Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 3/1 bl. 10-14
  • Streef godvrugtige toegewydheid as gedoopte Christene na

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Streef godvrugtige toegewydheid as gedoopte Christene na
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die betekenis van godvrugtige toegewydheid
  • Kragtige inspanning nodig
  • Kweek godvrugtige toegewydheid aan
  • Voeg by julle volharding godvrugtige toegewydheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Voeg godvrugtige toegewydheid by jou volharding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Volg Jesus se voorbeeld van godvrugtige toegewyheid na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Welkom by die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkomste
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 3/1 bl. 10-14

Streef godvrugtige toegewydheid as gedoopte Christene na

“Jy egter, o mens van God, . . . streef . . . na regverdigheid, godvrugtige toegewydheid.”—1 TIMOTHEÜS 6:11, “NW”.

1. Wat sal jy sê is die belangrikste dag in jou lewe? Waarom sê jy so?

WAT is die belangrikste dag in jou lewe? As jy ’n gedoopte Getuie van Jehovah is, sal jy ongetwyfeld antwoord: ‘Die dag waarop ek gedoop is!’ Ja, doop is beslis ’n uiters belangrike stap in jou lewe. Dit is ’n uiterlike simbool dat jy jou heeltemal en onvoorwaardelik aan Jehovah toegewy het om sy wil te doen. Jou doop dui die dag aan waarop jy as ’n bedienaar van die allerhoogste God, Jehovah, georden is.

2. (a) Hoe kan daar toegelig word dat doop nie die laaste stap in jou Christelike loopbaan is nie? (b) Watter belangrike voorbereidende stappe het jy gedoen voordat jy gedoop is?

2 Maar is doop die laaste stap in jou Christelike loopbaan? Allermins! Ter toeligting: In baie lande is ’n huwelikseremonie die einde van ’n tydperk van beplanning en voorbereiding (en gewoonlik van hofmakery). Dit is terselfdertyd die begin van ’n lewe as getroude paar. Jou doop is insgelyks die hoogtepunt van ’n tydperk van voorbereiding waartydens jy ’n aantal belangrike stappe gedoen het. Jy het kennis van God en Christus opgedoen (Johannes 17:3). Jy het geloof begin beoefen in Jehovah as die ware God, in Christus as jou Redder en in die Bybel as God se Woord (Handelinge 4:12; 1 Thessalonicense 2:13; Hebreërs 11:6). Jy het daardie geloof geopenbaar deur berou te toon oor jou vorige handelwyse en jou tot ’n regverdige weg te bekeer (Handelinge 3:19). Jy het toe besluit dat jy jou aan Jehovah gaan toewy om sy wil te doen (Mattheüs 16:24, vgl. NW). Laastens is jy gedoop.—Mattheüs 28:19.

3. (a) Hoe kan ons toon dat ons doop die begin van ’n lewe van toegewyde diens aan God is? (b) Watter vrae ontstaan, en waarom moet die antwoorde vir ons van groot belang wees?

3 Jou doop is egter nie die einde nie maar die begin van ’n lewe van toegewyde heilige diens aan God. Soos een Bybelkenner gesê het, moet die Christelike lewe nie ‘’n aanvanklike stuiptrekking wees wat deur permanente bewegingloosheid gevolg word nie’. Hoe kan jy dan toon dat jóú doop nie net ‘’n aanvanklike stuiptrekking’ is nie? Deur lewenslank ’n weg van godvrugtige toegewydheid te volg. Wat is hierdie godvrugtige toegewydheid? Waarom moet ’n mens dit nastreef? Hoe kan jy dit in groter mate in jou lewe aankweek? Die antwoorde moet vir ons van groot belang wees, want ons moet mense wees wat deur “dade van godvrugtige toegewydheid” geïdentifiseer word as ons die naderende dag van Jehovah se oordeel wil oorlewe.—2 Petrus 3:11, 12, NW.

Die betekenis van godvrugtige toegewydheid

4. Wat het Paulus Timotheüs aangeraai om te doen, en wat was Timotheüs se omstandighede op daardie tydstip?

4 Die apostel Paulus het êrens tussen 61 en 64 G.J. sy eerste geïnspireerde brief aan die Christendissipel Timotheüs geskryf. Nadat Paulus die gevare beskryf het wat deur geldgierigheid veroorsaak kan word, het hy geskryf: “Jy egter, o mens van God, vlug van hierdie dinge. Streef daarenteen na . . . godvrugtige toegewydheid” (1 Timotheüs 6:9-11, NW). Dit is interessant dat Timotheüs op hierdie tydstip moontlik reeds in sy vroeë dertigerjare was. Hy het die apostel Paulus reeds op talle reise vergesel en is die gesag gegee om opsieners en bedieningsknegte in die gemeentes aan te stel (Handelinge 16:3; 1 Timotheüs 5:22). Tog het Paulus hierdie toegewyde en gedoopte, ryp Christen aangeraai om godvrugtige toegewydheid na te streef.

5. Wat beteken die uitdrukking “godvrugtige toegewydheid”?

5 Wat het Paulus met die uitdrukking “godvrugtige toegewydheid” bedoel? Die oorspronklike Griekse woord (eu·seʹbei·a) kan letterlik vertaal word as “die betoning van groot eerbied”. Ons lees aangaande die betekenis daarvan: “In die destydse inskripsies verskyn eusebeia soms in die sin van persoonlike godsdienstige toegewydheid . . . maar in die alledaagse Grieks van die Romeinse tydperk was die algemener betekenis daarvan ‘lojaliteit’. . . . Vir Christene is eusebeia die mees verhewe toegewydheid aan God” (Christian Words, deur Nigel Turner). Soos gebruik in die Skrif verwys die uitdrukking “godvrugtige toegewydheid” dus na lojale verering van of toegewydheid aan Jehovah God as persoon.

6. Hoe lewer ’n Christen bewys van sy godvrugtige toegewydheid?

6 Hierdie godvrugtige toegewydheid is egter nie net ’n gevoel van vroomheid nie. Net soos ‘geloof sonder werke dood is’, moet godvrugtige toegewydheid ook uitgeleef word (Jakobus 2:26). In New Testament Words het William Barclay geskryf: “[Eu·seʹbei·a en verwante woorde] druk nie net daardie gevoel van ontsag en verering uit nie, maar impliseer ook aanbidding wat by daardie ontsag pas en ’n lewe van daadwerklike gehoorsaamheid wat by daardie verering pas.” Eu·seʹbei·a word ook gedefinieer as “’n baie praktiese bewustheid van God in elke aspek van die lewe” (The Second Epistle General of Peter and the General Epistle of Jude, deur Michael Green). Die Christen moet dus deur die wyse waarop hy sy lewe lei bewys lewer van sy persoonlike gehegtheid aan Jehovah.—1 Timotheüs 2:2, vgl. NW; 2 Petrus 3:11, vgl. NW.

Kragtige inspanning nodig

7. Wat het Paulus bedoel toe hy Timotheüs aangespoor het om godvrugtige toegewydheid ‘na te streef’, hoewel Timotheüs gedoop was?

7 Maar wat behels dit om godvrugtige toegewydheid te ontwikkel en te openbaar? Is dit bloot ’n kwessie van doop? Hou in gedagte dat Timotheüs, hoewel hy gedoop was, aangespoor is om daarna te “streef [letterlik, ‘streef voortdurend na’]”a (1 Timotheüs 6:11, Kingdom Interlinear). Paulus het uiteraard nie te kenne gegee dat dit die dissipel Timotheüs aan godvrugtige toegewydheid ontbreek het nie. Hy het hom eerder daarop attent gemaak hoe belangrik dit is om dit voortdurend met erns en ywer na te streef. (Vergelyk Filippense 3:14, NW.) Dit is duidelik dat dit ’n lewenslange strewe moes wees. Soos alle gedoopte Christene kon Timotheüs aanhou vooruitgang maak in die betoning van godvrugtige toegewydheid.

8. Hoe het Petrus getoon dat ’n toegewyde, gedoopte Christen hom kragtig moet inspan as hy godvrugtige toegewydheid wil nastreef?

8 Kragtige inspanning is nodig as ’n toegewyde, gedoopte Christen godvrugtige toegewydheid wil nastreef. Toe die apostel Petrus geskryf het aan gedoopte Christene wat die vooruitsig gehad het om ‘deelgenote van die goddelike natuur te word’, het hy gesê: “Juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer [“kragsinspanning”, NW] by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug [“godvrugtige toegewydheid”, NW]” (2 Petrus 1:4-6). Dit is duidelik dat ’n mate van geloof nodig is om ons te laat doop. Maar na ons doop kan ons nie net op ons louere rus en met blote vormdiens tevrede wees nie. Ons moet eerder, namate ons vooruitgang maak in ons Christelike lewenswandel, aanhou om ander goeie eienskappe te ontwikkel wat by ons geloof gevoeg kan word, waaronder godvrugtige toegewydheid. Dit, sê Petrus, verg kragtige inspanning van ons kant.

9. (a) Hoe toon die Griekse woord vir ‘byvoeg’ watter mate van inspanning nodig is om godvrugtige toegewydheid te ontwikkel? (b) Wat spoor Petrus ons aan om te doen?

9 Die Griekse woord wat Petrus vir ‘byvoeg’ gebruik (e·pi·kho·re·geʹo), het ’n interessante agtergrond en lig toe in watter mate inspanning nodig is. Dit is afgelei van ’n selfstandige naamwoord (kho·re·gosʹ) wat letterlik “die leier van ’n koor” beteken. Dit het verwys na iemand wat al die onkoste gedra het om ’n koor vir die opvoering van ’n toneelstuk af te rig en te onderhou. Sulke manne het hierdie verantwoordelikheid vrywillig op hulle geneem uit liefde vir hulle stad en het die koste uit hulle eie sak gedek. Dit was die trots van sulke manne om rojaal te spandeer om alles te voorsien wat vir ’n indrukwekkende opvoering nodig was. Die woord het mettertyd die betekenis “om oorvloedig te voorsien, oorvloedig te verskaf” aangeneem. (Vergelyk 2 Petrus 1:11.) Petrus spoor ons dus aan om onsself nie net van ’n mate van godvrugtige toegewydheid te voorsien nie, maar van die groots moontlike betoning van hierdie kosbare eienskap.

10, 11. (a) Waarom is inspanning nodig om godvrugtige toegewydheid aan te kweek en te openbaar? (b) Hoe kan ons die stryd wen?

10 Maar waarom is sulke inspanning nodig om godvrugtige toegewydheid aan te kweek en te openbaar? Vir eers is daar die stryd teen die gevalle vlees. Aangesien “die versinsels van die mens se hart . . . sleg [is] van sy jeug af” is dit nie maklik om ’n lewe van daadwerklike gehoorsaamheid aan God na te streef nie (Genesis 8:21; Romeine 7:21-23). “Almal wat ook [met godvrugtige toegewydheid] wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word”, sê die apostel Paulus (2 Timotheüs 3:12, vgl. NW). Ja, die Christen wat só probeer lewe dat hy God behaag, moet anders as die wêreld wees. Hy het ’n ander stel waardes en ander doelwitte. Soos Jesus gewaarsku het, verwek dit die haat van die goddelose wêreld.—Johannes 15:19; 1 Petrus 4:4.

11 Ons kan nogtans die stryd wen, want “die Here weet om die godsaliges [“mense van godvrugtige toegewydheid”, NW] uit versoeking te verlos” (2 Petrus 2:9). Maar ons moet ook ons deel bydra deur aan te hou om godvrugtige toegewydheid na te streef.

Kweek godvrugtige toegewydheid aan

12. Hoe toon Petrus wat nodig is om godvrugtige toegewydheid in groter mate te ontwikkel?

12 Hoe kan jy hierdie godvrugtige toegewydheid dan in groter mate aankweek? Die apostel Petrus gee ’n leidraad. In 2 Petrus 1:5, 6, waar hy die eienskappe opnoem wat by ons geloof gevoeg moet word, meld hy kennis voor godvrugtige toegewydheid. Vroeër in dieselfde hoofstuk het hy geskryf: “Sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en [godvrugtige toegewydheid] dien, deur die [juiste] kennis van Hom wat ons geroep het” (2 Petrus 1:3, vgl. NW). Petrus koppel dus godvrugtige toegewydheid met juiste kennis van Jehovah.

13. Waarom is juiste kennis noodsaaklik as ons godvrugtige toegewydheid wil ontwikkel?

13 Trouens, sonder juiste kennis is dit onmoontlik om godvrugtige toegewydheid aan te kweek. Waarom? Wel, dink weer aan die feit dat godvrugtige toegewydheid teenoor Jehovah as persoon betoon word en blyk uit hoe ons ons lewe lei. Juiste kennis van Jehovah is dus noodsaaklik, aangesien dit behels dat ons hom persoonlik, intiem leer ken en deeglik vertroud raak met sy eienskappe en handelwyse. Dit behels boonop dat ons hom probeer navolg (Efesiërs 5:1). Hoe verder ons vorder om kennis van Jehovah op te doen en sy handelwyse en eienskappe in ons lewe te weerspieël, hoe beter leer ons hom ken. (2 Korinthiërs 3:18, NW; vergelyk 1 Johannes 2:3-6.) Dit weer het ’n dieper waardering vir Jehovah se kosbare eienskappe, groter godvrugtige toegewydheid, tot gevolg.

14. Wat moet ons persoonlike studieprogram insluit as ons juiste kennis wil opdoen, en waarom?

14 Hoe doen jy sulke juiste kennis op? Daar is geen kortpad nie. As ons juiste kennis wil opdoen, moet ons God se Woord en Bybelse publikasies ywerig bestudeer. Sulke persoonlike studie moet ’n gereelde program van Bybellees insluit, soos dié wat vir die Teokratiese Bedieningskool gereël word (Psalm 1:2). Aangesien die Bybel ’n gawe van Jehovah is, weerspieël die mate waarin ons ons inspan om persoonlike Bybelstudie te doen hoeveel ons daardie gawe waardeer. Wat verraai jou persoonlike studiegewoontes aangaande die diepte van jou waardering vir Jehovah se geestelike voorsienings?—Psalm 119:97.

15, 16. (a) Wat kan ons help om ’n geestelike aptyt vir persoonlike Bybelstudie te ontwikkel? (b) Wat moet ons doen as ons ’n gedeelte uit God se Woord lees en wil hê dat persoonlike Bybelstudie ons moet beweeg om godvrugtige toegewydheid te ontwikkel?

15 Party vind dit weliswaar nie maklik om te lees en te studeer nie. Maar met tyd en inspanning kan jy ’n geestelike aptyt vir persoonlike Bybelstudie ontwikkel (1 Petrus 2:2, vgl. NW). As jy met waardering peins oor alles wat Jehovah God ten behoewe van jou gedoen het, doen en nog gaan doen, sal jou hart jou beweeg om alles wat jy kan aangaande hom te leer.—Psalm 25:4.

16 Maar as jy wil hê dat sulke persoonlike Bybelstudie jou moet beweeg om godvrugtige toegewydheid te ontwikkel, kan jou doelwit nie net wees om bladsye materiaal te dek of jou verstand met informasie te vul nie. Wanneer jy ’n gedeelte uit God se Woord lees, moet jy eerder tyd neem om oor die materiaal na te dink en jou vrae soos die volgende af te vra: ‘Wat leer dit my aangaande Jehovah se liefdevolle eienskappe en handelwyse? Hoe kan ek meer soos Jehovah word in hierdie opsigte?’

17. (a) Wat leer die boek Hosea ons aangaande Jehovah se barmhartigheid? (b) Watter uitwerking behoort bepeinsing oor Jehovah se barmhartigheid op ons te hê?

17 Beskou ’n voorbeeld. ’n Ruk gelede het ons toegewese Skriflesing in die Teokratiese Bedieningskool die boek Hosea gedek. Nadat jy hierdie Bybelboek deurgelees het, kan jy jou afvra: ‘Wat leer hierdie boek my aangaande Jehovah as Persoon—sy eienskappe en handelwyse?’ Die manier waarop latere Bybelskrywers dit gebruik, toon dat die boek Hosea ons baie oor Jehovah se liefdevolle barmhartigheid leer. (Vergelyk Mattheüs 9:13 met Hosea 6:6; Romeine 9:22-26 met Hosea 1:10 en 2:20-22.) Jehovah se gewilligheid om barmhartigheid aan Israel te toon, is toegelig deur Hosea se optrede teenoor sy vrou Gomer (Hosea 1:2; 3:1-5). Hoewel bloedvergieting, diefstal, hoerery en afgodediens hoogty gevier het in Israel het Jehovah ‘tot Israel se hart gespreek’ (Hosea 2:12, 13, vgl. NW vers 14; 4:2). Jehovah was nie verplig om sulke barmhartigheid te toon nie maar sou dit “vrywillig” doen, mits die Israeliete hartgrondige berou getoon en hulle sondige weg verlaat het. (Hosea 14:5; vergelyk Hosea 3:3.) Wanneer jy só oor Jehovah se buitengewone barmhartigheid peins, sal dit jou hart roer en jou persoonlike gehegtheid aan hom versterk.

18. Wat kan jy jou afvra nadat jy gepeins het oor Jehovah se barmhartigheid soos beklemtoon in Hosea?

18 Maar dit is nie al wat nodig is nie. “Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word”, het Jesus gesê (Mattheüs 5:7). Nadat jy gepeins het oor Jehovah se barmhartigheid soos beklemtoon in die boek Hosea moet jy jou dus afvra: ‘Hoe kan ek Jehovah se barmhartigheid beter navolg in my optrede teenoor ander? Vergeef ek “met blymoedigheid” as ’n broer of ’n suster wat teen my gesondig het of my aanstoot gegee het om vergifnis vra?’ (Romeine 12:8; Efesiërs 4:32). Indien jy as aangestelde ouere man in die gemeente dien, kan jy jou afvra: ‘Hoe kan ek, wanneer ek regterlike aangeleenthede hanteer, ’n beter navolger van Jehovah wees, wat “vergewensgesind” is, veral wanneer ’n oortreder werklik bewys dat hy hartgrondige berou het?’ (Psalm 86:5; Spreuke 28:13). ‘Waarna moet ek soek as grondslag om barmhartigheid te toon?’—Vergelyk Hosea 5:4 en 7:14.

19, 20. (a) Wat is die gevolg wanneer Bybelstudie op ’n deeglike manier gedoen word? (b) Wat anders help ons om godvrugtige toegewydheid aan te kweek?

19 Hoe lonend word jou persoonlike Bybelstudie tog wanneer jy dit op so ’n deeglike manier doen! Jou hart sal gevul word met waardering vir Jehovah se kosbare eienskappe. En as jy voortdurend probeer om hierdie eienskappe in jou lewe te openbaar, sal jy jou persoonlike gehegtheid aan hom versterk. Sodoende sal jy as ’n toegewyde, gedoopte kneg van Jehovah godvrugtige toegewydheid nastreef.—1 Timotheüs 6:11, NW.

20 Nog iets wat ons help om hierdie kosbare eienskap aan te kweek, is die voorbeeld van Jesus Christus—die volmaakte model van godvrugtige toegewydheid. Hoe sal dit jou help om godvrugtige toegewydheid aan te kweek en te openbaar as jy Jesus se voorbeeld navolg? Die artikel op bladsy 18 gaan dit en verwante vrae bespreek.

[Voetnote]

a The New International Dictionary of New Testament Theology verduidelik dat die Griekse woord di·oʹko (“nastreef”) in klassieke geskrifte “lett[erlik] beteken om agterna te jaag, te agtervolg, agterna te sit . . . en fig[uurlik] beteken om iets ywerig na te streef, iets te probeer bereik, probeer verkry”.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Waarom is doop nie die laaste stap in jou Christelike loopbaan nie?

◻ Wat beteken “godvrugtige toegewydheid”, en hoe lewer jy bewys daarvan?

◻ Waarom is kragtige inspanning nodig om godvrugtige toegewydheid te ontwikkel?

◻ Hoe kan jy godvrugtige toege-wydheid in groter mate aankweek?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel