Koninkryksverkondigers berig
‘Die begeerlike dinge kom in’
DIE profeet Haggai het hierdie woorde in 520 v.G.J neergeskryf: “‘En ek sal al die nasies skud, en die begeerlike dinge van alle nasies moet inkom; en ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul’, het Jehovah van die leërskare gesê” (Haggai 2:7, NW). “Die begeerlike dinge” van al die nasies wat Jehovah se huis met heerlikheid vervul, is sy godvresende aanbidders. Sulke opregtes van hart gee gehoor aan die goeie nuus in Italië, sodat daar nou in daardie nasie 166 000 Getuies is wat mense die Bybel leer. Die Katolieke geestelikes in Italië beskou ons uitsonderlike groei as ’n “al hoe onrusbarender verskynsel” wat hulle “kwel en ontstel”. Laat een soeker na waarheid aldaar vertel wat met haar gebeur het.
“Ek was tien jaar lank ’n sendinghelpster, en ek was oortuig dat dit die manier was om uiting te gee aan my liefde vir God en my naaste. Hoewel ek ’n vriendin gehad het wat een van Jehovah se Getuies was, het ek nooit na die Bybel se boodskap geluister nie. Toe die Getuies my egter ’n tyd gelede besoek het, het ek hulle binnegenooi. Ek wou vir hulle sê dat hulle nie weer my skoonmoeder moet besoek nie, omdat sy verward was. ‘Praat met mense soos ek pleks van bejaardes te besoek’, het ek vir hulle gesê. Daarna het hulle gereeld na my huis toe gekom, maar elke keer wanneer hulle ’n leerstellige onderwerp aangeroer het, het ek hulle gevra om die gesprek tot later uit te stel sodat ek die onderwerp kon navors.
“Ek het met etlike priesters gepraat en opgelet dat hulle nie ’n Bybelantwoord het nie. Een van hulle, ’n sendeling, het vir my gesê dat dit nie regtig so belangrik is om die Mis by te woon nie. ‘In lande soos Brasilië’, het hy gesê, ‘doen mense immers ander dinge pleks van die Mis by te woon. Die belangrike ding is om God na jou beste vermoë te dien.’ Hierdie woorde het my die krag gegee om my verbintenis met die Katolieke Kerk te verbreek. ’n Ander priester het vir my man, wat ook ’n Katoliek was, gesê dat hy my nie moet keer as ek een van Jehovah se Getuies wil word nie, want Jehovah se Getuies het net een fout, en dit is dat hulle te ywerig is. Ek is onlangs saam met een van my seuns gedoop. My man is ook besig om die Bybel te bestudeer, en hy toon belangstelling in die Koninkryksboodskap.”
Namate Jehovah die nasies skud deur sy oordele op die aarde te laat verkondig, laat vaar talle regskape mense hul oneerlike gebruike sodat hulle Bybelbeginsels kan naleef. Voordat hy die waarheid geleer het, het een Italianer homself diep in die skuld gedompel, omdat hy gereken het dat hy sy skuld kon terugbetaal met sy gewone salaris en die oneerlike “fooitjies” wat hy ontvang het. Toe hy kennis van die waarheid opgedoen het, het hy ’n moeilike besluit geneem en opgehou om oneerlike “fooitjies” te aanvaar. Hy en sy vrou is gedoop en het dadelik die voltydse bediening betree. In die hospitaal waar hy werk, moet hy baie keer lyke ontklee, en hy het dikwels groot somme geld aan hulle gevind. Hy het byvoorbeeld eenkeer 150 000 lire (ongeveer R290) gevind, en ’n ander keer 600 000 lire (ongeveer R1 160). Omdat hy eerlik is, het hy die geld teruggegee, en dit het hom die geleentheid gebied om met die hospitaaladministrasie en die dokters oor die waarheid te praat. Die hospitaaladministrasie het lofbriewe aan hom gestuur weens sy eerlike en verantwoordelike gedrag.
Hierdie ondervindinge uit Italië is slegs enkele voorbeelde van hoe “die begeerlike dinge” hierdie bose, gewelddadige stelsel verlaat en na Jehovah se rein, vredeliewende organisasie kom voordat hy Satan se politieke stelsel finaal by Armageddon vernietig.