Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 1/15 bl. 25-31
  • Godvrugtige toegewydheid—nuttig vir alle dinge

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Godvrugtige toegewydheid—nuttig vir alle dinge
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Piątek w Poznaniu (Vrydag in Poznan)
  • Sobota w Chorzowie (Saterdag in Chorzów)
  • Niedziela w Warszawie (Sondag in Warschau)
  • Welkom by die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkomste
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Voeg godvrugtige toegewydheid by jou volharding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Voeg by julle volharding godvrugtige toegewydheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Streef godvrugtige toegewydheid as gedoopte Christene na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 1/15 bl. 25-31

Godvrugtige toegewydheid—nuttig vir alle dinge

JEHOVAH SE GETUIES weet dat “godvrugtige toegewydheid . . . nuttig vir alle dinge” en onontbeerlik vir ware aanbidding is (1 Timotheüs 4:8, NW). Daarsonder is godsdiens blote vormdiens. “Godvrugtige Toegewydheid” was dus ’n gepaste naam vir hulle reeks streekbyeenkomste wat verlede Junie begin het.

In Augustus is drie van daardie byeenkomste met groot vreugde in Pole gehou. Jehovah se Getuies het kort tevore, in Mei, wetlike erkenning verkry. (Sien Ontwaak! van 22 Desember 1989 vir meer besonderhede oor die Poolse byeenkomste.) Kom ons hersien hierdie byeenkomsprogram soos dit in Pole aangebied is.

Piątek w Poznaniu (Vrydag in Poznan)

In Junie 1956 het 50 000 betogers in Poznan in opstand gekom en brood en vryheid geëis. Die gevolg was dat meer as 50 mense dood is en ’n nuwe regering in Pole gevorm is. In skerp teenstelling hiermee het vreedsame Christene 33 jaar later in ’n atmosfeer wat gekenmerk is deur ’n oorvloed van geestelike brood en Christelike vryheid hier vergader om te luister na toesprake oor “Ons diens aan ’n God wat uitsluitlike toegewydheid vereis”, Vrydag se tema. Die grootste opkoms was op Sondag, toe 40 442 daar bymekaargekom het.

Na die byeenkomsvoorsitter se verwelkomingsrede en ’n onderhoud met persone wat ‘’n lewe met volle godvrugtige toegewydheid lei’, is praktiese raad aangebied in die toespraak “Vermy lippe van kwaadwilligheid”. Hoe maklik kan ligsinnige praatjies tog in kwaadwillige skinderpraatjies ontaard! En skadelike skinderpraatjies kan tot dodelike laster lei. Maar voordat hulle oor ander mense praat, doen ryp Christene, wat die vrede en die eenheid wil bewaar, die verstandige ding en vra hulle hul af: ‘Sou Jesus dit gesê het? Is dit nodig dat dit gesê word? Sal dit opbouend wees? Wat is die rede waarom ek dit sê?’

’n Unieke kenmerk van die byeenkomste in Pole was dat daar elke dag tyd opsygesit is om na verslae van Getuies uit ander lande te luister. Bye enkomsgangers wat 24 nasies verteenwoordig het, het ondervindinge vertel wat beklemtoon het dat hierdie organisasie ’n internasionale gesin is wat werklik verenig is in hulle erkenning van die feit dat ‘Jehovah op uitsluitlike toegewydheid aandring’. Aangesien God waardig is om sulke toegewydheid te ontvang, moet sy knegte onverdeeld wees wat toegeneentheid en aanbidding betref. Jesus se voorbeeld lig toe dat uitsluitlike toegewydheid geen plek vir halfhartigheid laat nie.

Godvrugtige toegewydheid behels alles wat ons doen. ’n Driedelige bespreking het Christene dus gewaarsku: “Moenie dwaal nie” wat voedsel en drank, kleredrag en persoonsversorging asook vermaak betref. Vraatsug en dronkenskap is vorme van gierigheid wat geestelike sinne afstomp, gesondheidsprobleme veroorsaak, slegte gedrag meebring en tot ongelukke lei. Uitspattige kleredrag—onbeskeie, vreemd, uitheems of selfs skokkend—moet vermy word. Klere wat slordig, te informeel of noupassend is, is nie betaamlik nie. Die vraag is nie of ’n styl in die mode is nie, maar of dit geskik is vir ’n bedienaar van God. Vermaak wat met opstand, geweld, dwelms, die okkulte en geslagsonsedelikheid besmet is, is nie vir Christene nie.—Filippense 1:27.

Vrydagmiddag se program het begin met die toespraak “‘Die getroue dienskneg’ en sy bestuursliggaam”. Jehovah het vertroue in die lojaliteit van sy getroue knegte en daarom delegeer hy gesag. Dit is ook die geval met sy Seun. Hy het uit sy gesalfde volgelinge, “die getroue en verstandige dienskneg”, ’n paar gekies om as ’n sigbare bestuursliggaam te dien (Mattheüs 24:45). In die eerste eeu het hierdie groep uit die apostels en etlike ander ouere manne in Jerusalem bestaan.

In ons tyd is die Bestuursliggaam nou verbonde aan die redaksionele personeel van die Wagtoringgenootskap en sy raad van direkteure. Maar die Bestuursliggaam is nie dieselfde as daardie wetlike korporasie nie, en die spreker het gesê: ‘Die korporasie kan deur die keiser, die Staat, ontbind word, aangesien dit bloot ’n wetlike liggaam met ’n vaste hoofkwartier is.’ Maar die Bestuursliggaam, wat nie ’n wetlike instrument is nie, en waarvan die lede “deur die heilige gees onder leiding van Jehovah en Christus aangestel” word, kan nie deur mense ontbind word nie. Die Bestuursliggaam funksioneer dus steeds en ontvang die onvoorwaardelike ondersteuning van Jehovah se Getuies wêreldwyd.

Die Poolse byeenkomste is deur vyf lede van die Bestuursliggaam, wat op die oomblik uit 12 lede bestaan, bygewoon. Een van hulle het die programrede “Waarom ons moet leer wat die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid is” gehou. Daarin is genoem dat die geheim van godvrugtige toegewydheid nie langer ’n geheim is nie omdat dit “in Jesus verpersoonlik is”. Die spreker het die ses fasette van hierdie heilige geheim, wat in 1 Timotheüs 3:16 gemeld word, bespreek en gesê: “Ons waardering vir die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid moet ons lei om Jesus se voetstappe altyd noukeurig te volg.”

Twee simposiums het dit duidelik laat blyk dat godvrugtige toegewydheid van jonk sowel as oud vereis word. Ouers het die verantwoordelikheid om hul kinders ’n geestelike erfenis te gee deur by hulle ’n behoorlike sin vir reg en verkeerd in te skerp. Sinvolle gesinstudie, wat ’n realistiese bespreking van kinders se probleme insluit, is noodsaaklik. Ouers moet altyd wakker wees vir gevaartekens en hulle kinders teen onheilsame omgang, selfs binne die gemeente, beskerm.

Aan die ander kant moet jongmense wat lonende lewens wil lei hulle oë gevestig hou op Christus, wat ‘vir hulle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat hulle sy voetstappe kan navolg’ (1 Petrus 2:21). Hulle is gepas gevra: “As julle in die waarheid grootgemaak is, weet julle wat julle glo, maar weet julle waarom?” Hulle is aangespoor om die waarheid ten volle aan te neem deur aan hulleself te bewys dat die Bybel God se Woord is en dat Jehovah se Getuies die waarheid het.

In baie lande was die hoogtepunt van hierdie bespreking die vrystelling van die nuwe boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk. (Sien asseblief die venster: “‘’n Geskenk van Jehovah’ vir jongmense”.) Ons hoop dat jongmense in Pole en ander Oos-Europese lande ook eendag by die voortreflike raad in hierdie publikasie sal kan baat vind as hulle dit in hulle eie taal lees.

Sobota w Chorzowie (Saterdag in Chorzów)

Chorzów is ’n nywerheidsentrum in die hartjie van die steenkoolvelde van Suid-Pole. Die Silesiese steenkoolmyne het monetêre wins vir die gebied beteken. Maar die 65 710 mense wat verlede Augustus by die Slaski-stadion was se gesprekke het hoofsaaklik oor ’n belangriker soort wins gehandel.

“Godvrugtige toegewydheid is ’n groot wins”, die tema vir Saterdag, is deur die eerste spreker van die middagsessie verduidelik (1 Timotheüs 6:6, NW). Die waarheid van die spreker se woorde is bevestig deur onderhoude met persone wat groot wins in hulle eie lewe ervaar het deur godvrugtige toegewydheid na te streef.

Gedurende die oggendprogram was die voordele om godvrugtige toegewydheid na te streef tydens ’n simposium beklemtoon. “Deur [God se Woord] gereeld met onderskeidingsvermoë te lees”, die betekenis van wat ons lees te ondersoek asook biddend te oorweeg hoe om toe te pas wat ons leer, kan ons as Christene godvrugtige toegewydheid nastreef “deur ons lig altyd te laat skyn” (Josua 1:8). Een van die sprekers het genoem dat as elkeen van Jehovah se Getuies in die wêreld 15 minute per dag informeel met ander praat daar jaarliks nog 327 miljoen uur aan die Koninkrykspredikingswerk bestee sal word.

Godvrugtige toegewydheid word ook nagestreef “deur versoeking te weerstaan”. Hoewel kos, drank, seks of geld nie op sigself sleg is nie, kan dit in onbehoorlike omstandighede bose dinge wees. Ons kan onsself beskerm deur onnodige blootstelling aan die wêreld se materialisme, pornografie, dwelms en dronkenskap, sowel as sy beheptheid met genot, soos musiek, sport en sosiale geleenthede, te vermy. Gebed is noodsaaklik. Christene moet leer om die kwaad te haat. Dit is gepas, aangesien die volgende spreker gesê het dat hulle moet “Lewe nie meer volgens die mens se wil nie, maar volgens God se wil”.

Al hoe meer mense besluit om juis dit te doen. Dit was duidelik toe 2 663 nuwe Getuies in die openbaar hulle voorneme uitgespreek het om ‘godvrugtige toegewydheid as toegewyde, gedoopte Christene na te streef’. (By die drie byeenkomste in Pole was daar altesaam 6 093 doopkandidate.) Sodat hulle hul vreugde in Jehovah se diens kan behou, is die wat gedoop sou word, aangespoor om na te dink oor al die redes om vreugdevol te wees: Jehovah se vriendskap, hulle wêreldwye broederskap en die hoop om in die paradys te lewe.

In die toespraak “Openbaar dade van godvrugtige toegewydheid—as manne onder Christus se hoofskap” is Christelike onderdanigheid bespreek. Mans wat godvrugtige toegewydheid aan die dag lê, sal op ’n liefdevolle, Christelike manier hulle gesinspligte nakom. “As vroue wat gepaste onderdanigheid toon”, sal ons Christensusters hulle mans ondersteun en die gesinshoof nie verkeerd beïnvloed of toelaat dat emosies hulle onverstandige besluite laat neem nie. “As kinders wat ouers gehoorsaam”, sal jongmense leer om gehoorsaam te wees, om by vergaderinge kommentaar te lewer en om aan die Christenbediening deel te neem.

Watter uitstekende raad tog! Maar hoe droewig het valse godsdiens gefaal om sulke goeie leiding te gee! Dit verdien om hiervoor veroordeel te word, soos die toespraak “‘Die wettelose mens’ word aan die kaak gestel” gedoen het.

Hierdie raaiselagtige persoon is geïdentifiseer as “’n samegestelde ‘mens’, al die geestelikes van die afvallige Christendom”. “Hedendaagse afvalliges, wat voorheen beweer het dat hulle Getuies is, [maar wat] na die Christendom se leerstellige uitbraaksel [teruggaan] en . . . hulle met die geestelike dronkaards van Babilon die Grote [saamspan] om Jehovah se ‘getroue en verstandige dienskneg’-klas te slaan en aan te val”, skaar hulle nou by die geestelikes, wat reeds berug is vir die feit dat hulle God se knegte vervolg. Die gehoor se applous het getoon dat hulle saamgestem het met die spreker toe hy gesê het: “Ons sal aanhou om Babilon die Grote en haar ‘wettelose mens’ aan die kaak te stel.”

Dit verg moed, veral in ’n tyd wanneer die meeste mense, volgens M. G. Henschel, ’n lid van die Bestuursliggaam, “God die rug toekeer en sy Woord, die Bybel, verwerp”. Hoewel “daar vandag minder respek vir die Bybel as ooit tevore” is, het die Bybel die tyd getrotseer. Die spreker het gesê: “Geen boek wat net deur mense geskryf is, kan sulke diep insig bevat en so konsekwent reg wees nie.” Hy het verder gesê dat “Jehovah se Getuies [toelaat] dat God se Woord ’n kragtige invloed op hulle lewe uitoefen, [en] die gevolglike internasionale broederskap van ware Christene . . . ’n oortuigende bewys [is] dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is”. Die dag het ’n vreugdevolle hoogtepunt bereik toe die nuwe boek Die Bybel—God se Woord of die mens s’n? in etlike tale vrygestel is.

Niedziela w Warszawie (Sondag in Warschau)

Besoekers aan Warschau gaan kyk gewoonlik na ’n gedenkteken wat die plek aandui van die berugte Warschau-Ghetto, waar die Nazi’s gedurende die Tweede Wêreldoorlog honderdduisende Jode wat uitgewis sou word, saamgehok het. Maar net ’n paar minute per motor daarvandaan het 60 366 mense op 13 Augustus die X-Lecia-stadion stampvol gesit om te luister na gedagtes oor “Verloën goddeloosheid en lewe met godvrugtige toegewydheid”, die tema vir Sondag.—Titus 2:12, NW.

’n Lewe van godvrugtige toegewydheid laat natuurlik geen plek vir ’n wêreldse gees van onafhanklikheid nie. Die lewensgetroue drama “Onderwerp julle aan Jehovah”, wat met tipies Poolse geesdrif aangebied is, het die belangrike veranderinge beklemtoon wat Christene moet aanbring om God se goedkeuring te geniet.

’n Lid van die Bestuursliggaam het 1 Korinthiërs 8:6 aangehaal, wat sê: “Tog is daar vir ons maar een God, die Vader.” Hy het gesê dat die Christelike godsdiens se sentrale leerstelling nie, soos baie beweer, die Drie-eenheid is nie, maar dat dit Jehovah se regverdiging deur sy Koninkryk onder Christus is. “Die Drie-eenheidsleer is ’n afwyking van die waarheid, ’n afval daarvan”, het hy verduidelik. Daarom hou mense wat Maria die moeder van God en die Middelares tussen God en mens noem nie ‘vas aan juiste kennis van God’ nie (Romeine 1:28, NW). “Gevolglik moet ’n mens die Drie-eenheidsleer verwerp om God op aanvaarbare wyse te aanbid.” Die vrystelling van ’n brosjure met 32 bladsye, Czy wierzyć w Trójcę? (Moet jy aan die Drie-eenheid glo?) is met applous begroet. Wat ’n voortreflike instrument is dit tog om die valsheid van hierdie godonterende leerstelling te ontbloot!

Daar was geen verlossing vir die slagoffers van die Warschau-Ghetto nie. Maar God se belofte, soos die openbare toespraak verduidelik het, is: “Verlossing is naby vir mense van godvrugtige toegewydheid!” (2 Petrus 2:9, NW). Dit is die geval al is Christene die slagoffers van twee soorte geweld—die alledaagse soort en geweld in die vorm van vervolging. Die spreker het almal aangemoedig om selfondersoek te doen en beklemtoon dat “verlossing . . . slegs vir diegene [is] wat mense van godvrugtige toegewydheid is, diegene wie se toegewydheid eg is, diegene wie se gehoorsaamheid ’n blyk van lojaliteit is”.

Na ’n laaste vermaning: “Wees vurig van gees”, is die byeenkoms afgesluit met ’n aangrypende aanbieding met die tema “Ons volgehoue oefening in godvrugtige toegewydheid is voordelig”. Die byeenkomsgangers het toe hulle nuwe Poolse liedereboeke, wat net ’n paar weke vroeër gedruk is, oopgemaak en saam “’n Dankgebed” gedoen deur lied 45 te sing.

’n Vurige slotgebed het daarop gevolg en toe het dawerende applous in Warschau, Poznan en Chorzów losgebars. In Warschau het die geesdriftige geklap van tienduisende hande meer as 11 minute lank weergalm. Niemand wou weggaan nie, en die staande toejuiging, wat so ’n duidelike blyk was van die vreugde van hierdie groot skare Getuies waarvan baie duisende hulle eerste driedaagse byeenkoms bygewoon het, het op dramatiese wyse hulle dank aan Jehovah en sy organisasie betoon. Dit was soos Psalm 47:2, 3 sê: “Alle volke, klap met die hande; juig tot eer van God met ’n stem van gejubel; want die HERE, die Allerhoogste, is gedug, ’n groot Koning oor die hele aarde.” Toe een van die grootste gebeurtenisse in die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies tot ’n einde gekom het, het daardie opregte broers hulle voorberei om huis toe te reis, met harte wat oorgeloop het van blydskap en ’n vasberadenheid om in ooreenstemming met Jesus se kosbare voorbeeld van godvrugtige toegewydheid meer te doen in die groot Koninkryksgetuienis.

[Venster op bladsy 27]

Nuwe vrystellings spoor tot ‘dade van godvrugtige toegewydheid’ aan

Die nuwe boek Die Bybel—God se Woord of die mens s’n? en die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo? het albei baie betuigings van waardering uitgelok. ’n Suster skryf aangaande die Drie-eenheid-brosjure: “Ek is verbaas, opgewonde en verheug daaroor. Dankie vir al die tyd, energie en werk wat dit geverg het om hierdie puik publikasie te druk.”

’n Ander suster het oor die boek Die Bybel—God se Woord of die mens s’n? geskryf: “Ek wil julle van harte bedank vir hierdie puik nuwe boek. Ek wonder of selfs julle besef watter kunswerk dit is. Ek onderstreep dikwels belangrike woorde. Maar ek is raad-op, want elke enkele woord is belangrik. Ek het nog net hoofstuk 5 klaargemaak, maar ek moes dankie sê.”

[Venster op bladsy 30]

‘’n Geskenk van Jehovah’ vir jongmense

’n Besondere kenmerk van byeenkomste in die Verenigde State en baie ander lande was Vrydagmiddag se sessie, toe jongmense tussen 10 en 19 gevra is om in ’n deel te sit wat vir hulle gehou is. Na ’n spesiale reeks toesprake is elkeen ’n gratis eksemplaar van die nuwe boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk gegee. Sowat 8 840 000 eksemplare is wêreldwyd in 21 tale vrygestel, en honderde waarderingsbriewe is ontvang!

“By vorige byeenkomste is daar toesprake vir jongmense gehou”, skryf een tienderjarige meisie, “maar die effek wat dit gehad het om ons almal bymekaar te laat sit, was ongelooflik.” ’n Ander jeugdige skryf: “Ek het in die deel vir jongmense gesit. Ek was so aangemoedig hierdeur dat ek van toe af aantekeninge maak by vergaderinge, meer studeer en antwoord. Ek oorweeg dit om my volgende somer te laat doop.”

Die ondervinding was vir baie jongmense ’n onvergeetlike gebeurtenis. “Toe die spreker aankondig dat ons in ’n spesiale deel moet sit”, sê een jong meisie, “het ek geweet iets wonderliks sou gebeur. Toe hulle die vrystelling van die boek aangekondig het, was ek so gelukkig dat ek wou huil. Ek het altyd geweet dat julle omgee vir ons jongmense, maar dit het dit in my hart ingeprent. Hierdie boek is net wat ons nodig gehad het!”

“Dit is so goed geskryf”, sê ’n jeugdige genaamd Leah, “en die foto’s is realisties en laat jou regtig dink.” Byeenkomseksemplare van die boek het ’n kort boodskap van die Bestuursliggaam “Aan alle jong Getuies van Jehovah” bevat. “Ek is diep geroer deur daardie spesiale nota”, sê jong Andreá. “Dit voel vir my asof iemand wat deur Jehovah gekies is om by hom in die hemel te leef met my praat!”

Baie het die boek waardeer wat as geskenk gegee is. Een ouer sê: “Ek is tot trane geroer. Broers, vyf van daardie jongmense was myne, tussen 11 en 16 jaar oud. Ek sou net twee boeke kon bekostig.” ’n Jong man, Mark, skryf: “Ek het begin uitwerk hoeveel dit moes gekos het om vir elke jongmens ’n eksemplaar te gee, maar toe besef ek dat die raad daarin van onskatbare waarde is. As die boek net een opstandige jongmens terughelp na die pad wat na die lewe lei, of nog beter, baie van ons help om op daardie pad te bly, was dit al daardie geld werd.”

Baie jongmense het onmiddellik by die boek begin baat vind. “Ek het ons byeenkoms op 7-9 Julie bygewoon”, sê een jeugdige, “en teen Maandag, 10 Julie, het ek dit deurgelees!” ’n Ander het gesê: “Die laaste twee hoofstukke het my werklik aangespoor om my lewe ernstiger op te neem. Ek sou eenmaal gedoop word, maar het van plan verander. Noudat ek hierdie wonderlike publikasie gekry het, besef ek dat ‘die wêreld verbygaan’ en dat ek nou moet optree.”

“Omdat tye verander het”, het een jong meisie geskryf, “het ek altyd gedink dat ouer mense nie geweet het hoe ons voel nie. Julle weet nie hoe bly ek is om te sien dat ek verkeerd is nie. Julle aandag aan ons jongmense laat my voel asof ek tel.” ’n Groep jongmense uit Swede het geskryf: “Ons voel dat julle ons as jongmense verstaan, en ons voel ook baie nader aan julle.”

Een jeugdige het dit goed opgesom toe hy gesê het: “Ek en my broer en suster het baie van die boek gehou. Ons dink dat dit ’n direkte geskenk van Jehovah is.” Dit is ons bede dat hierdie geskenk godvresende jongmense steeds tot seën sal strek.

[Tabel op bladsy 29]

Godvrugtige toegewydheid neem steeds toe in Europa!

Bywoningshoogtepunt by byeenkoms Gedoop by

byeenkoms

1979 1984 1989 1979 1984 1989

BELGIË 23 185 28 456 30 622 234 248 429

BRITTANJE 113 910 137 008 160 704 605 937 1 344

DENEMARKE 21 057 23 267 24 645 122 147 249

DUITSLAND 129 342 140 681 159 819 1 154 1 009 1 694

FINLAND 20 293 23 501 25 679 215 302 329

FRANKRYK 89 073 110 745 156 751 1 361 1 856 3 201

ITALIË 117 163 169 328 240 041 2 515 3 769 6 295

LUXEMBURG 1 141 1 327 3 131 8 12 61

NEDERLAND 36 768 42 060 44 185 126 143 271

NOORWEË 10 327 11 352 13 829 107 159 294

OOSTENRYK 17 847 20 908 25 153 236 257 307

POLE — 94 134a 166 518 — 3 140b 6 093

PORTUGAL 35 108 47 843 59 797 862 1 068 1 546

SPANJE 62 201 84 706 115 981 1 278 1 521 2 935

SWEDE 21 286 25 204 30 943 279 323 410

SWITSERLAND 14 455 17 457 23 867 130 225 349

TOTAAL 713 156 977 977 1281665 9 232 15 116 25 807

[Voetnote]

a Syfers vir 1985

b Syfers vir 1985

[Prent op bladsy 26]

Die vrystelling van die “Drie-eenheid”-bro-sjure was in Warschau ’n bron van vreugde

[Prent op bladsy 31]

Pas toegewyde Getuies in Chorzów streef godvrugtige toegewydheid na deur gedoop te word

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel