Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 1/15 bl. 8-13
  • Dien Jehovah met ’n vrolike hart

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dien Jehovah met ’n vrolike hart
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kan jy dit vind?
  • Vreugdevolle voorregte sonder weerga
  • Ware vryheid en geestelike lig
  • Die vreugde om ander te help
  • Selfs vervolging verskaf vreugde
  • Ander redes tot vreugde
  • Hou aan om ‘Jehovah met blydskap te dien’
  • Dien Jehovah met vreugde van hart
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Die vreugde van Jehovah is ons vesting
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Vreugde — ’n Eienskap wat ons van God kry
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Ons kan “bly wees in al ons dae”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 1/15 bl. 8-13

Dien Jehovah met ’n vrolike hart

“Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel.”—Psalm 100:2.

1, 2. Watter uiteenlopende beskouings van die lewe word hier aangehaal?

“EK HET my lewe verwoes, en dit is te laat om dit te verander . . . Wanneer ek alleen gaan wandel, dink ek terug aan my lewe, en ek is nie ingenome met die wyse waarop ek gelewe het nie.” Dit is die woorde van ’n bejaarde vrou wat as aktrise roem verwerf het en oënskynlik goeie rede gehad het om gelukkig te wees. Maar daardie woorde het allermins uit ’n waarlik vrolike hart gekom.

2 Beskou daarenteen die geval van ’n sekere man wat al meer as sewe-en-dertig jaar lank verlam is. So ’n persoon het skynbaar weinig rede om bly te wees. Hy praat nogtans van geluk en sê dat hy iets gevind het wat “die lewe waarlik lonend en sinvol” maak.

3. (a) Watter persoonlike ondervindinge kan ons laat wonder of enige mens ware vreugde kan smaak? (b) Hoe kan vreugde gedefinieer word?

3 Die meeste van ons voer nie ’n lang, pynlike stryd teen siekte nie. Ons het ook nie wêreldberoemd geword as verhoogkunstenaars nie. Ons is waarskynlik gewone mense wat die daaglikse sorge en ontberinge van die lewe moet verduur. Ons ondervindinge bewys dat “die mens uit ’n vrou gebore . . . kort van dae en sat van onrus” is. En ons stem ongetwyfeld saam dat “die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is” (Job 14:1; Romeine 8:22). Trouens, ons wonder dalk of enigeen op aarde ware vreugde kan geniet—daardie “gevoel van groot genot of geluk wat veroorsaak word deur iets goeds of bevredigends”. Wat dink jy? Kan ’n mens waarlik vreugde smaak?

Kan jy dit vind?

4. Wie is onder die miljoene wat ware vreugde smaak?

4 Miljoene smaak vreugde. Die regverdige hemelse engele ‘volbring God se woord’ vreugdevol (Psalm 103:20). Hulle dien Jehovah God nog altyd met ware vreugde. Met die grondlegging van die aarde het hierdie “môresterre saam gejubel”! (Job 38:4-7). Die getroue engel wat Jesus se geboorte aangekondig het, het beslis ’n aangename sending gehad, want hy het “’n goeie tyding van groot blydskap” verkondig.—Lukas 2:8-14.

5. Wat is die ondervinding van God se eniggebore Seun wat vreugde betref?

5 Maar wat van “die eniggebore Seun van God”? (Johannes 3:18). Voordat hy die man Jesus Christus geword het, was hy Jehovah se “meester-werker” in die hemel. Het daardie diens hom vreugde verskaf? Inderdaad, want ons word meegedeel: “Ek het die een geword op wie hy [Jehovah] dag na dag besonder gesteld was, terwyl ek te alle tye vrolik voor sy aangesig was” (Spreuke 8:22-31, NW). Terwyl Jesus ’n man op aarde was, het hy behae daarin geskep om God se wil te doen (Psalm 40:7-9; Hebreërs 10:5-10). Ons lees boonop dat hy, “vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die [folterpaal] verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het” (Hebreërs 12:2, vgl. NW). As “die gelukkige en enige Maghebber” wat binnekort goddelike oordele op aarde gaan voltrek, dien Jesus Christus Jehovah nou waarlik met ’n vrolike hart.—1 Timotheüs 6:13-16, NW; 2 Thessalonicense 1:6-10.

6. Waar kan jy vandag vreugde vind?

6 Wel, kan jy dan vandag vreugde vind? Ja, en die sieklike man wat vroeër gemeld is, toon hoe deur te sê: “Ek het gevind dat dit waar is dat diens aan God die grootste geluk verskaf. Dit maak die lewe waarlik lonend en sinvol. Die feit dat ek verlam is, het my nie beroof van die voorregte en seëninge wat ’n mens ontvang as jy die Skepper dien nie.” Ware vreugde word gevind onder diegene wat van ganser harte toegewy is aan Jehovah God. En waarom nie? Hulle verkondig die “goeie nuus” van “die gelukkige God”—’n verblydende boodskap oor die ewige lewe te midde van wonderlike seëninge onder die heerskappy van die “koninkryk van die hemele” (Mattheüs 24:14; 1 Timotheüs 1:11, NW; Mattheüs 5:3). Hulle het dus ’n rede om ‘Jehovah met blydskap te dien’ en om ‘met gejubel voor sy aangesig te kom’.—Psalm 100:2.

7, 8. (a) Waarom is persone wat aan Jehovah toegewy is nie altyd opgewek nie al is hulle vreugdevol? (b) Waarom word Jehovah se volk nie deur die ontberinge van die lewe oorweldig nie?

7 Dit beteken nie dat ’n persoon wat aan God toegewy is, altyd opgewek sal wees nie. In die onvolmaakte mensegemeenskap ervaar Jehovah se volk soms droefheid (Romeine 5:12). Toe Esau byvoorbeeld met Hetitiese vroue getrou het, was hulle vir sy godvresende ouers “Isak en Rebekka ’n bitter verdriet” (Genesis 26:34, 35). Daarbenewens probeer Satan die Duiwel om die Christen se kosbare verhouding met Jehovah deur middel van regstreekse vervolging en onregstreekse “liste” te vernietig (Efesiërs 6:11). Liefhebbers van God kan gevolglik ontberinge op die lewensweg verwag. Maar hierdie probleme oorweldig nie Jehovah se volk nie. Hulle put ‘hoop uit die Skrifte’ en bid vol vertroue om God se gees en hulp met die aankweek van blydskap, ’n vrug van daardie gees (Romeine 15:4; Lukas 11:13; Galasiërs 5:22). Ondanks die lewe se beproewinge kan Christene “die blydskap van die Heilige Gees” hê (1 Thessalonicense 1:6). Dit is veral seëninge van Jehovah af wat tot daardie vreugde bydra.

8 Die seën van Jehovah is waarlik verrykend (Spreuke 10:22). Maar het jy, as jy ’n Christen is, jou seëninge getel? Dit moet jou laat ‘bly wees in Jehovah’ (Psalm 32:11). Beskou net enkele van jou seëninge en jy sal oorgenoeg rede vind om Jehovah met ’n vrolike hart te dien.

Vreugdevolle voorregte sonder weerga

9. Wat beteken dit om Jehovah te ken, en hoe hou dit verband met vreugde?

9 Kennis van en diens aan Jehovah is onvergelyklike seëninge. Deur die profeet Jeremia het God gesê: “Laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen” (Jeremia 9:24). Dit is natuurlik nie genoeg om net kennis te dra van die goddelike naam nie. As ’n mens Jehovah ken, beteken dit dat jy bewus is van sy eienskappe, handelinge, gesindhede en voornemens. Dit beteken dat ’n mens hom gehoorsaam, sy gesag erken en jou daaraan onderwerp (1 Johannes 5:3). ’n Ernstige studie van die Skrif en bepeinsing oor die woorde en dade van God se Seun, wat in volkome harmonie met sy Vader is, maak dit moontlik om ’n intieme, persoonlike verhouding met God te hê (Johannes 1:18; 14:9-11). Diegene wat Jehovah op hierdie wyse ken, is inderdaad vreugdevol. Trouens, “aan ’n mens wat welgevallig is voor sy aangesig, gee Hy [Jehovah] wysheid en kennis en vreugde”.—Prediker 2:26.

10. Wat is die belangrikste en bevredigendste manier waarop menselewe gebruik kan word?

10 Die onskatbare voorreg om “heilige diens” vir die ware God te verrig, is nog ’n seën wat Jehovah se Getuies geniet. Geen mens kan die lewe op ’n belangriker of bevredigender wyse gebruik nie. Sagaria (die vader van Johannes die Doper) het die saak beslis goed gestel toe hy Jehovah geseën het omdat Hy aan Sy volk “die voorreg verleen het om onbevrees heilige diens vir hom te verrig met lojaliteit en regverdigheid” al hulle dae.—Lukas 1:67-79, NW; vergelyk Romeine 12:1, NW; Openbaring 7:9, 13-15, NW.

11. Watter verblydende voorreg word geassosieer met die verrigting van “heilige diens” vir God?

11 Die voorreg om Jehovah se naam as sy getuies te dra, gaan gepaard met die voorreg om “heilige diens” vir God te verrig (Jesaja 43:10-12, NW). Dit behoort beslis vreugde in die hand te werk, soos Jeremia dan ook gesê het: “U woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart; want u Naam is oor my uitgeroep, HERE, God van die leërskare!”—Jeremia 15:16.

12. Bepeinsing oor watter teenstellings kan ons opbeur indien ons mismoedig is?

12 Indien jy God dien maar nou en dan mismoedig voel, sal dit jou opbeur as jy kortliks oor enkele teenstellings nadink. As ons byvoorbeeld in ag neem dat die goddelose engele “met ewige boeie onder die duisternis bewaar” word vir God se veroordeling, word die lot van die regverdige engele in Jehovah se diens vergelykenderwys des te vreugdevoller (Judas 6). En watter teenstelling bestaan daar tog tussen Jesus se vreugdevolle posisie en dié van Satan die Duiwel, op wie daar ewige vernietiging wag! (Openbaring 20:10, 14). Jehovah se medelydende sorg en seëninge maak dit gewis ook maklik om “die onderskeid [te] sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie” (Maleagi 3:17, 18). Maar beskou nog ander seëninge wat grondige redes bied om Jehovah met ’n vrolike hart te dien.

Ware vryheid en geestelike lig

13, 14. Watter ware vryheid en geestelike lig geniet Jehovah se dienaars op godsdienstige gebied?

13 Bevryding uit “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, is gewis nog ’n seën wat vreugde in die hand werk. Ware Christene is bly dat hulle nie ‘gemeenskap met haar sondes het en van haar plae ontvang nie’ (Openbaring 18:2, 4, vgl. NW). Daarbenewens is Jehovah se dienaars bevry van die vrese en leuens van valse godsdiens. “Julle sal die waarheid ken”, het Jesus gesê, “en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Daardie ware vryheid lyk soveel kosbaarder wanneer ons nadink oor die slawerny van diegene in geestelike duisternis.

14 Anders as so baie aanhangers van valse godsdiens, buig en bid aanbidders van Jehovah byvoorbeeld nie voor beelde wat nie kan praat, sien, hoor, ruik, voel of loop nie (Psalm 115:4-8). Geestelik vry en verligte Christene vrees ook nie die dode, soos dit met so baie van die aarde se bewoners die geval is nie. Die godsdiensdwaalleer dat die mens ’n onsterflike siel het, wek hierdie vrees dat die oorledenes kan terugkeer om by die lewendes te spook of hulle te kwel. Maar geestelike lig van God af het sulke vrese verdryf, want ware Christene weet dat die dode ‘glad niks weet nie’ (Prediker 9:5, 10). Hoeveel heilsamer is dit tog om te besef dat afgestorwe dierbares wat deur God onthou word ’n opstanding sal kry! (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Jehovah se toegewyde getuies kan hulle beslis daarin verheug dat die hemelse Vader wat hulle eensgesind dien “die dieptes van God” deur sy gees aan hulle geopenbaar het (1 Korinthiërs 2:10). Ja, hy het verblydende geestelike lig en waarheid aan sy volk gegee.—Psalm 43:3.

Die vreugde om ander te help

15, 16. (a) Wat het gebeur toe Jesus se vroeë dissipels ‘hulle lig laat skyn het’? (b) Wat ervaar Christene vandag in die dissipelmaakwerk?

15 Dit is ook ’n seën om geestelike lig uit te straal. Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Julle is die lig van die wêreld . . . Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mattheüs 5:14-16). Wat het gebeur toe daardie vroeë dissipels ‘hulle lig’ deur woord en daad ‘laat skyn’ het? Ander het daarby baat gevind, maar daardie bedrywigheid het ook aan Christus se volgelinge self vreugde verskaf (Lukas 10:1, 17-20; Handelinge 8:4-8). Daardie dissipelmakers het Jehovah beslis met ’n vrolike hart gedien.—Mattheüs 28:19, 20.

16 Christene smaak vandag soortgelyke vreugde in die werk om die Koninkryksboodskap te verkondig. Dit is veral waar met betrekking tot die persone wat hulle help om kennis van God se waarheid te verkry. Die apostel Paulus het sulke vreugde gesmaak, want hy het gesê dat die Filippense wat hy gehelp het sy “blydskap en kroon” was (Filippense 4:1). Van diegene wat hy in Thessalonika gehelp het, het die apostel geskryf: “Wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms? Want julle is ons eer en blydskap” (1 Thessalonicense 2:19, 20). Ja, net soos hedendaagse Christene het Paulus vreugde geput uit diegene wat hy geestelik gehelp het. Span jy jou in Jehovah se diens in en smaak jy sulke vreugde?

17. Waarom put Jehovah se Getuies vreugde uit hulle dissipelmaakwerk ondanks min resultate in pary gebiede?

17 Ondanks min resultate wanneer hulle vandag in party gebiede getuig, put Jehovah se Getuies vreugde uit die wete dat hulle hulle God behaag en loof. Dit is die geval al is party huisbewoners ook nie bly om die Getuies by hulle deur te sien nie. Dit maak Jehovah se dienaars nie mismoedig nie, want hulle besef dat die diens van God die wonderlikste voorreg is wat enigiemand op aarde kan geniet.

Selfs vervolging verskaf vreugde

18. Waarom kan Christene vreugdevol wees al word hulle ook vervolg?

18 Christene dien Jehovah met ’n vrolike hart selfs al ondervind hulle dikwels vervolging. Jesus het gesê dat diegene wat ter wille van hom vervolg word, gelukkig is, en die apostel Petrus het gesê: “Namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig.” Waarom? “Omdat”, sê Petrus, “die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus” (1 Petrus 4:13, 14; Mattheüs 5:11, 12, NW). Vervolging omdat ’n mens ’n Christen is, lyk miskien nie na ’n seën nie. Maar as jy sulke vervolging verduur, het jy bewys van God se gees en goedkeuring—en dit werk gewis vreugde in die hand.

19. Hoe het een slagoffer van Nazi-vervolging sy gedagtes uitgedruk?

19 Omdat hulle God se heilige gees het sowel as die krag wat Jehovah gee, kan vervolgde Christene hulle vreugde onder haglike omstandighede behou (Filippense 4:13, NW). Jare gelede het ’n jong Getuie wat ten onregte ter dood veroordeel is uit ’n Nazi-konsentrasiekamp aan sy ouers geskryf: “Dit is reeds na middernag. Ek het nog tyd om van besluit te verander. Kan ek ooit weer in hierdie wêreld gelukkig wees nadat ek onse Here verloën het? Beslis nie! Maar nou het julle die versekering dat ek hierdie wêreld in geluk en vrede verlaat.” Ja, vervolgde Christene dien Jehovah met ’n vrolike hart.

Ander redes tot vreugde

20. Watter uitwerking het omgang met medegelowiges op vreugde?

20 Ondanks die vervolging wat Jehovah se Getuies verduur, ondervind hulle ware vreugde in omgang met hulle medegelowiges. Watter seën tog! Hoe goed is dit tog om in ’n wêreld vol oneerlikheid, leuens en oortreding eerlike, waarheidliewende, regskape metgeselle te hê wat hulle met die “nuwe persoonlikheid” beklee het! (Kolossense 3:8-11, NW). Daarbenewens put ’n mens diepe bevrediging uit die wete dat jou gedrag Jehovah se hart verbly.—Spreuke 27:11.

21. Wat is party van die maniere waarop ons die belange van ware aanbidding vreugdevol kan bevorder?

21 Dit is ook ’n seën om die belange van ware aanbidding vreugdevol te bevorder, moontlik deur deelname aan die bou, instandhouding en onderhoud van ’n Christelike vergaderplek (Exodus 36:1-7; 2 Konings 12:4-15). Sulke pogings verbly beslis ’n persoon se hart. En hoe kan enigiemand ten volle die seëninge en vreugdes bereken wat ’n mens ontvang as jy gereeld saam met Jehovah se volk vergader en met hulle saamwerk in die Godgegewe getuieniswerk?—Psalm 122:1; 1 Korinthiërs 3:5-9.

22. Wat bring dit mee wanneer godvrugtige dade getrou verrig word?

22 As godvrugtige dade getrou verrig word, bring dit ook ’n ryke seën mee—die vooruitsig op redding en ’n vreugdevolle toekoms in God se beloofde nuwe stelsel (2 Petrus 3:11-13). Watter verskil bestaan daar tog tussen die hoopvolle dienaars van Jehovah en persone wat “sonder hoop en sonder God in die wêreld” is! (Efesiërs 2:11, 12). Jehovah se volk kan beslis vandag saam met Dawid vir God sê: “Maar ek—op u goedertierenheid vertrou ek; my hart sal juig oor u heil” (Psalm 13:6). Wanneer Christene hulle seëninge tel, vind hulle inderdaad talle redes om Jehovah met ’n vrolike hart te dien.

Hou aan om ‘Jehovah met blydskap te dien’

23. Wat moet ons doen in plaas daarvan om toe te laat dat toenemende druk ons denke oorheers?

23 Hoewel getuies van Jehovah nou talle seëninge geniet, kan hulle nie aan die toenemende druk van die ou stelsel ontkom nie. Dit moet moedig by die werk, by die skool en elders verduur word, en sulke faktore kan ontmoedigend wees. Maar in plaas daarvan om toe te laat dat hierdie onaangename dinge ons denke oorheers en ons voortdurend ontstel, is ons verstandig as ons ons gedagtes met positiewe, opbouende sake besig hou. Ja, in plaas daarvan om mismoedig of verdrietig te wees, moet ons “ywerig in goeie werke” wees en nadink oor ons seëninge as Jehovah se dienaars (Titus 2:14). Dan sal ons blymoedig wees, asof ons ’n voortdurende fees geniet. Spreuke 15:15 stel dit so: “Al die dae van die bedrukte is sleg, maar die vrolike van hart het gedurigdeur fees.”

24. (a) Hoe kan jou lewe ’n lonende doel hê? (b) Watter vraag word gepas geopper?

24 Baie mense is weliswaar ongelukkig oor hulle lot in die lewe. Maar as jy God liefhet en gehoorsaam en ywerig in sy diens volhard, het jou lewe ’n lonende doel. Met Jehovah se hulp kan lewensprobleme en druk boonop met welslae verduur word. Hou dus moed en gaan voort om die seëninge te waardeer wat God op jou uitstort terwyl jy Jehovah met ’n vrolike hart dien (Psalm 100:2). Maar wat is nodig om voort te gaan om ons in die aanbidding van Jehovah te verbly?

Onthou jy hierdie gedagtes?

◻ Waarom word Jehovah se volk nie deur die ontberinge van die lewe oorweldig nie?

◻ Wat beteken dit om Jehovah te ken, en watter verband hou dit met vreugde?

◻ Wat is die verband tussen dissipels maak en vreugde?

◻ Hoe kan ons ware aanbidding vreugdevol bevorder?

[Lokteks op bladsy 11]

Diegene wat geestelike lig van Jehovah af geniet, vrees nie die dode nie. Hulle sien eerder uit na die opstanding van persone wat deur God onthou word

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel