Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 9/1 bl. 18-22
  • Volgehoue organisasie vir oorlewing tot in die Millennium

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Volgehoue organisasie vir oorlewing tot in die Millennium
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oorlewing tot in die Millennium
  • Organisatoriese voorbereiding vir die komende Duisend Jaar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • ’n Groot menigte ware aanbidders—Waar kom hulle vandaan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Reageer nou op die „teken”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Deel in “die vreugde” van die “Vredevors”
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 9/1 bl. 18-22

Volgehoue organisasie vir oorlewing tot in die Millennium

“Dit sal wees een kudde, een herder.”—JOHANNES 10:16.

1. Soos wat is duisend jaar vir die ewig lewende God?

JEHOVAH is die Skepper van tyd vir die mensdom. En vir hom, die onsterflike God wat van ewigheid tot ewigheid is, is duisend jaar maar soos ’n vinnig verbygaande dag of selfs ’n blote waak gedurende een van ons nagte.—Psalm 90:4; 2 Petrus 3:8.

2. Watter tydperk het Jehovah opsygesit om die hele mensdom te seën?

2 God het ’n simboliese dag van duisend jaar bepaal waartydens hy al die geslagte van die aarde sal seën (Genesis 12:3; 22:17, 18; Handelinge 17:31). Dit sluit die in wat reeds dood is sowel as die wat nog lewe. Hoe gaan God dit doen? Deur middel van Sy Koninkryk in die hande van Jesus Christus, die “saad” van Sy simboliese vrou!—Genesis 3:15.

3. (a) Hoe is die Saad van God se vrou in sy hakskeen gebyt, maar hoe is daardie wond genees? (b) Wat sal Jesus Christus aan die einde van sy Duisendjarige Heerskappy met die simboliese slang doen?

3 Die Saad van God se vrou (of hemelse organisasie) is in sy simboliese hakskeen gebyt toe Jesus Christus in die jaar 33 van ons Gewone Jaartelling ’n marteldood gesterf het en dele van drie dae dood was. Maar op die derde dag het die almagtige God, die Groot Lewegewer, daardie wond genees deur sy lojale Seun tot onsterflike lewe in die geesteryk op te wek (1 Petrus 3:18, NW). Aangesien Jesus nooit weer sal sterf nie, is hy in ’n posisie om duisend jaar lank as Koning oor die mensdom te regeer en om die kop van die simboliese slang te “vermorsel” en hom na afloop van die Duisendjarige Heerskappy geheel en al te vernietig. Wat ’n seën sal dit tog vir die getroue herstelde mensdom wees!

4. Watter soort program voer God onder sy volk uit?

4 Gedurende hierdie “voleinding van die stelsel van dinge” sedert die einde van die Heidense Tye in 1914 word heelwat organisasiewerk in alle wêrelddele onder Jehovah se volk gedoen (Mattheüs 24:3, NW; Lukas 21:24, King James Version). Hierdie organisatoriese program wat die Millennium voorafgaan, word ooreenkomstig die wil van die Groot Organiseerder, Jehovah God, en onder sy leiding, uitgevoer. Deur middel van sy vrou, sy gemalin- hemelse organisasie, het die geboorte van sy beloofde Koninkryk in die hande van Jesus Christus in 1914 plaasgevind, soos die vervulling van Bybelprofesie bevestig.

5. Wat sou volgens Openbaring 12:5 gebore word, en wanneer is dit vir die eerste keer in The Watch Tower verduidelik?

5 Sodoende is die woorde in Openbaring 12:5 op glorieryke wyse vervul: “Sy het ’n manlike kind gebaar, wat al die nasies met ’n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon.” Die geboorte van Jehovah se Koninkryk in die hande van Christus, soos afgebeeld deur die pasgebore kind van God se vrou, is vir die eerste keer in The Watch Tower van 1 Maart 1925 verduidelik. Die geboorte van hierdie Messiaanse Koninkryk in die hemel in 1914 is nie dieselfde as die geboorte van die “nasie” van Sion se “kinders” op aarde in 1919 nie.—Jesaja 66:7, 8.

6. (a) Watter werk wat deur Jesus voorspel is, moes na die geboorte van die Koninkryk begin word? (b) Wat was nodig vir Jehovah se volk om hierdie werk te kon uitvoer, en watter soort front vorm hulle nou?

6 Die geboorte van Jehovah se Koninkryk waardeur hy sy regmatige soewereiniteit oor die ganse heelal sal regverdig—a, dít was iets wat so belangrik was dat dit dwarsdeur die aarde geadverteer moes word! En dit was die tyd vir die vervulling van Jesus se volgende woorde aangaande bewyse van sy onsigbare “teenwoordigheid”: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:3, 14, vgl. NW). Verenigde, harmonieuse prediking op ’n internasionale, aardwye skaal sou inderdaad vereis dat die sigbare deel van Jehovah se universele organisasie georganiseer word. Die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, soos verteenwoordig deur sy destydse president, J. F. Rutherford, was ten gunste hiervan. Sedert die naoorlogse jaar 1919 is die organisasiewerk onder die Genootskap se lojale ondersteuners as ’n herstelde nasie dus met vasberadenheid voortgesit, en dit het gepaard gegaan met gebede om die leiding en seën van die Opperorganiseerder, Jehovah God. Te midde van die Tweede Wêreldoorlog het Jehovah se Getuies, ondanks bitter teenstand deur die Fasciste, die Hitleriaanse Nazi-beweging sowel as Katolieke Aksie, wêreldwyd ’n verenigde front teen die vyandige wêreld gevorm.

7. (a) Slegs as hulle watter verhouding met mekaar behou, kan Jehovah se volk verwag om die groot verdrukking te oorlewe? (b) Hoe het die Vloedoorlewendes deur die wêreldvloed heen behoue gebly, en wie het hulle afgebeeld?

7 Net Jehovah se Getuies, die lede van die gesalfde oorblyfsel en die “groot menigte”, het as ’n verenigde organisasie onder die beskerming van die Opperorganiseerder enige skriftuurlike hoop om die dreigende einde van hierdie gedoemde stelsel wat deur Satan die Duiwel oorheers word te oorlewe (Openbaring 7:9-17; 2 Korinthiërs 4:4). Hulle sal die “vlees” uitmaak wat Jesus Christus gesê het deur die ergste verdrukking in die hele mensegeskiedenis heen gered sou word. Soos dit in die dae van Noag was, het Jesus gesê, so sou dit wees in die dag wanneer Hy geopenbaar sal word. Binne-in die ark, wat deur baie jare se georganiseerde inspanning voltooi is, het net agt mensesiele die wêreldvloed oorleef. Hulle het dit as ’n verenigde familiegroep oorleef (Mattheüs 24:22, 37-39; Lukas 17:26-30). Noag se vrou kom met die bruid van Christus ooreen, en sy seuns en skoondogters met Jesus se hedendaagse “ander skape”, wat ’n toenemende groot menigte gevorm het waarvan die uiteindelike ledetal tans vir ons onbekend is (Johannes 10:16). As hulle onder aanvoering van die grotere Noag, Jesus Christus, tot in die Millennium behoue wil bly, moet hulle georganiseerd bly saam met die gesalfde oorblyfsel, “die uitverkorenes” ter wille van wie die dae van die “groot verdrukking” verkort sal word.—Mattheüs 24:21, 22.

Oorlewing tot in die Millennium

8. Watter illustrasie het Jesus ter afsluiting van sy profesie oor sy teenwoordigheid vertel, en waarom was die datum 1 Junie 1935 belangrik om dit te verstaan?

8 Volgens Mattheüs se Evangelie het Jesus sy profesie oor die teken van sy teenwoordigheid met ’n illustrasie afgesluit. Dit staan algemeen as die gelykenis van die skape en die bokke bekend en is nou, gedurende die voleinding van hierdie stelsel van dinge wat aan die einde van die Heidense Tye in 1914 begin het, van toepassing (Mattheüs 25:31-46). Saterdag, 1 Junie 1935, was ’n betekenisvolle datum om te kon verstaan dat die skape van hierdie gelykenis lede van die groot menigte is. Op daardie dag is 840 individue by ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in Washington, DC, gedoop as simbool van hulle toewyding aan Jehovah God deur Jesus Christus. Die meeste van hulle het hierdie stap gedoen in onmiddellike reaksie op ’n toespraak oor Openbaring 7:9-17 wat deur J. F. Rutherford gehou is. Dit was hulle begeerte om ’n deel te word van die groot menigte van die Goeie Herder se ander skape, wat die geleentheid het om die komende groot verdrukking te oorlewe en reg deur hierdie stelsel se einde en tot in die Millenniumheerskappy van die Herder-Koning, Jesus Christus, te bly lewe. Hulle sal uiteindelik die ewige lewe op ’n paradysaarde verkry.—Mattheüs 25:46; Lukas 23:43, vgl. NW.

