Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 3/15 bl. 21-23
  • ’n Vreugdevolle volk—Waarom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Vreugdevolle volk—Waarom?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Put vreugde uit die evangelisasiewerk
  • Put vreugde uit Koninkryksvermeerdering
  • Kom hindernisse in die weg van vreugde te bowe
  • Volhard as ’n vreugdevolle volk
  • Dien Jehovah met ’n vrolike hart
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Bied Die Goeie Nuus Aan—Met vreugde
    Ons Koninkryksbediening—1988
  • Vreugde — ’n Eienskap wat ons van God kry
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Dien Jehovah met vreugde van hart
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 3/15 bl. 21-23

’n Vreugdevolle volk—Waarom?

WARE Christene vandag is ’n vreugdevolle volk. Ons dien immers “die gelukkige God”, Jehovah (1 Timotheüs 1:11, NW). Hy gee ons sy gees, en ’n vrug van daardie gees is blydskap.—Galasiërs 5:22.

Sulke diepgewortelde vreugde is veerkragtig en bestand teen druk. Jesus Christus is byvoorbeeld onderwerp aan die pyn van paalstraf en die smaad van teregstelling as ’n lasteraar. “Weens die vreugde wat hom voorgehou is”, het hy nietemin “’n martelpaal verduur” (Hebreërs 12:2, NW). Jesus het geweet dat wonderlike geleenthede en voorregte in sy diens aan Jehovah op hom gewag het. Deur op hierdie toekomstige voorregte te konsentreer, is hy gehelp om sy vreugde ondanks lyding te behou.

Jesus wil ook hê dat sy dissipels vreugdevol moet wees. Hy het gesê: “Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word” (Johannes 15:11). Dit is vandag die geval met Jehovah se Getuies. Daar is baie redes waarom ons ’n vreugdevolle volk is. Ons ken die waarheid, wat ons vrygemaak het van die greep van bygelowigheid en valse godsdiensoortuigings (Johannes 8:32). Ons weet boonop waar ons in die tydstroom is en verheug ons oor die hoop op verlossing wat binnekort verwesenlik gaan word (Lukas 21:28). Ons word ook beskerm teen baie van die probleme—onder meer seksueel oordraagbare siektes—waarmee diegene te kampe het wat nie die Bybelse sedelikheid beoefen nie. Ons geniet die allerbeste omgang met mense wat graag Jehovah se wil wil doen. En, ja, ons het die wonderlike voorreg om die evangelie van die Koninkryk te verkondig en dissipels van sagmoediges te maak.—Mattheüs 24:14; 28:19, 20.

Maar hoewel dit waar is van Jehovah se Getuies in die geheel, wat van jou as individu? Waarom kan daar gesê word dat jy rede het om saam met die res van Jehovah se volk bly te wees?

Put vreugde uit die evangelisasiewerk

Sommige vind dit moeilik om die predikingswerk van huis tot huis te doen. Hulle voel moontlik nie op hulle gemak wanneer hulle vreemdelinge moet nader en gesprekke moet aanknoop nie. Of hulle voel eenvoudig onbekwaam om ander te onderrig. Voel jy soms so? Hoe kan jy dan vreugde uit die evangelisasiewerk put?

Behou ten eerste ’n positiewe gesindheid. Baie mense sal in die wolke wees as hulle vir ’n beroemde persoon of welbekende politikus kon werk. Maar watter groter vreugde behoort ons te smaak wanneer “die Koning van die eeue”, Jehovah God self, ons dienste gebruik!—1 Timotheüs 1:17.

Onthou ook dat dit ’n werk is wat nooit herhaal sal word nie. Dink net daaraan! Die engele self lei en rig Christene hier op aarde in hulle strewe om sagmoediges te vind (Openbaring 14:6). Verbly dit nie jou hart nie?

Put vreugde uit Koninkryksvermeerdering

Nog ’n rede waarom ons ’n positiewe beskouing van die predikingswerk kan hê, is die goeie uitwerking wat dit het. Die Bybel het voorspel: “Die kleinste sal ’n geslag word en die geringste ’n magtige nasie. Ek, die HERE, sal dit op die regte tyd gou laat kom” (Jesaja 60:22). Hierdie belofte van Jehovah is die afgelope tyd vervul. Gedurende die 1986-diensjaar is daar byvoorbeeld 225 868 gedoop om hulle heelhartige toewyding aan Jehovah God te simboliseer. Daar was ’n vermeerdering van 6,9 persent in die gemiddelde getal wat die Bybel se waarhede uitdra.

Hierdie vermeerdering is ongetwyfeld in julle eie gemeente of kring te sien. Nuwelinge woon vergaderinge by en bring die nodige veranderinge in hulle lewe aan om God te kan dien. Toon dit nie dat die predikingswerk Jehovah se seën geniet nie? ’n Aandeel in hierdie vermeerdering kan dus vir jou ’n bron van groot vreugde wees. Jy het weliswaar dalk nie self met ’n individu gestudeer tot die punt waar hy gedoop word nie. Maar ons kan in elk geval nie die eer kry as iemand die waarheid aangeneem het nie. ‘God laat groei’, het Paulus gesê (1 Korinthiërs 3:6-9). Alle lede van die gemeente dra by om nuwelinge te help. Hoe? Deur vergaderinge by te woon, kommentaar te lewer, nuwelinge gasvry te groet en hulle te gedra op ’n wyse wat die waarheid aantreklik maak.

Jy kan egter groter vreugde smaak as jy ’n regstreekser aandeel in die predikingswerk van huis tot huis en in die tuisbybelstudiewerk het. Verlede jaar is daar gemiddeld 2 726 252 weeklikse Bybelstudies gehou. Span jou gerus meer in om aan hierdie vreugdevolle werk deel te neem. Bied ’n Bybelstudie aan vir iemand wat jy ken, moontlik ’n buurman of ’n individu by wie jy lektuur gelaat het. Vra Jehovah om hulp om so ’n sagmoedige persoon te vind.

Kom hindernisse in die weg van vreugde te bowe

As ’n persoon onbekwaam voel om ander te onderrig, kan dit natuurlik ’n groot hindernis wees om vreugde uit die veldbediening te put. Onthou egter, “ons bekwaamheid is uit God” (2 Korinthiërs 3:5). En deur sy organisasie het Jehovah talle puik hulpmiddels voorsien om ons te help om ons as produktiewe bedienaars te bekwaam.

Ten eerste, daar is baie onder ons wat God al lank dien en baie ondervinding in die veldbediening het. Ons kan hierdie ervare bedienaars in hulle bedrywigheid vergesel en by hulle leer. Daarbenewens verskyn daar elke maand puik wenke in Ons Koninkryksbediening. Dan is daar die publikasie Redenering uit die Skrif, wat ’n magdom informasie bevat om ons predikingsvaardighede te verbeter. Benut hierdie instrumente en berei deegliker vir die veldbediening voor. Dink aan nuwe en interessante maniere om jouself by die deur voor te stel. Of dink aan ander maniere om huisbewoners by gesprekke te betrek. Namate jy meer bekwaam in die velddiens word, sal jou geesdrif en vreugde in die predikingswerk ongetwyfeld toeneem.

Die bediening is aangenamer wanneer ons met mense kan praat. In sommige gebiede is dit weliswaar ’n probleem. Kan jy reël om velddiens te doen wanneer meer mense tuis is, soos in die vroeë aand? Baie vind dat dit baie doeltreffend is. Jy kan ook die inisiatief neem en met mense praat waar jy hulle ook al teëkom—op straat, waar hulle op parkbanke sit, waar hulle hulle motors was. Onthou dat mense die waarheid nodig het en dat lewens op die spel staan. Dit kan jou help om die neiging om skaam te wees te bowe te kom. Hoewel die oorgrote meerderheid weliswaar nie gunstig sal reageer nie, verskaf diegene wat wel gehoor gee ons vreugde.

Een van die grootste hulpmiddels om vreugdevol te bly, is egter gebed. Vra Jehovah om sy gees om jou te versterk en te bemoedig. Paulus het gesê: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee” (Filippense 4:13, NAV). Ons kan ook so voel namate ons leer om in groter mate op Jehovah staat te maak.

Volhard as ’n vreugdevolle volk

Baie mense waardeer nie ons werk nie. Jesus het geweet dat dit die geval sou wees. Toe hy sy volgelinge uitgestuur het om te preek, het hy hulle gevolglik vermaan: “As iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af. . . . Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe.” Jesus het ook gesê: “Van julle is selfs die hare van die hoof almal getel. Wees dan nie bevrees nie.”—Mattheüs 10:11-16, 30, 31.

Hierdie woorde help ons om vreugdevol te volhard. Dit help ons om te besef dat wanneer ons mense teëkom wat nie ons arbeid om hulle ontwil waardeer nie ons nietemin Jehovah se naam bekend maak; ons loof hom steeds (Psalm 100:4, 5). Dit is interessant dat daar soms gehoor word hoe huisbewoners wat weier om die deur oop te maak vir ander sê: “Dit was Jehovah se Getuies.” Ja, sonder dat ons ’n woord gesê het, is Jehovah se naam verheerlik en het mense die geleentheid gehad om die waarheid te aanvaar of te verwerp (Mattheüs 25:31, 32). Selfs gebiede waar daar geen reaksie is nie, kan dus met vreugde verduur word.

Ons weet buitendien nie wanneer sulke individue van gesindheid kan verander nie. Eendag het ’n vrou wat ’n Christin by verskeie geleenthede weggewys het vir die suster gevra of sy enige nuwe lektuur het. Die suster was verbaas en het gesê dat die vrou nooit tevore Bybellektuur aanvaar het nie. Die vrou het verduidelik dat haar man saam met ’n man werk wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer. Hy het vir haar en haar man een van die Wagtoringgenootskap se publikasies gegee. Uit nuuskierigheid het die vrou dit gelees en die boodskap as die waarheid herken. Sy het dus daar en dan besluit dat sy die volgende Getuie wat daar aanklop, sal innooi. ’n Tuisbybelstudie is begin, en die vrou het later ’n toegewyde getuie van Jehovah geword!

Ons het dus ’n wonderlike voorreg—’n vreugdevolle voorreg—om die enigste boodskap van hoop in die wêreld te verkondig. En die predikingswerk is die taak wat God aan ons opgedra het vir hierdie laaste dae. Dit moet gedoen word voordat die einde kom (Mattheüs 24:14). Hoe lank nog voordat Satan se goddelose stelsel eindig? Ons weet dat die einde nie sal vertoef nie. (Vergelyk Habakuk 2:3.) Intussen het ander nog tyd om die waarheid te leer. Laat ons hierdie oorblywende tyd benut en ons predikingswerk ywerig doen. En laat ons ’n positiewe gesindheid openbaar deur hard te werk om ‘onsself te red sowel as die wat na ons luister’ (1 Timotheüs 4:16). Sodoende sal ons ’n vreugdevolle volk bly wat ’n deel aan Koninkryksvermeerdering het.

[Prent op bladsy 23]

Ons evangelisasiewerk is ’n bron van ware vreugde—selfs wanneer mense nie gunstig op die Koninkryksboodskap reageer nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel