Die vreugdevolle nasie
DIE vreugdevolle nasie! Pas hierdie beskrywing enige nasie onder die mensdom vandag? Kan enige nasie vreugdevol verklaar dat hy geweld, misdaad, armoede, besoedeling, aftakelende siektes, politieke korrupsie, godsdienshaat uit die weg geruim het? Hou enige nasie ware hoop uit dat hulle sulke doelwitte sal bereik? Allesbehalwe!
Wat is die situasie wêreldwyd? Mikhail Gorbatsjof, president van die USSR, het verlede jaar op 16 Julie gesê: “Ons neem afskeid van een epog in internasionale betrekkinge en betree ’n ander, wat na my mening ’n tydperk van groot, langdurige vrede sal wees.” Maar die tydskrif Time van daardie selfde tyd het berig dat die Verenigde State steeds 120 kernplofkoppe op Moskou gerig hou, waarvan enigeen daardie stad geheel en al sal verwoes. En die Sowjetunie is ongetwyfeld net so slaggereed. Aangesien verskeie lede van die Verenigde Nasies nou weet hoe om kernwapens te vervaardig, verskaf dit geen vreugde om te raai wie eerste snellermal sal raak nie.
’n Waarlik vreugdevolle nasie
Daar was eenkeer in die geskiedenis—ongeveer 3 500 jaar gelede—’n waarlik vreugdevolle nasie. Dit was eertydse Israel. Toe God daardie volk van Egiptiese onderdrukking bevry het, het hulle saam met Moses ’n jubelende oorwinningslied gesing, en hulle was vreugdevol solank hulle hulle God en Verlosser gehoorsaam het.—Exodus 15:1-21; Deuteronomium 28:1, 2, 15, 47.
Onder Salomo se heerskappy was “Juda en Israel . . . talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; hulle het geëet en gedrink en was bly”. Dit was ’n tyd van groot blydskap, wat ’n klimaks bereik het met die oprigting van wat waarskynlik die glansrykste gebou in die hele geskiedenis was, die tempel vir Jehovah se aanbidding in Jerusalem.—1 Konings 4:20; 6:11-14.
Die hedendaagse vreugdevolle nasie
Eertydse Israel het ’n hedendaagse nasie voorafgeskadu. Watter een? Politieke Israel van die Midde-Ooste? Nuusberigte toon dat daardie strydende nasie allesbehalwe vreugdevol is. Het die sogenaamd Verenigde Nasies ware vreugde aan sy lidlande verskaf? Nee, ware vreugde kan nêrens onder vandag se politieke nasies gevind word nie. Hebsug, korrupsie en oneerlikheid vier hoogty, en in talle lande is dit vir die gewone mense ’n bittere stryd om bloot ’n bestaan te kan maak.—Spreuke 28:15; 29:2.
Daar is vandag egter ’n merkwaardige nasie wat uiters vreugdevol is. Dit is nie polities nie, want sy Leier, Christus Jesus, het van sy volk gesê: ‘Julle is nie van die wêreld nie’ (Johannes 15:19). Die Verenigde Nasies is net in naam verenig, maar die vreugdevolle nasie trek vredeliewende aanhangers “uit alle nasies en stamme en volke en tale” (Openbaring 7:4, 9). Die nasie het nou ’n bevolking van meer as viermiljoen, wat groter is as ongeveer 60 van die 159 lidlande van die VN. Die onderskeidelike moedertale van hierdie viermiljoen mense is ongeveer 200; tog praat hulle almal saam een “suiwer taal”.—Sefanja 3:9, NW.
Is dit nie vreemd dat soveel verskillende kultuurgroepe ’n gemeenskaplike taal praat nie? Nie werklik nie, want hierdie verenigende taal sluit die boodskap van God se inkomende Koninkryk van geregtigheid in. Hierdie vreugdevolle nasie kom “van die uiteinde van die aarde” en staan wêreldwyd bekend as ‘Jehovah se Getuies’ (Jesaja 43:5-7, 10, NW; Sagaria 8:23). Jy sal hulle feitlik oral op die aardbodem aantref.
In Jesaja 2:2-4 beskryf God se profeet ’n menigte wat uit al die nasies instroom deur te sê: “Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel.” Hulle nooi ander ywerig uit om deur Jehovah onderrig te word deur middel van sy Woord, die Bybel, sodat hulle kan leer om sy wil te doen. Hierdie een nasie volg die weg van ware vrede, aangesien sy volk reeds ‘van hul swaarde pikke en van hul spiese snoeimesse gesmee het, en nie meer leer om oorlog te voer nie’. Inderdaad ’n vreugdevolle nasie!
Jy kan ook hierdie vreugde smaak. Jy kan leer van die vinnig naderende dag wanneer die Koning, Christus Jesus, verderflike mense en regerings vernietig en die Paradys op aarde herstel (Daniël 2:44; Mattheüs 6:9, 10). Jehovah se Getuies put selfs nou, as ’n waarlik verenigde nasie, groot vreugde uit hulle werk, naamlik om voorbereidsels te tref vir daardie glorieryke tydperk van ware vrede, soos die volgende bladsye sal toon.