9. Waarom word die skape genooi om ‘die koninkryk te beërf wat vir hulle berei is’, en waarom is hulle in die beste posisie om goed te doen aan die Koning se broers?

9 Waarom word hierdie “skape” genooi om ‘die koninkryk te beërf wat vir hulle berei is van die grondlegging van die wêreld af’? Die Koning sê vir hulle dit is omdat hulle goed gedoen het aan sy “broeders” en dit sodoende aan hom gedoen het. Met die woord “broeders” bedoel die Koning die oorblyfsel van sy geestelike broers wat gedurende hierdie voleinding van die stelsel van dinge steeds op aarde is. Aangesien hulle een kudde met hierdie broers van die Herder-Koning, Jesus Christus, geword het, sal hulle so nou moontlik met die oorblyfsel van hierdie broers omgaan en dus in die beste posisie wees om goed te doen aan hulle. Hulle sal Jesus se broers selfs materieel help om die boodskap van die opgerigte Koninkryk wêreldwyd te verkondig voor die einde kom. Te dien einde koester die skape hulle voorreg om saam met die oorblyfsel as die een kudde van die een Herder georganiseerd te bly.

10. Wat beteken dit vir die skape om ‘die koninkryk te beërf wat vir hulle berei is van die grondlegging van die wêreld af’?

10 Die feit dat hierdie skape ‘die koninkryk beërf wat vir hulle berei is’, beteken nie dat hulle duisend jaar lank saam met Jesus Christus en sy broers in die hemel sal heers nie. Die skape sal eerder reg van die begin van die Millennium af die aardse gebied van die Koninkryk beërf. Aangesien hulle nakomelinge van Adam en Eva is, is hierdie aardse gebied wat oorgeneem sal word deur God se Koninkryk in die hande van Christus “van die grondlegging van die wêreld” van die afkoopbare mensdom af vir hulle berei. En omdat die skape die aardse kinders van die Koning en hy hulle “ewige Vader” word, beërf hulle ’n aardse gebied, of sfeer, onder God se Koninkryk.—Jesaja 9:5, 6.

11. Hoe toon die skape dat hulle die Koninkryk steun, en watter seën ontvang hulle weens hierdie optrede?

11 In teenstelling met die simboliese bokke toon die “skape” baie duidelik dat hulle die Koninkryk steun. Hoe? Deur dade, nie blote woorde nie. Weens die Koning se onsigbaarheid in die hemele kan hulle nie direk goed doen aan hom tot steun van sy Koninkryk nie. Daarom doen hulle goed aan sy geestelike broers wat nog op aarde is. Hoewel dit haat, teenstand en vervolging deur die bokke meebring, sê die Koning vir die skape dat hulle vir sulke goeie dade ‘deur sy Vader geseën word’.

12. Wie sal deur die oorlewende skape terugverwelkom word, en watter siening het lede van die oorblyfsel in hierdie verband gehad?

12 Die groot menigte skaapgeaardes wat weldoeners van die Koning se geestelike broers was, sal geseën word met die vreugdevolle voorreg om tot in die Millennium behoue te bly. Mettertyd sal hulle help om die mensedode wat in die gedenkgrafte is terug te verwelkom (Johannes 5:28, 29, vgl. NW; 11:23-25). Hierdie verresenes sal die getroue aartsvaders en profete insluit wat baie gely en veel verduur het vir die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit sodat hulle “’n beter opstanding”, moontlik ’n vroeër opstanding, kon verkry (Hebreërs 11:35). Johannes die Doper sal onder hierdie verrese geloofsmanne en -vroue tel, waarvan sommige in Hebreërs hoofstuk 11 gemeld word (Mattheüs 11:11). Party van die gesalfde oorblyfsel het gedink dat hulle behoue sal bly en sal voortleef om sulke verrese getroues wat voor Pinkster 33 G.J. gesterf het terug te verwelkom. Sal die gesalfdes hierdie voorreg hê?

13. Waarom sal dit nie nodig wees dat die oorblyfsel teenwoordig moet wees om diegene wat op aarde opgewek is te verwelkom en te versorg nie?

13 Dit sal nie nodig wees nie. Daar sal genoeg van die groot menigte verdrukking-oorlewendes wees om die situasie te hanteer en die verresenes vertroud te maak met die “nuwe aarde” onder die “nuwe hemele” (2 Petrus 3:13). Die groot menigte word nou reeds hiervoor georganiseer. Vandag, noudat verslae toon dat daar minder as 9 000 van Jesus se geestelike broers op aarde oor is, sal die oorlewendes onder hulle in elk geval te min wees om na al die voorbereidingswerk om te sien wat die algemene opstanding sal voorafgaan (Esegiël 39:8-16, vgl. NW). Dit is dus hier waar die groot menigte, wat miljoene tel, baie nuttig sal wees. En hulle sal ongetwyfeld so ’n voorreg ontvang.

14. (a) Waarvoor word talle van die groot menigte opgelei, en waarom moet party van hulle nou groter verantwoordelikhede aanvaar? (b) Watter gebeure moet binnekort plaasvind, en watter werk lê vir die ander skape voor?

14 Talle van die groot menigte word reeds opgelei in gemeentelike verantwoordelikhede en deur bouprogramme wat God se organisasie dwarsdeur die aarde onderneem. En dit is bemoedigend om te sien hoe al hoe meer geestelik ryp manne van die groot menigte groter verantwoordelikheid gegee word in die organisasie wat Jehovah tans op aarde laat funksioneer. Die gesalfdes wat nog lewe, is al redelik bejaard en kan nie meer die las alleen dra nie. Hierdie broers van die Koning verwelkom die liefdevolle organisatoriese bystand wat geestelik bekwame ouere manne en bedieningsknegte van die ander skape kan verleen. Binnekort sal Babilon die Grote van die aardse toneel verwyder wees. Dan sal die Lam se huwelik met sy bruid, al 144 000 gesalfdes, in die hemele voltrek word, soos Openbaring 19:1-8 toon, en sal die ander skape, wat as ’n nuwe aarde onder die nuwe hemele sal dien, die Koning verteenwoordig in die uitvoering van die groot herstellingswerk totdat die hele aarde ’n bewoonde paradys is wat Jehovah tot lof strek.—Jesaja 65:17; vergelyk Jesaja 61:4-6.

15. Watter Millenniumvooruitsigte het die groot menigte?

15 Gedurende Christus se Millenniumheerskappy, wanneer die vrygekoopte dode van die mensdom opgewek word, sal die oorlewende groot menigte baie groot en vername voorregte geniet. Hulle sal dan seuns en dogters van die Koning word. Dit sal vir sulke seuns in hulle geledere moontlik wees om vorste te wees, net soos koning Dawid se seuns vorste met verskeie verantwoordelikhede was.a Dit herinner ons aan Psalm 45, wat met verwysing na Jehovah se gesalfde “Koning” geskryf is.

16. Tot wie is Psalm 45 in werklikheid gerig, en hoe kan dit bewys word?

16 Tot watter koning is Psalm 45 in werklikheid gerig? Tot Jesus Christus, natuurlik! Hebreërs 1:9 maak daardie toepassing deur Psalm 45:7 (NW) aan te haal, wat lees: “U het regverdigheid liefgehad en u haat goddeloosheid. Daarom het God, u God, u gesalf met die olie van uitbundige vreugde, meer as u deelgenote.” Dit is dus in werklikheid vir die verheerlikte Jesus Christus wat Psalm 45:17 sê: “In die plek van u vaders sal u seuns wees; U sal hulle aanstel as vorste in die hele land [“aarde”, NW].”

17. Waarin en in wie stel die Koning, Jesus Christus, veral belang?

17 Jesus stel met reg meer belang in sy toekoms as heersende Koning as in sy aardse verlede. Hy vergeet natuurlik nie daardie verlede nie en veral nie sy mensevoorvaders wat betrokke was by Jehovah se belofte om alle geslagte deur middel van die Abrahamitiese Saad te seën nie. Maar nou is die onmiddellike toekoms volgens die voorneme van die Koningmaker, Jehovah God, vir hom die belangrikste. Gevolglik sal Jesus se aardse kinders, veral die seuns onder hulle wat aan die vereistes voldoen om onder hom in vorstelike ampte te dien, sy aandag geniet—selfs meer as sy aardse voorvaders.

18. Hoe beklemtoon sekere vertalings van Psalm 45:17 Jesus se groter belangstelling in vorstelike seuns as in sy aardse voorvaders?

18 Jesus se groter belangstelling in vorstelike seuns as in voorvaders word deur verskeie Bybelvertalings beklemtoon. Hier is voorbeelde van hoe party van hulle Psalm 45:17 weergee: “U seuns sal u vaders se plek inneem, en opstaan om vorste oor die hele land te wees” (Vers 16, Moffatt). “U seuns sal die plek van u vaders hê; u sal hulle vorste maak dwarsdeur die land” (The New American Bible). “In plaas van u vaders word kinders vir u gebore: u sal hulle vorste maak oor die hele aarde.”—Vers 16, The Septuagint Version, uitgegee deur Samuel Bagster en Seuns.

19. Watter gemeentelike verantwoordelikheid het sekere manne van die groot menigte tans, en in watter posisie sal die Koning, Jesus Christus, hulle dalk gedurende sy Duisendjarige Heerskappy aanstel?

19 Tot ons groot vreugde is toekomstige vorste reg in ons midde. Hulle is lede van die ander skape, wat luister na die stem van die Goeie Herder, Jesus Christus. Hulle luister veral sedert 1935 daarna, die jaar waarin Openbaring 7:9-17 by die byeenkoms van Jehovah se Getuies in Washington, DC, verduidelik is. Vandag dien duisende van hierdie groot menigte ander skape as ouere manne, of opsieners, in die meer as 57 670 gemeentes van Jehovah se Getuies in 212 lande dwarsdeur die wêreld. Deur georganiseerd te bly saam met die oorblyfsel van Jesus se geestelike broers wat nog op aarde is, kom hierdie manne daarvoor in aanmerking om ten volle as aardse seuns van die Koning, Jesus Christus, aangeneem te word gedurende sy Duisendjarige Heerskappy oor die beloofde nuwe aarde (2 Petrus 3:13). As sodanig kan hulle moontlik as vorste aangestel word om in die nuwe aarde te dien.

20. (a) Watter gesindheid sal die Koning teenoor diegene hê wat hy op aarde aangestel het? (b) Wie sal deur die groot menigte terugverwelkom word, en watter geleentheid sal daardie verresenes gebied word?

20 Dit sal die Koning, Jesus Christus, genoeë verskaf om hierdie pas aangestelde vorste te erken, net soos hy tans die opsienerskap van getroue ander skape in die hedendaagse gemeentes van Jehovah se Getuies erken. Alle lede van die groot menigte ander skape—die vroue sowel as die mans—sal die opwindende voorreg hê om almal uit die dood terug te verwelkom wat Jesus se stem sal hoor en opgewek sal word tot die geleentheid om die ewige lewe in mensevolmaaktheid op ’n gereinigde aarde te verkry wat in ’n aardwye paradys omgeskep sal word (Johannes 5:28, 29). Daardie hoogbegunstigde verresenes sal Jesus Christus se vrygekoopte voorvaders insluit, geloofsmanne wat bereid was om hulle toegewydheid aan Jehovah God selfs tot in die dood te bewys in die hoop om “’n beter opstanding” te verkry (Hebreërs 11:35). Maar hulle verheffing tot volmaakte menselewe gedurende die Millenniumheerskappy van hulle Verlosser-Koning, Jesus Christus, is net ’n begin. As hulle gedurende die finale toets wat aan die einde van die Millennium oor die herstelde mensdom sal kom onwrikbaar onder Jehovah God georganiseerd bly, sal hulle bewys dat hulle waardig is om geregverdig te word en eindelose lewe in die Paradys te ontvang as die aardse deel van Jehovah se universele organisasie.—Mattheüs 25:31-46; Openbaring 20:1–21:1.

[Voetnoot]

a Vergelyk 2 Samuel 8:18, voetnoot in NW-naslaanuitgawe.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Watter tydperk het Jehovah opsygesit om die hele mensdom te seën?

◻ Watter verhouding moet ons met mekaar behou om die groot verdrukking te kan oorleef?

◻ Wat beteken dit vir die skape om ‘die koninkryk te beërf wat vir hulle berei is van die grondlegging van die wêreld af’?

◻ Watter voorregte sal die groot menigte moontlik gedurende die Millennium geniet?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel