Jesus se geboorte—’n Blote legende?
DIE geboorte van Christus! Daar word beweer dat dit die grondslag van die Christendom se grootste jaarlikse feesviering is. Maar ironies genoeg bestempel talle geestelikes verskeie aspekte van die Evangelieverslae oor Jesus se geboorte as ’n blote legende. The Interpreter’s Bible sê byvoorbeeld aangaande Mattheüs se verslag oor die sterrewiggelaars, oftewel “wyse manne”, se besoek: “Daar is dus geen manier om vas te stel of dit aangelas is en of dit in werklikheid ’n letterlike ‘gebeurtenis’ was nie. Dit is nie die akkuraatheid van die verhaal wat die waarde en belangrikheid daarvan bepaal nie; die verhaal moet eerder as ’n kunswerk beskou word.”
Sulke kritici beweer dikwels dat die Evangelieverslae oor Christus se geboorte te min besonderhede bevat om as geskiedkundig beskou te word. Maar in sy boek The Life and Times of Jesus the Messiah weerlê Alfred Edersheim dit en sê: “Daar kan met gerustheid gesê word dat geen Apokriewe of legendariese verhaal oor so ’n (legendariese) gebeurtenis deur sulke karige, of liewer ontbrekende, besonderhede gekenmerk sou word nie. Dit is omdat legende sowel as tradisie se twee belangrike kenmerke is dat hulle altyd probeer om hulle helde met ’n stralekrans van glorie te omgewe en dat hulle besonderhede probeer verstrek wat andersins ontbreek.”
Maar waarom verstrek die Evangelies so min besonderhede aangaande Jesus se geboorte? Hoofsaaklik omdat sy dood, nie sy geboorte nie, die belangrikste is (Mattheüs 20:28). Edersheim herinner ons voorts hieraan: “Die Evangelies was nie bedoel om ’n lewensbeskrywing van Jesus te wees of selfs om die gegewens daarvoor te verstrek nie; maar het slegs hierdie tweevoudige doel gehad: dat diegene wat hulle lees ‘kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God’ en dat hulle deur te glo ‘die lewe kan hê in sy Naam’.”