Welkom by die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkomste
WAT ’n puik tema het ons vir vanjaar se streekbyeenkoms: “Godvrugtige Toegewydheid”! En wat ’n voortreflike voorbeeld van godvrugtige toegewydheid het Jesus Christus vir ons gestel! Dit is geen wonder nie dat die apostel Paulus geïnspireer is om van hom te skryf: “Ja, die heilige geheim van die godvrugtige toegewydheid is, soos algemeen erken word, groot: ‘Hy is geopenbaar in die vlees, is regverdig verklaar in gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder nasies, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid.’”—1 Timotheüs 3:16, NW.
Ons streekbyeenkoms sal ons versterk om mense van ware godvrugtige toegewydheid te wees, soos Jesus was. Ons moet dus allereers sorg dat absoluut niks ons keer om hierdie geestelike feesmaal te geniet nie. Laat ons gevolglik op die eerste oggend om 9:50 in ons sitplekke wees om na die musikale aanbieding te luister en sodoende in die regte gemoedstemming wees om ten volle baat te vind by die program wat daarop volg. Die tema wat vir die eerste dag gekies is, is “Ons diens aan ’n God wat uitsluitlike toegewydheid vereis”, en is op Exodus 20:5 (NW) gebaseer. Die voorsittersrede is uiters gepas: “Welkom, alle mense van godvrugtige toegewydheid!” Op die eerste dag sal ons ook geestelik opgebou word deur toesprake wat toon waarom Jehovah op godvrugtige toegewydheid aandring en waarom ons die geheim van godvrugtige toegewydheid moet leer. Daar sal ook opwindende inligting verskaf word oor die identiteit van die ware God. Met die oog op die probleme waarmee ons jongmense te kampe het, sal daar ook vir hulle ’n spesiale boodskap wees.
Die tweede dag se tema is “Godvrugtige toegewydheid is ’n groot wins”, wat op 1 Timotheüs 6:6 (NW) gebaseer is. Ons sal in die oggend onderrigting ontvang oor presies wat dit verg om godvrugtige toegewydheid na te streef. En daar sal natuurlik ’n toespraak oor doop wees vir diegene wat gereed is om ’n lewensweg van godvrugtige toegewydheid in te slaan. Daardie middag sal die belangrikheid van lojaliteit aan “die getroue en verstandige dienskneg” by ons ingeprent word, en dan sal ons leer hoe ons dade van godvrugtige toegewydheid in die gesin kan verrig.
“Verloën goddeloosheid en lewe met godvrugtige toegewydheid”, wat uit Titus 2:12 (NW) geneem is, is die tema van die laaste dag. In die oggend sal ons tydige onderrigting kry wat ons waarsku teen “die mens van wetteloosheid” en dwaling op die gebied van voedsel en drank, persoonsversorging en vermaak (2 Thessalonicense 2:3, NAV). Dit sal gevolg word deur ’n hedendaagse drama wat beklemtoon hoe belangrik dit is dat ons ons aan God onderwerp. Die openbare toespraak in die middag sal die goeie nuus bevat dat verlossing vir mense van godvrugtige toegewydheid naby is. Ons geestelike fees sal afsluit met die bespreking: “Ons volgehoue oefening in godvrugtige toegewydheid is voordelig.”
Kom dus voorbereid om die verwysings van die sprekers in jou Bybel te volg en treffende punte uit die toesprake in ’n aantekeningboek neer te stip. As ’n mens aantekeninge maak, is dit ’n groot hulp om te konsentreer en ten volle baat te vind by wat jy hoor. En laat ons nooit die feit oor die hoof sien dat dit baie werk verg om ’n byeenkoms goed en glad te laat verloop en dat baie hande ligte werk maak nie. As ons aanbied om te help, sal ons die groter geluk van mededeelsaamheid smaak.—Handelinge 20:35.
Laat ons godvrugtige toegewydheid ons dus aanspoor om na hierdie byeenkoms te kom en ons beweeg om ten volle daarby baat te vind. Laat ons daar weggaan, versterk en vasbeslote om selfs in groter mate lewens van godvrugtige toegewydheid te lei.