op grond van bekwaamheid, maar hulle optrede het geen medelye of goedhartigheid geopenbaar nie. Hulle manier was nie God se manier nie (Psalm 41:1; Spreuke 14:21). Daarteenoor onthou opsieners in die Christengemeente dat al God se skape kosbaar is in sy oë, en hulle doen goed aan elkeen van hulle. Hulle is nie net besorg oor die 99 wat gesond is nie, maar ook oor die een wat swak is of emosionele probleme het.—Mattheüs 18:12-14; Handelinge 20:28; 1 Thessalonicense 5:14, 15; 1 Petrus 5:7.

Bly na aan die kudde

Ouere manne bly na aan die kudde onder hulle sorg. Maar hedendaagse navorsing oor besigheidsmetodes doen dalk aan die hand dat ’n bestuurder of ’n opsiener die afstand tussen hom en diegene onder sy toesig bewaar sodat maksimum bekwaamheid bereik en behou kan word. Een navorser beskryf die verskillende gevolge wat ’n lugmagoffisier ondervind het toe hy óf na aan óf ver van sy ondergeskiktes was: “Toe hy ’n baie hegte verhouding met [sy] offisiere gehad het, het hulle blykbaar veilig gevoel en was hulle nie te veel oor die bevoegdheid van hulle eenhede bekommerd nie. Sodra hy sy afstand bewaar het en bewus was van sy hoër posisie, het sy onderbevelhebbers begin wonder of enigiets verkeerd geloop het . . . en hulle kommer het daartoe gelei dat hulle meer aandag aan hulle werk geskenk het. Daar was gevolglik ’n merkbare toename in die bevoegdheid van die basis.”—Understanding Organizations.

Die Christengemeente is egter nie ’n militêre organisasie nie. Christen- ouere manne wat oor ander se werk toesig hou, volg Jesus Christus se voorbeeld. Hy was altyd na aan sy dissipels (Mattheüs 12:49, 50; Johannes 13:34, 35). Hy het nooit hulle kommer uitgebuit om hulle meer konsensieus te laat optree nie. Hy het sterk bande van wedersydse vrymoedigheid en vertroue tussen hom en sy volgelinge opgebou. Noue bande van tere geneentheid het sy dissipels gekenmerk (1 Thessalonicense 2:7, 8, NW). Wanneer daar sulke sterk bande bestaan, sal ’n gelukkige kudde, wat ten volle deur liefde vir God beweeg word, sonder dwang goed op leiding reageer en hulle bes doen om gewillige diens aan God te lewer.—Vergelyk Exodus 35:21.

Baie tekste beklemtoon Christelike eienskappe soos geluk en liefde vir die broederskap (Mattheüs 5:3-12; 1 Korinthiërs 13:1-13). In vergelyking hiermee beklemtoon net ’n paar die nodigheid van deeglikheid. Daar is ongetwyfeld ’n behoefte aan goeie organisasie. God se volk was nog altyd georganiseerd. Maar dink byvoorbeeld aan hoe dikwels die psalmskrywers God se knegte as gelukkig beskryf. Psalm 119, wat baie sê oor Jehovah se wette, herinneringe en regulasies begin soos volg: “Gelukkig is die wat onberispelik is in hulle weg, diegene wat in die wet van Jehovah wandel. Gelukkig is die wat ag gee op sy vermanings, met hulle hele hart bly hulle hom soek” (Psalm 119:1, 2, NW). Kan jy die uitdaging om georganiseerd sowel as gelukkig te wees die hoof bied?

[Prent op bladsy 28]

Armillêre bol—’n vroeë instrument wat gebruik is om die groot sirkels van die hemele voor te stel

[Prent op bladsy 31]

Jehovah is, as ’n liefdevolle Herder, nie net ’n God van orde nie, maar ook van geluk

[Erkenning]

Garo Nalbandian

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel