Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 10/1 bl. 13-17
  • Vrede, veiligheid en die ‘beeld van die dier’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrede, veiligheid en die ‘beeld van die dier’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die “beeld” van die dier vandag
  • Die ruiter van die dier
  • Geen vredestigter nie
  • Die nodige stappe vir vrede
  • ’n Tyd om te kies
  • ’n Stryd teen twee wrede diere
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Openbaring – Wat dit vir God se vyande beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Wat is die wilde dier met sewe koppe van Openbaring hoofstuk 13?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Die diere van Openbaring—Wat beteken hulle?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 10/1 bl. 13-17

Vrede, veiligheid en die ‘beeld van die dier’

“En hy het my in die gees weggevoer na ’n woestyn, en ek het ’n vrou sien sit op ’n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings.”​—OPENBARING 17:3.

1. Waarom is Johannes se gesig van ’n dier met sewe koppe en tien horings vir ons van belang?

DIE apostel Johannes het hierdie skrikwekkende dier in ’n goddelik geïnspireerde gesig gesien. Maar Johannes is nie al een wat dit gesien het nie. Jy het dit heel waarskynlik ook gesien, of ten minste in die koerante daarvan gelees. Het jy dit herken?

2, 3. Watter reeks diere het Johannes in sy gesig gesien?

2 Wanneer ons vandag hierdie dier sien, lyk dit natuurlik nie soos Johannes dit beskryf het nie. Wat Johannes gesien het, het iets afgebeeld wat in “die dag van die Here” op aarde sou bestaan (Openbaring 1:10). Ons sien vandag die vervulling daarvan. Die afsigtelike vorm van die dier wat Johannes gesien het, weerspieël Jehovah se beskouing van wat dit voorstel​—dit is vir Hom verfoeilik! Johannes het reeds in sy gesig gesien hoe Satan die Duiwel na die aarde neergewerp word “met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12). Hy het ook gesien dat die politieke stelsels van Satan se wêreld voorgestel word as ’n monsteragtige dier met sewe koppe en tien horings wat uit die “see” van die mensdom opkom (Openbaring 13:1, 2; 17:15; Jesaja 57:20; Lukas 4:5, 6). Hierdie dier het mag oor die hele mensdom gehad, en mense is gedwing om die ‘merk van die dier’ op hulle regterhand of op hulle voorhoof te ontvang, wat hulle ondersteuning daarvan aandui.​—Openbaring 13:7, 16, 17.

3 Johannes het gesien hoe mense ’n beeld van hierdie dier maak (Openbaring 13:14, 15). Dit is hierdie beeld wat hy gesien het in die bogemelde gesig wat in Openbaring hoofstuk 17 beskryf word. Hierdie “beeld” met sewe koppe en tien horings sal ’n belangrike rol in toekomstige gebeure speel; dit is gevolglik noodsaaklik dat ons dit identifiseer. Hoe kan ons dit doen?

Die “beeld” van die dier vandag

4, 5. Wat het die koppe van die simboliese dier voorgestel?

4 ’n Engel het Johannes inligting gegee wat ons help. Hy het gesê: “Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit. En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort tydjie bly” (Openbaring 17:9, 10). Die vermelding van “konings” en “berge”​—wat in die Bybel dikwels politieke magte kan afbeeld—​toon dat die koppe van die dier regerings voorstel (Jeremia 51:25). Watter sewe regerings is hierby betrokke?

5 Wel, vyf het in Johannes se tyd reeds geval, een het bestaan en een moes nog kom. In Bybelgeskiedenis het vyf groot ryke gefloreer, God se volk verdruk en toe voor Johannes se dag geval: Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië en Griekeland. Toe Johannes gelewe het, het die Romeinse ryk geheers. Eeue na Johannes se dood het die Romeinse ryk as die heersende wêreldmag van die toneel verdwyn en is dit uiteindelik deur die Britse ryk vervang. Hierdie ryk se westelike kolonies het weldra onafhanklikheid verkry en in noue samewerking met Brittanje die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid gevorm. Dit is die “koning” wat in Johannes se dag ‘nog nie gekom het nie’. Wat was die verhouding tussen die dier wat Johannes gesien het en die sewe ryke wat deur sy koppe voorgestel word? “[Dit] is self ook die agtste, en hy behoort by [“spruit voort uit”, NW] die sewe.”​—Openbaring 17:11.

6. (a) Wat het die horings van die dier afgebeeld? (b) In watter opsig het hulle “nog geen koningskap ontvang” nie?

6 Onthou ook dat die dier tien horings gehad het. Die engel het hieroor gesê: “Die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier” (Openbaring 17:12) In die Bybel stel die syfer tien volkomenheid ten opsigte van dinge op aarde voor. Hierdie horings beeld dus al die regerings aardwyd af wat die dier vir ’n kort rukkie (“een uur lank”) gedurende “die dag van die Here” ondersteun. Dit sluit die sewende wêreldmoondheid in, sowel as die hedendaagse regerings wat afkomstig is van die ander ses ‘koppe van die dier’, hoewel hierdie ses nie meer wêreldmoondhede is nie. Hierdie “konings” het nie in Johannes se dag bestaan nie.a Noudat hulle mag verkry het, gee hulle “hulle krag en mag . . . aan die dier”.​—Openbaring 17:13.

7, 8. (a) Wat is die dier wat Johannes gesien het, soos beskryf in Openbaring hoofstuk 17? (b) Wat is die verhouding van die dier tot die koppe en die horings?

7 Herken jy nou die dier? Ja, dit is dieselfde as “die gruwel van die verwoesting” wat as die Volkebond begin het en wat nou as die Verenigde Volke bestaan (Mattheüs 24:15; Daniël 12:11). Hoe spruit hierdie organisasie ‘voort uit die sewe wêreldmoondhede’? In die sin dat die hele dieragtige organisasie, soos ’n agtste moondheid, in aansyn geroep is deur reeds bestaande regerings, met die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid as sy vernaamste ondersteuner en voorstander.

8 Soos die engel Johannes meegedeel het, gee al “tien horings” boonop ‘krag en mag aan die dier’ (Openbaring 17:13). Trouens, sonder die ondersteuning van die regerings wat deur die koppe en die horings voorgestel word, sou die dier magteloos wees. Waarom? Omdat dit bloot ’n beeld is (Openbaring 13:14). Soos alle beelde is dit op sigself magteloos (Jesaja 44:14-17). Enige lewe wat hy het, kom van sy ondersteuners (Openbaring 13: 15). Soms het party van hulle beslissend opgetree deur die Verenigde Volke, soos gedurende die Koreaanse oorlog.

9. Hoe word ons identifikasie van die dier bevestig?

9 Ons identifisering van hierdie dier word bevestig deur nadere besonderhede wat deur die engel verskaf is: “Die dier wat jy gesien het, was en is nie en sal uit die afgrond opkom en na die verderf vaar” (Openbaring 17:8). Dit is reeds gedeeltelik vervul. Die Tweede Wêreldoorlog het die Volkebond effektief beëindig. In 1942, toe Jehovah se Getuies ’n duidelike begrip van hierdie profesie verkry het, kon daar van die Volkebond-“dier” gesê word: “Dit ‘is nie’.”b Maar in 1945 het dit as die Verenigde Volke-organisasie ‘uit die afgrond opgekom’. Sal hy suksesvol wees in sy sending om vrede en veiligheid te bring? Die profesie sê nee. Hy sal eerder “na die verderf vaar”.

Die ruiter van die dier

10, 11. (a) Wie het in Johannes se gesig op die dier gery? (b) Hoe is hierdie deel van die gesig in die nuwere tyd vervul?

10 Het jy iets anders omtrent die dier opgemerk? ’n “Vrou” het daarop gery. Sy is geïdentifiseer as die wêreldryk van valse godsdiens, “Babilon die Grote, die moeder van die hoere en van die walglike dinge van die aarde” (Openbaring 17:3-5, 15, NW). Het die wêreld se godsdienste op albei organisasies ‘gery’ en hulle weg probeer rig? Ja, veral die godsdienste van die Christendom.

11 Hollandse medewerker Pierre van Paassen het byvoorbeeld vertel van die gees van “godsdienstige geesdrif” onder die verteenwoordigers van die Protestantse kerke in Amerika, Brittanje en die Skandinawiese lande wat sessies van die Volkebond bygewoon het. In 1945 het die Federale Raad van die Kerke van Christus van Amerika verklaar: “Ons is vasbeslote om ons te beywer vir die volgehoue uitbreiding van die genesende en skeppende funksies van die Verenigde Volke-organisasie.” In 1965 het pous Paulus VI gesê dat hy die organisasie beskou as “die weerspieëling van die liefdevolle en voortreflike doel van God vir die vooruitgang van die mensdom op die aarde​—’n weerspieëling waarin Ons die boodskap van die Evangelie wat hemels is aards sien word.” Geestelikes het ongetwyfeld daardie organisasie “vol godslasterlike name” gemaak.​—Openbaring 17:3; vergelyk Mattheüs 24:15; Markus 13:14.

Geen vredestigter nie

12. Wat is die verhouding tussen die ondersteuners van die Verenigde Volkeorganisasie en God se Koninkryk?

12 Die Verenigde Volke geniet nie goeie betrekkinge met God se Koninkryk nie. Trouens, sy voorstanders staan daardie Koninkryk teë. Die engel het vir Johannes gesê: “[Die tien horings] sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin . . .  en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openbaring 17:14). Getrou aan die profesie het die nasies gedurende hierdie tyd van die einde aangehou om ‘teen die Lam oorlog te voer’ en diegene wat as ambassadeurs van sy Koninkryk optree, teen te staan en te vervolg. Maar die Lam sowel as sy knegte op aarde, wat ondanks verbooie, gevangenskap en selfs die dood voortgaan om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig, is onoorwinlik.​—Mattheüs 10:16-18; Johannes 16:33; 1 Johannes 5:4.

13. Waarom kan die Verenigde Volke nooit ware vrede bewerkstellig nie?

13 Die Verenigde Volke kan in der waarheid nooit ware vrede bewerkstellig nie. Sy ruiter, “Babilon die Grote”, is een van die goddeloosste oorlogvoerders in die geskiedenis, en sy is “dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus” (Openbaring 17:6). Die oorloë van die nasies wat ondersteuners van daardie organisasie is, het die aarde met bloed deurdrenk (Mattheüs 24:6, 7). En die mag agter hulle, Satan die Duiwel, “die groot draak”, is geen vredestigter nie (Openbaring 12:9, 17; 13:2). Die mensdom sal nooit veiligheid geniet solank hierdie entiteite bestaan nie. Hulle sal uit die weg geruim moet word.

Die nodige stappe vir vrede

14. (a) Wat het in Johannes se gesig met die ruiter van die dier gebeur? (b) Hoe sal dit vervul word?

14 Valse godsdiens sal eerste vernietig word, op ’n heel onverwagse wyse. Dit is hoe dit sal gebeur: “Die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand.” Wat ’n skok vir die mensdom! (Openbaring 17:16; 18:9-19). Dit is die vernietigende, nasionalistiese “horings”, wat prominent in die Verenigde Volke-organisasie is, wat haar sal vernietig. Hoe duidelik herinner dit ons tog nie aan Jesus se profesie dat “die gruwel van die verwoesting” “Jerusalem” sal verwoes nie! (Markus 13:14-20; Lukas 21:20). Maar hoewel die nasies hierdie teregstelling uitvoer, voltrek hulle in werklikheid God se oordeel aan “die groot hoer”, wat die Christendom insluit. Die gevolg? Valse godsdiens sal “nooit meer gevind word nie”.​—Openbaring 17:1; 18:21.

15, 16. (a) Wat is die “groot verdrukking”? (b) Waartoe sal dit lei? (c) Hoe sal Satan verhinder word om die toekomstige vrede van die mensdom te bederf?

15 Jesus het gesê dat die vernietiging van die Christendom die begin sou wees van ’n “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Mattheüs 24:15, 21). Namate die verdrukking voortduur, sal God se Koninkryk oordeel aan al die politieke en handelsdele van Satan se organisasie voltrek (Daniël 2:44). Johannes sien nou die Koning in aksie: “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.” Die politieke nasies van die aarde sowel as die ‘dier se beeld’ skaar hulle teen hom. Die uitslag van die oorlog? Weer eens vernietiging vir die vredesteurders!​—Openbaring 19:11, 19-21.

16 Dit sal slegs een groot hindernis in die weg van vrede oorlaat: Satan die Duiwel self. Johannes beskryf voorts hoe hierdie groot vyand van die mensdom onskadelik gemaak word: “Ek het ’n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp​—die ou slang wat die duiwel en die Satan is—​en hy het hom gebind duisend jaar lank.”​—Openbaring 20:1-3.

’n Tyd om te kies

17. Watter stappe moet individue wat ware vrede verlang nou doen?

17 Wat ’n tyd van veranderinge tog vir die mensdom! Maar hoewel organisasies en regerings uit die weg geruim word, sal dit hoofsaaklik van individue afhang wat met hulle gebeur. As ’n blyk van liefde het Jehovah beveel: “Die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word” voor die groot verdrukking (Markus 13:10). Vredeliewende mense word genooi om uit Babilon die Grote ‘uit te gaan’ (Openbaring 18:4). Persone in die Christendom word aangespoor om ‘na die berge te vlug’ (Lukas 21:21). Diegene wat hulle aan God se Koninkryk onderwerp, moet nie ‘die merk van die dier’ hê nie (Openbaring 14:9-12; Johannes 17:15, 16). ’n Groot menigte van sulke regverdiges sal “uit die groot verdrukking kom” (Openbaring 7:9-14). Trouens, niemand hoef saam met Satan se stelsel vernietig te word nie.​—Spreuke 2:21, 22.

18, 19. (a) Wat kan gesê word oor wanneer die groot verdrukking sal uitbreek? (b) Hoe berei Christene hulle nou vir daardie tyd voor?

18 Wanneer sal hierdie aardskuddende gebeure plaasvind? Wel, die “evangelie” word vandag dwarsoor die wêreld gehoor. “Die gruwel van verwoesting” is in posisie (Mattheüs 24:14-16). Trouens, dit is tyd dat die ‘beeld van die dier’, wat reeds in die tweede stadium van sy bestaan is, “na die verderf vaar” (Openbaring 17:8). Die vervulling van die “teken” toon dat ons al 71 jaar lank, sedert 1914, in die tyd van Jesus se teenwoordigheid lewe (Mattheüs 24:3, NW). Jesus het gesê: “So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie” (Mattheüs 24:33, 34). Die “groot verdrukking” moet gevolglik baie naby wees. Kan ons meer presies wees? Nie op hierdie tydstip nie.

19 Die apostel Paulus het voorspel: “Wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid​—dan oorval ’n skielike verderf hulle” (1 Thessalonicense 5:3). Die groot verdrukking sal dus ’n skok vir die mensdom in die algemeen wees. Dit sal egter nie ’n skok vir Christene wees nie. Hulle weet dat dit kom, en hulle slaan ag op Jesus se raad: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug.”​—Lukas 21:36.

20. Waarom kan Christene nie op hierdie tydstip sê wanneer die groot verdrukking sal kom nie?

20 Maar Christene kan nie vooruit presies sê wanneer die groot verdrukking sal uitbreek nie. Jehovah het nie “daardie dag en die uur” geopenbaar nie (Markus 13:32; Mattheüs 24:42). Wanneer die Verenigde Volke byvoorbeeld 1986 tot “Internasionale Vredesjaar” verklaar, sal Christene die gebeurtenis derhalwe met belangstelling dophou. Maar hulle kan nie vooruit sê of dit die vervulling van Paulus se bogemelde woorde sal wees nie. Hulle is egter dankbaar dat Jehovah hulle in staat gestel het om die betekenis van die ‘beeld van die dier’ en “die gruwel van die verwoesting” te verstaan. Hulle beskou hierdie organisasie gevolglik soos Jehovah dit beskou en word nie mislei deur sy pogings om vrede te bring nie.

21. (a) Watter vrede geniet Christene nou al? (b) Waarna kan hulle met vertroue uitsien?

21 Diegene wat “waak” en hulle aan God se Koninkryk onderwerp, geniet nou al vrede. Jehovah, “die God van vrede”, is met hulle en gee hulle “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan” (Filippense 4:7, 9). Hulle sien bowendien uit na die tyd binnekort wanneer die hele aarde die vervulling van Jesaja se pragtige profesie sal geniet: “Die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid. En my volk sal woon in ’n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke van ongestoorde rus” (Jesaja 32:16-18). Dit sal wêreldwye veiligheid wees (Jesaja 11:9). En dit sal ware vrede wees, want Jehovah self sal die bron daarvan wees.

[Voetnote]

a Die politieke toneel is vandag heeltemal anders as in Johannes se dag. Baie min ledenasies van die VV het destyds selfs bestaan. Dit is derhalwe waar om te sê dat hulle “nog geen koningskap ontvang” het nie. Daar is ’n paar uitsonderings, soos Egipte. Maar selfs in hierdie lande het die magstruktuur deur die eeue heen soveel verander dat die engel se kommentaar steeds geld: Die regerings wat nou heers, het in Johannes se dag “nog geen koningskap ontvang” nie.

b Terwyl die Tweede Wêreldoorlog heftig gewoed het, het die President van die Wagtoringgenootskap op 20 September 1942 die toespraak “Vrede​—Kan dit voortduur?” by die Nuwe Wêreld se Teokratiese Byeenkoms van Jehovah se Getuies gehou. Hy het volgens Openbaring hoofstuk 17 getoon dat die Tweede Wêreldoorlog, in stryd met die talle se verwagtinge, nie ’n hoogtepunt in Armageddon sou bereik nie. Die ‘vredesdier’ moet eers uit die afgrond van onbedrywigheid opkom om figuurlik gesproke “een uur lank” saam met die politieke moondhede te regeer.

Onthou jy?

◻ Wat is party karaktertrekke van die dier van Openbaring 17?

◻ Wat stel hierdie dier voor?

◻ Waarom kan hierdie figuurlike dier nooit vrede bring nie?

◻ Hoe sal God se Koninkryk eindelik vrede en veiligheid vir die mensdom bring?

◻ Kan individue by hierdie kennis baat vind?

[Lokteks op bladsy 15]

Pous Paulus VI het die Verenigde Volke beskou as “die weerspieëling van die liefdevolle en voortreflike doel van God vir die vooruitgang van die mensdom”

[Prent op bladsy 17]

Vredeliewende mense word aangespoor om uit Babilon die Grote ‘uit te gaan’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel