Deel 8—Die lang opmars van die wêreldmoondhede nader sy einde
Die Bybel praat van sewe groot wêreldmoondhede—magtige ryke wat mekaar deur duisende jare van wêreldgeskiedenis opgevolg het. Vorige artikels in hierdie reeks het getoon dat ons in die tyd van die laaste van hulle lewe—die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid van ons dag.a—Openbaring 17:9, 10.
Hierdie Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid word vroeër in die boek Openbaring beskryf as ’n dier wat “twee horings” het. Hierdie tweeledige wêreldmoondheid ‘sê aan die bewoners van die aarde dat hulle ’n beeld moet maak’ vir die politieke dier wat al sewe wêreldmoondhede afbeeld.—Openbaring 13:11, 14.
Hoe is hierdie profesieë vervul, en wat beteken hulle vandag vir ons? Die interessante antwoord is die onderwerp van die volgende artikel.
TOE die vier jaar lange verskrikking van die Eerste Wêreldoorlog ten einde geloop het, het Amerikaanse president Woodrow Wilson en Britse eerste minister David Lloyd George ’n Volkebond voorgestel. Die doel daarvan was om “internasionale vrede en veiligheid te bewerkstellig”, en sodoende te verhoed dat die verskrikking van so ’n oorlog ooit weer plaasvind.
Dit is interessant om op te let wie hier die inisiatief geneem het. Hierdie twee leiers was die staatshoofde van die twee dele van die Engelssprekende Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid, die sewende van Bybelgeskiedenis. Dit en ander feite omtrent die internasionale organisasie vir vrede en veiligheid strook op ’n verstommende manier met wat die Bybelboek Openbaring gesê het oor ’n kortstondige ‘agtste koning’ wat in ons dag sou verrys sowel as ondergaan. Wat was ’n paar van hierdie interessante ooreenkomste?—Openbaring 17:11, vgl. NW.
Die profesie in Openbaring het getoon dat ’n “dier” wat ‘twee horings soos ’n lam’ het vir ‘die bewoners van die aarde sou sê dat hulle ’n beeld moet maak’ vir die dier wat deur die sewe groot wêreldmoondhede van Bybelgeskiedenis aangevoer is.
Dit is presies wat die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid gedoen het. Dit het “die bewoners van die aarde” aangespoor om ’n Bond te stig wat soos groot regerings sou lyk en sou optree. Maar dit was in werklikheid net “’n beeld . . . vir die dier”. Dit het op sigself geen krag gehad nie, behalwe dié wat sy lidlande hom gegee het. Daar word nie beskryf dat dit deur die een of ander groot militêre verowering aan die bewind gekom het soos dit die geval met wêreldmoondhede was nie. Dit spruit eerder voort uit die sewe wêreldmoondhede. Dit het sy bestaan nie net aan die sewende moondheid te danke nie, maar ook aan ander lidlande wat oorblyfsels van die voorafgaande ses insluit. Sou hierdie politieke beeld die hoë doelwitte bereik waarop sy stigters gehoop het?—Openbaring 17:11, 14, vgl. NW.
Mislukking van die Volkebond
Die Volkebond het op maatskaplike gebiede heelwat verrig. Maar sy werklike doelwit, soos uitgedruk in sy ampsblad “Die Handves van die Volkebond”, was “om internasionale samewerking te bevorder en internasionale vrede en veiligheid te bewerkstellig”. Hierin het dit misluk.
Die Volkebond kon nie keer dat Japan in 1931 Mantsjoerye binneval nie. Dit kon ook nie die oorlog wat in 1933 tussen Bolivia en Paraguay uitgebreek het, verhoed nie. Dit het ook nie Mussolini se verowering van Ethiopië in 1936 verhinder nie. Maar die Volkebond se doodslag het op 1 September 1939 gekom toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het—’n uitbarsting van juis die soort massavernietiging en ellende wat die Volkebond beoog het om te voorkom. Daardie oorlog se slagoffers? Die lewe van 16 miljoen soldate en 39 miljoen burgerlikes, altesaam 55 miljoen sterfgevalle, of byna vier keer die dodetal van die Eerste Wêreldoorlog!
Maar, destyds in 1919, voordat die Volkebond se Handves in werking gestel is, het Jehovah se Getuies (toe bekend as Bybelstudente) in die openbaar verkondig dat die Volkebond moet misluk, want vrede kon nie deur sulke mensepogings kom nie. Daar is later by hulle byeenkoms in 1926 in Londen, Engeland, daarop gewys dat die ‘agtste koning’ volgens Openbaring 17 verskyn as die laaste in die lyn van wêreldmoondhede. Die spreker het daarop gewys dat “die Here sy ontstaan, sy kort bestaan en sy ewige einde voorspel bet”.
Dit keer terug!
Wat hierdie agtste koning betref, het die geïnspireerde profesie gesê: “Die dier wat jy gesien het, was en is nie en sal uit die afgrond opkom en na die verderf vaar.”—Openbaring 17:8.
Jehovah se Getuies het reeds vanaf die midoorlogse jaar 1942 besef dat die organisasie vir vrede en veiligheid wat toe sluimerend was, uit sy afgrond van onbedrywigheid sou opkom. Die president van die Wagtoringgenootskap het in daardie jaar vir ’n gehoor in 52 stede gesê: “Hoewel veertig lede steeds daarop aanspraak maak dat hulle die Volkebond aanhang, is die Volkebond in werklikheid in ’n skyndoodtoestand . . . Dit ‘is nie’.” Maar sou dit “uit die afgrond opkom”? Hy het sy antwoord op hierdie Bybelprofesie gebaseer en gesê: “Die vereniging van wêreldse nasies sal weer opkom.”
Soos die profesie gesê het, “was” hierdie agtste koning vanaf 1920 tot 1939. Vanaf 1939 totdat die Tweede Wêreldoorlog in 1945 geëindig het, ‘was dit nie’. Toe het dit “uit die afgrond” opgekom en herlewe as die Volkebond se opvolger, die Verenigde Volke.
Hoë verwagtinge bly onvervuld
Afgevaardigdes van 50 lande het die Handves van die Verenigde Volke op 26 Junie 1945 in San Francisco geteken. Die inleiding daarvan het gesê: “Ons, die nasies van die Verenigde Volke, het besluit om toekomstige geslagte te red van die vloek van oorlog, wat in ons leeftyd twee keer namelose ellende vir die mensdom veroorsaak het . . . ”
Verwagtinge wat van die VV gekoester is, was onrealisties. Voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake Cordell Hull het gesê dat dit die sleutel tot “die oorlewing van ons beskawing” ingehou het. Amerikaanse president Harry Truman het dit bestempel as ’n “groot kans om . . . blywende vrede onder God se leiding te skep”. Die VV se Handves is “moontlik die betekenisvolste dokument wat ooit deur die mens opgestel is” en “’n keerpunt in die geskiedenis van die beskawing” genoem. Veertig jaar later het Gregory J. Newell van die Amerikaanse departement van buitelandse sake gesê: “Die saak is oormatig aangeprys: teleurstelling was onvermydelik.”
Die VV het, soos die Volkebond, op maatskaplike gebiede heelwat verrig. Maar dit het nòg vrede gewaarborg nòg ’n einde aan oorlog gebring. Voormalige eerste minister Harold Macmillan van Brittanje het in 1962 vir die Britse Laerhuis gesê dat “die hele fondament waarop die Verenigde Volke gebou is, ondermyn is”.
Aanvanklik het talle mense hierdie organisasie met byna godsdienstige geesdrif bejeën. Hulle het geglo dat hierdie “beeld” sou doen wat die Bybel sê net God se Koninkryk sal doen: blywende vrede, geregtigheid en ’n waarlik verenigde wêreld bewerkstellig. Hulle het hewig verskil van Bybelprofesieë wat getoon het dat mensepogings nie die ware bron van vrede kon wees nie. Maar met die 40-jarige bestaan van die VV het geskiedskrywer Thomas M. Franck gesê dat “dit . . . glad nie so doeltreffend [is] as wat ons in 1945 gehoop het nie”. Soos Amerikaanse minister van buitelandse sake George P. Schultz gesê het: “Die ontstaan van die Verenigde Volke het gewis nie die wêreld in ’n paradys verander nie.”
Die VV het misluk, omdat menseregerings nie die dinge uitgeskakel het wat vrede verhinder nie: nasionalisme, hebsug, armoede, rassisme, despotisme en die invloed van Satan op die wêreld. Mense hang hierdie regerings aan, nie omdat die toekoms rooskleurig lyk nie, maar omdat hulle geen beter hoop het nie.—Openbaring 12:12.
Die bestaan van die Verenigde Volke, en die ywer waarmee soveel mense dit probeer bevorder het, toon hoe diep mense op die aarde besef dat ’n verandering nodig is. Daardie verandering sal kom, maar op ’n ander en doeltreffender manier. Op watter manier?
Permanente heerskappy
Onthou dat die Bybel sê dat daar net sewe opeenvolgende “konings”, of wêreldmoondhede, sou wees. Geen groot wêreldmoondheid word daarna gemeld nie. Die Bybel sê selfs dat die tydelike ‘agtste koning na die verderf gaan’.—Openbaring 17:10, 11, vgl. NW.
Maar die Bybel sê ook dat daar ’n beter hoop is. Dit belowe dat iets anders die vrede, geregtigheid en verenigde wêreld sal bewerkstellig waarna mense smag. Dit sê: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, . . . dit sal al daardie [mislukte menslike] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.
Dit is die heerskappy waarvan Jesus gepraat het, en waarvoor sy volgelinge gebid het toe hulle gesê het: “Laat u koninkryk kom” (Mattheüs 6:10). Hierdie Koninkryk is nie bloot die een of ander invloed ten goede in mense se harte nie. Dit is inteendeel ’n werklike, hemelse heerskappy, ’n bestuur van die aarde vanuit die geesteryk. Dit sal ons lewenswyse op die aarde verander.—Openbaring 21:1-4.
Wat die Bybel oor hierdie opwindende nuwe heerskappy sê, hoe dit sal werk, en die vrede, geregtigheid en verenigde wêreld wat dit sal voortbring, sal die onderwerp van die volgende en laaste artikel in hierdie reeks wees.
[Voetnoot]
a Hierdie wêreldmoondhede is in vorige nommers van hierdie tydskrif bespreek: (1) Egipte, 1 Februarie; (2) Assirië, 15 Februarie; (3) Babilon, 1 Maart; (4) Medo-Persië, 15 Maart; (5) Griekeland, 15 April; (6) Rome, 1 Mei; (7) die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid, 15 Mei.
[Venster op bladsy 28]
Die omvang van die oorlog
Die Tweede Wêreldoorlog, wat die einde van die Volkebond ingelui het, het ’n verstommende getal lewens geëis. Die Encyclopædia Britannica (uitgawe van 1954) het die omvang van die dodetal toegelig deur die verhouding te gee tussen militêre sterfgevalle gedurende die oorlog en die bevolking van verskeie lande in 1940. Onder die syfers is die volgende: Die Verenigde State het tydens die oorlog een weermagslid vir elke 500 lede van sy bevolking van 1940 verloor; China, een uit 200; die Verenigde Koninkryk, een uit 150; Frankryk, een uit 200; Japan, een uit 46; Duitsland, een uit 25; en die USSR, een uit elke 22. Wanneer ons in ag neem dat die burgerlike sterfgevalle dikwels die militêre verliese oorskry het, kan ons maklik sien hoe mensepogings om ware vrede en veiligheid te bewerkstellig inderdaad misluk het.
[Prent op bladsy 26]
‘Sedert die stigting van die VV het twintigmiljoen mense in oorloë gesterf, ’n betreurenswaardige feit wat van die prys van daardie mislukking getuig!’—“Nation Against Nation”, deur Thomas M. Franck