Organisatoriese voorbereiding vir die komende Duisend Jaar
“Hulle . . . sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”—OPENBARING 20:6.
1. Watter toestande sal oor meer as duisend jaar van nou af op aarde heers?
WAT! Bedoel ons dat die mensdom oor meer as duisend jaar van nou af steeds hier op aarde sal wees? Dit is presies wat ons bedoel! Boonop sal die hele mensdom dan volmaak van liggaam, hart en verstand wees—soos die eerste man en vrou aan die begin van die mens se bestaan op hierdie aardbol. Ja, duisend jaar van nou af sal mense die beeld en gelykenis van hulle God en Hersteller weerspieël (Genesis 1:26-30). Hulle sal die lewe ten volle geniet in ’n “tuin van Eden”, ’n paradys van genot, op ’n gereinigde aarde wat nie oorbevolk sal wees met menslike bewoners nie (Genesis 2:15). Al hierdie dinge sal tot stand kom ter vervulling van die Skepper se oorspronklike voorneme met die aarde en diegene wat daarop sou woon. Hierdie pragtige prestasie sal hom regverdig as iemand wat sy liefdevolle belofte nagekom het om die hele mensdom ten spyte van alle teenstand te seën.
2. Hoe het mense wat ongeveer 19 eeue gelede geleef het ’n kykie gekry op hoe die mensdom sal wees nadat hulle tot volmaaktheid verhef is?
2 Daardie geseënde prestasie sal die kroon wees op God se Duisendjarige Heerskappy in die hande van sy verheerlikte Seun, wat meer as 19 eeue gelede as ’n volmaakte mens 33 1/2 jaar op aarde deurgebring het. Ons lees die volgende aangaande sy voorkoms gedurende daardie tyd: “Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid” (Johannes 1:14). In Jesus Christus het die Israeliete dus destyds gesien wat ’n volmaakte menseskepsel is (Lukas 3:23, 38). Ja, 19 eeue gelede het party mense gesien hoe die hele mensdom sal wees nadat hulle in die komende aardse Paradys tot volmaaktheid verhef is.
3, 4. (a) Hoe lank sal Jehovah se heerskappy in die hande van Jesus Christus en die 144 000 in werklikheid duur? (b) Watter uitdrukking word vir daardie tydperk gebruik, en hoe is dit in die titels van sekere Wagtoringpublikasies weerspieël?
3 Daar is voorspel dat Jehovah se Koninkryksheerskappy in die hande van Jesus Christus en sy 144 000 verheerlikte dissipels duisend jaar sal duur. Die bejaarde apostel Johannes het aangaande daardie Duisendjarige Heerskappy geskryf: “Ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”—Openbaring 20:4-6.
4 Aangesien duisend jaar ’n millennium is, word daardie tydperk Christus se Millenniumheerskappy genoem. Diegene wat hierdie Bybelse leerstelling aanvaar en verkondig, word partymaal chiliaste genoem, na aanleiding van die Griekse woord vir “duisend”. Dit is interessant dat die bundels van Studies in the Scriptures (wat vroeër jare deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee is) oorspronklik Millennial Dawn genoem is. En die liedereboek wat eens deur die Internasionale Bybelstudente gebruik is, was getiteld Hymns of the Millennial Dawn.
5. In watter toestand sal Satan en die demone hulle gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus bevind?
5 Die uitdrukking “die duisend jaar” in Openbaring 20:4 is nie simbolies nie, maar slaan op duisend sonjare. Gedurende daardie Millennium sal Satan die Duiwel en sy demonhordes in die afgrond wees, want net voordat die apostel Johannes oor Christus se Duisendjarige Heerskappy gepraat het, het hy gesê: “Ek het ’n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp—die ou slang wat die duiwel en die Satan is—en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ’n kort tydjie ontbind word.”—Openbaring 20:1-3.
6. (a) Watter jaartal het party Rooms-Katolieke aangegee as die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy? (b) Hoe lank sal die kort tydjie van Satan se vrylating uit die bodemlose put reeds geduur het indien Katolieke bewerings waar was?
6 Party Rooms-Katolieke het beweer dat Jesus Christus se Duisendjarige Heerskappy in 1799 geëindig het toe Franse leërs Rome verower en die pous as die heerser daarvan onttroon het, met die gevolg dat hy as ’n gevangene weggevoer is na Frankryk, waar hy gesterf het. Die Katolieke geestelikes het gesê dat Satan en sy demone toe uit “die bodemlose put”, of “die afgrond”, vrygelaat is om hulle verleidende werk vir “’n kort tydjie” te hervat (Openbaring 20:1-3, die Katolieke Douay Version). As dit waar was, sou dit beteken dat die “kort tydjie” reeds 190 jaar duur, sonder dat die einde daarvan in sig is.
7. Wat toon die Bybel oor die tyd en aard van Jesus Christus se Millenniumheerskappy?
7 Maar volgens die Skrif moet die ware Millenniumheerskappy van Jesus Christus nog kom. Die hedendaagse vervulling van Bybelprofesie toon dat dit nou baie naby is. Gedurende die ware Millennium sal Satan en sy demone in die afgrond wees en sal Jesus Christus en sy 144 000 mede-erfgename sonder inmenging deur die Duiwel se organisasie oor die hele mensdom heers. Die ewige seëning van die hele vrygekoopte mensdom sal, ter vervulling van Jehovah se verbond met sy “vriend” Abraham, begin met die “groot menigte”, wat die ongeëwenaarde “verdrukking” sal oorleef waarmee hierdie goddelose stelsel eindig. Dit sal by uitbreiding ook die miljarde mensedode insluit wat deur “die bloed van die Lam”, Jesus Christus, losgekoop is (Jakobus 2:21-23; Openbaring 7:1-17; Genesis 12:3; 22:15-18; Mattheüs 24:21, 22). Te dien einde sal hierdie mense uit hulle doodslaap in die gedenkgrafte tot die lewe op aarde opgewek word.—Johannes 5:28, 29.
’n Christelike organisasie
8. Watter organisasie is in die boek The New Creation beskryf, maar watter organisatoriese werk het dit nie in die vooruitsig gestel nie?
8 Gedurende die vervulling van die goddelike voorneme het ’n nuwe organisasie daardie seëninge met eeue voorafgegaan. Ons lees aangaande daardie organisasie: “Indien iemand . . . in eendrag met Christus is, dan is hy ’n nuwe skepping.” “Nòg besnydenis nòg onbesnedenheid is iets, maar ’n nuwe skepping [“’n nuwe skepsel”, AB] is iets” (2 Korinthiërs 5:17, NW; Galasiërs 6:15, NW). Reeds in 1904 het die boek The New Creation die aandag gevestig op hierdie nuwe organisasie wat in die eerste eeu G.J. tot stand gekom het (Studies in the Scriptures, Boek VI, Studie V, getiteld “Die organisasie van die nuwe skepping”). Weens daardie boek se beskouing van wat die einde van die Heidense Tye in 1914 sou beteken, het dit nie die merkwaardige organisatoriese werk in die vooruitsig gestel wat na die verlammende uitwerking van die eerste wêreldoorlog in die mensegeskiedenis gedoen moes word nie.—Lukas 21:24, King James Version.
9. Watter uitdaging het die oorblyfsel van die nuwe skepping aanvaar?
9 Die feit dat die oorblyfsel van die geestelike nuwe skepping tot aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918 behoue gebly het en tot in die naoorlogse jaar 1919 op aarde bly leef het, was ’n wonderlike verrassing. Maar millenniumtoestande het nog nie geheers nie. Daar was dus blykbaar meer werk wat die oorblyfsel van die nuwe skepping op aarde moes doen voordat hulle hul hemelse hoop om saam met Jesus Christus aan die millenniumwerk deel te neem, sou verwesenlik. Die verlewendiging en reorganisasie van die oorblyfsel was dus van die allergrootste belang. Gevolglik het hulle met onwrikbare geloof en gretigheid vir die opwindende werk wat voorgelê het die uitdaging aanvaar.
10. Watter vrae het ontstaan aangaande die miljoene wat na verwagting tot in die nuwe stelsel van dinge behoue sal bly?
10 Die gesalfde oorblyfsel het verwag dat party mense deur hierdie goddelose stelsel se katastrofiese einde tot in Jesus Christus se Millenniumheerskappy op aarde behoue sal bly. Dit was veral die geval nadat die openbare toespraak “Miljoene wat nou lewe, sal nooit sterwe nie” in die oorlogsjaar 1918 in Los Angeles, Kalifornië, gehou is. Sou hierdie miljoene toekomstige Armageddon-oorlewendes georganiseer word? (Openbaring 16:14-16). Sou hulle, voordat hulle die Millennium binnegelei word om ’n deel van die “nuwe aarde” te word, saam met die oorblyfsel die Koninkrykspredikingswerk doen? (2 Petrus 3:13). Hierdie vrae sou deur naoorlogse ontwikkelinge beantwoord word.
11. (a) Wat sou met die ander skape gedoen moes word wat een kudde met die oorblyfsel sou word? (b) Waarom was ’n verskil in hulle hoop geen rede vir tweespalt tussen die oorblyfsel en die ander skape nie?
11 Die volgende woorde van die Goeie Herder, Jesus Christus, het heel gepas groter betekenis begin aanneem: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder” (Johannes 10:16). Wat sou nodig wees aangesien die gesalfde oorblyfsel georganiseer moes word vir die naoorlogse werk sedert 1919 en aangesien die ander skape later een kudde met die oorblyfsel in hierdie stal sou word? Wel, daardie ander skape sou saam met daardie oorblyfsel georganiseer moes word! Die feit dat die ander skape ’n ander hoop gehad het—naamlik die lewe op ’n aardse paradys van genot—was geen rede vir tweespalt tussen hulle en die oorblyfsel nie. Almal het net die een Herder gevolg, en daar sou geen skeiding tussen die twee groepe wees totdat die gesalfde oorblyfsel in die Koninkryk verheerlik word nie.
12. (a) Wat is baie belangriker as die redding van die mensdom? (b) Wanneer en waarom het dit van die allergrootste belang geword om die Koninkryk te adverteer?
12 Mense se redding van sonde en die dood, die einde van oorheersing deur Satan se wêreld en die herstelling van die gehoorsame mensdom tot die Paradys wat weer wêreldwyd opgerig sal wees, is besondere kenmerke van Jehovah se liefdevolle voorneme. Maar daar is iets wat baie belangriker vir die ganse heelal is. Wat is dit? Dit is die regverdiging van Jehovah God se universele soewereiniteit tesame met die heiliging van sy verhewe naam. In 1922 is daar tydens die Internasionale Bybelstudente se tweede byeenkoms te Cedar Point, Ohio, beklemtoon hoe tydig dit is om Jehovah se Koninkryk in die hande van sy regerende Koning, Jesus Christus, te adverteer. Aangesien die Heidense Tye in 1914 geëindig het, was dit die gepaste tyd om Jesus se profetiese woorde uit te voer: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Die Koninkryk wat Jehovah se universele soewereiniteit sou regverdig en sy verhewe naam sou heilig, is in 1914 in die hemel opgerig, en Jesus Christus het te midde van sy vyande geregeer. Dít was die wonderlike goeie nuus wat verkondig moes word met elke beskikbare middel om die Koning en sy Koninkryk te adverteer!
13. Wat het God voorsien vir die werk om die Koninkryk te verkondig, en waarom?
13 Jehovah is ’n organiseerder op universele skaal, want hy is die Allerhoogste, die Opperwese. Hy het nou toegesien dat die werk om sy Koninkryk internasionaal te verkondig voor die einde van hierdie stelsel kom, deeglik hier op aarde georganiseer word. Lede van die oorlewende oorblyfsel gesalfdes is dus tot ’n internasionale organisasie saamgesmee om sy wil uit te voer. Hulle moet aan die wêreld verkondig dat die werklikheid sowel as die regmatigheid van Jehovah se universele soewereiniteit eens en vir altyd geregverdig en in die gelyk gestel moet word, aangesien Satan daardie soewereiniteit betwis het.
Organisasie wat die millennium voorafgaan
14. (a) Watter organisasie het voor ons Gewone Jaartelling die aardse deel van Jehovah se universele organisasie geword? (b) Hoe het Dawid getoon dat hy ’n besondere organiseerder was?
14 Voor ons Gewone Jaartelling het Jehovah God 15 eeue lank ’n sigbare organisasie op aarde gehad. Hy het die profeet Moses as Sy middelaar gebruik om die nasie Israel na hulle verlossing uit Egipte, die eerste wêreldryk van Bybelgeskiedenis, te organiseer. Onder die Mosaïese Wet het Israel die sigbare deel van Jehovah se universele organisasie geword. Die herder-koning Dawid was ’n besondere organiseerder onder hierdie uitverkore volk van God, en aangaande hom lees ons: “Dawid het hulle [die Leviete wat by Jehovah se heiligdom gedien het] in afdelings georganiseer, wat genoem is na Gerson, Kehat en Merari, die seuns van Levi.” “Hy het hulle [die priesters] georganiseer deur onder hulle te loot, want daar was heilige amptenare en amptenare van God in die geslag van Eleasar en in dié van Itamar.”—1 Kronieke 23:3, 6; 24:1, 5, The New English Bible.
15. (a) Op watter manier het die Israeliete uit Egipte vertrek? (b) Wie het ook gekies om Egipte te verlaat, en het hulle by die Israeliete gebly?
15 Toe die Israeliete honderde jare voor Dawid se tyd Egipte verlaat het, het hulle nie in ’n dolle oormekaarvallery uitgestorm nie, maar op ’n ordelike wyse vertrek. Dit was ’n aanduiding van goeie organisatoriese werk deur hulle middelaar, Moses. ’n Groot menigte nie-Israeliete het saam met hulle getrek en gekies om aan te sluit by die volk van die God wat wonderwerke kon verrig, Jehovah, wat magtiger as al die gode van Egipte was. Ondanks baie ontberinge was hierdie “menigte mense van gemengde bloed” wat welwillendheid aan Jehovah se uitverkore volk betoon het ’n ruk later steeds saam met hulle in die ontsagwekkende wildernis van Sinai (Exodus 12:37-51; Numeri 11:4). Blykbaar het daardie gemengde skare saam met die Israeliete die Beloofde Land onder aanvoering van Moses se opvolger, Josua, ingegaan, want God het verorden dat voorsiening vir sulke vreemdelinge aldaar gemaak moes word.
16. (a) Wie is deur die menigte mense van gemengde bloed afgeskadu? (b) Wat moet hierdie persone doen om hierdie stelsel se einde te oorleef?
16 Daardie menigte mense van gemengde bloed uit faraoniese Egipte het ’n groot menigte van die 20ste eeu afgeskadu. Hulle is nie geestelike Israeliete nie, maar is ander skape van die Goeie Herder, Jesus Christus. Hulle sien saam met die gesalfde oorblyfsel uit na algehele verlossing uit antitipiese Egipte, die wêreldstelsel van dinge waarvan die Grotere Farao, Satan die Duiwel, die god is (Johannes 10:16; 2 Korinthiërs 4:4; Openbaring 7:9). Maar wat moet hulle doen om die gewelddadige vernietiging van Satan se ou wêreld te oorleef en die beloofde nuwe wêreld onder aanvoering van die Grotere Josua, Jesus Christus, binne te gaan? (2 Petrus 3:13). Hulle moet hul hou aan die organisatoriese reëlings van die kern van Jehovah se sigbare organisasie, die gesalfde oorblyfsel.
17. Hoe tree die lede van die groot menigte op in hierdie gedisorganiseerde wêreld, en waarna sien hulle uit?
17 Die groot menigte ander skape word veral sedert die middel van die vierde dekade van die 20ste eeu in die georganiseerde een kudde onder die verheerlikte een Herder, die heersende Koning, Jesus Christus, ingebring. In ’n wêreld wat ten spyte van die bestaan van die Verenigde Volke-Organisasie al hoe meer gedisorganiseerd raak, ondersteun die lede van hierdie groot menigte die gesalfde oorblyfsel heelhartig en gee hulle sodoende blyk van die verenigende krag van Jehovah se heilige gees. Met vasberadenheid bly hulle saam met die oorblyfsel georganiseerd terwyl hulle uitsien na spesiale diens op aarde gedurende Jesus Christus se Duisendjarige Heerskappy.
Wat dink jy?
◻ Wat toon die Skrif oor die tyd en aard van Jesus Christus se Millenniumheerskappy?
◻ Wat is baie belangriker as die redding van die mensdom?
◻ Watter organisasie het voor ons Gewone Jaartelling die aardse deel van Jehovah se universele organisasie geword?
◻ Hoe bly diegene wat deur die menigte mense van gemengde bloed afgeskadu is behoue tot in die Duisendjarige Heerskappy?