’n Wêreldwye vreugde
“KYK, my knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is” (Jesaja 65:14). Jehovah het hierdie woorde deur sy profeet Jesaja gespreek, en wat ’n wonderlike vervulling het sy woorde tog onder Jehovah se Getuies! Wat is die rede vir hulle hartsvreugde? Dit is die feit dat hulle Jehovah God eensgesind aanbid. Hy is “die gelukkige God”, en diegene wat hom aanbid, is ‘bly in Jehovah’ (1 Timotheüs 1:11, NW; Sagaria 10:7, NW). Hierdie vreugdevolle toegewydheid verenig hulle tot een nasie terwyl hulle saam die goeie nuus van die Koninkryk verkondig en hulle God wêreldwyd loof.—Openbaring 7:9, 10.
‘’n Vreugde wat niemand hulle kan ontneem nie’
Die verkondiging van God se naam en Koninkryk is inderdaad ’n bron van voortdurende vreugde vir Jehovah se Getuies (Markus 13:10). Hulle slaan ag op die woorde van die psalmis: “Beroem julle in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die HERE soek, bly wees.”—Psalm 105:3.
Hulle kom dikwels struikelblokke te bowe om dit te kan doen. In Spanje het Isidro hom aan Jehovah toegewy, en hy wou met ander oor Hom praat. Maar hy is ’n vragwabestuurder met min vrye tyd, wat lang reise deur die nag onderneem en gedurende die dag slaap. Isidro wou vir ander vragwabestuurders getuig, maar hoe kon hy dit doen?
Hy het ’n burgerbandradio in sy vragmotor geïnstalleer wat hy kon gebruik om met die ander bestuurders te praat. Hy het gou ’n kanaal wat min gebruik word, kanaal 13, ontdek en het besluit om dit te benut. Toe hy aanvanklik aan ander vragwabestuurders voorgestel het dat hulle die Bybel oor die burgerbandradio bespreek, was die reaksie natuurlik taamlik negatief. Maar sommige het geluister. Ander het hiervan te hore gekom, en al hoe meer van daardie Spaanse vragwabestuurders het op kanaal 13 ingeskakel. Isidro het onlangs gehoor dat ten minste een stappe doen om sy studie van die Bybel voort te sit.
In Italië het ’n man van Jehovah se Getuies gehoor deur ’n gesprek wat hy op ’n bus gehad het. Sy vrou het hulle deur ’n vriendin ontmoet. Albei het die Bybel bestudeer en was gretig om die dinge wat hulle geleer het aan ander te vertel. Hulle was so gretig dat die man bevordering in sy maatskappy van die hand gewys het, en die vrou het ’n goed besoldigde werk laat vaar sodat hulle meer tyd daaraan kon afstaan om ander te vertel van die goeie nuus van die Koninkryk. Was dit die moeite werd? Ja. Die man sê: “Sedert ons kennis van die waarheid opgedoen het, het ek en my vrou die vreugde gesmaak om 20 mense te help om juiste kennis van God se voorneme op te doen. Wanneer ek teen die aand se kant huis toe gaan na ’n dag in Jehovah se diens, voel ek wel moeg. Maar ek is gelukkig, en ek dank Jehovah dat hy my ’n vreugde gegee het wat niemand my kan ontneem nie.”
“Tot in die uithoeke van die wêreld”
Diegene wat God se vreugdevolle nasie uitmaak, toon soortgelyke ywer waar hulle ook al is, selfs in “die uithoeke van die wêreld” (Handelinge 1:8, NAV). Min plekke is so verafgeleë soos noordelike Groenland. Nogtans kry ’n mens selfs daar, 320 kilometer noord van die Noordpoolsirkel, die klein gemeentetjie Ilulissat, wat uit 19 mense bestaan. Hulle verkondig dieselfde goeie nuus as daardie Italiaanse egpaar, en hulle was verlede jaar verheug toe sewe Groenlanders hulle laat doop het as ’n simbool van hulle toewyding aan Jehovah.
Etlike duisende kilometers van Groenland, op die subtropiese eiland Mauritius in die Indiese Oseaan, smaak Anjinee dieselfde vreugde. Anjinee het eers baie probleme ondervind. In Mauritius word die bywoning van Christelike vergaderinge en die openbare verkondiging van God nie as geskikte aktiwiteite beskou vir ’n ongetroude meisie van Hindoe-Indiese afkoms nie. Maar Anjinee het volhard. Nou, nege jaar nadat sy die Christelike weg begin volg het, bestudeer party van haar familielede ook die Bybel.
Ons moet ook melding maak van Emilio, aan die ander kant van die wêreld, in Honduras. Emilio het gehoor hoe werkmaats die Bybel by die werk bespreek en het gevra of hy hom by hulle kon aansluit. Hy kon nie lees nie, maar het dit geniet om te luister wanneer Bybeltekste gelees is. Namate Christelike waarhede sy hart geraak het, het Emilio sy onsedelike leefwyse laat vaar en opgehou om uitermatig te drink. Jehovah se Getuies het hom geleer lees en skryf, en nou is hy ’n bedienaar in God se vreugdevolle nasie.
Duisende kilometers noordwes van Honduras het ’n Eskimo-moeder in Alaska dieselfde Christelike waarheid geleer. Hierdie dame het in ’n baie afgesonderde dorpie gewoon en haar enigste aanraking met Jehovah se Getuies was deur die pos. Sy het dus deur die pos gestudeer, haar vrae deur briewe gevra en vertel haar bure nou ywerig van die dinge wat sy weet. Daar is geen perke aan sulke ondervindinge nie. Dwarsdeur die wêreld stroom sagmoediges in om ‘Jehovah met blydskap te dien’.—Psalm 100:2, vgl. NW.
‘Julle moet liefde onder mekaar hê’
Iets wat al hierdie mense aantrek, is die liefde onder God se vreugdevolle nasie. Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Christelike liefde word gesien in die daaglikse lewe van hierdie opregte Christene, en veral tydens rampe.
In een Afrika-land waar die werk van Jehovah se Getuies ongelukkig verbied is, was daar ’n ernstige droogte. Tienduisend mense het gesterf en hele beestroppe het gevrek. Hoe het die Getuies aan die lewe gebly? Deur die wortels van plante en gekookte avokadopitte te eet! Maar hulle situasie is dramaties verlig toe Getuies in ander lande, met God se hulp, onverwags toestemming gekry het om 25 ton noodlenigingsvoorrade daarheen te stuur. Trouens, hierdie voorrade is, ondanks die verbod, onder militêre geleide gestuur om te verseker dat dit veilig afgelewer word!
Daardie Getuies in Afrika was waarlik oorstelp van vreugde om hierdie blyk van liefde van hulle broers te ontvang, en hulle het die vervulling van Jesaja se woorde gesien: “Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie.”—Jesaja 59:1.
’n Vreedsame volk
Sagmoediges van hart word ook aangetrek tot God se vreugdevolle nasie omdat sy lede die oorlogsugtige weë van hierdie wêreld verlaat het en ‘van hulle swaarde pikke gesmee het’ (Jesaja 2:4). In El Salvador was die huis van een voormalige soldaat vol aandenkings van sy militêre loopbaan. Maar toe hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het hy vreedsame belange ontwikkel. Hy het uiteindelik alles wat iets met oorlog te doen gehad het uit sy huis verwyder en ywerig begin om die predikingswerk te doen.
Toe anti-regeringsmagte sy dorpie ingeneem het, is hy gevange geneem—iemand het blykbaar daarop gewys dat hy ’n voormalige soldaat was. Hy het egter verduidelik dat hy nie meer ’n soldaat is nie, maar een van Jehovah se Getuies. Die revolusionêre het hom daarvan beskuldig dat hy wapens in sy huis het, maar ’n ondersoek het niks opgelewer nie. Die persoon in bevel van die revolusionêre het die bure toe oor hom uitgevra. ’n Tipiese kommentaar was: “Hy loop net op en af met die straat en preek dag na dag uit die Bybel.” Die man is vrygelaat. Sy ywer het ongetwyfeld gehelp om sy lewe te red.
’n Verslag uit ’n Afrika-land vertel van twee soldate wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het. Een het in die staatsleër gedien en die ander het vir die rebelle geveg. Albei het mettertyd besluit om ‘van hul swaarde pikke te smee’ en het uit die leër bedank. Toe hulle vir die eerste keer Christelike vergaderinge bygewoon het, het die anti-regeringsoldaat die ander een gevra: “Wat doen jy hier?” Hy het geantwoord: “En jy, wat doen jy hier?” “Toe”, sluit die verslag af, “het hulle mekaar omhels en trane van vreugde gestort omdat hulle in vrede saam kon verkeer.” Albei hierdie voormalige soldate het ongetwyfeld tot God gebid: “Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel.”—Psalm 51:16.
‘U het my ellende aangesien’
“Ek wil juig en bly wees in u goedertierenheid, omdat U my ellende aangesien, my siel in die benoudhede geken het” (Psalm 31:8). Die psalmis het so gebid, en talle is vandag bly omdat God se Woord hulle gehelp het om hulle ellende te verwerk. In Frankryk hou een van Jehovah se Getuies ’n studie met ’n vrou wat aan skisofrenie ly. Hierdie vrou was geruime tyd al onder sielkundige behandeling, maar dit het nie gehelp nie. Die week nadat sy met haar studie begin het, het die sielkundige gevra: “Verstaan jy werklik wat hierdie vrou vir jou uit die Bybel verduidelik?” Die daaropvolgende week het die Getuie dus na sy spreekkamer gegaan en in sy teenwoordigheid ’n Bybelstudie met die dame gehou.
Na die studie het die sielkundige vir die Getuie gesê: “Ek het oor die jare belangstelling getoon in my pasiënte se godsdiens, maar ek het opgemerk dat geen godsdiens ware ondersteuning gebied het nie. In jou geval is dit egter anders. Mev. P— kom twee keer per week in vir konsultasie, en sy betaal my daarvoor. Maar met jou Bybelonderrig en goeie raad doen jy gratis beter werk. Sy maak goeie vordering. Hou so aan, en ek verseker jou dat jy my volle samewerking het as jy dit ooit nodig het.”
Die Bybel sê: “Gelukkig is die volk wat die gejuig ken. O Jehovah, in die lig van u aangesig bly hulle wandel. In u naam is hulle die hele dag bly” (Psalm 89:15, 16, NW). Elkeen van Jehovah se Getuies weet dat hierdie psalm waar is. Uit hulle monde klink daar wêreldwyd ’n vreugdegeroep op tot lof van Jehovah. Al hoe meer mense stroom uit die nasies om God saam met hulle te loof. Jy kan jou gerus by hulle aansluit en self daardie vreugde ondervind.
[Prent op bladsy 7]
Jehovah se Getuies in Oos-Europa verheug hulle nou in hulle nuwe vryheid wat dit moontlik maak dat hulle “Die Wagtoring” in hulle eie tale ontvang en studeer