Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 4/1 bl. 24-27
  • “Koninkryksverkondigers” bevaar die baie waters van Guyana

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Koninkryksverkondigers” bevaar die baie waters van Guyana
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Op die Demerararivier
  • Van Gilead na die Pomeroonrivier
  • Op soek na die “Wagtoringman”
  • Sendingreise na die binneland
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 4/1 bl. 24-27

“Koninkryksverkondigers” bevaar die baie waters van Guyana

GUYANA.a Hierdie Amerindiaanse woord beteken “land van waters”. Hoe treffend beskryf dit nie die landskap van hierdie land nie, die enigste in Suid-Amerika waar Engels gepraat word. Die land word deur baie riviere en hulle sytakke deurkruis, wat van die Guiana-hooglande af deur die tropiese woud na die Atlantiese Oseaan kronkel. Hierdie waterweë dien as die naelstring vir die talle dorpies en plase wat langs hulle oewers versprei lê.

Jehovah se Getuies in Guyana besef dat toe Jesus voorspel het dat ‘hierdie evangelie van die koninkryk verkondig sou word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies’ dit die verkondiging van die goeie nuus aan die mense wat in hierdie gebiede langs die rivier woon, sou insluit (Mattheüs 24:14). Daarom het groepe Getuies, waarvan baie pioniers is, jare lank van bote, groot en klein, gebruik gemaak om die waters van Guyana te bevaar en die goeie nuus aan die mense te bring.

Om met die werk te help, het die Wagtoringgenootskap in Guyana, tot op hede, vyf houtvaartuie met die name Kingdom Proclaimer I tot Kingdom Proclaimer V gebruik. Hulle is sewe meter lange, oop houtbote met ’n V-bodem wat balahoos genoem word en deur ’n Getuiegesin gebou en in stand gehou word. Die eerste twee, waarna die plaaslike Getuies goedig as Proclaimers verwys het, is na dekades van diens laat aftree. Maar nommers III, IV en V is nog bedrywig op die Pomeroon-, Mahaica- en Demerarariviere.

Op die Demerararivier

In Brittanje en dele van Europa herinner die woord “demerara” party dalk aan goudbruin rietsuikerkristalle wat kenmerkend is van die plantasies langs hierdie modderige rivier vol slik. Op die westelike oewer hou die pad vanaf die kus op waar die suikerrietverbouing ophou. Verder op gebruik die Getuies die Kingdom Proclaimer-vaartuie om die soet boodskap aangaande Jehovah se Koninkryk aan die oewerbewoners te bring—Hindoes, Moslems en naamchristene.

Verkondigingskampanjes op die Demerararivier kan ’n dag of verskeie weke duur terwyl daar van die oggend tot die aand van die een landingsplek na die volgende geroei word. Wanneer hulle moet oornag, kook en eet die pioniers nie net op die boot nie, maar slaap hulle ook daar. Wanneer dit donker word, word die Proclaimer aan ’n wortelboom vasgemaak of langs ’n dok vasgemeer as daar een is. Twee pale wat elk twee en ’n half meter lank is, word by die boeg en by die agterstewe opgerig. ’n Tou word styf oor hierdie twee vertikale pale gespan en ’n groot seil word daaroor gehang om ’n dak, of bedekking, te vorm. Houtplanke neem die plek van beddens in en ’n kombers en laken dien as ’n matras. Ondanks alles raak jy na ’n lang dag maklik aan die slaap.

“Bad julle in die modderige water?” word die pioniers gevra.

“Nie as ons dit kan verhelp nie!” is die antwoord. “Wanneer ons ook al by ’n varswaterspruit verbygaan, maak ons ons houers vol sodat ons kook-, drink- en badwater het.”

Hulle volharding word met talle goeie ondervindinge beloon. By een geleentheid het ’n man na die landingsplek gekom en met sy voete uitgesprei en hande in die sye ons met lewendige belangstelling dopgehou. “Kingdom Proclaimer V!” Hy het die naam op die boot se boeg hardop gelees. “Julle moet Jehovah se Getuies wees. Dit is net julle mense wat die woord ‘koninkryk’ só gebruik. Julle het julle Koninkryksaal en nou julle Kingdom Proclaimer.”

Van Gilead na die Pomeroonrivier

Die predikingswerk langs die Pomeroonrivier is van ’n ietwat ander aard, soos Frederick McAlman vertel. ’n Jaar nadat hy in 1970 aan die Wagtoring-Bybelskool Gilead gegradueer het, het hy na Charity toe gekom, ’n plattelandse rivierdorpie wat 34 kilometer binnelands op die oostelike oewer van die Pomeroonrivier geleë is, waar daar ’n groep van vyf Koninkryksverkondigers was.

“Ons het vyf lang jare die ‘vreugde’ geniet om Proclaimer II op en af met die Pomeroonrivier te roei voordat ons ’n gebruikte buiteboordenjin van ses perdekrag gekry het”, vertel broer McAlman. “Terwyl ons saam met die stroom geroei het, het ons langs die oostelike oewer tot by Hackney, [11 kilometer] van die monding af, gepreek. Daar het ons ’n goeie nagrus gekry aan die huis van suster DeCambra, wat op daardie stadium die vroedvrou in die omgewing was. Vroeg die volgende oggend het ons voortgegaan tot by die riviermonding voordat ons na die westelike oewer oorgesteek het. Dan het ons die [34 kilometer] terug na Charity gewerk.”

Die enjin van ses perdekrag het tien jaar lank vir hulle goeie diens gelewer. Toe, in 1986, is dit deur ’n nuwe model van 15 perdekrag vervang. Nadat broer McAlman meer as 21 jaar lank getrou op die Pomeroonrivier gedien het, kan hy met voldoening na die nuutgeboude Koninkryksaal in Charity kyk, wat nou gebruik word deur die gemeente van 43 verkondigers, wat van bo langs die rivier en van onder langs die rivier af kom. Die gemiddelde vergaderingbywoning is meer as 60, en by die herdenking van Jesus Christus se dood wat in 1992 gehou is, het hulle ’n gehoor van 190 gehad!

Op soek na die “Wagtoringman”

Maandag is markdag in Charity. Daarom is dit ’n goeie tyd en plek om die goeie nuus te verkondig, en die Getuies is daar met die Wagtoring en Ontwaak! Op ’n dag in die vroeë 1970’s het Monica Fitzallen van Warimuri op die Morukarivier mark toe gekom en twee tydskrifte van broer McAlman geneem. Maar toe sy by die huis kom, het sy die tydskrifte onder in haar klerekas gedruk.

“Hulle het twee jaar lank daar gebly sonder dat ek hulle gelees het”, onthou Monica. “Toe het ek siek geword en moes vir ’n hele ruk in die bed bly. Terwyl ek aangesterk het, het ek elke stukkie leesstof in die huis gelees om my besig te hou. Uiteindelik het ek van die twee tydskrifte in die klerekas onthou en hulle begin lees.” Dit het onmiddellik vir haar na die waarheid geklink.

Toe Monica gesond was, het sy haar man, Eugene, gevra om langs die Pomeroonrivier werk te kry sodat sy die man wat vir haar die tydskrifte gegee het, kon opspoor. Eugene het ingestem, maar hy kon net ’n week lank, van die Maandag tot die Saterdagmiddag, werk kry op ’n plaas langs die Pomeroonrivier-gebied.

Teen die Saterdag het Monica nog steeds nie die man gekry wat die tydskrifte vir haar gegee het nie. Teen die middag het sy haar man gevra of die stroom hulle sou toelaat om na Charity te roei om die “Wagtoringman” te gaan soek. Net toe sy klaargepraat het, het hulle voetstappe op die paadjie gehoor en die glimlaggende gesig van ’n suster gesien wat die nuutste nommers van die tydskrifte kom aanbied het. “Is jy een van die Wagtoringmense?” het Monica gevra. Soveel vrae het gevolg dat die suster na die boot toe moes teruggaan om hulp te gaan haal. Wie was dit toe gewees? Wie anders as broer McAlman!

’n Bybelstudie is deur korrespondensie gereël. ’n Kort ruk daarna het Monica haar bedankingsbrief aan die Anglikaanse Kerk gestuur. In antwoord daarop het sy ’n briefie van die priester ontvang: “Moenie na die [Jehovah se Getuies] luister nie. Hulle het ’n oppervlakkige begrip van die Bybel. Ek sal die saak met jou kom bespreek.” Tot op hede het die priester nog nie opgedaag nie. Intussen is Monica in 1975 gedoop. ’n Jaar later is haar man, wat nou goedig oom Eugene deur die broers genoem word, ook gedoop nadat hy die Skrif noukeurig ondersoek het (Handelinge 17:10, 11). Hoewel hulle 12 uur met ’n kano van die naaste gemeente in Charity af woon, is hulle tot vandag toe nog bedrywige Koninkryksverkondigers.

Sendingreise na die binneland

In onlangse jare het die Wagtoringgenootskap gereelde sendingekspedisies diep in die binneland in gefinansier. Deur middel van bote wat met buiteboordenjins toegerus is, het gewillige vrywilligers die opwinding gesmaak om die goeie nuus aan mense te verkondig wat in Amerindiaanse reservate en in afgeleë houtkapper- en boeregemeenskappe langs van die binnelandwaterweë woon. As pioniers in die ware sin van die woord het hulle die voorreg om die lewensreddende “naam van Jehovah” vir die eerste keer na hierdie afgesonderde gebiede te bring (Romeine 10:13-15, NW). Die broers moet baie ongerief verduur, soms moet hulle drie volle dae op die waterweë vaar om van hierdie plekke te bereik. Maar die belonings is beslis die moeite werd.

Op die eerste sendingreis na daardie gebied in Julie 1991 is daar met ’n jong man in aanraking gekom wat ’n lid van die Pinkster Kerk was en naby die houtkappergemeenskap in Kwebanna op die Wainirivier gewoon het. Met die opvolgbesoek in Oktober is ’n Bybelstudie begin. Vir die eerste keer het hy in sy eie Bybel gesien dat God se naam Jehovah is, dat Jesus nie die Almagtige is nie en dat die Drie-eenheidsleer nie skriftuurlik is nie (Psalm 83:18, NW; 1 Korinthiërs 11:3). Hy was so opgewonde dat hy, nadat die broers vertrek het, ’n paar Pinksterlede byeengeroep en begin het om hulle uit hulle eie Bybels die waarheid aangaande Jehovah God en Jesus Christus te wys. Toe die meeste nie die waarheid wou aanvaar nie, het hy besluit dat dit tyd was om uit die kerk te bedank en uit “Babilon die Grote” uit te kom (Openbaring 18:2, 4). Toe die broers in Februarie 1992 teruggekeer het om hom te besoek, het hy hulle vertel wat gebeur het en bygevoeg: “Ek wil by julle aansluit. Ek wil een van Jehovah se Getuies word. Ek wil mense die waarheid leer!”

Sulke ondervindinge help die broers om met hierdie uitdagende werk voort te gaan. Diegene wat op die sendingreise gaan, moet die gerief wat ’n huis bied, opoffer, aan siektes soos malaria blootgestel word en die gevare van die boslewe trotseer. Maar diegene wat agterbly, doen ook opofferinge. Gesinne mis hulle geliefdes, partykeer weke lank op ’n slag. Gemeentes moet sonder hulle ouere manne en ander jongmanne klaarkom omdat net een broer in sommige gevalle agtergelaat word om na die behoeftes van die gemeente om te sien. Maar watter vreugde en aanmoediging is daar tog nie wanneer die gemeente hulle aanmoedigende ondervindinge met hulle terugkeer hoor nie! Die opofferinge lyk onbeduidend wanneer dit met dié vreugde vergelyk word.

Die Koninkryksverkondigers wat die baie waters van Guyana met die goeie nuus bevaar, geniet werklik ’n unieke ondervinding. Moedig en gewillig, saam met hulle medewerkers rondom die wêreld, ‘bring hulle aan God ’n lofoffer, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely’.—Hebreërs 13:15.

[Voetnoot]

a Voorheen Brits-Guiana, die naam is na Guyana verander nadat die land in 1966 onafhanklikheid van Brittanje verkry het.

[Kaarte op bladsy 24]

HONDURAS

NICARAGUA

COSTA RICA

PANAMA

VENEZUELA

COLOMBIA

GUYANA

SURINAME

FRANS-GUIANA

BRASILIË

BOLIVIË

ATLANTIESE OSEAAN

[Prente op bladsy 26, 27]

Links: Getuieniswerk op markdag

Bo: ’n Bespreking van die goeie nuus op die Demerararivier

Bo regs: ’n Sendelinggroep wat na die kamp toe terugroei

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel