Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 6/1 bl. 22-24
  • Gilead se 84ste klas het aan die verwagtings voldoen!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gilead se 84ste klas het aan die verwagtings voldoen!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Nuwe tuiste vir die Gilead-Sendingskool
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Meer sendelinge vir die wêreldoes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Nuwe sendelinge streef ware sukses na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Gileadgegradueerdes—“Ware sendelinge!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 6/1 bl. 22-24

Gilead se 84ste klas het aan die verwagtings voldoen!

SPREUKE 10:28 sê: “Die verwagting van die regverdiges is vreugde.” Dit was die geval op die oggend van 6 Maart 1988. Dit was vir enige waarnemer duidelik dat die verwagtings van die 4 360 wat in die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in die stad Jersey vergader het hoog gestem was.

Die feit dat feitlik die hele Bethelgesin van Brooklyn en Watchtower Farms in so ’n pragtige omgewing saam kon wees, was op sigself ’n rede tot groot vreugde en opwinding! Maar die aanwesiges het gekom in afwagting van meer as ’n grootskaalse familiebyeenkoms. Voor in hulle gedagtes was wat hulle geweet het ’n mylpaalgebeurtenis sou wees: die graduering van die 84ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead.

Gilead, wat nou in die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, geleë is, is in 1943 gestig om die God-geordende werk om ‘dissipels te maak’ te bevorder (Mattheüs 28:19). Nadat hulle ’n Bybelopvoedkundige kursus van vyf maande voltooi het, word Gilead-gegradueerdes, nie na winsgewende betrekkings nie, maar in die wêreldveld as sendelinge uitgestuur (Mattheüs 13:38). Dit is dus verstaanbaar dat enigiemand wat die voorreg gehad het om Gilead by te woon hoe verwagtings koester.—Vergelyk Lukas 12:48.

Die gradeplegtigheid het hierdie verwagtings kragtig en duidelik na vore gebring. Dit is geopen met ’n vurige gebed deur George Gangas, ’n lid van die Bestuursliggaam. C. W. Barber, ook van die Bestuursliggaam, het daardie dag as voorsitter gedien. ‘Ons neem deel aan die grootste opvoedkundige kampanje in die geskiedenis’, het Barber gesê. Hy het Jesaja hoofstuk 6 gebruik en verduidelik dat ons dikwels in vyandige toestande moet preek. En soos in Jesaja se dag slaan moontlik net ’n simboliese “tiende” of “oorblyfsel” ag op ons boodskap (Jesaja 6:13; Romeine 9:27). Ons moet egter nooit voel dat ons pogings om te preek tevergeefs is nie!

Hierdie bemoedigende kommentare het afwagting gewek vir wat sou volg: ’n reeks kort, maar kragtige, toesprake wat tot die gegradueerdes gerig is. Calvin Chyke van die Fabriekskomitee het begin deur die vraag te vra: ‘Sal julle ’n seën vir ander wees?’ Hulle het talle seëninge by Gilead ontvang. Nou moes hulle seëninge gee deur ‘geestelike genadegawes’ aan ander oor te dra (Romeine 1:11, 12). Selfs wanneer beproewende situasies opduik, soos wanneer geld min raak, moet die sendelinge aanhou om geestelike ‘mededeelsaamheid te beoefen’ (Lukas 6:38, NW). Dan sal die woorde van Psalm 84:6 (NW) op hulle vervul word: ‘Ja, in seëninge omhul die onderwyser homself.’

David Olson van die Diensafdelingkomitee het vervolgens die sendelinge herinner aan ons wêreldwye broederskap. Hulle het vyf maande lank die liefde en steun van klasmaats geniet—nou word hulle oor die hele aarde gestuur. Olson het hulle daarvan verseker dat hulle die vervulling van Markus 10:29, 30 sal geniet, wat vir hulle nuwe vriende en ‘families’ belowe.

Daniel Sydlik van die Bestuursliggaam het beklemtoon hoe belangrik dit is dat gegradueerdes ‘groot en grootse verwagtings aankweek’. Jehovah het ons geskep met die vermoë om verwagtings, hoop en drome te hê. Behoort sendelinge dan nie van hulself hoë verwagtings te koester nie? ‘Stel ’n doelwit, stel eise aan julleself!’ het Sydlik gemaan. ‘Bemeester die taal van die land waarna julle toegewys is. Bly by met nommers van Die Wagtoring en Ontwaak! in julle moedertaal sodat julle jul geestelikheid kan behou. Koester ook hoë verwagtings van ander wanneer julle hulle onderrig’, het Sydlik voortgegaan. ‘Vertel hulle dat daar van hulle verwag word om vergaderinge by te woon en lesse voor te berei.’

Daaropvolgende sprekers het in hierdie trant voortgegaan. Lyman Swingle, ook van die Bestuursliggaam, het die studente daaraan herinner dat ‘Jesus Christus die een is wat julle uitstuur. En hy self is in ’n buitelandse veld hier op die aarde uitgestuur.’ Sendelinge moet, soos Jesus, hulle toewysing ernstig opneem. Maar hulle moet hulself nie te ernstig neem nie. ‘Leer om vir jouself te lag wanneer jy iets verspots doen’, het Swingle gesê. ‘Prediker 3:4 herinner ons daaraan dat daar “’n tyd [is] om te lag”.’

Die skool se twee hoofinstrukteurs het toe die geleentheid gehad om hulle studente ’n laaste vermaning te gee. Jack Redford se tema was: ‘Vergeet nooit jou sending nie!’ Die Christendom se geestelikes het hulle sendinggees verloor en talle het met wêreldlike politiek gemoeid geraak. Jesus Christus het egter sy sending om te preek vervul en hy het nie toegelaat dat sy aandag afgelei word deur wat Satan se wêreld hom kon bied nie. Sendelinge moet derhalwe altyd onthou waarom hulle uitgestuur is—om geestelik verhongerde mense te voed. (Vergelyk Mattheüs 9:36.) Hulle moet derhalwe strikke soos materialisme en onsedelikheid vermy. As hulle hulle op hul predikingsending toelê, het hulle die vooruitsig om talle goeie ondervindinge in die veld te geniet!

U. V. Glass het voorts ’n illustrasie van ’n glas water en ’n string pêrels gebruik. In talle lande is die suiwerheid van ’n glas water twyfelagtig. Die egtheid van ’n string pêrels kan net so onseker wees. Wat van julle geloofwaardigheid?’ het Glass gevra. ‘’n Gebrek aan geloofwaardigheid is al die “stille verwoester van verhoudings” genoem.’ Hoe kan die gegradueerdes hulle geloofwaardigheid bevestig? ‘Spreek die waarheid’, het Glass gesê, ‘en moet dit nie oordryf of verdraai nie. Onkreukbaarheid is die grondslag van geloofwaardigheid.’—Efesiërs 4:25.

’n Hoogtepunt van die oggend was die slottoespraak deur die Wagtoringgenootskap se 94-jarige president, F. W. Franz. In ’n stem wat nog sterk en kragtig is, het Franz die geskiedenis van Gilead hersien. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Bestuursliggaam begin onderskei dat ‘die Tweede Wêreldoorlog nie tot Armageddon sou lei nie. Dit sou eindig en ’n tydperk van vrede sou volg.’ Gilead is gestig om hierdie tydperk tussenin ten volle te benut—en is nog steeds aan die gang! ‘Ons leef in die gunstigste van alle tye!’ het die Genootskap se president uitgeroep. Die gehoor het deur dawerende applous hul waardering vir die vermaning van hierdie veteraankneg van Jehovah getoon!

Die gordyne is toe oopgetrek en die 24 studente van die 84ste klas van Gilead kon gesien word waar hulle op die verhoog sit. Hoewel hulle gemiddeld maar 31,6 jaar oud is, is hulle nouliks nuwe verkondigers. Hulle het ’n gemiddelde van 11,3 jaar van voltydse evangelisasiewerk! En hulle is ’n taamlik internasionale groep, wat van Nederland, Australië, Finland, Swede, Duitsland en die Verenigde State kom. Met die bystand van A. D. Schroeder, wat een van die oorspronklike Gileadinstrukteurs was, het C. W. Barber hulle diplomas aan hulle oorhandig. Die gehoor was verheug om te hoor dat die gegradueerdes na nege lande gestuur sou word: die Filippyne, Sierra Leone, Wes-Samoa, Taiwan, Tanzanië, Papoea Nieu-Guinea, Bolivia, Guam en Colombia! Toe het een van die studente ’n mooi waarderingsbrief namens die klas voorgelees.

Na ’n kort etenspouse het die gehoor weer vergader vir ’n verkorte Wagtoring-studie wat deur Robert Wallen van die Bethelkomitee gehou is. Na afloop van die studie is die ligte gedemp. Die programvoorsitter het die gehoor aangemoedig: ‘Ontspan en geniet die studente se geskenk aan julle, die studenteprogram van die 84ste klas, met die titel “Laat ons ons bediening verheerlik”.’

Deur liedere, ondervindinge en parodieë het die studente toe ’n eerstehandse kykie in die studente- en sendinglewe aangebied. Daar is byvoorbeeld getoon hoe die stad New York se uiteenlopende predikingsgebied as ’n terrein vir sendingopleiding gebruik is. Een humoristiese parodie wat op die werklike ondervindinge van Gileadstudente gebaseer is, het getoon hoe studente leer om ’n doeltreffende informele getuienis op die stad se ondergrondse treine te gee. Tonele van hoe sendelinge die dikwels moeilike aanpassings ten opsigte van buitelandse kultuur en gebruike maak, is ook op ’n amusante, dog lewensgetroue, manier uitgebeeld.

Een gegradueerde sendeling het die program goed opgesom deur te sê: ‘Watter beter manier is daar om ons bediening te verheerlik as om ander te help om volkome op Jehovah se Woord te vertrou?’ Alle aanwesiges is ongetwyfeld beweeg om te oorweeg hoe hulle self ’n groter deelname aan die predikingswerk kan hê. Studente het toe afgesluit met ’n hedendaagse drama wat beklemtoon het hoe noodsaaklik dit is dat ons ons aan God onderwerp. Nog ’n mylpaalgeleentheid het toe tot ’n einde gekom met ’n waarderende gebed deur J. E. Barr van die Bestuursliggaam.

Die Gileadgradeplegtigheid het ongetwyfeld aan die verwagtings voldoen. Maar wat van die graduerende klas self? Ons is vol vertroue dat hierdie jongste groep sendelinggegradueerdes, soos hulle voorgangers, beslis sal voldoen aan wat Jehovah van hulle verwag, ja, van hulle eis—dat hulle hul bediening in hulle buitelandse toewysings verheerlik!

[Prent op bladsy 24]

Die Wagtoring-Bybelskool Gilead se 84ste graduerende klas

In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer en name word van links na regs in elke ry aangegee.

(1) Norberg, C.; Holmes, T.; Holland, J.; Vehlen, B.; Rector, D.; Thomas, K. (2) Rajalehto, T.; Rajalehto, T.; Hoefnagels, J.; Moonen, A.; Summers, C.; Wahl, H. (3) Holland, J.; Holmes, F.; Hoefnagels, H.; Koivula, V.; Moonen, M.; Thomas, B. (4) Wahl, M.; Rector, W.; Summers, G.; Keighley, P.; Vehlen, P.; Norberg, O.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel