Wat is die geheim van geluk?
OM GELUKKIG te wees, moet jy ryk, mooi en gewild wees. Dit is wat advertensies, rolprente en romans te kenne gee.
Maar verskaf geld en baie besittings op die lange duur ware en blywende geluk? Is jonkheid en fisiese skoonheid noodsaaklik vir geluk? Speelse kinders lyk dikwels gelukkig. Maar wat is nou eintlik die geheim van geluk?
Kan God ons geluk bevorder?
Jy is moontlik meegedeel dat geluk in werklikheid afhang van ’n goeie verhouding met God. Maar baie mense vind dit moeilik om in ’n Opperwese te glo. Hulle sien hom nie, hulle ken hom nie en hulle dink dat hulle bloot sy bestaan moet aanvaar. Hulle kan dus nie begryp hoe God hulle geluk kan bevorder nie.
Ons kan Hom weliswaar nie met ons oë sien nie, want “God is Gees” (Johannes 4:24). Maar aanvaar ons nie die bestaan van baie dinge al is hulle onsigbaar nie? Ons geniet vriendskap, maar ons kan nie sien wat ons en ons vriende werklik voel nie. Ons dink, maar het enigiemand al ooit gedagtes gesien? Ons lewe, maar kan ons die lewenskrag sien?
Alles op aarde wat nog nie deur die mens bederf is nie, getuig van orde, prag en doeltreffendheid. Daar moet dus iemand wees wat goed oor hierdie dinge nagedink en hulle ontwerp het, iemand met groot aanvoeling vir vorm en skoonheid—ja, iemand wat weet wat ons gelukkig sal maak. ’n Skrywer van die ou tyd het die treffende opmerking gemaak dat God se onsigbare eienskappe waargeneem kan word uit die dinge wat Hy gemaak het. Sê ’n pragtige skildery of beeldhouwerk nie vir jou baie oor die kunstenaar nie? Wel, dieselfde is waar van God. Dit is moontlik om hom in die skepping en in alles wat hy vir ons doen, te “sien”.—Romeine 1:20.
Wat doen God vir ons?
God kan ons help om gelukkig te wees, selfs al sien ons net ’n deeltjie van sy mag, wysheid en liefde in sy skeppingswerke. In teenstelling met talle wêreldlike heersers bly hy nie kil op ’n afstand van diegene oor wie hy heers nie. Uit liefde voorsien Jehovah God sy skepsele milddadig van instruksies wat hulle kan help om gelukkige lewens te lei. Trouens, die Bybel is vol van God se “getuienisse” wat geluk in die hand werk.—Psalm 25:8-10.
Toe Jesus Christus sekere wette aangehaal het wat vir ons toon hoe God sekere dade beskou, het hy gesê: “Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en jou moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheüs 19:18, 19). Hoe sou die wêreld daar uitsien indien sulke instruksies toegepas is? Die mensdom sou beslis baie, baie gelukkiger gewees het as niemand ’n moordenaar, ’n egbreker, ’n dief, ensovoorts was nie.
Die Skrif sê: “Welgeluksalig is die volk wie se God [Jehovah] is!” (Psalm 144:15, vgl. NW). Hoe waar tog! Baie het God se raad toegepas, en dit het hulle die kalmte en vertroue gegee wat onmisbaar is vir ware geluk (Filippense 4:6, 7). Kom ons kyk wat ’n paar van hulle sê.
Wat kan ’n plakker wat aan dwelmmiddels verslaaf is gelukkig maak? Hy het ’n onsedelike lewe, strawwe drinkery, belangstelling in “pop”-feeste en bakleiery verkies. Hy kon natuurlik sien dat die samelewing wat hy gehaat het nie verander is deur die dinge wat hy gedoen het nie. Hy het gemeen dat al wat hom te doen gestaan het, was om die lewe te geniet en te doen wat hy wou. Maar die ouers van die meisie met wie hy getrou het, het vir hom die weg getoon na ’n nuwe samelewing wat nou ontwikkel. Hy sê: “Nadat ek getroud is, is ek as ’t ware gedwing om te sien dat die lewe wat ek tot op daardie stadium gelei het, slegs rampspoedig kon wees. Ek besit nou die diepgesetelde besef dat die toepassing van die Bybel se raad groot veranderinge ten goede in ’n persoon se lewe teweeg kan bring. Saam met my vrou en twee kinders dien ek God as ’n gedoop te getuie van Jehovah.” Hierdie man het ware geluk as ’n Christen gevind.
Beskou asseblief nog ’n geval. Maar vra jouself eers af: Hoe gelukkig sou ek wees indien ek pas ’n kankeroperasie gehad het, nog steeds bestraling ontvang en waarskynlik nog ’n operasie moes ondergaan? ’n Vrou met hierdie traumatiese ondervinding, was eens as ’n prostituut in haar buurt bekend. Dit het lank geduur voordat sy al die Skriftuurlike raad wat sy ontvang het, begin toepas het. Maar vertroue op God het haar in staat gestel om groot veranderinge in haar lewe aan te bring. In haar dorpie in Nederland, waar almal haar voormalige reputasie ken, gaan sy nou van huis tot huis om die “evangelie” te verkondig en ander te help om ware geluk te vind. Hoewel hierdie vrou ernstige gesondheidsprobleme het, sê sy: “Ek stel al my vertroue in Jehovah God, en hy sal my help.” Sy smaak ook ware geluk.
Die ondervinding van ’n bejaarde vrou in Amsterdam bewys dat ’n persoon nie ware geluk hoef te verloor nie, ondanks baie terugslae in hierdie ongelukkige wêreld. Hierdie vrou was 57 jaar gelukkig getroud, maar ’n paar maande nadat sy ’n weduwee geword het, kon sy sê: “Ek is baie gelukkig, voel veilig in my huis en is nie bang nie.” Wat is die geheim van haar geluk? Sy sê: “As jy God se wette gehoorsaam, is jy gelukkig.”
Jy kan gelukkig wees
Dit blyk dus dat gemoedsrus en vreugde nie net afhang van omstandighede soos gesondheid, rykdom, eer, ensovoorts nie. Duursame geluk hang af van ’n goeie gewete, selfrespek, ware vriende—en, bowenal, vriendskap met God. Probeer gerus om hom te “sien” deur met meer begrip na sy skepping te kyk en veral deur die Bybel te bestudeer. Wie weet hoe gelukkig jy dalk sal wees omdat jy die dinge wat jy in God se geïnspireerde Woord lees ter harte neem?
Maar is mense wat getuies van Jehovah word altyd volkome gelukkig? Nee. Soos die volgende artikel toon, het alle onvolmaakte mense probleme en het hulle hulp nodig om dit die hoof te bied. Maar God se Woord, die Bybel, help opregte Christene om op die weg na eindelose geluk te bly wandel.