Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 3/15 bl. 15-20
  • Dien as Jehovah se vertrouende medewerkers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dien as Jehovah se vertrouende medewerkers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Beoefen geregtigheid’
  • Om “goedheid lief te hê”
  • Toetse van lojaliteit
  • ‘Wandel beskeie met jou God’
  • Beskeidenheid betaam jongmense
  • Beskeidenheid—’n Eienskap wat vrede bevorder
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Die aankweek van Christelike beskeidenheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • “Wysheid is by die beskeidenes”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Beskeidenheid—’n sieraad vir jonk en oud
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 3/15 bl. 15-20

Dien as Jehovah se vertrouende medewerkers

“Hy het jou vertel, o aardse mens, wat goed is. En wat vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedheid lief te hê en beskeie met jou God te wandeI?”—MIGA 6:8, NW.

1. Op watter Skriftuurlike grondslag kan al Jehovah se knegte vandag sy “medewerkers” genoem word?

DIE Christenapostel Johannes het geskryf: “Kyk wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word!” (1 Johannes 3:1). En die apostel Paulus het van homself en sy metgesel Apollos gesê: “Ons is medewerkers van God” (1 Korinthiërs 3:9). Albei hierdie stellings is deur en oor gesalfde volgelinge van Jesus Christus gemaak. Maar hulle is in beginsel op alle ware knegte van God van toepassing. Hulle kan dus soos volg geparafraseer word: ‘Kyk wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys het sodat ons Jehovah se medewerkers moet wees.’

2. Waarom is dit moontlik vir Jehovah se knegte om sy medewerkers te wees?

2 Hoe is dit moontlik vir swak, onvolmaakte mense om medewerkers te wees van die groot Skepper, wat oneindig in mag en wysheid, volmaak in geregtigheid en die verpersoonliking van liefde is? Dit is moontlik omdat ons eerste ouers na die beeld en gelykenis van die Skepper en van sy medewerker, die Woord, of Logos, gemaak is (Genesis 1:26, 27; Johannes 1:1). Ons eerste ouers is dus ’n mate van wysheid, geregtigheid, mag en liefde gegee. Dit is waarom Jehovah deur middel van sy profeet aan sy aardse knegte kon sê: “Hy het jou vertel, o aardse mens, wat goed is. En wat vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?”—Miga 6:8, NW.

3. Wat word in Miga 6:8 geïmpliseer, en wat word van ’n persoon vereis voor hy een van Jehovah se medewerkers kan wees?

3 Wanneer ons die woorde: “Wat vra Jehovah van jou terug as . . . ?” lees, lyk dit of dit impliseer dat wat volg die “aardse mens” se verantwoordelikheid teenoor God en sy medemens taamlik goed opsom. In watter mate dit werklik die geval is, sal duidelik word namate ons bespreking vorder. Dit is natuurlik nie sommer enigiemand wat met Jehovah kan wandel nie. Hierdie voorreg word voorbehou vir diegene wat hom as ’t ware ‘volgens afspraak ontmoet het’ (Amos 3:3, NW). Hoe so? Deurdat hulle hulle onvoorwaardelik aan Jehovah toegewy en dit deur waterdoop gesimboliseer het, soos in die vorige artikel getoon is. Wat beteken Miga 6:8 dan vir hierdie persone?

‘Beoefen geregtigheid’

4. Wat beteken dit basies om “geregtigheid te beoefen”?

4 Daar is allereers die vereiste om “geregtigheid te beoefen”. As medewerkers van Jehovah God moet ons ’n goeie gewete behou. Om “geregtigheid te beoefen”, beteken basies dat ons doen wat reg is, wat God van ons vereis. Dit beteken dat ons ons verpligtinge moet nakom, en die vernaamste hiervan is om uitsluitlik aan Jehovah toegewy te wees (Nahum 1:2, NW). Hy duld geen mededinging nie. Ons kan eenvoudig nie twee here dien nie.—1 Korinthiërs 10:22, vgl. NW; Mattheüs 6:24.

5. Hoe het Jesus Christus getoon dat hy geregtigheid liefgehad en goddeloosheid gehaat het?

5 Om “geregtigheid te beoefen”, moet ons boonop soos Jesus Christus ‘geregtigheid liefhê en goddeloosheid haat’. As gevolg van sy liefde vir geregtigheid het hy homself “onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars” gehou (Psalm 45:8; Hebreërs 7:26). En omdat Jesus goddeloosheid gehaat het, het hy die skynheilige en hebsugtige godsdiensleiers van sy dag met regverdige verontwaardiging bestraf.—Mattheüs 23:13-36; Johannes 8:44.

6. Waarom moet ons meer doen as bloot in ons gedagtes saamstem dat ons verbode dinge moet vermy omdat dit sleg is?

6 Soos ons uit Jesus se voorbeeld kan sien, is dit nie genoeg om geregtigheid lief te hê nie. Ons moet ook haat—ja, verafsku, verfoei, ’n afkeer hê van, ’n sterk weersin hê in—wat sleg is. Omdat ons neigings van kleins af sleg is en ons hart bedrieglik, verraderlik is, moet ons meer doen as bloot in ons gedagtes saamstem dat slegte dinge verbode is (Genesis 8:21; Jeremia 17:9). Tensy ons sondige neigings en versoekings kragtig weerstaan, sal ons vir hulle verlokking swig. Ons moet dieselfde sterk weersin in slegte dinge hê as wat Pinehas getoon het toe hy ’n spies gebruik het om die twee te deursteek wat in die onsedelike aanbidding van Baäl-Peor verenig was.—Numeri 25:5-8.

7. Watter getuienis het ons dat Jehovah geen goddelose as sy medewerker sal gebruik nie?

7 Jehovah wil geen goddelose as sy medewerker hê nie en sal hom ook nie as sodanig gebruik nie. Dit word duidelik in Psalm 50:16-18 gestel, waar ons lees: “Maar aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond—terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp? As jy ’n dief sien, dan geval dit jou by hom, en jou deel is met die egbrekers.”

8. Watter voorval beklemtoon hoeveel smaad ons kan veroorsaak deur voor oortreding te swig?

8 Ons bly miskien in Jehovah se diens besig deur die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Maar as ons nie sorgvuldig selfbeheersing aan die dag lê nie, kan vleeslike swakhede veroorsaak dat ons sondig en smaad op Jehovah se naam bring. ’n Paar jaar gelede het ’n ouere man hom aldus skuldig gemaak aan owerspel met ’n geestelike suster wat ’n ongelowige man gehad het. Die aand toe die uitsetting van die voormalige ouere man aangekondig is, het die woedende man met ’n geweer by die Koninkryksaal ingestap en op die twee skuldiges gevuur. Nie een van hulle is gedood nie, maar die volgende dag was dit voorbladnuus in die vernaamste koerant in die Verenigde State! Ja, oortreding bring smaad mee.—Spreuke 6:32.

9. Wat moet ons volgens Spreuke 4:23 bewaak, en waarom?

9 Ons word derhalwe gepas vermaan: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23). Ja, ons moet onsself dissiplineer ten opsigte van die dinge waaroor ons ons figuurlike hart laat peins. Die televisie, tydskrifte en ander vorme van die media bevat al hoe meer onrein dinge, met inbegrip van pornografie. Ons moet dus baie selektief wees in die dinge waarna ons kyk en luister en wat ons lees. Dit is uiters belangrik om jou gedagtes te beheers! Dit is byvoorbeeld maklik om ons te verlustig in gedagtes oor geslagsfantasieë, dinge wat ons nie sou droom om in die werklike lewe te doen nie (Mattheüs 5:28). Maar sulke denke lei dikwels wel tot slegte dade. In plaas van oor sulke dinge te peins, moet ons derhalwe die vrug van die heilige gees, naamlik selfbeheersing, aan die dag lê en oor die dinge peins wat in Filippense 4:8 genoem word.—Galasiërs 5:22.

Om “goedheid lief te hê”

10, 11. (a) Watter onderskeid kan tussen getrouheid en lojaliteit gemaak word? (b) Hoe het God se Seun getrouheid en lojaliteit getoon?

10 Die tweede vereiste wat in Miga 6:8 genoem word, is dat ons ‘goedheid moet liefhê’. The New English Bible sê hier dat ons ‘lojaliteit moet liefhê’. ’n Voetnoot in die naslaanuitgawe van die New World Translation toon dat die Hebreeuse woord chèsèd, wat met “goedheid” weergegee word, ook met “goedertierenheid” of “lojale liefde” vertaal kan word. Volgens leksikograwe “dui lojaal op ’n onwrikbare verset teen enige versoeking om te versaak of te verraai”. “Lojaal voeg by getrou die idee van ’n begeerte om te staan by en te veg vir die persoon of ding, selfs teen ’n groot oormag.” Dit is interessant dat ons in die Skrif ook ’n geringe verskil in die gebruik van hierdie woorde aantref. Die uitdrukking “lojaliteit” word byvoorbeeld nooit vir lewelose dinge gebruik nie. Maar die woord “getrou” word herhaaldelik daarvoor gebruik. Van die maan word dus gesê: “Die getuie in die hemel is getrou” (Psalm 89:38). Dan word daar ook gesê dat God se woorde getrou, dit wil sê, betroubaar, isa (Openbaring 21:5, NW; 22:6, NW). Lojaliteit word egter slegs aan Jehovah God en sy goedgekeurde knegte toegeskryf. Ons lees gevolglik omtrent Jehovah: “Jeens iemand wat lojaal is, sal u in lojaliteit handel.”—2 Samuel 22:26, NW.

11 Die Seun van God was getrou en lojaal aan Jehovah in die hemel. Op aarde het hy as die man Jesus Christus toetse ondergaan en deur sy gehoorsaamheid getoon dat hy as ’n mens sowel getrou as lojaal was. Dit word deur Hebreërs 5:7-9 getoon, waar ons lees: “Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs—Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ’n bewerker van ewige saligheid geword.”

Toetse van lojaliteit

12. Wat kan soms ons lojaliteit op die proef stel, en hoe het sommige op sulke toetse gereageer?

12 Lojaliteit teenoor Jehovah God beteken dat ons ook aan sy knegte op aarde, ons mede-Christene, lojaal moet wees. Die apostel Johannes stel dit duidelik wanneer hy vir ons sê: “Wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie” (1 Johannes 4:20, NAV). Die onvolmaakthede van ander kan ons lojaliteit in hierdie opsig op die proef stel. Toe hulle te na gekom is, het party byvoorbeeld ’n swakheid in hulle lojaliteit teenoor Jehovah se organisasie getoon deur van Christenvergaderinge weg te bly. Nog ’n toets van ons lojaliteit teenoor ons broers ontstaan wanneer diegene wat Jehovah gebruik om die leiding te gee ’n oordeelsfout begaan. Sommige het sulke foute af en toe as ’n verskoning gebruik om aanstoot te neem en hulle van Jehovah se sigbare organisasie te dissosieer. Maar is hulle handelwyse gegrond? Glad nie!

13. Waarom is daar geen grondige rede om jou van Jehovah se organisasie af te sonder nie, en watter alternatiewe is daar vir sulke dislojale persone?

13 Waarom het sulke persone geen grondige rede om God se organisasie te verlaat nie? Omdat sy Woord ons verseker: “Die wat [Jehovah se] wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie” (Psalm 119:165). Daarbenewens word ons beveel om ‘mekaar vurig lief te hê, want die liefde sal ’n menigte sondes bedek’ (1 Petrus 4:8; Spreuke 10:12). En gestel ’n persoon sonder hom van Jehovah se volk af. Waarheen kan hy gaan? Kom hy nie voor dieselfde geskil te staan as Jesus se apostels toe hy hulle gevra het of hulle hom ook wou verlaat nie? Die apostel Petrus het tereg geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe” (Johannes 6:68). Daar is nêrens anders om te gaan as na “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, of tot in die kloue van Satan se politieke “dier” nie (Openbaring 13:1; 18:1-5, vgl. NW). Dislojale persone wat Jehovah se sigbare organisasie verlaat het, het oor die algemeen gemene saak met die Godonterende “Babilon die Grote” gemaak.

‘Wandel beskeie met jou God’

14, 15. (a) Watter betekenisse het die woord “beskeie”? (b) In watter betekenis van “beskeie” stel ons hier belang, en om watter redes? (c) Waarom moet Christene nie ‘te veel van hulle vermoëns of waarde dink nie’?

14 Die woord “beskeie” het verskeie betekenisse. Dit kan betrekking hê op iets wat pretensieloos, “beperk in grootte, hoeveelheid of omvang” is. Of dit kan op kuisheid slaan, “om nie buite die perke van welvoeglikheid ten opsigte van kleredrag en gedrag te gaan nie” (1 Timotheüs 2:9). Dan is daar die betekenis van “beskeie” waarin ons in die besonder belangstel, dit wil sê, om bewus te wees van jou beperkinge of om “nie te veel van jou vermoëns of waarde te dink nie”. Ons kan nooit een van Jehovah se medewerkers wees as ons ’n te hoë dunk van onsself het en die aandag op onsself vestig in plaas van die aandag allereers op Jehovah God te vestig nie.

15 ‘Om nie te veel van ons vermoëns of waarde te dink nie’, is blykbaar die betekenis wat ons moet heg aan die Hebreeuse woord wat in Miga 6:8 (NW) met “beskeie” vertaal word. Dit blyk uit die manier waarop die woord gebruik word op die enigste ander plek waar dit in die Hebreeuse Skrifte voorkom. In Spreuke 11:2 word dit nie met geslagsonreinheid gekontrasteer nie maar met vermetelheid, wat uit ’n te hoë dunk van jouself spruit. Daar lees ons: “Kom die vermetelheid, dan kom die skande, maar by die beskeidenes is wysheid.” Beskeidenheid gaan hand aan hand met die vrees van Jehovah, wat ook met wysheid geassosieer word (Psalm 111:10). ’n Beskeie persoon het die vrees van Jehovah omdat hy besef watter groot verskil daar tussen hom en God, tussen Jehovah se geregtigheid en mag en sy eie onvolmaaktheid en swakhede is. Die beskeie persoon werk derhalwe sy redding met vrees en bewing uit.—Filippense 2:12.

16. Meld enkele tekste wat toon waarom Christene beskeie moet wees.

16 Daar is talle redes waarom Jehovah se medewerkers beskeie moet wees! Ongeag die wysheid wat ons dalk het, die fisiese krag waarmee ons miskien begaaf is of hoe ryk ons moontlik in ’n materiële sin is, ons het geen rede tot roem nie (Jeremia 9:23). Waarom nie? As gevolg van die beginsel wat in 1 Korinthiërs 4:7 uiteengesit is: “Wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” Ons het ook geen rede om te spog oor die vrugte van ons bediening nie, want wat lees ons in 1 Korinthiërs 3:6, 7? Paulus sê daar: “Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.” Jesus se woorde in Lukas 17:10 behoort ons ook te help om beskeie te bly, want hy het gesê: “Wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.”

17. Waarom is dit waarlik die weg van wysheid om beskeie te wees?

17 Dit is waarlik die weg van wysheid om beskeie te wees. Beskeidenheid help ons om tevrede te wees waar ons ook al die voorreg het om te dien. As ons beskeie is, sal ons nie op ambisieuse wyse probeer uitblink nie, maar tevrede wees om ons as “’n mindere” te gedra (Lukas 9:48, NW). Ons sal dan ook dieselfde gesindheid as die psalmis hê wat gesê het: “’n Dag in u voorhowe is beter as duisend; ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid” (Psalm 84:11). As ons beskeie is, sal ons boonop die liefde hê wat ons sal beweeg om die voortou te neem in eerbetoning aan ander.—Romeine 12:10.

Beskeidenheid betaam jongmense

18. (a) Waarom is beskeidenheid veral vir jongmense gepas? (b) Watter gegewens oor hedendaagse jongmense bevestig die nodigheid vir beskeidenheid?

18 Dit is veral gepas dat jong Christene hulle met beskeidenheid as gewaad versier. Wat ’n puik voorbeeld het Elihu tog vir hulle gestel! Hoewel hy die regte antwoorde gehad het, was hy bereid om eerbiedig te wag totdat die ouer manne gespreek het (Job 32:6, 7). Jongmense is dikwels geneig om vol selfvertroue en nie juis bewus van hulle beperkinge te wees nie. Omdat hulle fisiese krag het en ’n mate van kennis opgedoen het, is hulle dalk geneig om op ouer persone neer te sien. Maar kennis is nie sinoniem met wysheid, wat die toepassing van kennis is nie. Die treurige reputasie wat moderne jeugdiges in die Verenigde State opbou, is tipies. Daar maak jongmense van tot 24 jaar 63 persent van die inhegtenisnemings vir groot misdade uit, en 30 persent van dié wat in hegtenis geneem word, is jonger as 18. Daar word ook berig dat “besturing onder die invloed van alkohol of dwelms die vernaamste doodsoorsaak onder Amerikaners tussen die ouderdom van 15 en 24 is”. In daardie land “loop al hoe meer tienerhuwelike op ’n egskeiding uit”, terwyl daar berig word dat “huwelike ’n beter kans staan om te hou as die bruid en bruidegom ’n paar jaar wyser is wanneer hulle voor die altaar verskyn”.

19. Watter Skriftuurlike raad kan jongmense gerus ter harte neem?

19 Hoe verstandig is die raad van God se Woord dan tog! Dit beveel jongmense tereg om hulle vader en hulle moeder te eer deur hulle in alles te gehoorsaam (Efesiërs 6:1-3; Kolossense 3:20). Jongmense moet veral die verstandige raad ter harte neem: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.”—Spreuke 3:5, 6.

20. Watter beloninge kan alle toegewyde en gedoopte persone verwag as hulle Miga 6:8 gehoorsaam?

20 Watter beloninge kan ons almal verwag as ons, nadat ons deur toewyding en waterdoop vertroue in Jehovah getoon het, ‘geregtigheid beoefen, lojale liefde openhaar en beskeie met ons God wandel’? Die allerbelangrikste is dat ons Jehovah se goedkeuring sal geniet omdat ons aan sy vereistes voldoen en dus sy hart sal verbly deur ’n deel te hê aan die heiliging van sy groot en vreeswekkende naam (Spreuke 27:11). Daarbenewens sal ons die waarheid van die beginsel dat ‘godvrugtige toegewydheid vir alles nuttig is, omdat dit die belofte van die teenswoordige en die toekomende lewe het’ in ons eie lewe ondervind.—1 Timotheüs 4:8, vgl. NW.

[Voetnoot]

a In die westelike deel van die Verenigde State is daar ’n geiser wat al baie jare lank gemiddeld een keer elke 65 minute uitbars. Dit het derhalwe die naam Old Faithful gekry.

Wat is jou antwoorde?

◻ Wat is nodig om “geregtigheid te beoefen”, in ooreenstemming met Miga 6:8?

◻ Hoe hou lojaliteit teenoor Jehovah verband met ons verhouding met mede-Christene?

◻ Waarom moet ons ‘beskeie met God wandel’?

◻ Waarom is beskeidenheid veral vir jong Christene gepas?

[Prent op bladsy 17]

Bewaak jy jou hart deur selektief te wees in die dinge waarna jy kyk, luister en wat jy lees?

[Prent op bladsy 18]

Petrus het geweet dat daar nêrens anders was om te gaan nie, want Jesus het “die woorde van die ewige lewe” gehad. Is jy net so vasbeslote om lojaal teenoor Jehovah se organisasie te bly?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel